TAFELBERG GEMEENTE
Tema: Die magnetiese krag van die verbond
Skrif: Genesis 28: 11-22

Genesis 28 laat ons logika heeltemal op sy kop staan. “Sjoe, kon God dan nie ‘n bietjie béter materiaal gekies het nie? Waarom nou juis Jákob? Dis die laaste mens met wie ONS sou dink God iets sou kon uitrig. Hy is immers in sy wése ‘n sóndaar. Sy naam beteken hoeka “bedrieër”. Hy wou mos God se beloftes sélf waarmaak deur listige planne. Absoluut selfsugtig. Hy wou net homself verryk en bevoordeel. Hy het niks daarvan gedink om sy bejaarde pa te bedrieg en sy broer Esau se seën te steel nie. Hierdie Jakob. Die toonbeeld van natuurlike fisiese krag. Wat ook juis die struikelblok was in sy pad om voor die Here te buig. Nee wat – die Here kon sekerlik béter materiaal gekies het. Jakob is ‘n hopelose kroniese geval. Hoe kan die Here ‘n man uitkies, ‘n man wat óns sou afgeskryf het?”

Dit is hoe ons voel & redeneer, omdat ons nie die hartklop van God verstaan nie. Ons verstaan nie hoe die Here voel & hoe Hy werk nie. Daarom val ons ook so maklik vas in ons eie persoonlike lewens. Hoe dikwels betrap ons nie onsself dat ons ernstige bedenkinge het óf die Here enigsins in ons belangstel – ómdat ons onsself afskryf en ons eie hopeloosheid besef. Ons voel onsself té hopeloos vir die Here. Ons beleef ons sonde só gruwelik dat ons moeilik kan glo dat die Here enigsins na ons kant toe wil kyk. Dáárom kan ons nie Genesis 28 verstaan nie. Want hier sien ons hoe die lewende ware God met opset KIES vír ‘n hopelose armsalige Jakob.

Hy kom staan letterlik in die pad van ‘n vlugtende Jakob en versper sy pad. Jákob het nie daarvoor gesoek/gekies/gevra nie. Hý soek nie die Here nie. Maar die Here WIL vir hom goed wees. So was dit ook met Saulus van Tarsus. Terwyl hy opsetlik téén Jesus van Nasaret kies en volstoom op pad is na Damaskus om die gelowiges te vervolg & te moor, kry hy skielik ‘n mokerhou uit die hemel. Ongevraagd. Want die Here kies hóm. En, in Galas 1:15 skryf hy dat die Here hom voor sy geboorte al vir Homself opsygesit het.

Kyk nou net hierna: God soek hierdie nikswerd afgeskryfde Jakob opgrond van Sy VERBOND met Jakob se pa en oupa. Het u gemerk? Die Here sê nie: “Ek is jou God” nie. Hy sê: “Ek is die God van Abraham en Isak”. Krágtens Sy kontrak met Jakob se oupa en pa, kom soek Hy na Jakob. Is dit nie onbeskryflik nie? En daarby kom gee die Here vir Jakob presies dieselfde verbondsbeloftes as wat Hy aan Abraham & Isak gegee het. “In jou nageslag sal die hele wêreld geseën word.” Dit is wat God oorspronklik aan Abraham beloof het. Hy het uitdruklik vir Abraham gesê: “dit is vir jou nageslag.” Daarom het Hy die besnydenis gegee. Dit was Sy handtekening wat die belofte onderstreep. En dis ‘n belofte wat met ‘n verbondslyn afloop: Abraham, Isak, Jakob. Sien u: Die Here soek ‘n gelowige se nageslag op. Dis ‘n lewende werklikheid. Dit is Sy verbysterende werksmetode. Dit is Sy liefde vir afgeskryfde mense.

U sê: “Ja maar óns lewe tog 1000e jare van Jakob af. Hoe raak dit óns?” Dit raak ons, want, indien u in die geloof die evangelie van Jesus Christus omhels, omhels u presies dieselfde belofte as wat aan Abraham gegee is (vgl Galas 3 & 4) – net wel die VERVULDE belofte soos Jesus hom vervul het – maar steeds dieselfde belofte. En u is gedoop en nie besny nie, want water vervang die bloed. Maar, die belofte bly presies dieselfde en God se werksmetode bly presies dieselfde. Daarom kom die belofte wat ú glo, ook u nageslag toe (Hand 2: 38-39). Die Here soek ‘n geslag wat Hom dien (Mal 2:15). Sy hart werk presies só. Kyk na die God van Jakob en hoe Hy na Jakob kom kragtens Sy verbond met Abraham & Isak. Dis vandag nog ‘n werklikheid. Eintlik behoort dit ons te laat bewe – ook van opgewondenheid. God kom hier na ‘n man toe wat Hóm nie soek nie. Jakob is gewoon besig met sy eie belange. Hy verdien ook net die oordeel. Maar, die Here kom maak aan Jakob onvoorwaardelike toesegginge so asof alles alreeds vervul is!!!!

Hy sê eenvoudig: “Ek SAL hierdie land vir jou gee. Jou nageslag SAL so baie soos stof wees. Alle nasies SAL in jou nageslag geseën wees. Ek IS met jou. Ek SAL jou oral bewaar. Ek SAL jou nie verlaat totdat Ek alles gedoen het wat Ek nou gesê het nie.”

Begryp u? Die Here kom eenvoudig na ‘n afgeskryfde kroniese bedrieër-sondaar – ‘n man wat nie na die Here soek nie – en Hy kom laai op hom af: ‘n hele klomp vrye geskenke. Hy sê: EK SAL, EK SAL, EK SAL, EK SAL. Met ander woorde: DIS AL KLAAR REEDS WAAR!! Hy sê nie: JY MOET EERS, JY MOET EERS, JY MOET EERS nie. Hy géé Homself aan Jakob terwyl Jakob reguit op pad is warmplek toe – by wyse van spreke.

Geen wonder dat Jakob letterlik uitgeboul is nie. Geen wonder dat hy toe iets besef van die Here se teenwoordigheid nie. En dat hy uitroep: “Waarlik, die Here is op hierdie plek.” U sien: Die (besef van die) Here se teenwoordigheid kom nie deur ‘n ervaring/sensasie/bewerasie nie, maar wanneer Sy Woorde gehoor word. Toe Jakob die Here se woorde hoor, besef hy: “Die Here is op hierdie plek! Dis niks anders as die huis van God nie (Bet-El). Dis die poort van die hemel!”

Eintlik het Jakob nét nodig gehad om DANKIE te sê. Dan sou sy hele lys sondes vanself uit sy hande val. Die Here het immers in Sy toesegginge reeds álles só gestel dat dit alles klaar plaasgevind het. Hy moes hom net vergaap aan die Here en leef vanuit Sy Woorde. Maar u sien: Die menslike hart is vasgevang in ‘n groot stuk verset, baie eie krag en eie planne. Die menslike hart wil nie nét van genade lewe nie. Kyk nou mooi na Jakob se onmiddelike reaksie. Hy kan net nie volledig deurbreek nie.

Sy eerste reaksie is om van sy kant af ook aan die Here ‘n teken te wil gee. Hy maak van die klip – wat onder sy kop was – ‘n gedenkteken en gooi olie daaroor uit. Die Here se belofte ALLEEN kan mos nie GENOEG wees nie! Nooit! Dit moet aangevul word met MY teken aan Hóm. Daarby voel Jakob dat HY darem ook ‘n gelofte aan die Here moet aflê. Die Here se belofte is nie genoeg nie. Jakob se gelofte moet ook bykom.

Kyk hoe draai Jakob die Here se onvoorwaardelike woorde net mooi onderstebo. Hy sê: “Here, AS U by my is en my beskerm, SAL U my God wees. Dan sal hierdie klipmonument ‘n tempel wees en sal ek vir U tiendes gee.”

Die Here se “SAL”, verander Jakob na “AS”. Die Here het hom kom uitkies en vir hom gesê: Kragtens My verbond, kom sê Ek vir jou: Ek SAL…” Maar Jakob verander dit na AS – Voorwaardelik. Sien u hoe slu/skelm is die verset van die mens se hart?

Tog is hierdie innerlike verset/onbegrip nie sterker as die Here se genade nie. Die Here hét mos – in Sy verbondsbelofte aan Jakob – al rééds gesê: Dit IS/SAL. En daarom agtervolg Hy vir Jakob en soek hom en maak hom selfs seer TOTDAT Jakob ingee en op ‘n plek kom waar hy bereid is om SLEGS uit die Here se woorde alleen te lewe. Ja, Hy maak hom letterlik seer. Drie hoofstukke verder lees ons hoe die Here vir Jakob seermaak – hom op die heupbeen mankslaan – in die Jabbokrivier.

Hoekom is u & ek gedoop? (Dalk is dit die eerste keer dat iemand DIT vir ú vra…)Waarom is ons gedoop nog vóórdat ons tot geloof kon kom? Is dit nie maar ‘n Roomse gebruik nie. Nee, omdat die Here nog presies dieselfde werksmetode het – naamlik dat – Terwyl ons Hom nie soek nie. Terwyl ons Sy vyande is. Terwyl ‘n leeftyd van sonde en gebrokenheid nog vóórlê – die Here kom en ons kies en ‘n toesegging maak en sê: EK SAL. Ek HET ál jou skuld betaal. Ek neem jou aan tot My kind. Ek het jou met My versoen – op die kruis. Ek SAL jou hele lewe vir Mý rekening neem en as Vader vir jou uitnemend sorg.”

Maar, pleks dat ons ons hele lewe daaraan wy om ons aan Hom te vergaap en ‘n dankie-sê lewe te lewe, verset ons ons en probeer ons op twee paaie gelyktydig loop: God en wêreld. Ons probeer óns eie tekens oprig en óns tekens aan die Here gee. Ons dink daar móét ‘n “AS” wees. Dit kan nie nét “SAL” wees nie. Nooit! Dis te eenvoudig en te skraps. Nee, eers AS ek my hart vir Hom opgeoffer gekry het, AS ek Hom reg aangeneem gekry het, AS ek verbeter het, AS ek my laat grootdoop het, AS ek ‘n ervaring beleef het, DAN sál Hy moontlik my God word/wees. U sien: Ons draai die “SAL” van die verbond/doop óm tot ‘n “AS”. Is dit nie die rede waarom ons so eindeloos sukkel in ons lewens nie?

Maar nogtans oorwin die Here se genade ons sluwe harte. Ons sluwe verset is nie sterker as die Here se genade nie. Hy agtervolg ons en maak ons soms selfs seer. Soms slaan Hy ons só hard dat ons mank hinkepink, maar tóg dan uiteindelik leer om te GLO en die nuutheid en vryheid beleef wat Hy by ons doop reeds aan ons vryelik & onvoorwaardelik geskenk het.

Sien u hoe skitter die eenvoud van die Bybelse boodskap? Die Bybel is veel makliker om te verstaan as wat die meeste mense vermoed. Wanneer ‘n mens die magnetiese aantrekkingskrag van die hartklop van die God van die verbond ontdek het, val die hele Bybel meteens vir jou oop. Tewens, die hele lewe gaan soos ‘n boek oop en jy ontdek meteens die sin van jou lewe en bestaan op aarde.

Het ú dit al ontdek? 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00