DIE LOS KNOOP
Talle van ons is bekend met die weermag. Dit is die Koperaal tot die Generaal.
Dit is jou wapen en jou houding. Dan natuurlik was daar die inspeksies. Die beddens was met water, stysel en wat nog “gestryk”. Die hoeke van die bed was negentig grade. Die sirkels op die bed. Die kasste wat blink, skoon en netjies was. Die klere sonder kreukels en vuil kolle. Ja, moenie die vloer vergeet wat so geblink het nie!
Hierdie een oggend was dit weer inspeksie tyd. Dit is nie die algemene inspeksie nie, nee, die Kolonel kom om dit waar te neem. Alles het goed verloop. Die troepe het langs hulle bed op aandag gekom. Stilte en spanning was in die lug! Die Kolonel het by elkeen verby gestap en jy kon amper die sug van verligting hoor soos wat hy by die troepe verby beweeg. Dan – hy steek vas voor ’n troep. Hy kyk die troep op en af, sommer ’n paar keer. Die spanning is hoog en die stilte laat jou ore suis. Dan “blaf” die Kolonel ’n bevel:- “ Maak vas daai knoop – troep!”
Hierdie soldaat bewe en vra:- “ Nou dadelik Kolonel?” Weer die skerp stem:- “Ja, nou dadelik!” Die troep tree een tree vorentoe en maak die los knoop aan die Kolonel se hemp vas.
Die Kolonel was gou om die probleem van die troep raak te sien maar nie sy eie nie.
Is ons nie ook dieselfde nie?
MATT. 7:1 Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.
:2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
:3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
:4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
:5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
GEBED
Here, ek is in U hande! Gee dat ek met liefde na my medemens sal kyk. AMEN