Die Heilige Gees
Die Heilige Gees as God by my, in my en saam met my. Francois Carr
“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wereld nie kan ontvang nie omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie, maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” Johannes 14 vers 16,17,18
“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gese het” Johannes 14 vers 26
Ek het per geleentheid van London na Amsterdam gereis. Die oornagbus het ongeveer om 06H00 in die oggend by die sentrale treinstasie in Amsterdam gearriveer vanwaar ek ’n trein na die lughawe moes haal. Die stasie was volgepak en omring van mense in swart klere, met swart hare en hulle lippe en oe was ook swart ingekleur. Dit was duidelik dat ’n deurnag satanistiese ritueel en sekspartytjie daar by die stasie plaasgevind het. Hulle was dronk, luidrugtig en die geur van dagga en dwelms het in die lug soos ’n miswolk gehang. Almal se oe het so ’n vae uitdrukking gehad, asof hulle in ’n trans was en nie regtig bewus van wat om hulle aangaan nie.
Ek moes tussen hulle deurloop tot by die kaartjie kantoor. Ek het by een van die losstaande masjiene my treinkaartjie gekoop en my weg gevind na die perron en my trein wat oor ’n halfuur sou vertrek. Terwyl ek deur hulle stap, en na die trein beweeg het ’n angstigheid en selfs vrees in my hart opgekom. Ek het besef dat hulle my sou kon aanval en nie eers weet of besef wat hulle gedoen het nie. Terwyl ek in die trein sit het die Here skielik met my gepraat en my herinner aan 2 Konings 6 vers 16: “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is”. Ek het besef dat Hy wat by my is, soveel sterker is en groter is as al die mense op die stasie en rondom my in die trein. ’n Diepe vrede en rus het my hart oorspoel en vir die volgende uur op die trein was dit asof ek in ’n “trans’ was, so onbewus van die mense rondom my. Ek was net bewus van God by my, God in my en God saam my. Ek het besef dat ek nooit weer alleen hoef te wees of te voel nie, as ek net besef en weet dat Hy by my en saa met my is.
Die Here Jesus en Sy Dissipels
Die Here Jesus het hierdie woorde van Johannes 14 aan Sy dissipels bekendgemaak tydens die laaste aand saam met hulle in Jerusalem. Die verslaenheid van wat Jesus pas vir hulle gese het kon seker aangevoel word. Die ongeloof daarvan. Kan dit waar wees? Dit kan tog nie. Wat van ons toekomsplanne? Ons drome vir onsself en vir ons gesinne en ons volk! Wat gaan nou van ons word?
Jesus en Sy dissipels was onafskeidbaar vir drie jaar. Hulle was elke dag saam. Hulle het saamgeeet en saam wonderlike dinge ervaar en beleef. Wanneer hulle in die aand gaan slaap het, het hulle geweet dat Hy daar sou wees in die oggend. Die woorde van Jesus verander dit nou alles. Geen gesamentlike etes meer nie. Geen kampvuur gesprekke meer nie. Geen teologiese gesprekke en geen wonderwerke meer nie. Die Here Jesus het besef dat hulle hele lewe so afhanklik van Hom geword het en dat hulle verlore sou wees of voel sonder Hom.
Maar Hy bemoedig hulle met die woorde dat Hy hulle nie as wese sal agterlaat nie en dat Hy weer na hulle kom. Hy gaan ook vir hulle ’n ander Een gee, Een net soos Hy. Die Heilige Gees as Trooster. Die Griekse woord vir Trooster is Parakletos. Dit kan beskryf word as die Een wat deur God gestuur of geroep is om langsaan jou te kom staan as jou advokaat, intersessor, berader of trooster. Wanneer Hy gekom het, as die ander Jesus dan sal Hy by die dissipels wees en in hulle kom bly. Die wereld kan Hom nie sien nie, maar die dissipels sal Hom sien (net soos vir Jesus) en hulle sal Hom ken (net soos vir Jesus) en Hy sal by hulle wees (ne soos Jesus by hulle gewees het).
Hulle hoef dus nie bang te wees nie, want Hy gaan hulle nie permanent verlaat nie. Wanneer Hy weer deur Sy Gees kom, sal dit dan selfs beter wees. Terwyl Hy op die aarde was kon Hy slegs saam met hulle wees, maar nou gaan Hy deur Sy Gees in hulle kom woon, daar Sy woning maak en by hulle kom bly en hulle sal dit weet. Hy sal ook nie weer weggaan nie. Hulle hoef nooit weer alleen of bang te wees nie. Sy teenwoordigheid sal permanent wees.
Wat van ons?
Dit gebeur dikwels dat ’n eggenoot of geliefde na ’n lang en gelukkige huwelik en samesyn sterf en die een wat agterbly verval in eensaamheid. Dit kan ook maklik gebeur dat hierdie eensaamheid wat ons ervaar ander probleme veroorsaak of meebring soos bv uitgeputte gemoedstoestand of depressie. Dit kan ook meebring dat ons bekommerd is oor ons finansies as een salaries skielik nie meer daar is nie. Is jy eensaam? Het jy onlangs ’n geliefde verloor? Die Here Jesus wil nie he dat jy eensaam en verlore moet voel nie of wees nie. Hy begeer net die beste vir jou en Hy wil en kan jou help.
Is jy bang of angstig? Dit kan dalk wees dat jy angstig voel en benoud is rakende jou gesondheid, jou loopbaan, jou finansies, jou skuldelas, jou kinders en kleinkinders of selfs jou toekoms en aftrede. Die huidige ekonomiese krisis, politieke onsekerheid en die ooglopende morele verval in ons land en rondom skep soveel onsekerheid en angstigheid in die harte van gelowiges en selfs ongelowiges.
Ek onthou hoe alles skielik in 2008 gestyg het. Die banke se rentekoerse is aangepas en almal se huispaaiemente het verhoog. Die kragkrsis in ons land het meegebring dat almal se water en ligte rekeninge verhoog het. Die brandstof het gestyg en het ’n direkte impak op voedselpryse gehad. Ek het gewonder hoe ons as gesin ’n 30% verhoging in ons maandelikse uitgawes gaan hanteer terwyl ons inkomste nie verhoog het nie.
Terwyl ek gebid het, het die Here deur Sy Gees (in my en by my ) my herinner aan Jeremia 17 vers 7 en 8:
“Geseend is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Die vrede en rus het my hart oorspoel en ek het geweet dat Hy wat in my is, Hy wat by my is, sal vir ons sorg in ’n jaar van droogte. Hy het Homself as getrou bewys en is steeds besig daarmee.
Die onsekerheid bring mee dat ons besorg, bekommerd en moedeloos word. Ons is geneig om oplossings vir ons probleme te vind by aardse beraders, banklenings om van ons skuld (bekommernis) ontslae te raak; al is dit dan net tydelik. Ek is seker daarvan dat ons ’n afspraak met Jesus sou gemaak het, of ’n epos en brief aan Hom gerig het vir Sy hulp; as die Here Jesus as mens nog op aarde geleef het. Ons vergeet egter dat Hy permanent by ons en in ons harte kom woon het deur Sy Gees en dat ons elke oomblik van die dag met Hom kan praat oor ons probleem en dat Hy as die God van Vrede (Fil 4 vers 9) ons kan antwoord en help.
O Kind van God, wat ook al jou probleem mag wees, Hy het die oplossing daarvoor en Hy is die enigste een wat ons kan help. Hy wil vir jou help. Hy het jou nie alleen agtergelaat nie. Daar is ’n ander Een, net soos Hy, die Heilige Gees wat langs jou staan om jou aan die hand te neem en die toekoms saam met jou in te gaan. Jy hoef nie meer bang te wees nie of alleen te voel nie. Jesus is by jou.
Hy het ons nie as wese agtergelaat nie.
Hy het weer na ons gekom.
Hy het deur Sy Gees in ons kom woon.
Hy het deur Sy Gees langs ons kom staan.
Ons kan Hom sien.
Ons kan Hom ken.
Ons kan Hom ervaar.
Here Jesus, ek kom erken en bely vandag teenoor U dat ek so dikwels alles op my eie probeer het. Ek bely dat ek nie bewus daarvan was of in my hart ingestel dat U in my en saam met my is nie. Ek vra dat U my sal vergewe daarvoor. Here, ek bid nou en vra dat U my sal bewus maak van U wat in my en by my is. Ek kom plaas nou opnuut my hand, my hart en my lewe in U hand en ek weet dat ek nou hierdie nuwe jaar en sy uitdagings saam met U kan deurgaan. Amen.