TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 17
Skrif: Handelinge 15:1 – 16:5
Tema: Die hart van die Evangelie in gedrang

‘n Beskrywing van die eerste “sinode” waar afgevaardigdes van verskillende gemeentes saamkom om oor belangrike sake uitsluitsel te kry. In hierdie geval: ‘n saak van lewe en dood omdat die hartklop van die evangelieboodskap bedreig word. Word ‘n sondaar van sonde/skuld/ewige oordeel gered slégs o.g.v. die genade van Jesus se kruisoffer OF moet daar ‘n “plus” bý Jesus se reddingswerk gevoeg word? Dalk iets wat die mens moet by-doen? Is die besnydenis nie dalk ook nodig nie? Dit is presies wat sommige geestelike leiers uit Joodse geledere vir die jong gemeente in Antiochië geleer het: “as jy nie besny is nie, kan jy nie gered word nie.” Onthou u die gemeente in Antiochië? Die eerste volwaardige gemeente onder nie-Jode (heidene). Die gemeente wat vir Paulus & Barnabas op hulle eerste sendingreis uitgestuur het? Wel, nou word daar dwaalleer ingebring uit Joodse geledere: “Moenie dink jy – as ‘n nie-Jood – kan gered wees deur nét op Jesus se kruisoffer te vertrou nie. Jy moet ook Joods word. Jy moet besny word. Pasop vir enige sekerheid-van-saligheid wat te maklik kom! Wat doen jý van jou kant af?”

Paulus & Barnabas het onmiddelik besef: indien daar nie nóú opgetree word nie, sal die kern van die evangelieboodskap aangetas word. Want, die kern is mos juis dat ‘n mens slégs deur geloofsvertroue op Jesus se kruisoffer vrygespreek word & gered word. Geen plusse. Geen ekstras. Daarom vind die vergadering in Jerusalem plaas, want Antiochië-gemeente besef die apostels & ouderlinge in Jerusalem moet saam met hulle hieroor besin. Hulle het hulp nodig. Dit raak álle gemeentes. So gesê, so gedoen. Die kerkvergadering word gehou. Tydens die vergadering praat Petrus & Jakobus en Paulus & Barnabas vertel van hulle sendingreis en hoe die Here nie-Jode uit genade alleen gered het sónder die voorwaarde dat hulle Jode moes word en die Joodse sermoniële wette nakom. Dis baie duidelik dat God ook aan hulle Sy Gees gegee het. Petrus bevestig dit ook. Nêrens het God onderskeid gemaak tussen Jode en nie-Jode nie. Ook die nie-Jode se harte is gereinig deur die geloof (15:9). Dit beteken: deur Jesus se offer. “Ons word nét deur die genade van die Here Jesus gered” (v 11). Jakobus sê toe dat dit niks vreemd is nie, want God het in die OT reeds gesê dat Hy vir Hom ‘n volk uit die NASIES sal versamel. Wat nou gebeur, is volgens die Skrif, sê Jakobus. Waarom moet daar op die skouers van bekeerlinge uit die nie-Jode ‘n swaar las geplaas word – dat hulle nóg dinge moet doen asof Jesus se verdienste nie genoeg is nie?! Indien ons iets bý Jesus se verdienste tel, trek ons eintlik alles áf! 1 + 1 = 0! Die uiteinde van alles is dat die Jerusalem-vergadering hulle standpunt op skrif stel en dat dit na die gemeentes gestuur word om voorgelees te word. Hulle is daarvan oortuig dat dit die Heilige Gees is wat hulle so gelei het (v28). Só word die evangelieboodskap met apostoliese gesag beskerm: ‘n Sondaarmens word slégs deur geloofsvertroue in die genade van Jesus se kruisoffer gered sónder die nakom van vooraf-voorwaardes op grond waarvan jy eers moet slaag.

Hoe geweldig belangrik is die besluit van die Jerusalem-Sinode nie ook vir óns nie. Natuurlik bevind ons ons glad nie in die antieke konteks (Jood/ Nie-Jood) van destyds nie. Maar die beginsel is steeds van toepassing, want onthou NIEMAND van ons hou van genade nie! Ons wil almal presteer en ons saligheid verdien sodat ons iets het om in te roem. Dit is wesenlik van elke mens se sondige natuur. Ons haat genade. Om met leë bankrothande die verlossing as ‘n vrye geskenk in ontvangs te neem. Ons vind dit aanstootlik & vernederend om net te dink dat ons enigsins bankrot is en soos bedelaars diep afhanklik is van die Man van Nasaret se vreeslike kruisofferdood en dat slégs daardie offer ons die ewige lewe gee. Nie Sy offer PLUS ons offers nie. Nét Sy offer. Dis wat genade is. Dit is om iets te ontvang wat jy glad nie verdien nie. Dit is die enigste manier om in die regte verhouding met God gestel te word. Maar ons menslike hart baklei daarteen! O, as ons tog maar net één plussie kan byvoeg sodat ons nie totale bedelaars hoef te wees nie! Dalk iets soos die doop. Of die onderhouding van dit of dat. Of net IETS wat ons meer aanvaarbaar kan maak voor God dat ons darem nie só 100% afhanklik is net van Golgota nie! Wel, die Jerusalem-Sinode het ‘n streep daardeur getrek en vir tyd en ewigheid bevestig dat ons op net een manier gered word – deur met bankrothande vas te klou aan Jesus se verlossing. Dan verkry jy ook onmiddelik volle sekerheid van jou redding, want van die meriete (volpunte) van Sy kruisverlossing kan jy 100% seker wees. Die Jerusalem-Sinode het so gesê.

Of het die Sinode dalk NIE so gesê nie? Want kyk die snaakse stertjie wat hulle by hulle besluit voeg. O.g.v. Jakobus se voorstel skryf hulle vir die gemeentes dat hulle daarvan seker kan wees dat Christus se genade genoeg is en dat hulle geen laste opgelê word nie… BEHALWE dat hulle 4 goed moet vermy: 1) eet van vleis wat aan ‘n afgod gewy is 2) eet van bloed 3) eet van ‘n verwurgde dier -waarvan die bloed nog in die vleis is – en 4) onsedelikheid.

Nou wat nou? Dit klink of dit ‘n streep trek deur die genade. Nou is daar tóg weer voorwaardes wat nagekom moet word. En waarom nou juis hierdie 4 dinge? Die antwoord is: die gelowiges aan wie die Jerusalem-Sinode skryf, is bekeerdes uit NIE-JODE, HEIDENE dus. Hulle kom uit die heidendom waar afgodery & afgodsfeeste algemeen was. Tydens die afgodsfeeste was tempelprostitusie algemeen asook die eet van vleis wat aan afgode gewy was en wat bloed bevat het. Opvallend dat juis hierdie 4 sake ook in Levitikus 17 & 18 staan en te make het met sermoniële reinheid wat vir die Jode baie belangrik was. Juis díé afgodiese praktyke wat vir die heidene so algemeen aanvaarbaar was, was vir die Jode so afskuwelik. Die onsedelikheid wat met afgodiese tempelprostitusie verband hou en die eet van onrein vleis, was in die Joodse gemoed afskuwelik. En nou kry jy gelowiges uit die nie-Jode wat met gelowige Jode in dieselfde gemeente moes saamleef en daarom geweldig waaksaam wees om hulle nie aanstoot te gee nie. Kyk na 15:21 – Jakobus sê in sy betoog wanneer hy voorstel dat hierdie 4 sake in die brief aan die gemeentes genoem moet word: “hierdie voorskrifte van Moses word van ouds af oral voorgehou en elke Sabbatdag in die sinagoges voorgelees.” Dit is goed wat baie vlak lê in die Joodse gemoed. “Julle wat Christene is uit die nie-Jode moet baie versigtig wees dat julle nie julle mede-broers & susters uit die Jodendom aanstoot gee nie. Ja, ons weet dat ons gered is slégs deur ons Here Jesus se genade – sonder plusse. Laat ons daarom waaksaam wees om nie ander te laat struikel nie.

U sien: dit het niks te make met 4 goedjies wat tóg maar weer gedoen moet word as PLUS by Jesus se verlossingswerk nie. Nee, dit gaan oor gelowiges uit die heidendom wat moet waak dat dié goed waaraan hulle so gewoond was in hulle afgodsfeeste, nie weer opduik en hulle Joodse mede-gelowiges wegdryf/laat struikel nie. Hulle moet die praktyke van die heidendom afsweer, want dis in elk geval in stryd met die Here se Wet. Só sal Jode (wat nou Christene is) en nie-Jode (wat Christene is) met mekaar kan saamleef in dieselfde kerk.

Wat ‘n belangrike boodskap vir óns in 2008. Want kyk net na die verdeeldheid wat daar in die Christelike Kerk is. Ons bely dat ons één is in Christus, maar in die praktyk sien jy net verdeeldheid. En verskille op verskille. Daar is net één evangelieboodskap, maar duisende kerke en groepies. Party is vir grootdoop. Party is vir kleindoop. Party kerke is vir witmense. Ander kerke is vir swart mense. Sommige veroordeel jou as jy wyn drink. Ander sê jy moet toga’s en serpe dra sodat die Gees wáárlik teenwoordig kan wees. Ander sê, die Gees is teenwoordig wanneer alles informeel is met ‘n orkes en lekker liedjies. Party sê jy is verlore as jy in tale praat nie, ander sê jy is duiwelbesete as jy in tale praat. Sommige sê jou kleredrag moet só wees ander sê nee, dit moet só wees, anders is jy nog nie gered nie. Ander sê ja, nét Christus, maar… jy moet jy moet nog dit doen en dat doen. Belhar-belydenis of nie Belharbelydenis. Vroue mag preek. Vroue mag nie preek nie. Ensovoorts. Ensovoorts.

U sien ons is altyd geneig tot een van twee uiterstes: OF ons beklemtoon die eenheid van die kerk ten alle koste. Die Waarheid maak nie saak nie, so lank ons net één kan wees. OF ons beklemtoon ten alle koste die Waarheid. Dan word álles verhef tot absolute waarheid en ander moet tot op die letter maak en wees soos óns – anders geen eenheid.

Hoe lyk die Handelinge 15 pad? Onbuigsaam wanneer dit gaan oor die Waarheid van die evangelieboodskap. En wat die ander sake betref: liefdevolle akkommodasie. Hou bietjie vir Paulus dop: By die Jerusalem-sinode skop hy vas: géén besnydenis! Maar net daarna vertrek hy op sy tweede sendingreis en neem vir Timoteus saam. En wat doen hy met Timoteus? Hy besny hom sodat hy vir die Jode aanvaarbaar kan wees. Almal het geweet sy pa was ‘n Griek en dat hy dus onbesnede was. U sien: Wanneer die Waarheid van die evangelieboodskap in gedrang gebring word deur die besnydenis: GEEN besnydenis! Maar, in die geval van Timoteus – wat die genade reg verstaan en geen pluswaarde aan die besnydenis heg nie: BESNY HOM sodat die Jode hom kan aanvaar! U sien hoe onbuigsaam én buigbaar die Apostel was. Ag, as ons dít tog maar in die kerk kan leer. Onbuigsaam wanneer dit gaan oor die Waarheid vd evangelie. Buigsaam/soepel wanneer dit oor ander dinge gaan. Ja, ‘n mens kán vra waarom Paulus so onbuigsaam was t.o.v. die saamneem van Johannes-Markus op die 2de sendingreis (15:36-41). Tóé het dit immers nie gegaan oor die kern van die evangelie nie! Só onbuigsaam was hy dat hy bereid was om vir Barnabas te los en ‘n ander koers te gaan. Wel, dit het oor praktiese redes gegaan. Die vorige keer was Markus nie in staat om die vermoeiende reis te deurstaan nie en Paulus het duidelik nie weer dáárvoor kans gesien nie. Paulus was egter nie kwaad vir Markus nie. Ons lees in 2 Tim 4:11 dat Paulus vir Timoteus versoen om Markus na hom (Paulus) te bring aangesien hy ‘n baie bruikbare dienskneg in die kerk is. Daar was dus geen verwydering tussen hulle nie.

Die saak wat Hand 15 voor óns stel is die vraag of ons die geestelike onderskeidingsvermoë het om te onderskei wanneer ons onbuigsaam moet wees en wanneer ons buigsaam en akkommoderend en liefdevol moet wees ten einde die eenheid van die kerk te bevorder. Wanneer gaan dit oor die hartklop van die Woord en wanneer gaan dit oor bysake. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00