HANDAFDRUKKE TEEN DIE VENSTERS.

Dr. Joseph Stowell , die President van die Moody Bybel Instituut het eens ’n tehuis vir verstandelik gestremdes besoek. Hy het saam met die personeel deur die vertrekke geloop en die kinders besoek en dit is toe dat hy opmerk dat daar baie handafdrukke teen die vensters is. Hy het toe die direkteur gevra “Waarom al die handafdrukke teen die vensters?” Die direkteur antwoord dat die kinders hier in die tehuis baie lief vir die Here Jesus Christus is , en dat hulle nie kan wag dat hy moet kom nie , dan leun hulle teen die vensters en kyk na die hemel om te sien wanneer Hy sal kom.

My vriend en vriendin , dit is bykans elke dag dat ons moeilike omstandighede het , hetsy rondom ons of omstandighede wat ons moet hanteer. Onthou – leun teen die venster en kyk na die hemel want Jesus Christus kom weer. Wat ’n bemoediging!- en ons moet mekaar met hierdie woorde bemoedig – elke dag!

HANDELINGE 1:11 “wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”

Ja, ons het nou hier in die wêreld baie stryd , trane , hartseer , droefheid en moeite maar Jesus het belowe dat al hierdie dinge sal verbygaan en dat ons die vrede en vreugde van die Hemel sal ervaar.

OPENB. 21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

OPENB. 21:5 “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.”   

Is dit nie die moeite werd om te bly lewe en God te verheerlik nie? Komaan! Hierdie probleme sal soos laas jaar se winterkoue en winde verbygaan – more sal die son weer skyn!  KYK OP!  Die verlossing is op hande!!

GEBED

Here baie dankie dat ek net in hierdie oomblik my hande teen die vensters kan plaas , na die hemel kan kyk en te kan weet dat hierdie aardse dinge eendag sal verbygaan. Dankie dat u ons nooit begewe en verlaat nie , dat ek my hart voor u kan uitstort en dat u alles van my ken , my gedagtes , gevoelens, moedeloosheid , vreugde en besluite. Here help my om in alles en met alles u te verheerlik? AMEN

0:00
0:00