DIE GROENTETUIN.

Daar was twee vroue wat op dieselfde dag elkeen ’n groentetuin begin het. Hulle het die grond voorberei en toe die saad geplant. Die een vrou het haar groentetuin net so laat staan en gewag dat dit moet vrug dra. Die ander vrou het in haar groentetuin begin werk. Sy het paaltjies geplant by die groente wat hoog groei en nette om die ander gespan sodat die hase nie daarby kan kom nie. Sy het ook hard gewerk om al die onkruid uit die beddings te verwyder.

Dit is ’n paar maande later dat die twee vroue saam uitgaan om te gaan oes. Die een wat haar groentetuin net so gelos het en gewag het vir die oes het gevind dat die tamaties op die grond lê en vrot. Die boontjie-ranke het om die ander plante gegroei en die bossies het die res van die groente dood gedruk. Sy het maar net so ’n handvol geoes en huistoe geneem. Sy het gedink dit is nie die moeite werd om ’n groentetuin aan te lê nie, want die oes is swak en die toestand van die groente is swak. Dit is vir haar beter om na die plaaslike winkel te gaan en haar groente daar te gaan koop.

Die ander vrou wat haar groentetuin bewerk het, het ’n baie goeie oes oor ’n tydperk ingesamel. Die smaak van die groente was ook baie beter as die wat in die winkel te koop was. Sy het haar somme gemaak en bevind dat sy goed gespaar het. Albei het geplant maar net een van die vroue het voordeel getrek.

Is dit nie so dat daar kinders van die Here is wat hulle lewe aan die Here wy, maar die invloed van die verbinding het verskillende uitwerking op hul lewe. Die een se lewe is ’n lewe waar die Christendom wel sin maak maar hulle skik nie hul lewens rondom dit nie. Die ander se aanslag is anders, hulle maak tyd vir Bybelstudie en gebed. Soos wat die lewe vorder kom ’n mens agter dat daar nuwe einskappe ontwikkel in die persoon se lewe tot eer van God. Ander word aangetrek daardeur en vra rigting en raad. So begin daar ’n bediening om ander te help en die persoon kom dit nie eers ageter nie.

Albei het dieselfde groentetuin geplant maar net die een het die vrug volkome gepluk en voordeel getrek.

Liewe vriend/in, is jy daagliks besig om jou siele-lewe te voed of is jy besig om dit te ignoreer? Werk jou eie heil uit leer die Woord.

Fil. 2:12 ”Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”

:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

GEBED

Here, baie dankie dat ek nou voor U kan buig. Ek weet en besef dat ek my eie geestelike lewe nalaat en verwaarloos omdat ek die hele dag so baie moet doen en rond hardloop. Here help my om U eerste te soek in my lewe? AMEN

0:00
0:00