Skriflesing: Johannes 3

Titel: Die Gees werk soos die wind

Dit verbaas ’n mens om te sien hoedat mense soms die goeie nuus vd Woord verander na slegte nuus en dan die slegte nuus onder die vaandel van goeie nuus aan mense verkondig. ’n Mens sien dit veral wanneer dit oor wedergeboorte/Johannes 3 gaan. Ons Here Jesus praat oor die wedergeboorte as GOEIE nuus, maar hoe dikwels verstaan ons dit totaal verkeerdom?

Jesus praat met Nikodemus oor die noodsaak van wedergeboorte en – kyk mooi – Hy TROOS vir Nikodemus daarmee. Hy verkondig aan hom goeie nuus wat opgewonde maak en die bloedsomloop vinniger maak. Hy bring aan Nikodemus die troosvolle belofte dat dit wat menslik onmoontlik is, nou 100% moontlik is omdat Gód self dit doen. Wát is menslik onmoontlik? Dit is onmoontlik vir ’n mens om jouself in ’n nuwe mens te verander – om geestelik “oorgebore” te word. Maar juis dit beloof God dat HY dit eiehandig doen & sal doen. Is dit nie iets om oor BLY te raak nie??

Maar wat maak ons as mense met Johannes 3? Ons maak daarvan ’n dreigement! Ons maak daarvan ’n nuwe wet wat nagekom moet word om in die hemel te kom. Dink maar net aan die plakker agterop die motorruit: “Is jy al weergebore?” Bedoelende: “Jong, het jy al die nodige stappe geneem om te begin met jou weergeboorte? Anders gaan jy reguit hel toe. Wakkerskrik boetie!” Maar, dit is juis NIE die manier waarop Jésus met Nikodemus praat nie!

Jesus neem juis die laste van Nikodemus se skouers af, want Hy weet wat ’n groot Fariseër Nikodemus was – ’n man wat vasgevang was in ’n wettiese lewe. Nou gaan plaas Jesus nie ’n nuwe wet op Nikodemus se skouers nie, maar Hy neem juis die laste weg en verseker vir Nikodemus dat GOD hom verander in ’n nuwe mens. Hy doen dit deur Sy Gees. En die Gees werk soos die wind.

HOE doen die Gees dit? Die Gees laat jou vasklem aan die gekruisigde & opgestane CHRISTUS. Jesus sê dit presies só. Toe Nikodemus vir Jesus vra: “Maar hóé moet ek – ’n volwasse man – wéér gebore word? Ek kan tog nie weer uit die skoot van my moeder gaan nie.” Toe antwoord Jesus hom met ’n verhaal uit die OT wat hy goed geken het. Jesus sê: “Hoe het die sterwende Jode in die woestyn – wat deur die giftige slange gepik was – weer lewend geword? Hoe is hulle lewendgemaak? Hoe is hulle oorgemaak? Antwoord: Hulle het net Moses se woorde geglo toe hy vir hulle gesê het hulle moet na die koperslang – wat op die paal verhoog was – kyk. Presies só word EK – Jesus Christus – van die aarde af verhoog deur aan die kruis te sterf en op te staan uit die dood. Dáármee maak die Gees jou lewendig, Nikodemus – Hy maak jou lewendig met MY wat verhoog is. Aanvaar wat Ek vir jou sê. Kom, kleef MY aan deur My woorde te omhels en te aanvaar. Dit is hoe die Gees jou laat nuutword. Dit is nie JY wat dit doen nie, dit is HY wat dit doen.”

Gemeente, hóór u hoe troos die Heiland vir Nikodemus met die wedergeboorte. Hy dreig hom nie met ’n klomp vereistes waaraan hy moet voldoen om in die hemel te kom nie. Nee, hy vee Nikodemus se trane af met die sakdoek van Sy woorde. Sodat Nikodemus se hart kan oopgaan en hy JESUS kan omhels met al Sý verdienste. Hoe onbeskryflik wonderlik is dit nie!

Dalk is ú ook iemand wat worstel en vra: Here, waaraan sal ek tog kan wéét dat dit alles ook vir mý bedoel is? Waaraan sal ek tog die werking van die Heilige Gees in my lewe kan herken? Onthou dan Jesus se woorde: Die Gees werk soos die waai vd wind. En, dink net ’n bietjie hoe wind waai. Soms sien jy net die ritseling van die blare van die bome. Soms voel jy hoe die dak bewe van die rukwind. Soms voel jy net ’n ligte koeligheid deur jou natgeswete hemp. Die wind skroei, huil, verkoel, laaf, vertroos, maak skoon. Soms is die wind ’n troos wanneer jy voel jy vergaan van die hitte en die stof. En jy weet: Die wind is ’n aanduiding dat daar magte & kragte buite jou is wat met jou werk, maar wat jy nie kan beheer nie. Jesus sê: Só is die Gees besig – in jou en met jou. Dit is die merkteken van die wedergeboorte. Die Gees wat soos die wind werk.

Soms ruk en pluk Hy jou rond soos in ’n storm voordat die groot reën kom. Soms hoor jy die gehuil oor jou dade en jou dinge. Soms ritsel die Gees deur jou gemoed wanneer jy skielik bewus word van ’n iets wat jy voorheen nooit gesnap het nie. Soms word jy geskroei asof ’n warm woestynwind jou tref. Soms hoor jy ’n stem wat in sagte stiltes en koeltes praat.

Jesus sê: Só gaan dit met die mens wat uit die Gees gebore is. Dit is die troos wanneer dit vir jou voel of jy vergaan onder die hitte en stof van die lewe.

En dit is hiervan wat die Gees aan ons absolute sekerheid kom gee deur die bediening van die Nagmaal. Want, wat gebeur in die Nagmaal? Die Here kom bevestig met die Nagmaal aan mý persoonlik dat Hy mý nuut & vry gemaak het toe Hy verhoog is op die kruis EN dat Sy Gees ook aan mý gegee is. Die brood & wyn is Sy persoonlike handtekening onder Sy beloftewoord. Dit is ’n waarborg. Dit is bedoel om jou sekerheid te gee. Soos wat jy ’n posseël op ’n brief plak. Die papiertjie waaruit die seël gemaak is, is bloedweinig werd, maar dit sê so baie – dit sê vir die poskantoormense: Daar is regtig ten volle vir hierdie brief betaal – stuur dit maar na sy bestemming. Net so beteken die stukkie nagmaalsbrood en slukkie nagmaalswyn bloedweinig (proe dit skaars) – maar dit sê so baie – dit waarborg iets wat Gód sê. Wat sê Hy?

Net so seker as wat hierdie broodjie voor jou oë gebreek word en jy dit met jou mond eet en insluk, net so seker is Jesus se liggaam vir jou gebreek en het Hy jou met Sy gebreekte liggaam volkome gered en verlos en bevry en gereinig en wederbaar en nuutgemaak. Jy mag dit glo. Jy moet dit glo. En daarna sal jou lewe nie weer dieselfde wees nie.

Sal die poskantoormense die posseël wat op die brief geplak is, betwyfel? Waarom sal ons dan Gód se seël betwyfel. Dit is werd om ten volle aangeneem te word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00