DIE GEBROKE HART  - (vol nederigheid)  Psa 51:17   Pieter Scholtz

“Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!

Toe elkeen van die dissipels begeer het om groot, of dan die grootste te wees, het Jesus drie dinge by Hom ‘geneem’ om Sy gesindheid van nederigheid aan hulle te toon en só die wil van Sy Vader te volbring. Hy het ‘n ‘kindjie’ by Hom geneem – die voorbeeld van ‘grootheid in nederigheid’; die ‘doek’ om Sy lyf – ‘n voorbeeld van ‘grootheid in diensbaarheid’ … en … die ‘beker’ aan Sy mond – ‘n voorbeeld van ‘grootheid in volkome oorgawe’! Die suiwer strome van lewende water soek altyd die gebrokene van hart uit om by daardie ‘oop skeure’ in te vloei, om dan weer daar uit te vloei na dorstige siele en word dan riviere van God se oorvloed!

 

God het vir die mens ’n heilige beginsel en bloudruk in werking gestel toe Hy bepaal het dat alles wat Hy aan ons beskikbaar gestel het om tot bruikbaarheid te verwerk éérs gebreek, gesmelt, gebak en sag gemaak moet word. Soos die hand van die pottebakker vir die klei; die vuur van die smelter vir die yster; die hamer vir die rots; die saag vir die hout; die ploegvoor vir die saadkoring; die oond vir die deeg, die wynpers vir die druiwekorrel en die snoeiskêr vir die wynstok, om net ‘n paar te noem!

 

Net so het God dit beskik dat ons, as mense wat Hý tot bruikbaarheid wil voorberei en toerus, net soos die koringkorrel, eers in die grond moet VAL en daar STERF voordat dit lewe en vrug kan voortbring! Ons harde self moet eers gebreek word, ons harde harte sag, ons ‘sportiewe’ gewete teer en ons hoogmoedige en eiesinnige houding verdwyn! Ons moet eers sensitief word vir Sy lig; ons gesindheid eers voor God en teenoor mense nederig, ons siele dorstig na Sy Woord en ons harte eers sag en gebroke voordat ons as betroubare en waardige getuies van Christus bevind kan word. Hier is drie kenmerke van gebrokenheid – ‘n teer gewete, ‘n rein hart en ‘n nederige gemoed.

 

    Dink aan die metodes en instrumente wat God dikwels in ons lewes gebruik – van loutering, toetsing, beproewing en lyding waardeur Hy somtyds sommige van Sy uitverkore instrumente laat gaan om hulle dan eers waarlik beproef (vuurproef) en geskik te maak om in te pas in die ‘boog’ wat Hy wil span om die ‘pyl’ reguit te laat vlieg! ‘n Sendeling vertel dat in ’n sekere gebied primitiewe mense net baie krom bosranke of takke besit het waarvan hulle reguit en gladde pyle kon maak. Hulle het die krom takke afgesaag, die knoetse en uitgroeisels afgesny, die bas afgemaak en dit dan in warm vure reguit gebuig totdat dit pylreguit was! Dan het hulle dit verder in die vuur droog en hard gemaak! Dan het hulle die reguit stok geskaaf, glad gemaak en dit uiteindelik gepoleer totdat dit perfek in hulle boog gepas het. Só kon hulle die boog span en die pyl reguit na die teiken laat vlieg! Josef se ‘voete was in ysters geknel totdat die woord van die Here hom beproef verklaar het’. Baie wat hierdie toetse nie kan deurstaan nie, wat nie die ‘ysters’ of die vingers kan verdra waardeur God die ‘druiwekorrel’ wil verbrysel om die goeie wyn uit te pars nie, verander in harde, ronde en gladde ‘albasters’ wat uitglip en voortgaan op hulle eie gevaarlike paaie van skade, rampspoed en vernietiging!

 

Toe die Here Jesus uitgeroep en die belofte gemaak het dat die wat na Hom toe sou kom en in Hom GLO soos die Skrif sê – uit húlle binneste sou daar strome van lewende waters vloei – het Hy nie gepraat van die wat die Heilige Gees sou ontvang (en dan lekker sou terugsit en gelukkig voel nie), maar van daardie mense wat die strome uit hulle binneste – uit hulle rein harte (wat noodwendig ook gebroke moet wees) sou laat uitvloei! Só het die soetste Naam van ‘Jesus’ ook die Naam geword wat ‘soos salf uitgegiet’ is en só sy geur en waarde vir ons verkry het! (Hoogl.1:3). Só het Maria ook eers die albasterfles gebreek voor haar welriekende en helende salf op Jesus kon uitgiet en die geur daarvan die hele vertrek gevul het!

 

Onthou net één ding en let op wat Jesus self gesê het – jou skatte en klere wat jy vir jouself vergader, sal die mot en die roes verteer! En jou koringkorrels wat jy bêre, sal ‘alleen bly’ vir die miet, maar as dit in die grond val en ‘sterf’ lewe dit weer en dra veel vrug! Koringkorrels moet gemaal, gestamp en vergruis word, dan ‘bind’ dit maar anders bly dit ‘kaboe’ en kleef nie aan mekaar nie! Dan is dit ‘elkeen net vir homself’! Selfs ’n sogenaamde rein hart wat nie ook ‘n teer en gebroke rein hart is nie, mag uiterlik blink en onberispelik voorkom, maar innerlik is daar gewoonlik ’n groot gebrek aan empatie; aan opregte begrip en medelye, teerheid, barmhartigheid, vergewensgesindheid en warm liefde! Tog is daar baie gebroke harte wat nie rein is nie; harte wat nie werklik oor sonde huil nie, maar slegs oor die pyn wat hulle self ervaar en hulleself aandoen weens die gevolge van hulle sonde (2 Korintiërs 7:10). Daardie is egter die droefheid van die wêreld wat die dood bewerk. Daarteenoor is daar die droefheid volgens die wil van God wat ’n onberoulike bekering tot redding bewerk, ’n houding en lewenswyse wat getuig van ’n verandering na die beeld en gesindheid van Christus, waardeur sy lieflike geur uit elke aspek van jou elkedagse lewe straal.

 

Die kenmerke van ware gebrokenheid is teerheid, nederigheid, begrip, verdraagsaamheid, getrouheid en omgee; dinge wat jou bó die gewone, ja selfs bó mense se verdenking verhef en alle weerstand, vooroordeel, suspisie en wantroue by hulle afbreek en jou toegang tot baie harte gee! Gebrokenheid is daardie gesindheid wat gewillig is om deur God en onder sy hand, deur omstandighede wat Hý toelaat verbrysel te word – met só ’n gesindheid dat dit Hom behaag en vir Christus verheerlik (Let aub op Jesaja 53:10; 57:15)!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00