TAFELBERG GEMEENTE
Die eindoordeel gee ons hoop
2 Tessalonisense 1: 1-10
Opname deur Radio Tygerberg
Hoe voel u wanneer u die woord OORDEEL/EINDOORDEEL hoor? Die kans is goed dat dit by ons die een of ander baie NEGATIEWE assosiasie/emosie wek. Dalk ’n stuk vrees & onsekerheid. Gevoel van: “Hier kom moeilikheid”. Daar is bitter min Christene wat POSITIEF dink oor die komende eindoordeel. Die rede: omdat ons dikwels so onkundig is oor wát die Woord presies hieroor leer.
Ek wil u ’n vraag vra: WAT was dit wat deur die eeue aan gelowiges die krag & hoop gegee het om onreg/verliese/aaklike omstandighede te dra? WAT het hulle deurgedra wanneer hulle onregverdig behandel is? WAT het hulle die krag gegee om na brandstapels te stap om lewend uitgebrand te word ter wille van hulle geloof in die heilige evangelie? Waarom kon hulle steeds by die Waarheid bly? Waarom kon hulle aan die HERE getrou bly, al het hulle geen openbare aansien gehad nie? Tessalonisense: Volharding & geloof TE MIDDE VAN lyding & vervolging (vers 4).
In ’n boekie met die titel “Five English Reformers” lees ek die verhale van hoe Engelse gereformeerde kerkleiers – gedurende die 16e eeu – op brandstapels lewend verbrand is ter wille van hulle geloof in die waarheid van die evangelie.
Vanaf bladsy 35 word beskryf hoe John Hooper op 9 Februarie 1555 verbrand is. 7000 mense het die teregstelling gade geslaan. Dit word vertel hoe Hooper met ’n glimlag na die brandstapel gekyk het en toe gekniel het en vir 30 minute gebid het. Toe het hy vrywillig op die brandstapel geklim en ’n bondel riete in elke hand geneem en dit gesoen. Hy het selfs vir die mense gewys wáár hulle al die hout moes pak. Ongelukkig was daar te veel groen hout en het Hooper 45 minute lank gebrand voordat hy 10 maal uitgeroep het: “Jesus ontvang my gees”. Later was sy tong geswel, maar sy lippe het steeds gebid.
Vraag: Wat het gee aan martelare dié bonatuurlike krag? Watter antwoord gee 2 Tessalonisense 1?
Weet u die antwoord? Omdat hulle die lewende & sekere toekomsHOOP gehad het dát daar verseker ’n finale eindoordeel sal kom. Gaan lees maar weer verse 6-10. ’n Egte/werklike gebeurtenis wanneer die GOD van hemel & aarde in die openbaar bekend sal maak WIE aan Hom behoort het en wanneer Hy van die Nuwe Aarde af sal uitban diegene wie NIE gedurende hul aardse lewens vanuit Sy kruisredding gelewe het nie. Op die NUWE aarde sal niemand kom wat nie op die OU aarde met HOM gelewe het nie. By die eindoordeel sal dit ’n enorme FEES wees, wanneer REG & GEREGTIGHEID op ’n perfekte wyse sal geskied. DIT is die lewende HOOP wat die ware gelowiges nog altyd staande gehou het in ’n onregverdige wêreld & benouende omstandighede.
U sal nêrens in die Bybel lees dat gelowiges se HOOP geanker is in die tydelike wêreld nie. Geen oppervlakkige niksseggende trooswoordjies. U sal nie in die Bybel lees: “Aag toemaar, omdat jy ’n kind vd Here is, sal alles gou-gou regkom. Jy sal gespaar word.” Die troos/hoop vd Evangelie is geen goedkoop woordjies nie. Die ware troos is die SEKERHEID wat die gelowige het dát daar ’n eindoordeel sal kom. Vers 7: “Aan julle lyding sal ’n einde kom WANNEER Jesus met ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.” Dit is nie ’n stukkie toekoms-fantasie wat die kerk ontwerp het sodat mense kan “cope” met die lewe en hul probleme kan ontvlug nie! Die komende eindoordeel is ’n werklikheid omdat Jesus uit die dood opgestaan het.
Beeld: Matriek-eindeksamen. Wat gee aan ’n kind 12 jaar lank die moed om uit te hou op skool? Sekerheid: Eindeksamen. Twaalf jaar se skoolgaan sal met één toets getoets word. AL die ánder eksamens, sport, prestasies, sosiale lewe het NIE die gesag wat die eindeksamen het nie. Niemand sal ooit vir jou vra hoe jy in die Graad 8 eksamens gedoen het nie. Niemand sal vra hoeveel drieë jy in Rugby gedruk het nie. Niemand sal vra of jou naam op ’n ererol was nie. Niemand sal jou vra hoe COOL jy was nie. Al wat saakmaak is die eindeksamen. Neem dít weg, en alle selfdissipline val weg. Neem die eindeksamen weg, en geen leerder sal meer GEFOKUS leef en verstaan waaroor skool EINTLIK gaan nie. Enigste manier hoe jy ’n kind kan fokus op dít wat eintlik saakmaak – nl. die akademiese leerplan – is om die kind se aandag te vestig op die eindeksamen.
Dit is ook die doel van die eindoordeel in die skepping. Dit hou ons by die leerplan vir die lewe. Daar kom ’n eindvraestel wanneer die lewende God ’n onderskeid gaan maak tussen waarheid en leuen EN wanneer Hy die ganse openbare wêreld gaan toets. Dán sal HY aantoon WIE by die leerplan gebly het. DAN maak dit nie in die minste saak hoeveel onreg ons gely het – hoeveel verliese ons gehad het – hoeveel prestasies ons behaal het – hoeveel sosiale aansien ons gehad het – hoe ons aan die agterste speen gedrink het – hoe ons uitgeban was uit die groep – hoe ryk/arm ons was nie. DAN TEL NET EEN DING: Die leerplan. En die leerplan is: Gehoorsaamheid aan die Evangelieboodskap. Die leerplan: Dat ek leef uit God se liefde vir my as sondaar. Leerplan: Dat ek aanvaar dat Christus in my plek kom staan het en my vrygemaak het. Leerplan: Dat ek aanvaar dat ek – as onheilige – as heilige kan leef. Leerplan: Dat ek God dien vanuit hierdie geloof. Leerplan: Dat ek God liefhet omdat Hy my as sondaar begenadig het. Leerplan: Dat ek toegewyd met Hom leef omdat Hy my vergewe het terwyl ek deur-en-deur die hel verdien.
Die fantastiese verrassing is: Ek weet nou reeds met 100% sekerheid wat mý eindeksamen-uitslag gaan wees!! Hoekom? Want ek weet ek is met die ware leerplan besig – niks anders nie. My rus & troos is : dit waarmee ek nou besig is, is die leerplan. Ek weet nou al wat op die eksamenvraestel gaan staan. Ek weet nou al dat ek geslaag het. Geen veroordeling vir wie in Christus is nie (Rom 8:1). 2 Tes 1:10: “Julle SAL ook daar wees, want julle het ons prediking geglo.” En dit is wat ek ook doen. Ek glo die prediking van Chirstus. Dat ek met God versoen is op die kruis. Volmaak.
Vir die onkundige mens klink dit absurd dat die sekerheid van die komende eindoordeel ’n mens op jou voete kan hou. Maar ú is nou nie meer onkundig nie. U is nou vanuit die Woord ingelig. U weet nou waarom ’n gelowige onreg & verliese kan verdra, slegte omstandighede kan hanteer, by die Waarheid kan bly. Omdat die kind vd Here weet dat daar ’n dag kom wanneer God self reg & geregtigheid sal laat geskied en alle ongeredde mense wegban van die nuwe aarde. Die kind vd Here weet dat hy NOU REEDS die eksamen – wat die Here dán sal afneem – geslaag het. Omdat hy GEGLO het dat hy dit IN JESUS CHRISTUS reeds geslaag het.
Dalk voel u tóg nog dat dit alles so abstrak/onwerklik/vaag is. Net maar mooi woorde. Een oor in, ander oor uit. “Môre – wanneer ek weer die aanslag van die lewe aan my vel voel – is dit wat ek in die erediens gehoor het gou-gou vergete” DIT is die rede waarom die Here vir ons verlede Sondag sigbare/tasbare TEKENS kom gee het. Brood & wyn. Om ons PERSOONLIK te verseker dat die leerplan waarmee ons besig is, die regte leerplan is. Om ons te verseker dat JESUS die eksamen in ons plek geslaag het. Om ons te verseker dat die komende eindoordeel ons ware HOOP is. Indien ú die brood & wyn persoonlik eet & drink, dan MAG/MOET u met sekerheid wéét dat die troos & hoop van evangelie vir ú persoonlik bedoel is. Die Here BEDOEL dit in opreg. Glo dit – persoonlik en van harte – en word vervul met verwondering & liefde vir Hom. En moenie weer toelaat dat die eise van hierdie lewe u FOKUS wegneem van die HOOP wat op u wag by die eindoordeel nie!
Dr Chris Saayman
Tafelberg Gemeente
021- 551 6704
saay@isales.co.za