TAFELBERG GEMEENTETema: Die Duif en die Lam
Skrif: Jesaja 53: 6-8, Matteus 3: 16-17, Johannes 1:29
Ons is tans, wat die kerklike jaar aanbetref, in die lydenstyd. Dit is die tyd wat Goeie Vrydag en Paasfees voorafgaan en waar Christene regoor die wêreld nadink oor die betekenis van Jesus se lyding. Vir die volgende drie Sondae wil ons graag die prediking hierop toespits – met die hoogtepunt ons Nagmaalsdiens op Goeie Vrydag 6 April en ons Paasfeesdiens op Sondag 8 April.
Ons het gelees van ‘n DUIF wat op ‘n LAM neerdaal. En ons almal weet wat dit beteken: Die Lam is ‘n versinnebeelding van Jesus en die Duif is ‘n versinnebeelding van die Heilige Gees. En hierdie neerdaling van die Duif op die Lam het plaasgevind tydens Jesus se eie doop.
Maar het u al ooit gewonder oor die betekenis van hierdie twee beelde. Waarom nou juis ‘n LAM en ‘n DUIF? Niks staan tog toevallig in die Bybel nie. Die héle Bybel is tog geïnspireer deur die Gees ( 2 Tim 3:16). Watter boodskap wil die Here aan óns gee met hierdie twee beelde wat van Jesus en die Gees gebruik word?
Die LAM en die DUIF is die twee diere wat die innerlike karakter/gesindheid/hart van Jesus en die Gees voortreflik uitbeeld. Tewens, by ‘n lam & duif vind ons byna dieselfde soort gesindheid: selflose gebrokenheid. Kyk maar na ‘n klein kindjie se gedrag en houding teenoor ‘n lam of ‘n duif: ‘n kind sal nooit terugdeins vir ‘n lam of ‘n duif – soos teenoor ander soorte diere nie. Indien ‘n dier grom/blaas/steek/tandewys, sal ‘n kind terugdeins. Maar nie vir ‘n lam of ‘n duif nie. ‘n Lam en duif openbaar dieselfde soort innerlike – en hulle is tuis bymekaar.
Met respek gesê: Indien die hemelse Duif (Mt 3) nie spesifiek ‘n LAM gevind het om op te kom rus nie, sou Hy teruggevlieg het hemel toe. ‘n Duif is baie sensitief. Indien die Duif enigiets in Jesus sou vind wat byt/skop/steek/stert swaai/angel het/ giftig is/brul/blaas, sou Hy teruggevlieg het hemel toe. Die Duif kon SLEGS op ‘n Lam kom sit. Hy voel tuis by ‘n Lam. Want ‘n lam is so sprekende van selflose gebrokenheid. Daarom verklaar Johannes 1:33 dat die Duif op die Lam GEBLY het – omdat Jesus altyd die lam-gees in Hom omdra. Hy ís immers die Lam van God.
Kyk maar net mooi hoe lyk hierdie Lam soos gesien in Jesaja 53: 1) Absolute eenvoud/gebrokenheid. Niks van: “Ek loop mý pad” nie. Niks van: “Ek het die krag” nie. Nie: “My planne/opinies/probeerslae” nie. Geen gesindheid van “ek wil iets wees” nie. Hierdie dinge pas gewoon net nie by die lam-gees nie.
2) Bied geen weerstand. Hoe maak ‘n skaap ter slagting? Is daar selfverdediging? Gou met ‘n antwoord? Kap terug? Wys vuis? Vol slimmighede? Hoe het Jesus gereageer toe: Al Sy regte van Hom weggeneem is? Toe Sy goeie Naam weggegooi is soos iets wat vuil is? Toe Sy vryheid Hom ontneem is? Hy het nie teruggeveg nie. Ook nie Homself verdedig nie. Hy het ook nie teruggeantwoord nie. Dit is die Lam ter slagting.
3) Stil. Dink maar aan Jesus. Toe hulle Hom ruk/pluk/rondstamp/aankla/onregverdig beskuldig – het Hy geswyg. Hy het nie die engele – wat gereed gestaan het om Hom te help – se hulp ingeroep nie. Hoe maklik kon Hy gou-gou ‘n antwoord gereed hê. Hoe maklik kon Hy die mense dreig met die ewige verderf? Hy kon op Sy perdjie wees. Hy kon opgesmuk wees. Sy gevoelens kon so maklik oorloop van bitterheid en seer. Hy kon inmekaar krimp van selfbejammering: “Ek is verwerp. Ek is uitgestote. Ek is ‘n niks. Niemand sien my raak nie.” En tog was Hy stil. Want Hy is die Lam.
4) Rein. Wat is reiner as ‘n lam? Die onreine uitkruipsels van ‘n kraai/skerpioen/beer/wolf/slang/gifding is totaal afwesig.
Is dit ‘n wonder dat die hemelse Duif – die Heilige Gees – op Jesus gekom het? Want u sien: Die Duif kon by Jesus die regte “oppervlakte” vind om op te kom sit – met respek gesê. En dit is by Jesus as Lam, wat God mense ingelyf/ingereken het. Ons is vervang met die Lam-gees – uit pure genade. Daarom kan die Gees ook in ons woon – vir ewig.
Vanuit ons sondige hart/natuur is ons “oppervlakte” egter nie geskik vir die hemelse Duif nie. Ons innerlike is – kragtens ons aandeel aan die sondeval – presies die teenoorgestelde van die lam. Indien ons so sou bly, sou die Duif aanhoudend moes wegfladder. Ons het van nature soveel in ons wat steek/byt/brul/skop/blaas/angelsteek. Allerhande diere, behalwe ‘n lam. Vir ons is dit so vanselfsprekend soos asemhaal om die Gees te bedroef (Efes 4:30). Ons is goed bekend met die skerpioen/slang/spinnekop/wolf/krokkodil. Maar heel vreemd aan die gees van die Lam. Tewens, ons sondige natuur wil glad nie die lam-gees hê nie. Daarom is ons hele lewensingesteldheid op die eie-ek gerig. En op selfsug. Daarom die selfbejammering. Die opgeblase ontevredenheid. Die ongeduld, liefdeloosheid en ontrou. Daarom die slimmighede en selfregverdiging. Daarom teer ons so op die verlede/ons kinderjare – toe dinge skeefgeloop het. En vind ons die rede vir ons huidige verkeerde gedrag in die dinge wat tóé gebeur het. En ons hou verbete aan hierdie goed vas: maand in en maand uit. Jaar in en jaar uit. Daarom lyk ons binnekant en buitekant dikwels nie dieselfde nie. Uiterlik: baie vroom en gelowig, maar innerlik – daar waar niemand kan sien nie – ly ons neerlaag op neerlaag. Erken dit maar: Ons grootste krisisse beleef ons by dáárdie deel van ons menswees waar niemand kan sien nie. Die innerlike. Dit is verborge en ons hou dit sorgvuldig toe. Nou ja, op só ‘n oppervlak kan die sensitiewe hemelse Duif nie kom sit nie. Want Hy soek die gees van die Lam.
Dalk sal u wil uitroep: Hoe op aarde sal die Gees van God dan óóit in mý lewe wil tuiskom en blý? Want al sou ek hóé vasberade besluit en kies en bid en op my tande kners, sal die bodem van my skerpioenhart nóóit verander na ‘n lam nie. Ja, enige mens wat eerlik genoeg is, sal dit moet erken. Die groot vraag is dus: Watter hoop is daar dan vir enige een van ons? Ís daar ooit ‘n uitweg?
Ja, ja, ‘n duisendmaal JA! Juis met/deur middel van die diepe LYDING van die Lam, het God ú innerlike verander en vernuwe en vervang met die lam-gees. Toe die groot Lam van God gely het en geslag is, was Hy nie alleen nie. Hy het dit in die plek van mense gedoen. Ja, in ú plek. Dit beteken: al was u toe nog nie gebore nie, het Gód u by die Lam se lyding ingereken. Net omdat Hy wou. Dít is die bevrydende Blye Boodskap. Dit is die groot profesie van Jesaja 53 – 800 jaar vóór Christus uitgespreek. Toe reeds het Jesaja die koms van die Verlosser gesien – en hoe Hy sou ly en sterf – én dat Hy dit plaasvervangend sou doen. Hy neem ménse se plek en ly hulle lyding en sterf hulle dood en vervang hulle innerlike met Sy gees. ‘n Groot omruiling het plaasgevind: God het Jesus se lamgees myne gemaak en my skerpioengees Jesus s’n gemaak. Jesus sit nou met my skerpioengees. Ons mag Hom vertrou dat Sy lyding vir ons tel. Wie hierdie vertroue nie het nie, sal tot in ewigheid met die hart van ‘n kraai/beer/wolf/skerpioen/slang opgeskeep sit. Om nuwe blaadjies om te slaan, werk nie. Elkeen van ons weet dit uit eie ondervinding.
Maar dit is só onnodig. KYK net en SIEN wat God gedoen het. Hoor die Woord! Hoor en sien hoe God met/deur die Lam se lyding die skerpioengees in u & my doodgemaak het en aan ons Sy lamgees gegee het. Daarom is die Geesduif by ons tuis. In Romeine 6:6 spel die apostel Paulus dit uit: ons ou innerlike sondige mens IS saam met Christus gekruisig. Dit is tog onmoontlik nie iets wat ons self kon doen nie. Dit is God self wat dit bewerk het. Sien u dit? Die skerpioengees in ons kan op geen manier doodgemaak word deur ons inspanning/gebede/oorgawes/besluite/tande kners nie. Dit word doodgemaak deur die Lam se lyding – waarop ons heelhartig mag vertrou.
Daarom: waag dit ten ene male om Hom persoonlik te vertrou. Laat vaar al die swetende inspanning waarmee u tot hiertoe u verhouding met die Here benader het en kom tot geloofsrus in Hom en u sal weldra opmerk hoedat die hemelse Duif – die Gees van God – u innerlike al hoe meer omskep en wegtrek van die skerpioenangel na die gees van lam. Dit is mos Sy werk. En, omdat die Vader deur die Lam se lyding die lamgees aan ons gegee het, is die Duif by ons tuis. Hy fladder nie weg nie. Hy skep in ons die geloofsvertroue waarmee ons die Lam vertrou dat wat ons s’n is, Syne is en wat Syne is, ons s’n is. Hý het ons skerpioengees op Hom geneem en aan ons Sy lamgees gegee. Dit is die krag van Sy lyding.