‘’DIE DRIEVOUDIGE ‘VROLIKE HART’ (Spr.15 en 17)

Deesdae gebeur baie om selfs Christene swaarmoedig, mismoedig of selfs depressief te maak, maar met Jesus se versekering van,‘My vrede … My liefde … My blydskap … gee Ek vir julle’, bly ons positief! Die toestand, ingesteldheid en gesindheid van elke mens se hart het ‘n geweldige invloed op die welsyn van sy hele menswees. Sê die Bybel dan nie – bewaak jou hart BO alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe’ nie? Die probleem is egter dat die mens, en dikwels ook die kind van God, sy eie hart nie altyd volkome ken of kan peil nie, en as die Bybel sê – bedrieglik is die mens se hart bo alle dinge, wie kan dit ken, is dit vir ons ‘n probleem om onsself te diagnostiseer.  Maar as Hy dan ook vervolg – ‘Ek, die Here, deurgrond en ken dit’, is daar mos hoop dat Hy Sý lig daarin sal laat skyn en ‘n verskil sal maak.  Sal ons dan nie maar by Hóm, die groot kenner van ons harte, ‘n gereelde draai wil maak nie? Raadpleeg Hóm en Sy woord en laat Sy Gees se x-strale toe om vir jou LIG te werp op die gesindheid en gesonde ingesteldheid van jou HART voor God, teenoor jouself en teenoor ander mense en omstandighede!

 

   Die één Bybelboek wat ons regtig baie kan vertel van die mens se HART, is die Spreuke van Salomo, waar die woord ‘hart’ 78 keer voorkom! Van al hierdie is daar byv. net die drie wat nou aandag vra, wat ‘n paar baie kosbare, positiewe dinge te sê het oor daardie gelukkige mens, die een met die vrolike hart wie se vriendskap en teenwoordigheid vir elke mens verkwikkend, opheffend en inspirerend is! Jou ‘vrolike hart’ is mos aansteeklik en ‘n bewys dat jy werklik daardie kwaliteit geluk smaak wat ongewoon is in hierdie wêreld? Luister na die positiewe uitwerking van ‘n ‘vrolike hart’ …

 

1.    Spr.15:13 ‘’n Vrolike hart maak die aangesig bly’!

 

   Jou ‘gesig’ is die spieël waardeur mense jou ware karakter, jou emosies, jou gemoedstoestand en selfs jou lewenswyse redelik maklik kan peil! En dan is die blydskap (… in die Here) wat van binne kom en by jou aangesig uitstraal, seker die één ding wat WYS dat die bron van jou lewe gesond, heel en rein is! ‘n Gesig wat suiwer, egte blydskap uitstraal, is ook altyd vriendelik en aantreklik. Dit vertel nie net vir almal dat dit hier binne by jou goed gaan nie, maar dit laat ander ook verlang om in daardie vreugde te kan deel, want hulle sien iets raak wat baie kosbaar is, maar só skaars geword het! En as hulle sien dat dit nie iets is wat aangeplak, kunsmatig en van korte duur is nie, sal hulle mos begin belang stel in die geheim ‘agter’ jou blydskap! Dán is dit jóú geleentheid om hulle te vertel van jou dubbele geheim – jou geheime Bron van buite aan Wie jy verbind bly (‘verbly jou in die Here’) en die onsigbare Bron hier binne (die Heilige Gees) wat die vrug vd Gees, van BLYDSKAP genereer en dit laat uitvloei as ‘n stroom van vars lewenswater wat suiwer en spontaan is,! Ken jy sulke mense en is húlle jou gekose vriende … dan is jy gelukkig! Hulle is die ‘goud’ – daardie vriendelike, positiewe, rustige en gelukkige mense … hulle wat jou elke keer net ophef en inspireer!

 

2.    Spr. 15:15 ‘’n Vrolike hart het gedurigdeur fees’!

 

     Glo jy dat God het ons geskape om bly en gelukkig te wees? Om daarin te deel moet ons eers uitvind waar en hoe ons dit van binne kan besit sonder om dit van buite te probeer aanplak en ‘iets’ agter ‘n ‘masker’ weg te steek! Eerlike mense het beproef dat ál die reënbakke vd wêreld nie hulle sieledors kon les nie, terwyl die nasmaak daarvan wrang en vol pyn en smart is! Moenie eers probeer om die ‘blydskap in die Here’ kunsmatig te genereer nie!

   Ander  – soos Salomo – het gedink die geheime van versadiging en geluk is hier – ‘onder die son’ – te vinde! Maar hy het uiteindelik die sinsbedrog daarvan in sy ‘Klaagliedere’ erken. Daar is net EEN plek, by daardie EEN Persoon waar daardie suiwer, blywende geluk en blydskap te vinde is – by Jesus Christus! Jy sal verbaas wees om te ontdek dat Hý by jou HART sal begin om daardie morbiede ‘jy’ wat in selfbejammering floreer, te verander in ‘n gelukkige mens met ‘’n vrolike hart en gedurigdeur fees’! Uiteindelik het Salomo ook darem ontdek en erken dat ware geluk net daar ‘bokant die son’ te vinde is! Waarom dan toelaat dat die duiwel jou nog langer bedrieg en jou van jou skat van vreugde beroof?

 

   God het ook Sý (fees)maaltyd berei, Sy gaste genooi en toe die genooides nie wou kom nie, Sy deure wyd oopgegooi vir almal op straat en oral … maar … op een voorwaarde – sorg dat as jy dit wil bywoon, jy die bruilofskleed aanhet wat Hy voorsien. Hy sal dit by jou kom soek … daardie dag as die Koning ingaan om die gaste deur te kyk!

 

3.    Spr. 17:22 ‘’n Vrolike hart bevorder die genesing’!

 

   Baie van ons siektes is die gevolg van ons negatiewe houdings, gedagtes en gesindhede, maar God gee die beste resep vir enige siekte – ‘’n vrolike hart’ wat genesing bevorder! En die feit dat dit ‘n Bybelse resep is, is die waarborg dat dit sal werk! Probeer dit gerus! Siek in jou gees, gemoed of liggaam? Van almal is die van die gemoed en gees die ergste, met die mees verwoestende gevolge en by die Christin die mees tragiese! Het dit nie miskien sy oorsprong in jou HART wat nie aan God behoort en nie reg ingestel is nie? Tonne pille! Maar tog word die samelewing sieker by die dag!

 

Hierdie drievoudige ‘vrolike hart’ het ‘n ongelooflike, positiewe en helende uitwerking op enige mens wat dit as ‘n lewenswyse aangekweek het! In die lig van wêreldgebeure is selfs Christene geneig om somtyds depressief, vreesagtig en morbied te ‘voel’ maar dit hoef en mag nooit so ‘wees’ nie en dis ook nie die waarheid nie, want – onse Jesus leef!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00