DIE DRIE SUSTERS!
Die drie susters was almal weduwees en hulle het saam in een huis gebly. Die een suster het opgestaan en halfpad op met die trappe het sy tot stilstand gekom en toe gevra:- ‘ Wat is ek besig om te doen? Is ek besig om op te gaan of is ek besig om af te gaan?” Die jongste van die drie susters het haar geantwoord:- “ Jy is besig om op te gaan na jou bed toe om te gaan slaap.”
Dit was net so ’n rukkie daarna toe die ander suster ook opstaan en kombuis toe gaan om vir haar ’n koppie tee te gaan maak. Dit is toe sy in die deur van die kombuis kom dat sy omdraai en vra:- ‘ Wat is ek besig om te doen? Waarna toe is ek oppad?” Die jongste suster het haar ook gehelp met :- “Jy is oppad kombuis toe om vir jou tee te gaan maak.”
Dit is toe dat sy alleen is dat sy so op die tafel aanhoudend klop met haar hand en sê:- “Ek is tog so bly dat ek nie so vergeetagtig is soos my twee susters nie.” Sy het opgestaan en na die deur geloop en gevra:- “Wie is daar?”
Ja, ons almal vergeet. Dit is nie net die oues van dae wat vergeet nie. Ons het al mooi dingetjies uitgedink om ons te help om te onthou:- Strikkie aan die vinger , notas teen die yskas, dagboeke , “reminders” op die selfoon en rekenaar, ens.
Die Here wil ook vir ons voortdurend herrinner aan Sy Woord en Homself.
LUKAS 22:19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
FILIP. 3:1 Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid.
GEBED
Vader, baie dankie dat U soveel geduld met my het. Dankie dat U my telkens herrinner aan U Woord en aan U self. AMEN