DIE DANKBARE HART – (vol aanbidding) Pieter Scholtz

Danksegging is ‘n spontane en onmisbare deel van ons gebede en aanbidding. ’Wees in alles dankbaar’ is ‘n bevel en ‘ek sal die Here altyd loof’ is Dawid se reaksie op so ‘n vereiste, want in al sy stryd, nood, gevare en beproewinge het hy dit as die beproefde resep tot oorwinning in sy eie gemoed en oor al sy vyande ervaar! Enige gebed wat met ‘n loflied van dankbare aanbidding begin, stimuleer geloof en plaas die bidder onmiddellik op die hoër vlak van geloof en oorwinningsgrond! Dit vul en deurweek sy hart en gemoed met God se goedheid, grootheid en getrouheid, stel Hom in beheer en verheerlik Sy Naam! Begin jou gebede altyd om heel eerste die Here te loof, al voel jy ook nie so nie! Toe Martin Luther ‘n stadium van swaarmoedigheid bereik en net gesit en treur het, het sy vrou skielik voor hom gestaan, gekleed in rougewaad! Op sy vraag waarom sy dit doen, het sy gesȇ, ‘ek rou want die God van Martin Luther is dood!’ Die skok daarvan het hom weer tot verhaal gebring.

 

Kan u vandag met u hele hart en wese, soos die Psalmis, in Psalm 118:1 uitroep: ‘Loof die HERE want Hy is goed, want sy goedertierenheid (loving-kindness) is tot in alle ewigheid’? Die Here sȇ: ‘Hy wat dank offer, eer My!’ En onthou – ‘n offer wat nie duur en die beste is nie, of nie vrywillig, blymoedig en uit liefde geïnspireerd  nie, het nie veel om die lyf nie! Almal kan maklik die HERE loof as alles voor die wind gaan, maar om die HERE altyd te loof, sal kos dat jy sal moet leer om die ‘offer’ van dank te bring, selfs wanneer dit rondom jou donker is; wanneer jy geen lig kan sien of glad nie so voel nie, en ook wanneer moeilike omstandighede en stryd vir jou te veel wil word!

 

Toe koning Josafat, in groot benoudheid weens ‘n groot oormag in aantog teen hulle, in sy gebed in 2 Kronieke 20, heel eerste in vers 6 die grootheid en getrouheid van God prys, verseker God hom dat húlle nie eens nodig sal hê om te veg nie. Hulle sou net kon stil staan en die verlossing van die Here aanskou wat Hý bewerk! Dit het letterlik so gebeur dat, ‘die oomblik toe hulle die gejubel en lofsang aanhef, het die HERE ‘n hinderlaag teen hulle vyande opgestel’ om teen mekaar te veg en mekaar uit te roei! Iets soortgelyks het gebeur toe Moses sy vreesbevange volk toegespreek het met die woorde in Ek.13:14: ‘Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing wat die Here vandag vir julle sal bewerk …’ Die oorwinningslied van Moses vind in ons in hoofstuk 15 en vers 11 klink so: ‘O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, Een wat wonders doen?’ Die verlossing uit Egipte deur die Rooi See is dan ook die grootste enkele demonstrasie van God se ALMAG in die O.T. terwyl die grootste in die N.T. die opstanding van Jesus uit die dood is!

 

In Ps.116: vra die Psalmdigter: ‘Wat sal ek die HERE vergeld vir AL sy weldade aan my?’ Let op sy baie belangrike antwoord: ‘Ek sal die beker van verlossinge (meervoud) opneem en die Naam van die Here aanroep. My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk … en … ek sal U ‘n offer van danksegging bring …’ Peins gerus oor hierdie vier dinge in volgorde en die vierde is danksegging! Om die beker van verlossinge op te neem, beteken jy aanvaar elke aspek van Sy verlossing – Sy vergifnis, Sy heiliging, Sy toerusting en Sy oorwinning!

 

Paulus skryf in Filippense 4:6: ‘Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God …’  En in Kolossense 2:7: ‘gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging’. Danksegging gaan oor in aanbidding en aanbidding bring rus en vrede na jou onstuimige en vreesbevange gemoed. Met die Skepping het God éérs gewerk en toe gerus, maar die mens moet eers RUS (Sý ‘Rus’ ingaan Heb.4) voordat hy kan werk! ‘O God, gee ons tog asseblief meer dankbare, vreugdevolle en jubelende Christene om hierdie ou donker wêreld op te helder en die mense van die wêreld jaloers en begerig te maak om ook daardie geheim te kan ken!’

 

Openbaring 7:12 sluit vandag se oordenking af met die volgende wonderlike teks wat met dieselfde woord ‘Amen’ begin en eindig en beteken, dit sal só wees: ‘Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.’

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00