DIE CHINESE OU MAN!
Ek het hierdie week hierdie verhaal gehoor en wil dit graag met u deel.
Die koning het elke oggend op die mure van die kasteel geloop en dan het hy daar onder, voor die hoofingang, ’n ou man gesien wat staan en staar na die kasteel.
Indien die deure van die kasteel oopgaan dan sal hierdie ou man alles in sy vermoë doen om net ’n stukkie van die prag en praal van die kasteel aan die binnekant te sien. Hy sal rondspring en sy nek rek as hy net ’n deel van die kasteel kan sien aan die binnekant.
So het dit vir weke aan gegaan en op ’n dag wonder die koning waarom hierdie ou Chinese man altyd voor die kasteel staan. Hy het na die man gestaar en toe een van sy wagte na hom gestuur om te verneem waarom hy altyd voor die kasteel staan. Die wag het die boodskap gebring dat die ou man net die binnekant wil sien.
Die koning het die ou man dadelik laat haal en saam met hom gestap om hom die kasteel te toon. Die ou man het hom verwonder aan die pragtige pilare en plaveisel. Die wagte wat op strategiese plekke staan en die perde wat daar is. Die koning het hom aan die hand geneem en in die kamers en sale van die kasteel geneem. Daar was tye dat die koning die ou man moes aanspreek om saam te loop, want hy het soms net in verbasing en verwondering stil gestaan. Die koning het hom die skilderye en die skatkamers gewys maar toe neem die koning hom na die troonkamer. Hulle het hand aan hand daar ingestap en toe die ou man die troonkamer sien val hy op sy knieë en roep uit:- “ Laat my sterwe, laat my sterwe!” Die koning vra hom toe:- “Waarom wil jy sterwe?” Waarop die ou man antwoord :- “ Ek wil nooit weer hier uit gaan nie – ek wil hier bly!”
Vriend/in is dit nie so dat talle van die mense wat verklaar dat hulle Christene is maar net voor die deur van die kasteel van die Here staan en lewe nie? Het dit nie tyd geword om saam met Christus in Sy heerlikheid in te beweeg en wanneer jy in God se heerlikheid en teenwoordigheid kom, jy nooit weer daaruit sal wil kom nie?
Hoe Godsdienstig is die volk nie? Hoe oppervlakkig dien hulle die Here? Ja, talle het die keuse gemaak om nie hel toe te gaan nie maar wel hemel toe MAAR het jy die keuse gemaak om God lief te hê en ’n verhouding met Hom te lewe? Dit is dan dat jy saam Hom tot in die Troonkamer sal gaan!
Ondersoek jou lewe? God verwag ’n dieper verhouding met jou! Wat sal jy kies?
EFES. 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,
GEBED
Here, ek kies U om U in liefde en met liefde te dien asook om in ’n dieper verhouding met U te beweeg! AMEN