TAFELBERG GEMEENTE

Die brood is Sy liggaam en die wyn is Sy bloed
Skrif : Johannes 6: 53-60, 1 Korintiërs 11: 23-32, 1 Timoteus 2:5

Dit klink darem altevol of die Rooms-Katolieke ‘n sterk been het waarop hulle staan! Veral as ons ‘n gedeelte soos Joh 6: 53-60 lees. Die RK verstaan dit só dat die brood & wyn by die Nagmaal LETTERLIK Jesus se fisiese liggaam is. Die dissipels het dit destyds ook letterlik verstaan – dat Jesus letterlik geëet moet word. Daarom sê hulle in vers 60: “Dís darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

Dit hou verband met Jesus se woorde toe Hy die Nagmaal ingestel het (Mrk 14:22): “Nadat Hy die brood gebreek het, sê Hy: ‘Neem & eet dit, dit is my liggaam.” En – jare later – praat Paulus dieselfde taal wanneer hy in 1 Kor 11:29 van die nagmaal sê: “Julle mense eet die brood en drink die wyn sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is. Daarom word julle deur die Here getug.”

Die RK verstaan dit só: Die oomblik wanneer die priester – tydens die Mis – die instellingswoorde prewel, word die brood & wyn letterlik verander – deur ‘n wonderwerk van Bo – om die regtige fisiese liggaam & bloed van Christus te word. Van daardie oomblik af is dit nie meer brood & wyn nie, maar Christus self. Nou verstaan hulle die verlossing só: Jy word stelselmatiglik gered deurdat jy die fisiese liggaam van Christus insluk. Hy kom letterlik in jou in. Só kom God se genade in jou in. Dit word ingestort binne in jou in. Iets konkreet.

Óns glo dat Jesus NIE die woorde in Johannes 6 letterlik bedoel het nie. Hy het tog immers self in lewende lywe by die mense gestaan toe Hy dit gesê het. Die brood het beslis nie verander om Sy liggaam te word nie. Hy het dan liggaamlik daar by hulle gestaan. Net so min as wat die doopwater verander word in Jesus se letterlike bloed en Sy letterlike bloed oor die dopeling vloei.

Maar, juis op hierdie punt moet ons lig loop. Ons kan só in reaksie kom teen die RK siening, dat ons heeltemal oorkantel na ‘n ánder dwaling toe. En dit is dat die brood & wyn net maar ‘n simbool daarvan is dat Jesus 2000 jaar gelede gesterf het op die kruis. Dit is die ander dwaling: Die brood & wyn is net tekens van wat Jesus 2000jr gelede gedoen het en waarin ons glo. Net simbole. Herinneringstekens.

Die waarheid oor die nagmaal lê iewers tussen die uiterstes. Dit moet ons vanoggend deeglik ontgin. Wat beteken Paulus se woorde in 1 Kor 11 wanneer hy van die brood & wyn die volgende sê: “Dis IS Sy liggaam – en elkeen wat nagmaal gebruik moet dít reg onderskei”? ‘n Mens sal dit nooit reg verstaan voordat jy nie begin verstaan dat ons Here Jesus nog steeds (op hierdie oomblik) ‘n MENS is nie. Hy besit nog steeds Sy menslike natuur én liggaam. JA – Hy IS óók waaragtig ewig God, MAAR Hy is ook nog steeds MENS alhoewel Sy menslike liggaam ná die opstanding verheerlik & onsterflik is. Dit is ‘n absolute misterie, maar dit is die waarheid. Dit is ‘n feit: Hy is steeds MENS by die Vader. Dit is so duidelik in die Woord:

Ná die opstanding gebeur dit in Lukas 24: 37-39 dat Jesus by geleentheid aan Sy dissipels verskyn, maar hulle dink dit is ‘n gees. Toe sê Jesus: “Kom, voel aan my hande en voete. Dis tog Ekself. ‘n Gees het nie vleis en bene nie.” En vers 50 sê dáárdie Jesus het só liggaamlik opgevaar voor hulle oë. En in Handelinge 1:11 sê die engele vir die dissipels: “Hierdie Jesus sal net so terugkom soos julle Hom sien opvaar het.” Wat is dus die situasie nóú, in die tyd tussen die hemelvaart en wederkoms – die tyd waar ons lewe? Hy BEHOU steeds Sy menslike liggaam. Hy behou Sy menslike natuur. En juis daarin lê ons deurlopende verlossing. Want Hy is die mens wat ons veronderstel is om te wees, maar nie is nie. Hy is dit IN ONS PLEK. Daarom die aangrypende woorde van die Apostel in 1 Tim. 2:5: “Daar is net een Middelaar tussen God en mens: die MENS Christus Jesus wat Homself as losprys gegee het..” Let op die teenwoordige tyd: IS. Hy IS – MENS!! En Hy is dit in ons plek. Middelaar. Hy ruil met ons plekke om. Dit wat ons s’n is, is Syne. Dit wat Syne is, is ons s’n.

Ons moenie aan Jesus se kruisdood & opstanding dink as iets wat net 2000 jaar gelede gebeur het nie, want Hy is NOU die gekruisigde en opgestane Een. Ons moenie die fout maak om alles terug te skuif na die geskiedenis en dan glo ons nou maar dit wat tóé gebeur het nie! Hoe baie kerkmense se Christelike geloof bestaan daaruit dat hulle net in historiese feite glo. En dit terwyl díé Jesus wat 2000 jaar gelede gesterf het, NOU leef. Die kruisdood is NOU ‘n werklikheid en die opstanding is NOU ‘n werklikheid omdat Jesus NOU leef. En ons ewige redding is om INGESLUIT te wees by Hom soos hy nóú is. Om ingesluit te wees by Sy werklike regtige menswees en Sy werklike liggaam en bloed. Maar dit is nie óns wat onsself by Hom insluit nie. Dit is God die Vader wat dit deur die Heilige Gees doen. Deur die Gees word ons ingesluit by Jesus as Mens in die hemele. Dit is iets wat nou plaasvind. Ons taak is om dit te aanvaar. Nie net kennisneem nie, maar gelowig persoonlik aanvaar. En DIT is waarvan die brood en wyn ons verseker.

Dit is waarom die brood Sy liggaam is. Want in die brood ontvang ons Hom SELF. Nie omdat die brood & wyn verander word en Sy liggaam word nie, maar omdat die brood die sigbare teken is wat aan my waarborg dat Jesus steeds Mens is en dat die Heilige Gees my menswees by Sy Menswees insluit. Só insluit dat wat myne is, Syne is en wat Syne is, myne is. My sonde en korrupsie is Syne en Sy vryspraak en vergifnis is myne. Die brood & wyn help my om dit werklik te glo. Dis ‘n waarborg. ‘n Seël.

Nou kan u begryp waarom jong kinders beswaarlik nagmaal kan gebruik sónder deeglike vooraf onderrig. Nie omdat God diskrimineer teen kinders of omdat Sy genade nie vir hulle bedoel is nie. Maar omdat die jong kind nie kan onderskei dat die brood & wyn Christus se werklike liggaam & bloed is nie. Hulle moet dit eers geleer word. Indien dit maar net simbole was, sou kindertjies dit kon gebruik, maar dit is baie méér as simbole.

Kom ons vat weer alles saam en maak dit prakties: God die Vader verlos ‘n mens deurdat Hy jou net eenvoudig insluit by die teenswoordige lewende gekruisigde en opgestane Jesus. Só word jou sonde, Sy sonde, en Sy vryspraak word jou vryspraak. Jou ou lewe word Syne en Sy nuwe lewe word joune. Dit wat joune is, is Syne en wat Syne is, is joune. Jou boosheid/kwaad/angs/verlatenheid/skuldgevoelens/haat/toorn/wroeging/moedeloosheid is 100% Christus s’n. En Sy genade/liefde/goedheid/seën/onskuld/gehoorsaamheid is 100% joune. Hy kry jou behandeling en jy kry Sy behandeling. En só is jy voor God volkome reg en goed. So is jy vir God geheel aanvaarbaar. Hy sien jou in jou ingesluitwees met Christus – ‘n insluiting wat HY bewerk het. Dit is die diepste hartklop van ons verlossing. Dit is die sekerheid hiervan wat die mag van sonde in my binneste breek en veroorsaak dat ek moed skep en my kop kan optel.

‘n Praktiese voorbeeld: Piet Pompies is iemand wat baie sukkel met innerlike onreinheid en vuil gedagtes. Op ‘n dag begin hy die nagmaal se ware betekenis snap en glo. Hy besef dat die Gees hom insluit by Jesus se liggaam. Dat Jesus geheel en al sy onreinheid en vuil gedagtes kry. En dat hy Jesus se reinheid en vryheid deelagtig geword het. Skielik besef hy dat die krag van die sonde gebreek is. Voorbeeld: Wanneer kinders kwaaddoen in isolasie – buite-om hul ouers, gaan die kwaad van krag tot krag. Maar die oomblik wanneer die ouers ingelaat word by dit wat aangaan, die isolasie gebreek word, is die krag van die kwaaddoenery gebreek en kom daar verandering.

En dit is hiervan wat die nagmaalstekens ons wil verseker. Dit wat Jesus as Mens is, word werklik deel van jou, net soos die brood en wyn deel word van jou liggaam. Net so SEKER as wat ek met my fisiese mond die brood eet en die wyn sluk, net so seker sluit die Gees my (as totaal onwaardige) in by Jesus se menswees wat Hy by die Vader het. En wat gebeur – ek begin om dit werklik te glo/aanvaar! Dit is wat dit beteken om Sy liggaam te eet – om gelowig my eenheid (ingesluitwees) met Sy liggaam te aanvaar en daaruit te gaan leef. Ek bewerk nie die insluiting/eenheid nie. Ek glo dat God dit bewerk het. En dit is die aanvaarding van daardie ingesluitwees wat my voedsel en drank is.

Dr. Chris Saayman

Tafelberg Gemeente, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

021- 551 6704 / 083 232 1817

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00