Die boek Openbaring – 'n Inleiding
1. VERSTAAN DAT OPENBARING ‘N UNIEKE LITERATUURSOORT IS
Openbaring is ‘n bóék! Dit is ‘n stuk literatuur. Verskillende tipes literatuur (genres) word volgens verskillende reëls gelees. ‘n Gedig word byvoorbeeld ánders gelees as ‘n speurverhaal. Openbaring is ‘n sekere soort literatuur genaamd apokaliptiese literatuur. Dit is ‘n spesifieke soort literatuur wat in 200 v.C. onder die Jode ontstaan het toe hulle swaar verdruk was onder die Siriërs en Romeine. Toe is kode-taal gebruik wat die onderdrukkers nie kon verstaan nie, maar die onderdruktes wél. Hierdie kode-taal gebruik simbole en beelde wat gebaseer word op kenmerke van die onderdrukkende heersers. Die boodskap van die geskrifte is daarop gemik om aan die onderdruktes hoop en verwagting te gee – in kodetaal. Openbaring is ook geskryf in die vorm en styl van apokaliptiese literatuur. Waarom? Omdat dit gerig is aan gelowiges in Klein-Asië wat swaar gely het onder die Romeinse Keiser – gedateer 95n.C. Daarom die kodetaal en boodskap van hoop en toekomsverwagting. Eintlik is dit die wonder van die Bybel: Dit verkondig één boodskap, maar op verskillende maniere en deur middel van verskillende literatuursoorte. Daar is geskiedenis, prosa, poësie, gelykenisse, briewe, logiese argumente (bv Romeine) en apokaliptiek. Elkeen lees ‘n mens volgens sy eie reëls. ‘n Mens sal nie ‘n poëtiese Psalm lees soos wat jy ‘n gelykenis lees nie. ‘n Mens sal nie 1 Konings lees soos jy Openbaring lees nie. By ‘n gelykenis soek ‘n mens nie na diepere betekenisse vir elke stukkie detail nie, maar jy soek na die hoofboodskap. Dieselfde geld vir Openbaring. Dit is nie vooruitgeskrewe geskiedenis om vir ons te vertel hoe die wederkoms sal wees nie. Ons hoef nie diepsinnige betekenisse vir elke stukkie simboliek te vind nie. Dit is kodetaal wat ‘n boodskap wil kommunikeer. En die boodskap is glad nie ingewikkeld nie en nie moeilik om te verstaan nie. Ons kyk vervolgens na die doel, tema en indeling van Openbaring.
2. VERSTAAN DIE DOEL
Openbaring is geskryf aan die lidmate van 7 gemeentes in Klein-Asië gedurende ongeveer 95nC om hulle in hulle spesifieke omstandighede te vertroos en te vermaan. Openbaring is God se antwoord op die gebede en trane van die vervolgde Christene van die eerste eeu. Die Gees wil hulle vertroos in hul stryd teen die magte van die bose. Hy wil aan hulle die versekering gee: God sien hulle trane (7:17, 21:4), hulle gebede regeer die wêreld (8:3-4), hulle dood is kosbaar vir die Here en hulle sal onmiddelik opgeneem word in die hemele (14:13, 20:4), hulle uiteindelike oorwinning is verseker (15:2), hulle bloed sal gewreek word (6:9, 8:3), hul Christus leef en regeer tot in ewigheid (5: 7-8). Dit is baie belangrik om hierdie doel te verstaan, want dan trap jy nie in die slaggat om te wil dink dat Openbaring eerstens vir “óns-wat-vlak-voor-die-wederkoms-lewe” geskryf is nie. Wanneer jy Openbaring lees, behoort jy die heeltyd die oorhoofse doel in gedagte te hou en vir jouself af te vra: “Wat sou dit vir die eerste lesers beteken het.”
3. VERSTAAN DIE TEMA
Die tema word in 17:14 saamgevat. Lees dit asseblief. Dinge is nie soos dit op die oog af lyk nie. Dit lyk asof die draak en sy helpers seëvier. In werklikheid is dit Christus en Sy gelowiges wat triomfeer. Die boek bestaan uit 22 hoofstukke. Hulle word in 2 duidelike dele verdeel: 1-11 en 12-22. In 1-11 word die stryd van die kerk beskryf soos ‘n mens daarna van buite kyk. In 12-22 word die onsigbare geestelike rede vir hierdie konflik beskryf naamlik die draak en sy helpers se opstand teen Christus en Sy kerk. In 12-22 sien ons dat daar al die tyd ‘n dieper agtergrond is vir dit wat met gelowiges (die kerk) gebeur op aarde: daar is ‘n geestelike konflik aan die gang. Daarmee saam gee Openbaring reeds ook die uitslag van hierdie konflik. Wat op die einde gaan gebeur is reeds onbetwisbaar gedokumenteer. Openbaring openbaar nie die toekoms aan ons nie. Dit openbaar aan ons hoedat Christus die ganse geskiedenis bestuur ten bate van Sy kerk. Omdat dit tot by die wederkoms sal wees, kom die wederkoms ter sprake, maar nie om nuuskierigheid oor die toekoms te bevredig nie!! Openbaring beskryf die vervulling van die moederbelofte Genesis 3:15 – die saad van die vrou teenoor die saad van die slang en hoe laasgenoemde eersgenoemde in die hakskeen byt, maar eersgenoemde laasgenoemde se kop vermorsel.
4. VERSTAAN DIE INDELING
Eintlik is dit maklik om Openbaring te verstaan. Dit is nie ‘n beskrywing van alles wat gaan gebeur tot by die wederkoms nie. Dit is nie vooruitgeskrewe geskiedenis nie. Die 22 hoofstukke is verdeel in 7 dele. Elkeen van die 7 dele beskryf die hele tydvak vanaf Jesus se eerste koms tot Sy wederkoms – elke keer vanuit ‘n ander gesigshoek. Openbaring bestaan letterlik uit 7 rolprente wat presies dieselfde verhaal verbeeld, 7 maal na mekaar. In elkeen word natuurlik ander aksente gelê. Elke rolprent gee sy eie perspektiewe. Elke rolprent beskryf die rol van die kerk in die wêreld wat uitloop op ‘n laaste botsing wanneer Christus se vyande finaal oorwin sal word. In ‘n mens se Bybel behoort hierdie 7 indelings duidelik gemerk te wees:
Eerste rolprent: 1-3
Tweede rolprent: 4-7
Derde rolprent: 8-11
Vierde rolprent: 12-14
Vyfde rolprent: 15-16
Sesde rolprent: 17-19
Sewende rolprent: 20-22
BASIESE INHOUD VAN ELKE ROLPRENT:
1.Hfste 1-3 Christus staan tussen 7 kandelaars wat die hele kerk voorstel. Dit geld vir die hele huidige bedeling (1:5 en 1:7). Daar was baie gemeentes daardie tyd, maar daar word briewe aan slegs 7 geskryf. Dit dui op die volmaakte getal. Hierdie 7 gemeentes verteenwoordig dus die hele kerk vanaf Jesus se 1ste tot 2de koms. Die toestande wat daar aangespreek word, word herhaaldelik deur die eeue in die kerk aangetref.
2.Hfste 4-7 In hierdie rolprent sien ons die ganse triomferende kerk uit alle nasies wat voor die troon van God staan. Ook dit dek die hele huidige bedeling: kyk hoe eindig dit met verwysings na die wederkoms in 7:9-17.
3.Hfste 8-11 Hierdie rolprent dek weer eens die hele bedeling. Kyk na die duidelike verwysing na die wederkoms en oordeel in 11:15,18. Hier gaan dit oor die uitwerking van die 7 basuine op die hele wêreld dwarsdeur die eeue en die rol van die kerk in dit alles (10-11).
4.Hfste 12-14 Hierdie rolprent dek weer aangrypend die hele bedeling: kyk hoe begin dit met Christus se geboorte (12:5) en eindig met wederkoms (14:14). Hierdie rolprent wys die rol van die draak en sy helpers en hul invloed op die kerk.
5.Hfste 15-16 Hierdie rolprent beskryf die skale van God se grimmigheid soos dit die wêreld in sy onbekeerlikheid tref. Dwarsdeur die hele geskiedenis. Weer eens eindig dit met die wederkoms (16:20).
6.Hfste 17-19 Hierdie rolprent eindig weer eens met die wederkoms (19:11 e.v). Die rol van sommige van die draak se helpers word beskryf asook hul einde.
7.Hfste 20-22 Die val van die draak self word hier beskryf. Die rolprent begin weer by Jesus se eerste koms (die binding van satan) en eindig met die laaste oordeel en die koms van die nuwe aarde.
IETS OM TE ONTHOU: Binne hierdie rolprente word die terme “42 maande”, “1260 dae”, “3,5 jaar” en “tyd, tye en helfte van ‘n tyd” gebruik. Dit is ‘n simboliese tydsaanduiding om die hele tydperk van Christus se eerste tot tweede koms te beskryf. Dit is nie ‘n letterlike 3,5 jaar nie. Ook ‘n ander term word gebruik nl. “drie en ‘n halwe dag”. Dit dui op die kort tydjie wat die satan gegee sal word om met oënskynlike welslae teen Christus oorlog te voer net voor sy finale vernietiging. By ‘n hele paar van die rolprente sien ons dat daar sprake is van “’n oorlog” net voor die finale oordeel. Dit hang saam met hierdie “drie en ‘n halwe dag” wat satan kry: ‘n finale botsing tussen Christus en die slang. Ons lees van hierdie oorlog in vyf van die rolprente naamlik 9:16-19, 11:7-9, 16:12-16, 19:19 en 20:8. Die vraag: hoe moet ‘n mens maak met al die fynere detail. Het elke stukkie detail ‘n spesifieke boodskap? Antwoord: Nee. ‘n Mens lees dit soos jy Jesus se gelykenisse lees. Die fynere detail wil ‘n boodskap oordra. Vergl. die gelykenis van die 10 maagde. Die geheelindruk is die belangrike om aan vas te hou.