Daar was eendag
’n muis wat doodbang was vir die katte. Die muis het nie geweet hoe hy die saak moet hanteer nie. Hy het dae gesit en dink oor wat hy kan doen. Op ’n dag , uit desperaatheid, gaan hy na die toordokter. Hy vra die toordokter om hom te verander sodat hy nie so bang kan wees nie. Die toordokter het die arme bang muis so jammer gekry en hy verander hom toe in ’n kat. Nou sal die muis nie meer so bang wees nie. Die muis was baie bly maar toe hy eers ’n kat is, toe is hy bang vir die honde van die omgewing. Die honde gaan hom jaag en vang en dood byt, het hy gedink. Die muis is toe weer na die toordokter wat hom toe in ’n hond verander. Die muis wat ’n kat geword het en nou ’n hond was, was baie bly. Dit was net ’n paar dae toe besef die hond hy is bang vir die tiers. Die tiers gaan hom vang. Die toordokter het hom weer verander in ’n tier. Nie lank daarna nie was die tier weer bang dat die jagters hom gaan skiet. Hy is toe weer na die toordokter. Die toordokter het gedink en toe gesê:- “ Jy moet maar weer ’n muis word, want jy het die hart van ’n muis.” Dit help nie om jou woonplek, werk ,klere en haarstyl te verander nie – jy moet jou HART verander. Jy moet ophou om te fokus op wat jy verloor het en liewer die dinge wat jy oor het, begin raaksien. As jy aanhoudend bang gaan wees dat jy weer gaan seerkry, sal jy nie verder as gister kan kyk nie, en gister is net ’n hoop koue as. UIT: VERGIFNIS BRING BEVRYDING JOS. 1:9 “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” Is jou hart die hart van ‘n muis? Of is jou hart op die Here , die God van die heelal gerig? Vrees nie!! Kyk op na Hom wat jou versterk! GEBED Vader, dankie dat ek ook my vrees vir U kan kom gee. Dankie dat U daarmee handel en vir my die kalmte in my gemoed bewerk. My oë is op U gerig en ek is wagtend op die Here! AMEN