Dialoog by die skedelplek
Ek kyk na daardie leë kruis
Iemand is weg, Iemand nie meer
— ook die jillende spot-gespuis
vort in die nag en so ongesteur
Waar is Hy? Vra ek die twee
wat wriemelend, gepyn nog hang:
In triomf hoor ons Hom gee
Sy gees. En, ja, Hy was nie bang…
en toe… eng’le rondom Hom
kort na die duisterure van die dag
die soldate ook was stom,
in die dood selfs toon Hy sy mag
Toe, skielik! Rotse, berge skeur
die aarde skommelend en onvas
so asof die skepping treur
oor ‘n Man wat so besonder was
Hoekom vra u uit oor Hom…
was Hy nie die Hemel se gesant…?
Moes Hy dan nie kom,
die Lig hier in ons donkere land?
En hier hang ons, ons kwyn,
my vriend het by Hom heil gevind
En ek … my hoop verdwyn
saam met Hom wat dood verslind
Het’k maar daar ingegaan
by die smal en oop genadedeur!
My kans is van die baan
want Hy’s weg, die Heiland-Heer…
Soos Judas wag nou die nag
op my, ‘n desperate arme mens:
dwase ek…, die bose lag
― Hy kón vervul my siel se wens…
— Jasper Schellingerhout