TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 9: Lesse uit 'n godlose teks

1 SAMUEL 27

 

Die Bybel is ‘n baie oop, eerlike en “rêrige” boek. Jy sal geen romantiese sentimentele held in die Skrif vind nie. Jy vind wel die wérklike God wat werklike ménse ontmoet. Wérklike rêrige mense maak soms diep droog. Die helde in die Skrif word baie reëel geteken. Hulle is nooit godeseuns wat ‘n meter bo die grond sweef nie. Die mense in die Bybel is net gewone mense soos u & ek.

 

Dawid was ‘n man wat werklik vir die Here lief was. ‘n Man van geloof en durf en vermoëns. Begaafde digter en musikant. ‘n Getroue vriend en dienaar.

 

En ook ‘n groot sondaar.

 

Twee maal het hy alle geleentheid gehad om sy vyand Saul dood te maak en self koning te word, maar hy weier om sy hand teen die koning op te lig. Hy kón onmiddelike mag bekom het maar hy kies om ‘n vlugteling te bly. Dit spreek van geloof, vertroue, durf en moed, nie waar nie. En dit is nou juis dít wat hfst 27 so verontrustend maak. Want ‘n mens lees hfst 27 en wil vra: sjoe, kan dit diesélfde Dawid wees?

 

Ons weet uit 2 Timoteus 3:15-17 dat die héle Ou Testament ingegee is deur die inspirasie van die Heilige Gees. Daarom het die héle Skrif groot waarde om te onderrig en mense te baat… Paulus sê duidelik: ALLE Skrif, die HELE Skrif. Maar mens wil vra: Het Paulus ooit 1 Samuel 27 gelees? Hoe kan 1 Sam 27 groot waarde hê? Wat op aarde kan dit vir ons leer? Wáárin kan dit ons help?

 

Dalk sal ú 1 Sam 27 met ‘n ander bril lees as wat ek dit doen en geen probleem daarmee vind nie, maar ek het ‘n hele paar probleme met 1 Sam 27.

 

Byvoorbeeld: dit is onvolledig. Die einde van die hfst hang in die lug.

 

Daarby is die hfst gevul met bedrog en slagting. Dawid lieg vir mense en is betrokke by brutale bloedvergieting. In die lig van hfst 26 (Dawid se vertroue op God se genade en voorsiening – hy spaar vir ‘n tweede keer Saul se lewe) is hfst 27 se aanvangswoorde baie verontrustend. Kyk wat sê Dawid: “Ek weet ek sal sterf onder Saul se hand. Die enigste hoop vir my is om na die Filistyne toe te gaan en daar te gaan bly.”

 

Mens wil net een ding vra: “Wat op aarde het met Dawid gebeur?” Wat het gebeur met Dawid se vertroue dat die Here die uitkoms in Sy hand het? Dat hy nou ewe skielik sê: “Ek weet Saul gaan my doodmaak.” Wat het hierdie reuse ommeswaai veroorsaak? Hy het tog die Here se rotsvaste belofte gehad dat hy koning sal word – en dus níé sterf nie!

 

Wat baat hfst 27 vir ons? Hierdie god-lose hoofstuk. Want het u opgelet: In die hele hoofstuk is daar geen verwysing na die lewende God nie! Wat kan ons uit so ‘n god-lose hoofstuk leer? Hierdie vreemde hoofstuk – waar God se uitverkore koning by die Here se vyande (Filistyne) sit en so goed tussen hulle aard en so wonderlik met hulle regkom! Hoe kon hulle so tevrede wees met hom en hoe kon hý so tevrede wees om daar te wees? Hy het SESTIEN maande daar deurgebring! By die Here God se vyande!

 

Hoe pas dit alles in by die God se plan?

 

Ja 1 Sam 27 roep baie vrae op. En daar is bitter min antwoorde. Ék het nie antwoorde op enigeen van die vrae nie.

 

Nietemin glo ek dat daar geestelike onderrig in 1 Sam 27 te vinde is. En dit is wat ons vanoggend moet raaksien. Ons het nie antwoorde op al die vrae wat hierdie hoofstuk oproep nie, maar ons hoor tog ‘n stuk onderrig in 1 Sam 27.

 

Ek noem graag vir u ‘n paar aspekte:

 

1 VERSE 1-3 > DAWID SE MISLUKKING BEWYS DAT DIT DIKWELS VIR GELOWIGES BITTER MOEILIK IS OM TE BLÝ GLO DAT GOD IN STAAT IS OM SY BELOFTE WAAR TE MAAK EN TE BEVEILIG

 

Dit verklaar waarom dit vir óns soms so moeilik is om God (die Vader van ons Here Jesus Christus) te vertrou. Laat ons maar doodeerlik daaroor wees: ons sukkel. Nie altyd nie, maar soms. Die “vertroue-ding” nie altyd maklik nie.

 

Hoe dikwels betrap ‘n mens jouself dat jy wéét wat die Here sê, máár…… Het u al ooit uself op so ‘n punt betrap?

 

Het u al ondervind hoe maklik dit is om op Sondag van God se genade en voorsiening en getrouheid te praat, maar hoe moeilik dit is om daaroor te praat wanneer jy Dinsdag in die dokter se spreekkamer sit en ‘n diagnose aanhoor wat jy liefs nooit sou wou hoor nie? Of jy Maandag jou bankstate nagaan? Hoe maklik is dit om by die kerk uit te stap en met groot blydskap oortuig te wees dat Jesus se kruisoffer jou geregverdig en heilig voor God stel – dat dít jou ware identiteit is (soos ons verlede Sondag gesien het). Maar hoe moeilik is dit om steeds aan te hou glo dat jy heilig en regverdig is wanneer dit & dit & dit Maandag gebeur en jy klaaglik misluk – om dán met dieselfde blydskap steeds te weet dat jy heilig en regverdig is TEN SPYTE VAN jou mislukking. Dis nie ‘n maklike saak nie. Ja, Romeine 8 sê dat daar geen veroordeling is vir Romeine 7 se struikelende sukkelende mens nie! Lekker om dit te hoor en te weet. Maar MOEILIK om aan te hou glo wanneer jy vir die duisendste keer oor dieselfde ding struikel!

 

Dawid het presies híérmee gesukkel. Dis maklik om oor geloof te praat. Dis moeilik om deur geloof te lewe. Dis maklik om te praat oor hoe wonderlik die Here gister gesorg het. Dis moeilik om te praat oor hoe wonderlik Hy môre sal voorsien.

 

Hou in gedagte die haglike omstandighede waarin Dawid was. Dag na dag het Saul op hom jag gemaak. Hy kon nóóit rustig en ontspanne wees nie. Hy was voëlvry verklaar. Hy het in die woestyn gewoon. Uiters uiters moeilike omstandighede. Wat hy in 1 Sam 27 sê is: “Here ek kan dit nie meer verduur nie. Ek gee op. Ek gaan nou weghardloop. Ek weet tog ek gaan eendag weggevee (Hebreeus) word.” Dawid se wanhoop is so groot dat hy net een hoop oor het: Om by God se vyande te gaan woon. Hy tree in die diens van die Here se vyand – Goliat se mense. Hy steek ‘n grens oor (v 2) geografies én geestelik. Mens kan jou nie voorstel watter tipe druk Dawid beleef het nie – om só iets te doen. Dis ontsettend.

 

‘n Mens sien ook iets soortgelyk wat Dawid hier beleef het, in die profeet Elia se ervaring. 1 Konings 18:36 -19:5. Swig onder intense druk net nadat hy die grootste oorwinning oor die Baälpriesters behaal het en met sy eie oë gesien het hoe die Here op bonatuurlike manier vuur uit die hemel op die altaar gee. Vuur wat selfs water oplek. Net nadat hy dit gesien het, wens hy om te kan sterf en gaan hy in ‘n bui van depressie.

 

Dis maklik om te sê: “Ja, maar moes alles wat die Here vir Dawid gedoen het vanaf hfst 18-26 hom nie oortuig het van hoe getrou die Here is nie? Kon hy nie daaraan vashou nie?”

 

Ja hy kon, maar dit was vir hom net so knersend moeilik soos wat dit vir u en my is in die 21ste eeu.

 

Dink hoe maklik kapituleer óns voor die vyand dikwels onder die maklikste omstandighede – praat nie eens van moeilike omstandighede nie! Nee dis hoegenaamd nie so maklik om te vertrou nie. Eintlik behoort ons Dawid se optrede heel goed te verstaan. Want ons almal weet hoe moeilik dit is om die hart van God te vertrou wanneer jy Sy hand nie verstaan nie. En tog bring die Heilige Gees die Geesvervulde mens keer op keer op keer weer terug na vertroue. Vertroue, vertroue. Daarsonder kan geen Christusgelowige lewe nie.

 

Maar hoor u die eerste stukkie onderrig wat ons in 1 Sam 27 raaksien: DAWID SE MISLUKKING BEWYS DAT DIT DIKWELS VIR GELOWIGES BITTER MOEILIK IS OM TE BLÝ GLO DAT GOD IN STAAT IS OM SY BELOFTE WAAR TE MAAK EN TE BEVEILIG

 

2 VERSE 4-12 > DAWID SE MISLUKKING BEWYS HOE DWAAS DIT IS OM OP JOU EIE VINDINGRYKHEID TE VERTROU

 

Dawid dink: “Daar is absoluut niks beter om te doen as om met die vyand te gaan hande vat nie.”

 

Toe Saul hoor dat Dawid by die Filistyne is, het hy opgehou om na hom te soek. Op die ou end het die Filistynse koning vir Dawid ‘n dorp gegee om in te woon – vir 16 maande lank. Want Dawid het sy hart saggemaak: “Dis nie reg dat ons almal in die koninklike stad woon en ‘n las op die ekonomie plaas nie. Gee ons maar net ‘n ou plekkie iewers op die platteland en ons sal na onsself omsien.”

 

Eintlik wou Dawid maar net nie onder die direkte oog van die koning wees nie. Intussen het Dawid die vyande van Israel in die woestyn uitgeroei en gesorg dat niemand ooit ontsnap om aan die Filistynse koning berig te gee nie. Die koning het gedink Dawid veg teen Juda. Terwyl Dawid Israel se vyande uitroei, dink die Filistynse koning hy is baie oulik omdat hy téén Israel is en Israel dink hy is baie oulik omdat hy hulle vyande uitroei! Maar dit was die vindingryke plan waarop Dawid nou vertrou het. “Daar is ‘n pad wat vir die méns reg lyk, maar die einde daarvan is die dood.” (Spreuke 14:12).

 

En tog het dit gelyk of die plan werk! Dawid was beter af. Hy vlug nie meer nie. Woon nie meer in ‘n grot nie. Woon in ‘n dorp. Hy maak ‘n gerieflike lewe. En dit terwyl hy steeds Israel se vyande ‘n knou toedien – sonder om verdink te word. Ja, hy moes nou wel vir die koning lieg oor wíé onder sy strooptogte deurloop. Hy lieg vir die koning sodat die koning dink Dawid is aan sý kant téén Israel. Hy lieg en bedrieg die koning, maar tog lyk sy plan of dit goed werk. Ten spyte daarvan dat hy so genadeloos mans en vroue doodmaak. Sy strooptogte was niks anders nie as volskaalse slagting. En die mense se vee en besittings is sýne!

 

Wat ons moet sien is dat al hierdie dinge Dáwid se plan was. Want hy was ‘n meester strateeg en militaris. Dit was op geen manier die Here se plan of opdrag nie. Briljante plan – maar nie uit God nie! Die feit dat iets prakties goed werk, beteken nie dat dit reg is nie! Jesaja 30:1 “Dit is rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie en hulle sal ellende ervaar.”

 

Maar Dawid het iets vergeet. Wat sal gebeur wanneer die Filistynse koning agterkom hy is ‘n bedrieër? En wanneer sy eie mense besef hy is ‘n bedrieër? Want nou wil die Filistynse koning hê Dawid moet die Filistynse leër aanvoer téén Israel. En teen Israel kan & sal hy nooit veg nie. Wat ‘n verknorsing!! Hy gaan uitgevang word! Eie vindingrykheid kan blyk dwaasheid te wees.

 

Maar as Christusgelowige moet ‘n mens tog ook jou gesonde verstand gebruik! Hoe weet ‘n mens of iets maar net jou eie planne is en of dit van die Here is? Hoe onderskei ‘n mens?

 

Eie planne – hoe wonderlik geseënd dit ookal mag blyk te wees – sal altyd op die een of ander manier die kollig op jou as mens plaas en nie op die Here en Sy Waarheid nie.

 

Gaan kyk maar weer na 1 Sam 27 en u sal sien hoe die Here en Sy beloftewoord in die skadu verdwyn en Dáwid en sy gewerskaf in die kollig is.

 

Ons vindingrykheid plaas onsself in die kollig. Maar wanneer iets uit die Here se hart kom, plaas dit Hom en Sy Waarheid in die kollig.

 

Dit is ‘n baie eenvoudige beginsel wat ons kan help om te onderskei.

 

3 DAWID SE MISLUKKING MAAK ONS BEWUS VAN DIE ABSOLUTE NOODSAAK EN WONDER VAN GOD SE GENADE

 

‘n Mens kan 1 Samuel te lees en maklik verstaan waarom die Here vir Saul as koning verwerp het. As jy kyk na Saul se boosheid en ongehoorsaamheid, kan jy dit verstaan. “Natuurlik, hy verdien om as koning verwerp te word.”

 

Maar waarom is Dawid nie verwerp nie? ‘n Man wat bedrieg, lieg en onskuldige mense slag. Eintlik gaan hy veel erger as Saul te kere.

 

Dalk is dit juis die hele punt van 1 Sam 27. Die uitverkore en gesalfde dienaar van die Here is van dieselfde materiaal gemaak as wat ons gemaak is. Hy is geen super-held nie. Hy is geen gode-seun nie. Hy is ‘n méns. Hy is op geen manier God se guns waardig of werd nie. Die Here gebruik nooit skoon materiaal om mee te werk nie. Solank as wat ons met die geringste gedagte in ons agterkop sit van “menslike waardigheid”, kan ons nooit die Bybel óf die God vd Bybel verstaan nie.

 

Maar wanneer ons begin verstaan dat God juis die ónwaardige by Christus ingesluit het – sonder ‘n druppel verdienste – vul ‘n ongekende hoop en blydskap ons lewe.

 

Dit was hierdie einste gebroke Dawid wat Israel se groot leier geword het en die voorloper van die Messias. En dít is wat ons logika nie kan kleinkry nie. Ons kan goed verstaan waarom Saul as koning verwerp is. Maar ons kan nie verstaan waarom Dawid gesálf is nie. Want beide was ewe korrup.

 

Hierdie god-lose hoofstuk 27 is ‘n bemoediging. Want dit sê daar is hoop selfs vir iemand soos ék! Nie ‘n moontlikheid tot hoop nie, maar werklike HOOP! Hoop wat alreeds in die Here Jesus Christus ‘n werklikheid geword het. Die ónwaardige is nou wáárdig. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00