TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 8: Die weersprekings in ons lewe
1 SAMUEL 25
Sou u & ek kon sê dat ons konsekwent is? Konsekwent in die uitleef van dít wat ons bely en sê wat ons glo. Lééf ons konsekwent die Waarheid wat ons bely? Dis baie maklik om te sê wat ons glo. Praat/bely is maklik! Die probleem is al die inkonsekwenthede in die uitleef daarvan! Die weersprekings.
Enigeen van u kan maar net vir ‘n paar dae saam met my kom leef en dit sal nie baie lank wees nie of u sal vra: “hoe presies rym dit en dit met laas Sondag se preek?”
Ek bely baie meer as wat ek in werklikheid doen.
Praktiese heiligmaking is ‘n lewenslange proses.
Nie dat ons nie in ons status/posisie voor God perfek heilig is nie. Ons is dit beslis. Hebreërs 10 is daaroor glashelder duidelik. Hebreërs 10 sê hierdie onbeskryflike ding: Deur die krag van Christus se eens en vir altyd offer IS daar ‘n klompie goed waar: Vers 2 > ís ons eens en vir altyd skoongemaak. Vers 2 > Het ons geen skuldgevoel oor sonde meer nie. Vers 4 > Is ons sondes totaal weggeneem. Vers 10 > Is ons eens en vir altyd heilig gemaak. Vers 14 > Is ons vir ewig volkome gemaak. Vers 17 > Dink God nooit meer aan ons sondes nie. Vers 18 > Is daar geen offer van enige soort wat ons meer vir sondes hoef/kan bring nie.
U kan maar Hebreërs 10 van alle kante af gaan lees en u sal sien dat dit helder en duidelik sê dat alléén die offerdood van Christus al hierdie dinge bewerkstellig het. Die rotsvaste stewige basis is die offerdood van Christus. Niks meer en niks minder nie.
Soos God na u kyk – is u heilig en volkome. En u sal nooit weer iets anders in Sy oë wees nie. Tensy die offerdood van Christus iewers langs die pad kragteloos word.
Die probleem is dat ons dit 95% van die tyd nie glo nie. Ons glo eerder wat ons in onsself sien as wat ons glo wat God sê. Ons glo nie die Waarheid aangaande onsself nie. Ons glo dit wat ons in onsself waarneem. Dit is net daar waar die struikeling begin. En dit is ‘n proses, ‘n lewenslange leerskool, waardeur ons gaan om te leer om die Waarheid konsekwent te glo. Konsekwente glo van die Waarheid lei tot ‘n meer & meer konsekwente lewenswyse. Hoe meer my insig in my eie volkome heiligheid toeneem, hoe meer sal dit sigbaar word na buite.
Dawid was ‘n man na Gods hart, sê die Skrif. Die belofte van die komende Verlosser, wat Dawid geglo het, het van hom ‘n geregverdigde en geheiligde man voor God gemaak. Tog was hy steeds ‘n mán. ‘n Mens van vlees en bloed. Hy het nie altyd konsekwent die Belofte van die Here geglo nie. In sy praktiese lewe het hy soms klaaglik misluk.
Ons sien in 1 Samuel 25 hoe Dawid – hoewel hy voor God regverdig en heilig is en bly – struikel. Maar wat 1 Sam 25 so wonderlik maak, is dat die fokus nie op Dawid is nie, maar op God se roekelose genade.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik daarna.
Hfst 25 begin by die afsterwe van die groot profeet Samuel. Hy word in Rama begrawe. Sedert Dawid in hfst 19 by Samuel in Rama gaan skuil het, het Samuel nog nie weer in die verhaal gefigureer nie. Skielik hoor ons nou dat hy dood is. Dawid se beskermheer & ondersteuner, die een wat hom tot koning gesalf het, is dood. Israel se finale rigter en leier en profeet is weg.
As ons dink aan hoe groot Samuel in Israel se geskiedenis was, kan ons byna nie dink dat slegs een versie van sy dood berig nie! 1 Samuel 25:1 = dis al. En net daarna volg ‘n ellelange vertelling van hoe Dawid met ‘n dwase mens – Nabal – gehandel het. Asook Dawid se eie dwase optrede. Iets van Nabal was ook in Dawid se hart! En hoe God genadiglik ingegryp het.
1 Sam 25 =
1 God se genadige omgee vir Sy mense en
2 Sy soewereine beheer oor alle dinge.
God sorg genadiglik vir Sy mense en tog is Hy ook absoluut soewerein en in kontrole van letterlik alles.
Mens moet aan hierdie twee dinge styf vashou want baie dikwels vertel ons omstandighede vir ons ‘n totaal ander storie. En dan neem ons ons oë weg van die Waarheid. Dan is ons skielik nie meer so seker óf die Here omgee nie en óf Hy werklik soewerein regeer nie.
1 In liefdevolle omgee onderbreek/verbreek die Here dikwels ons inkonsekwente optrede. Omdat Hy ons liefhet met ‘n onsterflike liefde en omdat Hy omgee en omdat Hy ons hou as regverdig en heilig in Christus en omdat Hy ons nooit weer sal straf vir ons inkonsekwentheid en ongeloof nie (omdat ons Plaasvervanger volledig in ons plek gestraf is) – sal Hy ons konfronteer wanneer ons inkonsekwent optree. Juis OMDAT Hy jou nooit weer sal straf vir jou inkonsekwentheid nie, bestraf Hy jou in jou inkonsekwentheid.
Kyk nou mooi hierna:
Ná Samuel se dood, het Dawid na die Paranwoestyn gegaan. En daar was ‘n vermoënde man wat baie vee besit het. Dit was Nabal en sy vrou Abigajil. Sy was verstandig en wys en hy was dwaas en onbeskof.
Nabal was op daardie stadium juis besig om skaap te skeer. Tevore was Nabal se skaapwagters met die skaap in die Karmel omgewing waar Dawid ook was en het Dawid Nabal se veewagters net goed behandel. Dawid en sy manne het – terwyl hulle op vlug was – soos ‘n semi-polisiemag gefunksioneer in ‘n wildernis wat bekend was vir sy veediefstal en ander misdade. En hulle het Nabal se veewagters beskerm. Nou is Dawid en sy manne in die woestyn – steeds vlugtende vir Saul – en moet hulle kos hê. Daarom stuur Dawid ‘n klompie man na Nabal om te vra of hy nie dalk aan hulle ‘n klompie skaap kan skenk nie. Dis seker net billik dat Nabal hulle vergoed vir hulle dienste toe hulle sy vee beskerm het. ‘n Baie redelike versoek.
Dawid se manne is uiters beleefd en groet vir Nabal met seënwense en vriendelikheid. Maar Nabal is absoluut onbeskof en maak of hy nie weet wie Dawid is nie. Sover dit hom aangaan is Dawid ‘n nul op ‘n kontrak. Dis so goed asof hy nie bestaan nie. In Nabal se oë is Dawid nie één van sy skape werd nie! En dit terwyl die naam “Dawid” die bekendste en gewildste naam in die hele Israel was!
Nabal se naam beteken “dwaas” en hy tree werklik op in ooreenstemming met sy naam!
Ek dink nie Dawid se manne was baie flink om aan Dawid te gaan rapporteer wat Nabal se reaksie was nie. Maar uiteindelik moet hulle dit doen.
En nou vir Dawid se reaksie: “Gord julle swaarde aan”!! Vierhonderd man trek saam met Dawid teen Nabal op. Mens hoef nie matriek te hê om te weet dat dít niks goeds voorspel nie. Dis duidelik dat Nabal se dae getel is. En die Godsman Dawid voer dit aan! Dis vars in sy geheue hoe Saul die dorpie Nob uitgewis het en nou is hy van plan om dieselfde met Nabal se doen.
Dis op hierdie punt waar ‘n mens lus voel om vir Dawid tot stilstand te gaan ruk en te sê: “Wag net ‘n bietjie! Blaai net terug na hfst 24:6 en kyk wat het jy gesê toe jy die geleentheid gehad het om vir Saul dood te maak! Of verse 12-13… Wat het met jou gebeur Dawid? Koning Saul het openlik verklaar dat hy jou sal doodmaak en alles in sy vermoë gedoen om dit te doen en toe jy geleentheid kry om met hom klaar te speel wou jy nie jou hand teen hom oplig nie. Nou kom hierdie dwaas en wil jou nie ‘n paar skapies gee nie en jy wil hom en sy familie gaan uitwis!! Wat het geword van jou geloof in hfst 24 om alles in die Here se hand te laat? Jou optrede is inkonsekwent. Dit klop nie met wat jy bely dat jy glo nie!”
Wat by Dawid aangaan is waarskynlik die feit dat hy ‘n gewone méns is wat dink: “Nabal, ná álles wat ek in my goedheid vir jou gedoen het sonder om vergoeding te verwag en dít is nou jou houding?? Jou ondankbare dwaas! Vandag sterf jy en jou hele familie.”
Maar mevrou Nabal hoor van die hele petalje. Abigajil = die teenoorgestelde van Nabal. Die anti-nabal. Beeldskoon, uiterlik en innerlik. Liefdevolle omgee mens.
Nabal se skaapwagters weet watse dwaas hy is en dat hulle op geen manier hierdie krisis met hom kan bespreek nie. Daarom gaan hulle na Abigajil toe. Want sy is verstandig. “Mevrou – dít is wat gebeur het. Ons kom na ú toe omdat ons weet watse onredelike idioot u man is. Mens mors jou asem om met hom te praat. Daarom kom pleit ons by u.”
Onmiddelik maak Abigajil gereed om na Dawid toe gaan met ‘n wavrag geskenke. Toe sy hom tegemoetgaan, val sy op haar knieë voor hom en begin om te smeek. Sy doen intersessie. Sy tree in. Sy pleit. Namens haar man. Ten behoewe van haar dwase man.
Hierdie vrou word God se profeet – om Dawid se inkonsekwente en dwase optrede te stuit. En om hom te herinner dat God aan hom beloftes gemaak het en dat Hy dit sal vervul. “Wees dankbaar dat ek by u uitgekom het voordat u by daardie manne uitkom sodat daar nou geen bloed aan u hande is nie. Wraak behoort aan die Here nie aan u nie”.
En dan Dawid se reaksie. Wat wys dat hy ‘n man van God is. Inkonsekwent ja, maar steeds ‘n man van God. Onmiddelik is sy hart sag en kom hy tot sy sinne. Wanneer die Heilige Gees met hom praat, gee hy onmiddelik gehoor. “Dank die Here dat Hy jou na my toe gestuur het. Dank Hom vir jou fyn diskressie. Dankie ook aan jou wat my vandag kom seën het. Ek herroep my planne. Die wraak kom die Here toe, nie vir my nie.”
Sien u hoe die Here in Sy liefde en genade ons inkonsekwente optredes onderbreek en verbreek? Hy kom plaas letterlik hierdie vrou op Dawid se dwase pad. Hy gebruik soms mede-gelowiges in ons lewens. Dit is juis een van die funksies van sáám in ‘n gemeente te wees. Sáám in ‘n verbond met mekaar onder die Here se verbond te leef. Vermaan mekaar ELKE DAG (Hebr 3:13). Matteus 5,18 > Gáán na jou broer toe… Moenie aanstoot neem wanneer iemand met jou kom praat nie. Juig en loof en prys die Here, want dit is Sý omgee wat sigbaar word. En wees sag en inskiklik – in lyn met die Heilige Gees wat ons vervul. Ons is deurdrenk met een Gees. Ons is wedersyds verantwoordelik vir mekaar en teenoor mekaar. Nog ‘n rede waarom ‘n persoon wat die evangelie glo nie buite die Here se gemeente kán en mág leef nie. Niemand in die gemeente is gering of onbelangrik nie. Net soos geen ledemaat van jou liggaam onbelangrik is nie. ‘n SMS of ‘n oproep wat dalk nietig voel, kan God se instrument in iemand anders se lewe wees.
Alle gelowiges tree soms inkonsekwent op. Strydig met wat hulle glo en bely. Weersprekinge is algemeen by almal. Almal sê: “Ek glo die evangelie, ek weet dat ek deur die één offer op die kruis geregverdig en geheilig is en God my so ag” maar tree soms in stryd daarmee op. Waarom? Omdat ons vals is? Nee. Omdat ons mense van vlees en bloed is. Maar God se liefde en omgee omhels ons binne-in en mét ons weerspreking.
Die tweede beginsel wat ons moet raaksien: God is soewerein en Hý sorg man-alleen en sonder enige hulp daarvoor dat Sy koninkryksagenda volgens plan verloop. Hy voer Sy beloftes en bedoelings uit al bars die bom – met of sonder ons. Ons halstarrigheid, inkonsekwentheid en weersprekings bring nie die Here se program tot stilstand nie.
Toe Abigajil by die huis kom is Nabal besig om fees te vier en smoordronk. Sy vertel hom niks van wat gebeur het nie. Sy praat eers die volgende oggend met hom. En sy hart word soos ‘n klip in sy binneste. Tien dae later tref die Here hom met ‘n beroerte en hy sterf. So maklik en eenvoudig. Dis asof die Here sê: “Dawid, sien jy. Jy hoef jou nie te bekommer nie. Ek is in beheer. Ek is soewerein. Jy’t gedink jy moet sake in jou hand neem om iets te bewys en onreg te straf. Dis regverdig dat daardie dwaas mý oordeel beleef, nie joune nie. Onthou Dawid: die enigste rede waarom jy in die aande jou kop op jou kussing kan neersit en rustig slaap is omdat Ek omgee vir my mense en Ek in soewereine beheer is. Net daardie twee goed.”
Kan u hoor watter magtige hoofstuk 1 Samuel 25 is? Dit is van soveel betekenis vir elke mens wat ‘n ernstige saak het met die Blye Boodskap van Jesus Christus en daaruit leef en van harte omhels, maar wat elke dag in die stof van hierdie wêreld loop waar 99,5% van almal rondom jou oënskynlik nie die Here ken nie en niks anders as geestelike dwase/Nabals is nie. Jy word gekul by die werk. Jy word oorgesien. Jy word beskinder. Jy word vermy. Jy sien hoe onbevoegde mense bevorder word en bevoordeel word en aangeprys word. Jy word onreg aangedoen. Jy voel in die steek gelaat. Jy word onregverdiglik beskuldig van dinge.
Hoe kry jy dit reg om rustig te slaap? Jy weet die lewende God is Jou Vader in Christus Jesus en Hy gee vir jou om en sien om na jou. En jy weet Hy is soewerein en aan Hom behoort die wraak.
Hierdie sekerheid produseer ‘n ongekende vrede en rus in jou gemoed. Selfs wanneer jou optrede jou geloof weerspreek en jy inkonsekwent optree, omhels Hy jou steeds in die kruisdood en opstanding van Christus en tree Hy in om jou oë oop te maak.
Alle eer aan die Koning van die eeue!