TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 7: Wag vir God
1 SAMUEL 24,26
Die Here staan in ‘n verhouding tot ‘n gelowige. Die énigste rede waarom ‘n mens enigsins die Here kan ken, is omdat Hý die inisiatief geneem het en Hý Hom aan jou verbind het. Hy het dus uit vrye genade met jou in ‘n verhouding getree – dit beteken sonder om jou toestemming te vra óf te kry! Dit is Sy verhouding met jou (vgl Galas 4:9). Dis ‘n verhouding wat ten diepste op Golgota se kruis beslag gekry het.
Binne hierdie verhouding gebeur dit soms dat jy na Sy wil soek in sekere situasies omdat jy jou graag aan Sy heerskappy in jou lewe wil onderwerp. Jy wag soms OP God.
Maar soms wag ‘n gelowige ook VIR God. Daar is ‘n verskil. Dit beteken dat jy weet dat die Here vir jou ‘n bepaalde pad het, alhoewel dit nog nie gerealiseer het nie. Maar jy forseer dit nie. Jy wag. Jy neem nie in jou hande dít wat Hy alleen kan doen nie. Dit het met geduld en gebed te doen.
Soms wag ‘n gelowige OP God en soms VIR God. Daar is ‘n groot verskil tussen die twee.
Vanoggend praat ons oor “wag VIR God”.
Alledaagse voorbeeld: Ouers wil graag hê dat hulle kind tot geloof moet kom – die evangelieboodskap ontdek, verstaan en omhels en dat dit prakties sigbaar sal word. Hulle weet dat dit die Here se wil is en dat Hy Hom aan die kind verbind het in Sy verbond en dit verseël het met die doop. Daar is nie ‘n titseltjie twyfel oor die Here se bedoeling nie. Maar skynbaar gebeur daar niks. Tog weerhou hulle hul daarvan om die kind te manipuleer en sélf te probeer doen wat die Heilige Gees alleen kan doen. Hulle wag OP God.
Hier is Dawid – die man aan wie die Here beloof het dat hy koning sal word in Saul se plek. Maar hy is ‘n voortvlugtende voor Saul wat hom wil doodmaak. En dit terwyl Saul die verworpe koning is, maar hy steeds aan die troon vasklou.
Dawid was doodseker dat hy die volgende koning sou wees. Hy het die Here se belofte gehad. Maar …. daar was steeds hierdie ander koning op die troon. En hierdie ander koning wou vir Dawid dood hê.
Skielik is daar ‘n reuse geleentheid vir Dawid om die vervulling van God se belofte sélf te verhaas. Om dinge ‘n bietjie spoed te gee en vir Saul van kant te maak. Dis asof die Here vir Saul in Dawid se hand gee sodat Dawid hom met gemak kan doodmaak. En só sou God se belofte vervul word en Dawid kon koning word. “Was hierdie geleentheid om vir Saul uit te wis nie dalk deur die Hére so bewerk nie” – moes Dawid gewonder het.
Dit staan in 1 Samuel 24. Dawid (en sy 600 man) is voortvlugtend en nou by die weste kant van die Dooie See. Saul kom daar aan met 3000 man. Dan het Saul ‘n behoefte om toilet toe te gaan en hy gaan in ‘n grot. Maar hy het nie besef dat die grot so groot is en dat daar aansluitende tonnels en ander grotte agter in die grot is nie. Nog minder het hy besef dat – toe hy in die grot instap – daar meer as 600 paar oë is wat van binne die grot na hom kyk. Dit was Dawid en sy manne. Hy kom uit die helder sonlig in die donker grot in en kan gevolglik byna niks sien nie.
Toe Saul die grot inkom, sê een van Dawid se manne vir hom: “Hier is nou jou geleentheid. ‘n Geleentheid wat die Here jou gee. Kyk die Here gee jou vyand in jou hande. Die Here het mos belowe dat jy koning sal word. Kry klaar met die ou..”
Dawid sluip vorentoe tot waar Saul onwetende sit. Hy kon hom só maklik doodmaak. Vinnig en gou. Maar al wat hy doen is om ‘n stukkie van Saul se mantel af te sny. “Hoe kan ek my hand lê op die Here se gesalfde?” sê Dawid. “Hoe kan ek so iets doen – om my hand te lig teen die koning wat die Here gesalf het?” So kragtig was God se Gees op Dawid. Sodanig was sy leierskap dat hy binne die stilte van daardie grot seshonderd man in toom kon hou sodat nie één ‘n vinger teen Saul oplig nie.
Dan verlaat Saul die grot. Met groot respek volg Dawid hom na buite. Hy trek Saul se aandag en buig voor hom met alle eerbied. “Is dit nie nou vir u duidelik dat ek geen bedoeling het om u kwaad aan te doen nie?” vra Dawid vir Saul.
Die effek hiervan op Saul se gemoed is geweldig. Hy begin kliphard huil. Hier is die groot koning en militaris – huilende in die openbaar. “My seun, jy is beter as ek. Ek wou jou kwaad doen maar jy wil my net goed doen. Ek weet jy sal die volgende koning wees. En wanneer jy dit word, spaar asb my nageslag.”
Dawid weerhou hom van die geleentheid om Saul van kant te maak. ‘n Geleentheid is nie noodwendig ‘n Godgegewe konsent (toestemming/goedkeuring) nie.
In hfst 26 kry ons ‘n baie soortgelyke insident. Wat Saul vir Dawid gesê het ná die grot-episode is nou weer vergete. Weer eens soek hy met behulp van 3000 man na Dawid in min of meer dieselfde gebied as voorheen.
Dit raak aand en ‘n kamp word aangelê. Saul slaap reg in die middel van die kamp met duisende soldate rondom hom. Generaal Abner is in beheer van sake.
En hier is Dawid weer – met twee van sy vriende – terwyl hulle op ‘n afstand na die kamp kyk – met al die slapende soldate en die koning in die middel.
Toe doen Dawid en sy een vriend ‘n dapper ding. Hulle sluip dwarsdeur die kamp, tussen al die slapende soldate deur, tot by koning Saul. Dawid se vriend sê: “As jy te bang is, sal ek hom doodmaak. Ek vat sy eie spies en deurboor hom. Vinnig en gou dan is als verby. Hy sal nie eens ‘n geluid maak nie. En al ons stryd is op ‘n einde.”
Weer eens: Hoe lyk dit nie of dit ‘n Godgegewe geleentheid is nie! Een steek met die spies en dis die einde van Dawid se ballingskap en die begin van sy koningskap. Die Here het dit mos beloof! Hulle kan solank die kroningsgeleentheid beplan!
Maar Dawid sê: “Hoe hy ookal sal sterf, die Here behoed my dat ék my hand aan die gesalfde van die Here sal slaan. Al wat ons doen is, ons vat sy spies en waterkan saam met ons…”
Vanaf ‘n afstand roep Dawid dan na die koning. Weer eens bewys hy dat hy die koning kón doodmaak maar dat die Here hom weerhou het en dat hy die koning se lewe hoog geag het.
Nog ‘n keer het Saul berou oor wat hy vir Dawid wou aandoen. Hy kan nie glo dat Dawid opgetree het soos wat hy opgetree het nie. Hy kerm oor hoe misrabel hy self is.
Maar Dawid het verstaan dat geleenthede nie noodwendig toestemming regverdig nie. Hy kon nie in sy hande neem dít wat die Here alleen kan doen nie. God is die gewer van lewe en Hy alleen kan dit neem. Behalwe dalk in die geval van doodstraf op behoorlike wyse deur die owerhede toegepas, het geen mens die reg om iemand anders se lewe te neem nie. Slegs God alleen kan Saul se koningskap beëindig en vir Dawid op die troon plaas.
Dawid kón die Here se werk in sy hande neem! Maar hy weerstaan die versoeking om die vervulling van God se belofte met menslike inset aan te help. Hy kies om vir God te wag.
Wag VIR God.
Anders as Abraham wat ook ‘n duidelike te-goed-om-waar-te-wees belofte van God gehad het en toe hand aan die ploeg geslaan het om dit sélf te help waarmaak. Ja, God hét swart-op-wit bevestig dat Abraham ‘n nageslag sal hê, maar beide hy en Sara was verstorwe van die ouderdom. Geen moontlikheid vir Sára om swanger te word nie. En daarom – toe Sara haar slavin aanbied – toe sien Abraham dit as ‘n Godgegewe geleentheid. Dalk is dít die manier hoe die Here Sy belofte wil vervul. Maar hy het hom totaal misgis…
Daar het ons nou die inhoud van 1 Samuel 24 & 26. Ons verstaan nou wat daar gebeur het. Nou moet ons vra wat die Heilige Gees vir ons daaruit as Woord van God wil leer vanoggend.
Daar is drie dinge:
1 Wag vir God voorkom latere spyt
Dink net ‘n bietjie: Indien Dawid vir Saul sou doodmaak in die grot of in die kamp, met watter berou/verwyt sou hy vir jare daarná moes loop.
Neem weer vir Abraham/Hagar/Ismael as voorbeeld. Dink aan die verreikende rampspoedige gevolge van Abraham se ywer om sélf die vervulling van Gods belofte te help waar maak. Mens sou kon sê dat die huidige konflik tussen Jood en Arabier steeds die bittere vrug daarvan is, want die Arabiese nasies het uit Ismael voortgekom. Die Arabier en Jood het dieselfde pa (Abraham) maar verskillende ma’s – Hagar en Sara. En die konflik ken geen einde nie – tot vandag.
Jare later sou Dawid se eie seun Absalom oorlog teen sy pa verklaar en Dawid moes uit Jerusalem vlug. En soos hy vlug kom Simeï hom tegemoet en sê vir Dawid: “Die rede vir hierdie tragedie is jou eie bloeddorstigheid. Trap hier uit jou skurk en moordenaar. Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou word Absalom koning. Nou sit jy self in ellende omdat jy ‘n moordenaar is!” (2 Sam 16:7-8).
Simeï sê dus vir Dawid: “Jy is vasgevang in jou eie boosheid, want jy is ‘n bloeddorstige man. Dis as gevolg van die manier hoe jy vir Saul behandel het, wat dít nou met jou gebeur.”
Natuurlik was nie een woord van Simeï waar nie.
Maar sê nou maar dit wás?!
Mens kan jou nie voorstel watse berou en selfverwyt Dawid sou moes dra nie. Dink hoe sou Dawid se hele koningskap verloop het indien hy moes weet dat hý self die vervulling van God se belofte bewerkstellig het!
Goddank. Niks hiervan was waar nie. Dawid het vir God gewag en dit het latere selfverwyt voorkom.
2 Wag vir die Here bied geestelike krag
Dawid praat met Saul vanuit die grot én nadat hy Saul se spies en waterkan geneem het. Dawid kan bewys lewer van sy vermoë om homself te beteuel en dat hy vir Saul omgee en hom respekteer. Hy kan bewys lewer van sy eie onskuld en dat Saul se aanklagte teen hom geen grond het nie. Hy laat al die aantygings teen hom aan die hemelse Regter oor. Die gevolg is dat die misrabele koning hardop huil en sy dwaasheid bely. Hy word erkentlik.
Maar watter krag het vir Saul by daardie punt gebring? Dawid se weiering om die vervulling van God se belofte deur eie toedoen te verhaas. Daar is geestelike krag opgesluit in wag vir God.
Neem weer die voorbeeld van die ouers wat raadop is dat hulle kind tot geloof sal kom. Die kind is ‘n kind van die Here God se verbond. Hy dra die doop as swart op wit waarborg daarvan. Die ouers bid vir hom van kleins af. Van kleins af verseker hulle hom van God se belofte en dat sy sondes om Christus ontwil vergewe is. Hulle onderrig hom in die Woord en láát hom onderrig in die gemeente. Absoluut géén manipulasie. Slegs die versekeringe van die Woord van God en gebedsvertroue is die krag wat die kind tot geloofsoortuiging en sekerheid van saligheid bring. Die werk wat in die kind gedoen word, is slegs die werk en krag van die Here self.
Wag vir die Here en Sý krag sal geopenbaar word!
3 Wag vir God produseer innerlike vrede
Die dag het gekom wat Dawid kon terugkyk op alles wat gebeur het en daaroor ‘n psalm skryf. Soos Psalm 37. Hy kon dit skryf omdat hy nie God se beloftes bewerk en bewimpel en gemanipuleer het nie.
Psalm 37 > Vind jou vreugde in die Here. Dis al. Hy sal vir jou hele lewe sorg – op die manier en tyd wat Hy wil. Wag en wees bly. Dis sinneloos om tyd en energie te verspil terwyl alles in elk geval in veilige hande is. Dis tydmors om Sy werk vir Hom te probeer doen. Geniet eerder die vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Dink weer aan die ouers en die kind. Wanneer daardie kind ‘n vreeslike tyd deurgaan, kan die ouers rustig weet dat húlle hom nie tot geloof gebring het nie. Dit was van begin tot einde God se werk. En daarom sal Hý hom nou staande hou.
Psalm 37:31 praat van hierdie innerlike vrede: “Die openbaring van sy God is in sy hart, daarom is sy koers nie onseker nie.”