TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 6: Die vrede van Gods voorsienigheid
1 SAMUEL 23
“Waarom?”
‘n Onvermydelike vraag. Veral in tye van swaarkry. Sommer vanself kom die vraag: Waarom? Dis hoe ons menswees aanmekaargesit is. Wanneer ons in die noute kom, vra ons die waarom-vraag. Wanneer ‘n Tsunami derduisende mense tref, vra selfs die mees geharde ongelowiges die waarom-vraag. “Waarom gebeur so iets? Waarom die kinders?” Ons vra “waarom moet onskuldige mense op hulle plase vermoor word?” “Waarom word klein kindertjies gemolesteer? Hulle het geen keuse nie of begrip nie.” Wanneer die dokter jou in die oë kyk en sê: “Ek is jammer ons het alles gedoen wat medies moontlik is…” vra ons WAAROM? Waarom ék?
Watter antwoord mens ookal probeer gee, geen antwoord is ooit werklik ‘n ántwoord nie.
Dalk is ons probleem dat ons op die verkeerde vraag fokus. Dalk is die waarom-vraag die verkeerde vraag om te vra.
Die vraag is nie soseer WAAROM as wat dit WIE is nie. Nie “waarom het dit met my gebeur” nie, maar “wie staan aan die stuur van sake”? “Na Wie draai ek”? “Wie sal my deursien”?
Job het ook aanvanklik sy waarom-vraag gevra, maar uiteindelik die WIE ontmoet. Hy’t geleer om sy vrae in die regte rigting te fokus. Belangriker as WAAROM, het Job geleer WIE by hom is ín sy moeites. Hy’t geleer WIE vír hom is. WIE aan sy kant is.
2 Kor 4:16. .. “om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan gou verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare: want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is ewig.”
Nie moed verloor nie – hoe?
Hier is die gesalfde koning van Israel – Dawid – maar hy is ‘n voortvlugtende. Hy is voëlvry verklaar. Die skoonseun van koning Saul, maar hy lewe in grotte. ‘n Vlúgteling – terwyl hy die mees bekende en beroemde soldaat in Israel se weermag is!
Het Dawid ooit met die waarom-vraag geworstel? Lees die psalms en oortuig uself.
1 Sam 23 > Dawid – die man op wie jag gemaak word. Wie bedreig en verraai word. Dawid se lewe was dié van lyding en hartseer en vervolging. Tog het hy getrou gebly. Hy was getrou aan God. Getrou aan sy land. En… getrou aan sy koning! Dieselfde man wat hom sy ellende besorg het. Dit is verby moeilik! Dis bo-menslik. Die bekragtiging van die Here self het in Dawid se lewe gewerk.
Ten tye van intense moeites, vind die gelowige – nie noodwendig antwoorde op sy waarom-vrae nie – maar vrede in God se genadige voorsiening. Die gelowige se vrede beteken nie dat alles goed gaan nie. Die gelowige se vrede is nie gebaseer op ‘n oorvol bankrekening of groot sukses nie. Want jy kan álles hê, maar wat doen jy wanneer die storms kom? Is daar vrede midde-in storms?
God se genadige voorsiening gee vrede te midde van storms en dit maak die Christusgelowige ánders as ander mense. Dis ‘n merkteken van heiligheid – van andersheid. Heiligheid = eenkant geplaas. Een teken dat elke Christusgelowige heilig is, is die feit dat hy/sy rus het in omstandighede waar daar nie rus is nie. Nie “waarom” nie, maar “Wie”. Ander mense sien dit en is verwonderd daaroor.
Hierdie bonatuurlike vrede is slegs moontlik as gevolg van die Here se voorsienighede. In 1 Sam 23 sien ons DRIE sulke voorsienighede.
1 VERSE 1-13 > DIE VOORSIENING VAN GODDELIKE LEIDING (GUIDANCE)
Eintlik gaan die eerste 5 verse bietjie terug in tyd. Terwýl Saul besig was om die dorpie Nob uit te wis, gebeur dít wat in vv 1-5 staan. Dit vind gelyktydig plaas. Want dit is belangrik om die skrille kontras tussen Saul en Dawid te sien. Ons moet sien dat hierdie twee manne in twee totaal verskillende verhoudings met God geleef het. Saul was koning en dit was sy roeping om die Israeliete te beskerm. Maar hy wil net vir Dawid dood hê. Hierdie moeilikheidmakertjie. En in sy paranoia wis hy ‘n hele dorp uit.
Daarteenoor is Dawid die voortvlugtende, maar wanneer hy hoor dat die Israeliete in gevaar is, wil hy dadelik gaan help. Terwyl die heil van sy mense vir Saul min skeel. Hy wil net sy mag behou. Dawid is egter bereid om sy lewe te waag vir die belang van die mense.
Die Filistyne steel Israel se koringvoorraad. Dis ‘n saak van oorlewing. Dawid voel hy moet sy mense red. Hy bid daaroor en sê: “Here is dit reg dat ek gaan?” Die Here gee hom die groen lig. Maar sy 600 man (wat ook voortvlugtend was) is nie baie ywerig nie. Wat te verstane is. Hulle dink Dawid se kop vat nie lekker nie. “Moet ons die Filistyne gaan beveg net om Saul en sy korrupte regering aan die lewe te hou? Ons dink nie hierdie ding is óns saak nie.”
Dawid dink toe dat hy dalk die kat aan die stert beet het. Daarom gaan hy weer na die Here toe: “Here is U absoluut seker dat U wil hê ék moet die Filistyne gaan uitsorteer?” Die Here sê: “Ja, Ek het gesê GAAN. Ek sal hulle in jou mag gee”.
Alles gebeur toe presies só. Die oorwinning behoort aan Dawid.
Toe, op daardie oomblik, kom Abjatar daar aan. Ná die oorwinning. En hy kom met ‘n linne skouerkleed/Efod. Wat die priesters gedra het. Die Efod word geassosieër met gebed en die ontvangs van openbaringskennis van die Here (Num 27; 1 Sam 28; Esra 2; Neh 7).
Wat ons moet raaksien: Dit was nie ‘n onbenulligheid dat die priester daar aankom met die Efod nie. Dit wys vir ons dat die Here besig was om met Dawid te kommunikeer. Die Here was besig om Sy wil aan Dawid bekend te maak. Dawid het vrye toegang (deur die priester-en-sy-efod) tot God gehad terwyl Saul dit verbeur het. Dawid ontvang goddelike leiding terwyl die koning niks ontvang nie.
Toe Saul verneem waar Dawid is en planne maak om teen hom op te trek, gaan Dawid weer na die Here toe (deur die priester): “Here ek verneem dat Saul op pad is. Sal die mense van hierdie dorp my uitlewer aan Saul?” Die Here antwoord: “Ja hulle sal jou aan Saul uitlewer.”
Wat gaan hier aan? Dawid het hulle teen die Filistyne beskerm en hulle sal hom aan Saul uitlewer?
Onthou hulle het die TV Nuus gekyk. Hulle het die videos gesien van hoe Saul die dorpie Nob uitgewis het. Toe sê hulle: “Aikôna, ons gaan nie toelaat dat dit met ons gebeur nie.”
En so word Dawid betyds gewaarsku – deur die Here se leiding.
Dawid het fokus/rus/vrede behou te midde van chaos, omdat die Here voorsien het. Hy het LEIDING voorsien.
Ons hoor dit alles, maar ons voel nogtans nie vertroos nie, want ons voel óns is nie Dáwid nie. Hy was die uitverkore gesalfde koning van Israel, hy was in die geslagslinie uit wie die Messias gebore sou word. Dis nie heeltemal die kategorie waarin ék is nie – dink ons. Dis soos om appels en pere te vergelyk. Lekker vir Dawid, maar waar pas arme ék en my ondervinding in die prentjie?
Dis net daar waar ons geneig is om ons grootste fout te maak. Want iemand wat – deur God die Vader se genade en magsdaad – by Jesus Christus ingesluit is geniet presies dieselfde voordele – en nog meer! Hebreërs 4:15-16 – “Die Hoëpriester wat ons het, het medelye met ons swakhede omdat Hy in elke opsig aan versoekings onderworpe was sonder om te sondig. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon sodat ons barmhartigheid en genade ontvang om op die regte tyd gehelp te word.”
Ingesluit by die Groter Dawid. Sy leiding is ‘n belofte – as gevolg van die Hoëpriester – wat baie groter is as Abjatar. Aan die regterhand van die Vader. Sy teenwoordigheid is een deurlopende intrede.
Nie omdat jy so goed is nie, maar omdat God jou ingesluit het by Christus se verlossingswerk en ál jou skuld deur Sy kruisdood vergewe is en Hy jou Hoëpriester is – SAL jy Sy leiding ondervind in jou lewe.
2 VERSE 14-18 > DIE VOORSIENING VAN TYDIGE BEMOEDIGING. Saul soek daagliks na Dawid, maar die Here gee hom nie in Saul se hand nie. Saul is gedetermineerd om Dawid te dood. En Jonatan gaan na Dawid toe om sy hand in die Here te versterk. Jonatan se woorde: “Moenie bang wees nie, want jy sál koning word oor Israel en ek sal ónder jou staan..”
Dawid was op sy laagste. Sy woonplek was die wildernis. Sy omstandighede was neerdrukkend. Sy lewe is élke dag in gevaar. En tog het hy hierdie vrede en krag wat van die Here kom en daartoe gebruik die Here Jonatan se (baie tydige) bemoediging.
Is dit nie opvallend dat Saul – met al die mag en middele waaroor hy beskik – nie vir Dawid kon vind nie. Maar Jonatan kon!
Maar hoe het Jonatan dit reggekry om Dawid se hand te versterk? Deur hom te herinner aan wat die Here beloof het. “Dawid ek weet wat my pa besig is om te doen. Maar die Here het aan jou persoonlik beloof dat jy koning sál word.”
Die manier hoe Jonatan vir Dawid bemoedig, was met die Woord van die Here. Net dit. Nie met mooi woorde nie. Nie met emosies nie. Nie deur vir Dawid te sê wat hy wil hoor nie. Jonatan praat die Woord/toesegginge van die Here. En dat God getrou is aan Sy Woord. Dawid kon nie die mense vertrou wie hy pas gered het nie. Hy kon nie op sy eie mense staatmaak nie. Maar die Here het die regte persoon op die regte tyd met die regte Woord na Dawid gestuur.
Dit is die tweede groot genadige voorsiening van die Here aan al Sy kinders. Tydige bemoediging uit sy Woord op presies die regte tyd. Dit het niks met toeval te doen nie. Dis nie maar net “geluk” nie. Dis die teenwoordigheid en die krag van die lewende God. En Hy gebruik dikwels ander mense hierin – en nie eens altyd mede-gelowiges nie. Soms kan jy na musiek luister of na ‘n radioprogram of ‘n koerantberig lees – en Sy stem hoor. Soms kom ‘n Skrifgedeelte net spontaan in jou gedagtes op. Maar Hy voorsien woorde van bemoediging op die regte tyd.
3 VERSE 19-28 : VOORSIENING VAN DIE VOORSIENIGHEID
Met “die voorsienigheid” word bedoel die manier waarop Hy agter die skerms werk en omstandighede voorsien vir die voordeel van Sy kind. Hy voorsien die Voorsienigheid.
Saul kry berig dat Dawid in Gibea is en hy trek soontoe op om vir Dawid gevange te neem. Maar Dawid hoor dit en vlug. Dan hoor Saul waarheen hy gevlug het en mik sóóntoe.
Toe gebeur die onverwagte: Nét toe Saul se manne vir Dawid omsingel, kom daar ‘n boodskapper by Saul wat hom dringend roep omdat die Filistyne die land ingeval het. En Dawid kom vry. Sy lewe word gespaar.
Daar is twee maniere hoe jy daarna kan kyk:
1 Dit was Dawid se gelukkige dag. Hoe gelukkig vir hom dat ‘n boodskapper net op die regte tyd daar aangekom het en vir Saul kom roep het. Alles pure toeval. Wat ‘n geluk!!
2 Of jy kan die Here God se voorsienigheid sien. Dawid was eintlik nooit in massiewe gevaar nie omdat die Here nog al die tyd beplan het om hom te red – Sy belofte was tog dat Dawid koning sou word. Die Here se soewereiniteit seëvier. Geen toeval nie. Die Here is altyd (agter die skerms) aan die werk in alle dinge. Daardie boodskapper was deur Sy voorsienigheid gestuur.
Dit is die God van die Bybel – die Vader van ons Here Jesus Christus! Hy is aan die werk! En ons kan rus in Sy Voorsienigheid.
Dit is nie net Dawid se storie nie. Dit is ook joune. En dit veroorsaak rus en vrede te midde van die storms van omstandighede. Dit bring die groot WIE in die fokus – in plaas van WAAROM. Agter die skerms is die groot Voorsienigheid aan die werk. Hy voorsien Voorsienigheid, woorde van bemoediging op die regte tyd en Sy leiding in ons lewens. Wat ‘n groot avontuur om deur die lewe te gaan in só Iemand se teenwoordigheid.