TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 5: Teruggeval

1 SAMUEL 21-22

 

Dawid, die gesalfde koning van Israel, was nou ‘n voortvlugtende. Die verwerpte koning – Saul – sit nog op die troon en wil vir Dawid met alle mag dood hê. Vir slegs een rede: Jaloesie.

 

Nadat Dawid sy verbondsgenoot, Jonatan, gegroet het, is Dawid die woestyn in. Hulle sou mekaar nog net een keer sien. Vir Dawid was dit moeilike tye. Hy moet vir sy léwe vlug! In 20:3 sê hy: “daar is slegs een tree tussen my en die dood” en dit terwyl die Here aan hom bevestig het dat hy koning ná Saul sál wees! Die Here het aan hom bevestig dat hy níé sal sterf nie. Maar al wat hy sien is die moordlustige Saul en tien mislukte aanslae op sy lewe!

 

Moeilike tye is vir enige Christusgelowige ‘n toets. Dit is soms in moeilike tye wat sommige Christusgelowiges uitsak en verflou.

 

Vir Dawid was dit ‘n tyd van teruggly in sy geloofslewe. Hy was by ‘n vurk in die pad: aan die een kant God se belofte: Jy sál koning word. Aan die ander kant die sigbare/voelbare: Saul gaan my doodmaak. Wat is die regtige werklikheid: wat God gesê het of wat ek sien/ervaar? En Dawid kies die tweede. “Saul gaan my doodmaak, Saul gaan my doodmaak”.

 

Dit is waar geestelike uitsakking (backsliding) altyd begin: my eie gedagtes is vir my meer werklik as God se gedagtes. Die sigbare oorheers die onsigbare. Die Here en wat Hy sê is van minder realiteit. Terwyl die waarheid is: Ons leef deur die geloof in Gods belofte, nie deur sien nie (2 Kor 5:7). Soos Abraham wat teen hoop op hoop geglo het dat God Sy woord sal waarmaak (Rom 4).

 

Wanneer die Here en Sy beloftewoord vir ‘n mens mínder werklik word as jou sigbare ervaarbare tasbare lewe, gebeur daar altyd ‘n paar goed met jou. Ons sien dit in hierdie hoofstukke, want dit het met Dawid gebeur.

 

Skielik sien ons vir Dawid besig om leuens te vertel. Die enigste tyd waar ‘n Christusgelowige leuens vertel is wanneer die teenwoordigheid vd persoon met wie jy praat méér werklik is as die teenwoordigheid van die Here.

 

Dawid vlug na die klein dorpie Nob waar daar ‘n hele klomp mense gewoon het wat die Here liefgehad het – priesters. Mens sou dink dat Dawid soontoe gaan om geestelike versterking te vind, maar nee: daar is leuens op sy lippe. Hulle vra: “Waarom is jy alleen”? Skielik is Dawid meer besorg oor sy liggaam as sy siel. Hy antwoord: “Ek is eintlik op ‘n geheime sending van die koning. Maar is hier nie dalk brood wat ek kan eet nie?” Hy is meer besorg oor sy leë maag as oor of hy met leuens besig is.

 

Kan jy glo dat dít die man is wat Goliat oorwin het en psalms geskryf het? Dawid het teruggeval. Teruggevalle Christene is meer besorg oor hulle liggaamlike welstand as oor hul geestelike welstand. Meer besorg oor hulle beroep en inkomste as oor hul geestelike lewe. Meer besorg oor hulle status in die wêreld as hul wandel met God. Dis waar Dawid nou was.

 

Dawid sien vir Doëg die nasaat van Esau en dat Doëg sien dat hy met die priester praat. En Dawid wéét dat Doëg dit vir Saul (Dawid se grootste vyand) sal gaan vertel (en wat die gevolge daarvan sal wees) en nogtans gaan hy net aan met sy storie. Wat ‘n enorme stuk dwaasheid! Sonde ís dwaasheid! Teruggevallenheid is dwaasheid!

 

Benewens leuens is ‘n ander kenmerk van ‘n teruggevalle Christusgelowige dat hy/sy probeer om soort met soort te ontmoet.

 

Saul is daarbuite met ‘n swaard, nou voel Dawid hy moet ook ‘n swaard hê. Nob is egter ‘n vreemdsame dorpie vol priesters – daar is nêrens ‘n swaard nie. Al swaard wat daar is is Goliat se swaard waarmee die einste Dawid hom vakant gemaak het! Net daardie verwysing moes al vir Dawid laat besef het dat hy as gelowige nie swaard met swaard hoef te ontmoet nie! Hy’t nie vir Góliat só oorwin nie. Maar ‘n teruggevalle hart sê: “as hy dít aan my doen sal ek dieselfde aan hom doen – net erger.”

 

Derdens iets nog erger. Mens kan byna nie glo wat jy lees nie. Met Goliat – die Filistyn wat hý oorwin het – se swaard om sy lyf, gaan Dawid reguit na die Filistyne toe! Hy gaan ná die vyand se land met hulle held wie hy doodgemaak het se swaard om sy lyf!!

 

Wanneer ‘n mens eenmaal die volheid van die Here se genade gesmaak het en tot rus gekom het in Hom en jy dan weer koud en lou raak, doen jy die gekste goed en neem die mees dwase besluite. Dis asof jy gedisoriënteer is.

 

Toe Dawid in die Filistynse kamp kom is die Filistynse koning se paleisbeamptes nie ‘n bietjie ontsteld nie. “Weet u wie dit is? Dis Dawid die gesalfde koning van Israel. Dis hy wat ons Goliat gedood het! En u wil hom politieke asiel gee?”

 

Skielik besef Dawid watter dwase ding hy gedoen het en dat sy lewe in gevaar is. Toe begin hy ‘n leuen dramatiseer! Eers het hy ‘n leuen vertel, nou dóén hy ‘n leuen. Wat ‘n patetiese figuur. Hy maak of hy kranksinnig is. Hy krap met sy naels aan die deur en laat sy speeksel in sy baard afloop. Die koning sê: “Ons het nie ruimte vir nog ‘n mal-man in ons midde nie – gooi hom uit!”

 

Besef ons dat ‘n Godsman soos Dawid, kon verkoel/terugval? Ek kan ook terugval. U kan terugval. Miskien is u alreeds ‘n teruggevallene (backslider). Dit gebeur wanneer ‘n Christusgelowige die sigbare sien as méér werklik as die onsigbare.

 

Maar daar is iets meer wat ons moet besef: As jy ‘n teruggevalle Christusgelowige is, hoef jy nie teruggeval te bly nie!

 

Toe Dawid uit daardie Filistynse stad Gat terugkeer, is dit of hy tot sy sinne kom. Gaan kyk gerus maar net na psalm 56. Kyk mooi na die inleiding van die psalm: “Van Dawid. ‘n Gedig na aanleiding daarvan dat die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.” Lees dan die psalm dan sien u die omwenteling in Dawid se gemoed: “Wees my genadig o God…. in God stel ek my vertroue… wat kan ‘n méns aan my doen….. U het op my trane gelet… in U boek staan hulle opgeteken…. God is aan my kant…. U het my uit die dood gered… met God by my kon ek my pad aanhou loop…”

 

Hier is ‘n man wat weer omdraai na die Here toe. Op geen moment was die Here nie vír hom nie. Terwyl Dawid in ‘n teruggevalle toestand was, het God hom nie die sonde toegereken nie! God was nie al fronsend téén hom nie. God het nie vir Dawid uit Sy omhelsing laat val nie. Maar Dawid het in die duister gaan staan en homself soveel skade aangedoen. Dis soos ‘n lig wat helder in ‘n vertrek brand. Jy staan binne die vertrek in die lig. Dan stap jy uit en gaan staan in die donkerte buite die vertrek. Intussen brand die lig steeds, maar jy bevind jou in duisternis omdat jy buite die lig gaan staan het. Die oomblik wanneer jy teruggaan in die vertrek, is jy weer in die lig. 

 

Die probleem is nie van die Here se kant nie – die lig brand steeds soos tevore. Die probleem is die duisternis waarin Dáwid (as gevolg van onkunde en verwarde begrip) gaan staan het! 

 

 

Dis juis die blye boodskap: jy mag terugdraai na Hom omdat Hy ná jou gedraai is terwyl jy van Hom weggedraai was. Die oordeel was op Hóm en Sy reg-wees is joune. Al is alles jou eie skuld, is jy binne Sy omhelsing. Geen wonder Dawid vertel aan hierdie ewige Liefde álles nie (Ps 56). En so groei die vertroue weer in sy hart. Dit is hoe die onsigbare en die beloftewoorde van God weer vir Dawid méér werklik raak as wat mense van vlees en bloed is.

 

Teruggevalle Christusgelowiges hoef nie in daardie toestand te bly nie. Nie vir ‘n sekonde nie.

 

1 Samuel 22 – nou is Dawid weer voluit in die geloof. Hy is herstel Hy kom terug van die Filistynse stad Gad. En waarheen gaan hy nou? Hy na die grot van Adullam. Op die grens tussen die Filistyne en Israel. En daar kom ontmoet mede-gelowiges hom. As ‘n mens met die Here wandel, vind ander mense jou – ander wat verlang na genesing en rus by die Here. Alle tipes: sommige in skuld, sommige moedeloos, sommige in die moeilikheid, sommige verbitterd – hulle vind hulle weg tot by Dawid.

 

Ons sien ook hoe Dawid nou omgee vir sy ouers en dink aan wat van hulle gaan word. Hy doen groot moeite om sorg te dra dat hulle versorg word by die koning van Moab. Dit is duidelik dat iets binne-in Dawid drasties verander het.

 

Toe hy teruggeval was, was hy angsbevange vir Saul wat sy bloed soek en wou hy ‘n swaard hê om homself te verdedig, maar hoor hoe klink hy nou (22:3): “Totdat ek weet wat die Here vir my sal doen.” Net daarna gebruik die Gees die profeet Gad om vir Dawid leiding te gee en Dawid gee onmiddelik gehoor aan wat die profeet sê. Skielik wil hy by die Here hoor. Hy lees weer sy Bybel. Vroeër was dit angs en depressie en swartgalligheid. Nou is dit hoop en perspektief en ervaar hy die Here as ‘n realiteit. Hy luister nou na die Here se Woord en hy besef dat wát ookal oor sy lewenspad kom, dit die Hére is wat met hom besig is!

 

Is dit nie ‘n skitterende getuienis nie?! ‘n Teruggevalle Christusgelowige hoef nie teruggeval te bly nie! Die Lig het nooit ophou skyn nie.

 

Maar hfst 22 vertel ook iets meer. Dit wys vir ons hoe ‘n Christusgelowige se teruggevallendheid konsekwensies het. Soms bíttere konsekwensies. Soms konsekwensies wat nie teruggedraai kan word nie.

 

Die gevolg van Dawid se teruggevallenheid is dat koning Saul gaan en die hele dorpie Nob uitwis. Man en muis. Álmal. Slegs een priester ontsnap en vlug na Dawid toe.

 

Saul is só verblind deur sy moordlus teen Dawid dat hy dink almal is téén hom. En toe kom Doëg vir hom vertel dat Dawid in Nob by Agimelek was. Die gevolg was dat Saul summier 85 priesters vd Here laat doodmaak. En daarná die hele dorp Nob – álmal – mans, vrouens, baba’s – selfs die vee. ‘n Onbeskryflike tragedie.

 

Maar Abiatar ontvlug en gaan vertel dit vir Dawid. Dan sê Dawid hierdie betekenisvolle woorde: “Dis ÉK wat julle lewens in gevaar gestel het.” En dit wás so! Dit was Dawid in sy teruggevalle toestand en gevolglike onbesonne optrede wat tot die tragedie aanleiding gegee het! Al was Dawid herstel in die geloof, sou hy die res van sy lewe moes saamleef met die herinnering van wat by Nob gebeur het.

 

So gebeur dit vandag steeds. Baie teruggevalle gelowiges word lieflik herstel, maar moet met die blywende gevolge van hul teruggevallenheid saamleef. Jy sien die gevolge in jou kinders, in verhoudings wat verpletter is, in die siektes soos HIV wat jy opgedoen het of die skade wat dwelmmiddels tot gevolg gehad het.

 

Alhoewel die Here in Sy onpeilbare goedheid teruggevallenes herstel, is dit steeds die heel beste om nooit terug te val nie! En die enigste manier om nie te verflou nie, is om op ‘n daaglikse basis jou gemoed te spoel in die inhoude van die Evangelieboodskap! En die kern-inhoud is dat die lewende God nie jou werksverrigting dophou en jou sondes toereken nie! Vir ewig nie! Jy kan wátse boosheid in jouself sien, maar God sien jou NIE so nie! Want jy is absoluut volledig ingereken by jou Plaasvervanger Jesus se dood en opstanding. Sy skoonheid, reg-wees, heiligheid is 100% joune – dis jou toegereken.  Selfs wanneer jou werksverrigting nie 100% is in jou eie oë nie, is jou werksverrigting 100% in Sy oë.

 

As jy iets van hierdie inhoude op ‘n daaglikse basis oordink en gelowig omhels, sal jou hart nooit afkoel nie en sal jy nooit uitsak nie.

 

Hierdie inhoude is só kragtig dat dit in die 16de eeu tot die groot kerkhervorming gelei het. Want dit was hierdie presiese inhoude wat Martin Luther ontdek het. Regoor die wêreld vier die Protestantse kerkerewêreld hierdie ontdekking op die laaste Sondag van Oktober.

 

Luther het ontdek wat Dawid ontdek het toe hy Psalm 56 geskryf het, naamlik dat God hom nie sy teruggevallenheid en sondes toegereken het nie. En dáárom kon hy terugdraai na God toe!

 

Luther het vir jare geworstel met die stryd van: “As ék my sondes so deeglik sien en beleef en dit my so siek maak, hoeveel te meer moet die heilige en perfekte Gód dit nie sien en daarvan siek wees nie! Hy sien my mos baie meer boos as wat ek myself sien! Wat moet ek doen om dit omgedraai te kry? Hoe kom ek uit dit uit?”

 

Daarom was Luther – al was hy ‘n teoloog –  in ‘n permanente toestand van skuldgevoelens, veroordeling en twyfel. Hy’t gevoel die Here veroordeel hom vir sy sondes.

 

Totdat hy die ontdekking van sy lewe gemaak het. ‘n Ontdekking wat sy lewe permament en onherroeplik verander het en gelei het tot die uiteindelike breuk met die Rooms-Katolieke kerk en die geboorte van die Protestantisme.

 

Luther het in die Galasiërs-brief ontdek dat God vir hom – Martin Luther – met en binne-in sy sonde/skuld/boosheid ingereken het by Jesus Christus se kruisdood op Golgota en dat God daarom vir Martin Luther Chrístus se perfekte reg-wees toereken soveel so dat Martin Luther permanent vir ewig smetteloos en onskuldig voor God staan! Hy het ontdek dat God vir Martin Luther met Jesus se kruisdood vasgehou het IN en MET al sy sondes. En toe hy dit ontdék – toe is sy spontane reaksie om dit te glo! Byna soos ‘n mens se spontane reaksie is om te lag wanneer jy ‘n grap snap. Toe Luther die Blye Boodskap snáp, toe gló hy dit – spontaan. En dit was die begin van massiewe dinge! En daar word gesê dat daar min mense in die geskiedenis was wat die Blye Boodskap van vrye genade so helder verstaan het soos Martin Luther!

 

Maar het Luther toe nooit weer teruggeval (ge-backslide) in sy geloofsgloed nie? Ja hy het gewis. Maar hy kon nooit uitval uit God se omhelsing in Christus nie. En die ontdekking dáárvan het sy gloed brandende gehou. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00