TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 4: Die krag van verbondsliefde
1 SAMUEL 20
Die realiteit van Jonatan en Dawid se vriendskap is baie baie raar. Veral as ‘n mens dink aan hoe dinge in die destydse wêreld gewerk het. Álmal wat – byvoorbeeld – ‘n koning se troon bedreig het is summier geëlimineer. Of wanneer ‘n koning by ‘n ander oorneem, word die vorige se hele nageslag uitgewis.
Hier is nou ‘n koning (Saul) wie se wettige troonopvolger (Jonatan) ‘n verbond sluit met ‘n totale buitestaander (Dawid) wat die troon gaan neem wat hóm (Jonatan) toekom!! Jonatan wás die volgende koning, maar Dáwid was deur die Here gekies en die Here laat vir Jonatan vir Dawid liefkry en Hy stik hulle siele aan mekaar vas. Hý werk in Dawid se hart ‘n liefde vir Jonatan én sy nageslag.
Hierdie verhouding was baie meer as ‘n blote vriendskap. Dit was ‘n verbond (18:1-5). ‘n Verbondskontrak van liefde en ‘n vaste verbintenis. ‘n Verbond was destyds ‘n belofte op ‘n eedswering gebaseer. Een party beloof onder eedswering om die ander party te seën op ‘n spesifieke manier. Belofte – onder eedswering! Allermins net ‘n vriendskap!
Ons kan nooit die Here se verhouding tot ons op ‘n ánder manier verstaan as vanuit Sy verbond met ons nie! God se eedswering jeens ons wat Hy eensydiglik (sonder om ons vooraf in die saak te ken of te raadpleeg) met ons kom oprig het. Beter gesê: Wat Hy met Jésus opgerig het en waarby Hy ons – sonder oorsaak uit vrye guns alleen – ingesluit het.
Die verhaal van Jonatan en Dawid is buitengewoon omdat dit ‘n prentjiesbeeld is van ‘n buitengewone Evangelieboodskap – buitengewone Goeie Nuus. En van ‘n buitengewone verbond. ‘n Verbond van gróót blydskap.
Hierdie waarhede vorm die ruggraat van 1 Sam 20. Om hierdie hoofstuk te verstaan moet ons dit sien vanuit die standpunt van ‘n verbondsverhouding: Die lewenslange bindende ooreenkoms wat Jonatan en Dawid in die Naam van die Here gesluit het. Hoofstuk 20 is ‘n meevoerende prentjie van die krag van verbondsliefde. 1 Samuel 20 wil hê dat ons moet verstaan wat dit beteken om bevoordeeldes van God se verbond te wees. Hier ontdek ons God se hartklop vir ons. Dat Hy nie alewig woedend is en kyk waar Hy ons kan uitvang nie, maar dat Hy omgee en sorg. Die Vader het ‘n verbond met Christus gesluit met die uitsluitlike doel om vir ú daarby in te sluit en te bevoordeel. Die waterdoop wat u eens van Hom ontvang het, bevestig dit in alle tale – naamlik dat u ingesluit ís! Nié net potensieël ingesluit totdat jy tot bekering kom en dan mak jou bekering dit ‘n werklike insluiting nie, maar WERKLIK ingesluit, daarom mág jy tot bekering kom!
Maar as jy hierdie waarheid verkeerd sien en verkeerd oor Hom glo, beroof dit jou van die genieting van Sy verbond. Dit dompel jou in ellende. Maar as jy – aan die ander kant – die realiteit van Sy verbond reg hoor en reg glo, maak dit sluise van seën oop!
1 Sam 20 is ‘n hoofstuk wat maklik is om te volg en wat byna soos ‘n toneelstuk geskryf is – in 4 bedrywe.
EERSTE BEDRYF: Verse 1-11 > Om ‘n bevoordeelde van God se verbond te wees beteken om ‘n bondgenoot te hê in tye van nood en ellende.
Ons bevind ons in Jonatan se blyplek. Moontlik die paleis waar sy pa gewoon het. En hier is Dawid – vlugtende vanaf Rama waar Saul sy bloed gesoek het. Toe Dawid in hierdie groot benoudheid kom, vlug hy na sy verbondsvriend – Jonatan. Hy het méér as ‘n vriend nodig. Hy het ‘n (ver)bónd(s)genoot nodig.
Dawid vertel vir Jonatan wat op sy hart is: “Ek is totaal onskuldig, waarom maak jou pa jag op my?” Hy wil hê Jonatan moet besef wat regtig aan die gang is. Jonatan is traag om dit te glo, want hy was ‘n baie lojale seun vir sy pa. Al was sy pa nie die toonbeeld van ‘n gelowige nie, verwerp Jonatan hom nie. “My pa sal níks doen sonder om my te vertel nie.”
Dawid sê: “Maar hy sál jou nie sê nie, juis as gevolg van die verbond wat ons tussen ons het. En dit terwyl daar net een tree tussen my en die dood is.”
Maar Jonatan is met ‘n verbond aan Dawid verbind: Hy stel homself ten volle tot Dawid se beskikking. “Wat jy ookal sê: ek is dáár vir jou.” Absolute lojaliteit. Fokus is die heeltyd op Dawid nie homself.
Kan mens jou dit voorstel? Hier is die wettige troonopvolger – die kroonprins – wat homself ondergeskik stel aan die man wat die troon voor sy oë gaan wegraap – sy teëstander. Volgens alle politieke reëls van daardie tyd moes hy van Dawid ontslae geraak het! Hulle verbond verander dit egter radikaal.
Maar kyk nou: Toe Dawid in groot nood is, het hy die moed om na die kroonprins te gaan om hulp te vind! Op grond waarvan? Op grond van verbondsliefde/kontrak/eedswering. Wat ‘n wonderlike prentjie van die Evangelieboodskap en van dit wat óns s’n is op grond van Christus se verdienste! Al is ons eintlik die dood waardig.
Kyk na Dawid se woorde in vers 8: “jy het jou met ‘n verbond vd Here aan my verbind. Toon dan jou trou aan my…” (v 14). Daardie woordjie “trou” is die Hebreeus “gêsêd” wat ‘n verbondsterm is wat beteken “verbintenis om lief te hê, om barmhartig te wees”. Binne die verbond kan jy gêsêd verwág! Binne die verbond het jy elke reg om gêsêd te verwag. Om ‘n veilige hawe te verwag. Eksodus 34:6 – “Ek die Here is die barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde en TROU (gêsêd). Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte…”
Verstaan u wat is die krag van God se verbond met ons? Die Kroonprins van die hemel kom stel Homself diensbaar aan u & my en hou net ons belange voor oë terwyl Hy ons na regte moes geëllimineer het! Alles slegs op grond van Sy verbond! En die bloed wat Hy gestort het om die verbond geldig te maak. Die feit dat Hy in Sy eie Naam gesweer het (Hebr 6:13-17) om tot ons verbind te wees!
“Wel ons kan altyd uitvind wat jou pa se ware motiewe is” sê Dawid. “Môre is dit Nuwemaansfees en jy weet dat jou pa – alhoewel hy van die Here afvallig is, nog steeds die uiterlike rituele wat die godsdiens van hom verwag onderhou”. Hy het nog steeds eredienste besoek – in ons taal.
In hierdie spesifieke geval sou die feestelikheid ‘n paar dae duur en daar sou sekere maaltye wees en die koning sou aansit te same met sy seun Jonatan en ander hooggeplaastes. Dawid sal ook daar wees.
Nou sê Dawid vir Jonatan: “Kyk, ek sal nie aan tafel wees nie. As jou pa kwaad is omdat ek afwesig is, dan weet ons dat hy my wil doodmaak.”
Dis die plan waarop Dawid en Jonatan ooreenkom. Dawid sou nie by die heilige ete wees nie. Waar sou hy wees? In Betlehem by sy ‘n familie wat ook hierdie feesmaal sou hê.
Die probleem is: Indien Saul werklik vir Dawid wil vermoor, sal dit nie vir Jonatan veilig wees om vir Dawid te gaan waarsku nie! “Wel” sê Jonatan, “laat ons in die oop veld gaan en dáár verder praat – waar geen sterfling ons kan hoor nie.”
En dit is waar die eerste bedryf (vv 1-11) ophou – waar ons Jonatan se woonplek verlaat en na die veld gaan.
Maar wat ons in die eerste bedryf moet hóór is dat jy – as bevoordeelde van die Here God se verbond – ‘n BONDGENOOT het in tye van nood. Beproef Hom maar en beroep jou altyd op Sy verbond! Beroep jou daarop dat jy ‘n gedoopte mens is!
Tweede bedryf: Verse 12-23: Om ‘n bevoordeelde van God se verbond te wees beteken om die voorwerp te wees van buitengewone getrouheid. Die Here se verbond is die basis vir ‘n stuk ongewone getrouheid.
Nou is Jonatan en Dawid in die veld, maar voordat hulle hulle plan bedink vra Jonatan eers vir Dawid om ‘n belofte af te lê. Jonatan weet dat Dawid tot koning gesalf is. Nou moet Dawid beloof dat hulle vriendskap van krag sal bly en dat Dawid – nadat hy koning geword het – goedgesind sal bly teenoor Jonatan se nageslag. Jonatan versoek dat Dawid dit met eedswering sal bevestig – in die Here se Naam (vv 11-17).
Lees gerus weer verse 11-17 en u sal sien hoe Jonatan en Dawid hulle aan dinge verbind wat téén hulle eie beste belange indruis. Hulle doen letterlik afstand van hulself ter wille van die ánder. Waarom? As gevolg van hulle verbond! Jonatan verloor die koningskroon. Dawid bewaar Jonatan se nageslag. Jonatan vra dit van Dawid: “Al is ál jou vyande onder jou voete: onthou net my nageslag”. Later het dit presies so gebeur. Pleks van Saul se nageslag uit te roei, het Dawid vir byvoorbeeld Mefiboset aan sy eie tafel laat eet. As gevolg van sy verbond met Jonatan. Nageslag is altyd betrek by die Here se verbond!
Sien u die ongewone getrouheid! Iets wat groter is as eie belange en eie agenda. Dit wys op Gód se ongewone getrouheid!
Die plan waarop hulle ooreenkom is dan soos volg: Ná 3 dae sal Jonatan uitgaan in die veld om te gaan pyle skiet en Dawid sal daar naby wegkruip. Indien Saul vir Dawid wil doodmaak, sal Jonatan vir die seun wat die pyle optel skree: “Dit lê nog bietjie verder aan!” Dan sal Dawid weet.. en vlug. Of andersom.
En op daardie nood eindig die tweede bedryf.
Maar wat ons moet raaksien: Die TROU wat die Here o.g.v. Sy verbond openbaar is van ‘n buitengewone aard. Ons kan verwág dat hy só sal wees. Ons kan verwag om hierdie tipe trou teë te kom.
Derde bedryf: Verse 24-34: Verbondsliefde kos iets – dis peperduur
Nou beweeg ons na die paleis waar koning Saul se feesmaal plaasvind. Ons kyk eers na die sitplekke by die tafel. Saul sit teen die muur (sodat niemand hom in die rug kan steek nie). Jonatan het sy sitplek, die generaals hulle s’n. Dawid se plek is leeg. Wanneer die koning inkom, staan almal op en gaan weer sit nadat die koning posisie ingeneem het. Dit is baie duidelik dat Dawid se sitplek oop is. Saul sê niks. Hy dink dat Dawid een of ander seremoniële onreinheid het – iets wat volgens die Wet van Moses hom weerhou van ‘n godsdienstige feesmaal.
Dus: Op die eerste dag van die fees, sê Saul niks.
Maar op die tweede dag práát hy. Neerbuigend. “Waarom kom die seun van Isai nie eet nie?” Jonatan tree vir Dawid in: “Hy het verlof gevra om na Betlehem te gaan om met sy familie fees te vier.” Op daardie moment is Saul woedend kwaad – veral met Jonatan. “Waarom het jou ma jou in die wêreld gebring? Jy is ‘n bedrieër. Jy is aan Dawid se kant en jy is téén my! Solank Dawid leef sal jy nooit koning word nie. Bring hom vir my. Hy verdien om te sterf!”
Sien u: Verbondsliefde kos iets – dis baie duur. Jonatan is bereid om die wil en beloftes van die Here eerste te stel en dit het hom duur te staan gekom. Dit kos hom die troon. Dit kos hom sy verhouding met sy pa. Dit kos hom alles.
Jonatan vra: “Waarom moet Dawid gedood word? Wat het hy verkeerd gedoen?” Dan is dit of Saul wil mal word en hy bereid is om so ver te gaan om selfs sy eie seun dood te maak – net omdat Jonatan ‘n verbond met ‘n godvrugtige man het.
Kan u sien hoe duur was hierdie verbondsliefde?
Jonatan word ook kwaad. Maar dit is ‘n totaal ander tipe woede. Dis nie ‘n selfgesentreerde woede nie. Vers 34: Jonatan staan op van die tafel en – vir die tweede dag reeds – eet hy niks. Waarom? Want hy was ontsteld OOR DAWID. Sy emosies gaan oor Dawid nie homself nie. Dáwid is verkeerd behandel. Sy vriendskapsverbond met Dawid sentreer in Dáwid – nie homself nie! Dít is wat sy emosies laat opwel.
Die Vader se verbond met u was baie duur. Dit het Hom die dood van die Here Jesus Christus gekos. En dáárom – wanneer Hy emosioneel raak, dan is dit oor ú – nie oor Homself nie.
Dit is waar die derde bedryf eindig.
Die vierde bedryf is kort en maklik om te volg: Vers 35 tot die einde van die hoofstuk: Verbondsliefde voorsien vrede te midde van chaos. Om ‘n bevoordeelde van God se verbond te wees beteken jy sal vrede ondervind te midde van chaos
Jonatan gaan skiet pyle in die veld. Hy kom sy ooreenkoms met Dawid na. Hy gee die teken dat Dawid moet vlug.
Toe die seun wat die pyle versamel weg is, kom Dawid uit sy skuilplek. En kyk nou die respek wat hy Jonatan betoon. Al was hulle boesemvriende, was daar steeds onderlinge respek & eerbied. Nie oor-familiariteit nie. Kyk ook hoe neem hulle afskeid van mekaar. ‘n Onbekende toekoms lê voor. Hulle huil te same. Hierná sou hulle mekaar slegs een maal weer sien.
Maar hoor watse vreemde ding sê Jonatan vir Dawid: “Gaan in vrede..” (v 42). VREDE?? Hoe kan hy so-iets sê? Maak hy dalk ‘n grap? Sy pa het pas byna 10 keer probeer om vir Dawid dood te maak en nou vlug hy vir sy lewe. Solank Saul lewe, sal die lewe vir beide Jonatan en Dawid letterlik hel wees. “Gaan in VREDE”. Hoe kan hy dit sê? Dawid sal nie vir ‘n oomblik vrede hê nie.
Die antwoord is in die res van sy woorde: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: “Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte..”
Die vrede is in die verbond. “Ons het trou gesweer in die Here se Naam. Hy is vir altyd getuie daarvan.”
Te midde van chaos staan die Here se verbondskontrak. Wat ‘n wonderlike prentjie van die Christelike lewe. “Gaan in vrede” sê die Verlosser. “Tussen my en jou is daar vrede vir ewig. Want Ek het in jou plek gesterf.”
In Christus het ons vrede MET God en ook die vrede VAN God. Johannes 16:33 > “In die wêreld sal julle baie verdrukking hê maar hou moed: Ek het die wêreld oorwin.” God sal aan Sy verbintenis getrou bly al bars die bom. Vrede is nie die afwesigheid van chaos nie. Vrede is die versekering en sekerheid van Sy teenwoordigheid te midde van (en ten spyte van) die chaos.
1 Samuel 20 wys vir ons dat gelowiges dikwels ‘n kruisweg loop. Dinge soos verwydering, valse beskuldigings, haat sonder oorsaak, gevare, verwarring, twyfel, woede en beledigings, onsekerheid, eensaamheid en spanning – kom dikwels oor ‘n Christusgelowige se lewenspad. Dinge wat tot reg in die siel van die mens insny! ‘n Gelowige se probleme kan soms baie groot wees. Dit het Jonatan en Dawid beleef.
Maar hulle groot vertroosting was die verbondsliefde van die verbond.
Die Here se verbondstrou dra ons deur op ons aardse pelgrimsreis, Sy verbond waarborg Sy bondgenootskap, Sy buitengewone trou, Sy vrede in chaos – omdat Sy verbond Hom so duur gekos het. Hy is Immanuel en in Hom leef ons, beweeg ons en besit ons ons bestaan.