TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 32: Die enigste Rolspeler
2 SAMUEL 22
Soms kom daar ‘n tyd wanneer ‘n mens moet stilraak voor die Here en gaan sit en terugkyk op jou pad.
Koning Dawid was op ‘n stadium ‘n voortvlugtige voor Saul, wat sy bloed gesoek het. Tog was God se belofte deurentyd dat daar uit Dawid se nageslag dié Koning sou voortkom – die Messias. En toe word Saul gedood en daar kom ‘n periode van rus en vrede in Dawid se lewe – rus van al sy vyande. Dit was ‘n mylpaal in Dawid se lewe en hy vier dit deur ‘n lied te skryf. ‘n Tyd van stilword en terugkyk op sy lewenspad. Dit is die lied van 2 Samuel 22.
Ons almal se lewens gaan deur fases en mylpale en dit is nie verkeerd om soms terug te kyk nie.
Sommige staan by die geboorte van hul eerste kind. Vir ander verlaat die laaste kind die huis. Sommige begin hul skoolloopbaan. Ander is aan die einde van hul skoolloopbaan. Sommige begin by universiteit. Sommige is by verlowing of troue. Of by die begin van die eerste werk of die einde van die laaste werk.
Ons moet soms terugkyk.
Daar is ‘n regte manier van terugkyk: Om die primêre oorsaak agter alles wat gebeur het, raak te sien en jou nie blind te staar teen al die sekondêre oorsake nie. Jy moet ‘n onderskeid kan maak tussen die skaduwee en die werklikheid.
Daar is baie dinge wat lýk of dit rolspelers was in al die goed wat met ons gebeur het, maar éíntlik was daar net één Rolspeler.
Neem Josef as voorbeeld. Dit lyk of dit sy broers is wat hom aan die Egiptenare verkoop het. Maar in werklikheid was dit God wat besig was om ‘n baie breër plan uit te werk. Die broers was die sekondêre oorsake. Die werklikheid was God.
Dawid kon terugkyk en baie rolspelers identifiseer wat gebeure in sy eie verlede beïnvloed het. Maar hy sien net die Here. Hý is Dawid se sterkte, sy rots, sy skuilplek, sy redder, sy skild, sy veilige vesting.
Daar is net een Persoon met wie ons ooit te make het: Die Drie-enige God: Vader, Seun & Heilige Gees – wat vir ons met ‘n onsterflike liefde liefhet.
Ja, toe jy so erg in twyfel gedompel was, wás dit die boekie wat iemand jou gegee het wat weer lig in die tonnel gebring het. Maar eintlik was dit die Here! Toe jy in soveel materiële nood was, was dit ‘n sekere persoon wat hom oor jou ontferm het en jou gehelp het. Maar eintlik was dit die Here. Toe jy siek was, was dit ‘n uiters bekwame mediese dokter wat jou reg gediagnoseer het en jou die regte behandeling kon gee. Maar eintlik was dit die Here!
Het ons oë om tussen skaduwee en werklikheid te onderskei?
Dawid kyk ágter die sekondêre rolspelers en hy fokus op wat die Here in sy lewe is. Dis die werklikheid. Dis die realiteit.
Wanneer Dawid terugkyk, sien hy aaklige dinge wat gebeur het. Daar was tye wat die vyand te sterk was en waar hy op die rand van die dood was, met geen uitweg nie.
Dan sien hy die jammerhartigheid en guns van die Here. Hy sien álles wat gebeur het deur die bril van die barmhartigheid van die Here God. Of hy nou bespot was en of die dood hom omsluit het – die Here het geluister. Hy is naby. Hy was nooit ver nie.
As u kyk na verse 8-20 sal u sien hoe koning Dawid ‘n geweldige storm beskryf. En in die storm was die Here in Sy krag. En uiteindelik was die storm Dawid se uitredding – so beskryf hy dit. Die Here het hom uit geweldige waters uitgelig en hom in vryheid laat uitgaan.
Nêrens in Dawid se lewe – sover ons weet – was daar egter ooit so ‘n storm wat tot sy redding gekom het nie. Wat Dawid hier doen is om in digterlike taal die Here God se krag en mag te beskryf. Soos wat ons vandag nog iets van die krag van God beleef ten tye van donder, weerlig en rukwinde. Jy voel maar baie klein te midde van so ‘n donderstorm.
Wanneer Dawid dus terugkyk op sy lewe, sien hy hoe die Here se krag in sy lewensondervindinge aan die werk was.
DUS:
In verse 1-7 sien koning Dawid hoe God se barmhartigheid/jammerhartigheid álles was. In verse 8-20 sien hy hoe God se krag álles was. God se krag werk deur Sy barmhartigheid. Wonderlik: Die God wat so magtig is, is terselftertyd barmhartig – daarom hoef ons nooit te vrees nie.
Dink maar net aan die krag van God wat werksaam is om een mens tot geloof in die Here Jesus Christus te bring! Watter soort krag is nodig om één sondaar uit die geestelike dood op te wek? Dit is dieselfde krag wat nodig was om die Here Jesus uit die dood op te wek (Efes 1:20).
Wanneer Dawid stil word en terugkyk op sy lewe dan sien hy dat die lewende God in Sy barmhartigheid en krag die énigste werklikheid in alles was.
En tog werk die Here nie nét in barmhartigheid en krag nie. Hy laat ook reg en geregtigheid geskied (vv 21-25). U sal dalk effe verbaas wees om te hoor op watter manier God reg laat geskied aan Sy kind. Dawid sê iets wat dalk vir ons ietwat eienaardig mag klink.
Dawid sê dat hy onskuldig en blaamloos voor God was, dat hy gehoorsaam was en hom nie skuldig gemaak het aan enigiets nie … én dat God sy onskuld aanvaar het!!
En tog weet ons dat Dawid in sy doen en late ver van volmaak en sondeloos was. Wat op aarde bedoel hy dan met hierdie woorde?
Wanneer Dawid terugkyk op sy lewe, dan sien hy die volgende: Die barmhartige God wat in krag werk, laat aan hom wat Dawid is reg geskied deur …. die sondige Dawid as ‘n gehoorsame ónskuldige man te aanvaar! Die óngehoorsame Dawid is in God se oë géhoorsaam en die skúldige Dawid is in God se oë ónskuldig! Kyk, dit klink darem nou lekker deurmekaar!
En tog is ons hier by die hartklop van die bybelse evangelieboodskap, wat reeds in die OT beslis vir sommige OT-gelowiges ‘n werklikheid was, naamlik dat die gelowige in God se oë as 100% REG gesien word op grond van die Groot Belofte (wat soos ‘n goue draad deur die OT loop) van die Messias wat sal kom. Want daardie Messias IS die mense se reg-wees voor God (Jer 23:6 = “Die Here ons geregtigheid/reg-wees”).
Wanneer ‘n OT gelowige die Groot Belofte gelowig omhels het, het God die komende Messias se reg-wees as die gelowige se reg-wees toegereken. Die komende Messias se onskuld tel nou vir die mens. Die komende Messias se reg-wees tel nou vir die mens. Die komende Messias se gehoorsaamheid tel nou vir die mens. Die komende Messias se heiligheid tel nou vir die mens. Daarom is die skuldige mens voor sy God onskuldig, reg, gehoorsaam en heilig.
En hierdie heerlikheid is in die tempel vir die mense afgebeeld in prentjiesvorm sodat hulle dit konkreet kon sien en verstaan – byvoorbeeld wanneer die offerdiere geslag is nadat die hande op die kop van die dier geplaas is en die sondes simbolies oorgedra is op die offerdier en die dier se vlekkeloosheid simbolies oorgedra is op die mens (vgl Levit 16).
Dawid het ongetwyfeld iets hiervan verstaan. Daarom ken hy homself as onskuldig en het hy sekerheid dat God hom as onskuldig aanvaar.
Waarskynlik het nie ál die OT gelowiges die saak só helder verstaan nie, maar Dawid was ‘n profeet en daarom het Christus se Gees in hom gewerk (vgl 1 Petrus 1:11).
Ja, die lied in 2 Samuel 22 gaan in die eerste plek oor Dawid, maar dit gaan ook Dawid se ervaringe te bowe (transendeer) en praat ten diepste van die Here Jesus self – die Messias – die Groter Dawid. Dis ‘n prentjie van Sý oorwinning en finale triomf.
Maar kan u uself indink op watter manier óns wat ná Christus se lyding/sterwe/opstanding leef, ons onskuld/reg-wees kan beleef. As Dawid – as OT gelowige wat uit beloftes en skadu-prentjies moes leef – dit kon weet, hoeveel te meer óns wat met die volle bekendmaking van die Blye Boodskap in ons Bybel en NT sit. Hoeveel te meer kan óns nie weet dat Christus se onskuld, reg-wees, gehoorsaamheid en heiligheid ons toegereken word nie. En dat ons regtig só voor God staan en Hy ons só sien en aanvaar! Hy máák nie maar net of ons onskuldig is nie. Ons is wérklik onskuldig.
En nog meer: Hoeveel te meer kan óns wat onsself só in Christus ken, die lewende God as die primêre rolspeler in alles wat in ons lewe gebeur herken? Jy herken Hom só, sonder enige vrees of afstand. Want jou Verlosser se meriete tél vír jou! God handel altyd met ons volgens ons reg-wees. En daardie reg-wees is Christus s’n! Daarom laat God altyd aan ons reg geskied!
Hou nou dit alles in u agterkop en sien dan hoe die Here die allesomvattende antwoord is op al die vrae waarmee ons almal so dikwels worstel. Die Here wat soveel krag het, maar wat barmhartig is en ons in ons onskuld sien en aanvaar, Hý is die antwoord op alles.
Dis waaroor die res van 2 Samuel 22 gaan. Kyk maar net hoe aktueel is dit. Toets gerus uself aan die volgende vrae….
1 Is daar enigiemand wat soms behoefte het aan geestelike, emosionele lig?
Vers 29 > My God gee lig as dit donker is om my.
2 Is daar iemand wat teenstand van een of ander aard beleef? Vers 30> Met my God loop ek ‘n oormag storm.
3 Is daar enige onoorkombare struikelblokke in jou lewe?
Vers 30 > Met my God by my, is geen stadsmuur vir my te hoog nie.
4 Weet jy nie wat die beste pad vorentoe is nie?
Vers 31 > Wat Hý doen is volmaak.
5 Weet jy dalk nie wie om te glo nie?
Vers 31 > Wat die Here sê is beproef.
6 Voel jy dalk bedreig?
Vers 31 > Wie by Hom skuil beskerm Hy.
7 Voel dit vir jou of alles buite beheer geraak het?
Vers 32 > Wie anders as Hý is God?
8 Lyk dit vir jou of niks seker is nie?
Vers 32 > Wie anders as Hy is ‘n rots?
9 Dink jy dat jy nie sal kan aanhou nie?
Vers 33 > God omgord jou met krag.
10 Dalk voel dit of alles vir jou te veel word.
Vers 34 > Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok. Op hoë plekke laat Hy my veilig staan.
11 Voel jy of jy nie meer die krag en lus het om in ‘n sekere situasie te veg nie?
Vers 35 > Hy leer my hande om oorlog te maak en my arms om selfs die stramste boog te span.
12 Voel dit of dinge jou wil onderkry?
Vers 36 > Sy redding is jou beskerming.
13 Vermoed jy dat jy ‘n ineenstorting gaan kry oor die een of ander aangeleentheid?
Vers 36> Sy regterhand ondersteun jou.
14 Voel jy dat jý nie eintlik meer saak maak nie?
Vers 36 > Sy goedheid het jou groot gemaak.
15 Is jy bang dat jy van die pad sal afdwaal?
Vers 37 > Hy gee jou ruim vastrapplek en jou enkels swik nie.
16 Lyk dit soms vir jou of boosheid onoorwinlik is?
Vers 38 > Jou vyande sal verpletter word.
17 Kry jy soms die indruk dat dit wat jý teen boosheid probeer doen niks beteken nie?
Vers 39 > Die vyand sal voor jóú voete val.
18 Voel jy te swak om voort te gaan?
Vers 40 > Hy omgord jou met krag vir die stryd.
19 Is jy bang dat jy uiteindelik aan die verloorkant sal eindig?
Vers 41 > Hý laat jou teenstaanders swig.
20 Dink jy soms dat daar nie regtig ‘n verskil is tussen jou en die ongelowige nie?
Vers 42 > Die ongelowige het niemand wat help nie.
21 Lyk dit vir jou asof die ongelowiges op só ‘n manier werk dat die gelowiges uiteindelik almal sal ondergaan?
Vers 44 > Die Here stel Sy kind aan as hoof oor die ongelowiges
22 Kan jy sien waarom jou ergste vrese nooit met jou gebeur het nie?
Vers 47 > Die Here leef! Hy is my rots. Hy het my gered.
23 Sien jy wat jou reaksie op al bogenoemde moet wees?
Vers 50 > Ek sal U loof voor die nasies en tot U eer sing.
24 Verstaan jy waarom God doen soos wat Hy doen?
Vers 51 > Omdat Hy getrou bly aan Christus en aan almal wat in Christus is asook aan hulle kinders.
Daar is absoluut geen vraag waarop God-in-Christus nie die antwoord is nie. Daar is geen behoefte wat Hy nie kan verlig nie. Daar is geen gevaar waarin Hy nie self die uitkoms is nie. Daar is geen situasie wat Hom oorweldig nie.
Dawid bely dat – sonder die lewende God – hy wat Dawid is, niks is nie. Niks besit nie. Nêrens sou wees nie.
Jy en ek het slegs een behoefte in die lewe. Om deur die lewe te loop met die Here omdat Hý jou ingesluit het by Homself. So eenvoudig soos dit. Dit is al wat éíntlik saakmaak.