TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 31: Diep uitgehaal
2 SAMUEL 21
2 Samuel 21 is ‘n OT-weergawe van die kontras wat in Romeine 3:23&24 beskryf word: “Almal het gesondig en dit ontbreek almal aan die heerlikheid van God …. en dieselfde almal word geregverdig deur die vrye genade van God deur die verlossing in Jesus Christus.”
Binne een sin: Aan die een kant die verpletterende slegte nuus: almal is onderdeur. Dan onmiddelik die verbysterende goeie nuus: God se genade in Christus neem dieselfde almal wat onderdeur is, en regverdig hulle en spreek hulle vry!
2 Samuel 21 is ‘n OT-prentjiesbeeld van hierdie 1) verpletterende slegte nuus en 2) verbysterende goeie nuus – alles binne een paragraaf!
1 Verpletterende slegte nuus: Droogte mergel die mense uit omdat koning Saul verbondsbreuk gepleeg het deur die Gibeoniete dood te maak….
2 Verbysterende goeie nuus: Die Here wys vir hulle wat die probleem is en ‘n versoeningsoffer stel hulle reg met God en hulle ontdek God as die Een wat absoluut getrou en betroubaar is!
Kom ons zoom ‘n bietjie daarop in en kyk wat dit beteken:
Eerstens het droogte die land geteister – jaar na jaar vir drie jaar lank – soveel so dat Dawid die Here ernstig geraadpleeg het. Die antwoord wat Dawid kry is dat die droogte te wyte is aan Saul se moorde op die Gibeoniete (nie-Israeliete – nasate van die Amoriete) van jare te vore. Die Gibeoniete was onder Israel se beskerming, maar koning Saul het baie van hulle doodgemaak. Die skuld vir hierdie bloedvergieting mond nou uit in ‘n uitmergelende droogte.
Dawid gaan praat toe met die Gibeoniete om te hoor op watter manier hy vir hulle kan vergoed vir die onreg wat Saul hulle aangedoen het.
Hulle antwoord: Gee vir ons 7 mans uit Saul se familie sodat ons hulle voor die Here kan ophang. Dawid beloof om so te doen. Hy neem toe 2 seuns van Rispa en 5 seuns van Merab en oorhandig hulle aan die Gibeoniete om opgehang te word voor die Here.
Die lyke van die 7 mans het vir ‘n lang periode so op die berg gelê en roofvoëls wou dit eet, maar Rispa het by die lyke gewaak. Toe het Dawid die beendere van Saul en Jonatan laat haal en dit te same met die lyke van die 7 mans in Saul se pa se graf laat begrawe. Toe eers het God weer hulle gebede geantwoord.
Donker, verontrustend!
‘n Mens wens eintlik jy hoef nie hierdie gedeelte uit te lê in die prediking nie. Maar, dit is deel van die Woord van die Here. Vraag is: wat wil dit vir ons sê?
Eerstens voel ‘n mens die vraagtekens in jou gemoed. Wat die Here hier doen, klink so onchristelik! Waarom sal die Here (wie se wese enkel liefde is) duisende mense aan knellende droogte onderwerp oor iets wat Saul jare tevore gedoen het? Ons weet nie eens uit die Bybel-teks waar en wanneer Saul die Gibeoniete doodgemaak het nie.
As ons egter teruggaan na Josua 9, sien ons wie die Gibeoniete was.
In die tyd van Josua – toe die volk Israel die Beloofde Land ingegaan het – het die volk ‘n verbond met die Gibeoniete gesluit om hulle onder hulle vlerk te neem. Saul het egter later hierdie verbond verbreek. En so het hy die Here self gediskrediteer – in Wie se Naam daardie verdrag gesluit was.
Hulle het ‘n verbond met die Gibeoniete in die Here se Naam “gesny” volgens Josua 9:15 (Hebreeus). Dit beteken verteenwoordigers van beide partye het tussen ‘n middeldeurgesnyde dier se stukke vleis deurgeloop en gesê: “As ons ons deel van die verdrag verbreek, mag die Here met ons maak soos ons met hierdie dier gedoen het. Die Here mag ons dan SNY” Vergl Genesis 15 & Jeremia 34:18.
Saul het dit willens en wetens gedoen. Dis ‘n ernstige saak. Dit is om die Here se Naam te vertrap. Deur die Gibeoniete dood te maak, het Saul die Here getart. En ingesluit by hom, die hele volk, want hy was koning. Hulle het nou die Here die reg gegee om hulle te “sny” soos hulle met die diere gedoen het by die verbondsluiting. Dit is dus waar die droogte vandaan kom. Die doel van die droogte (die “snyding”) is egter nie om die mense te vernietig nie, maar hulle te red! Hierdie “snyende” droogte het genesing en herstel in die oog!
Kyk nou mooi hoe loop God se verlossende genade hand-aan-hand met die droogte.
Ons sien dit eerstens in die feit dat die Here hulle oë oopmaak vir wat die wortel van hulle probleem is en wat die oorsaak van die droogte is EN TWEEDENS dat daar ‘n versoeningsoffer (7 manne wat opgehang word) aangewys word. Hulle sou nooit weet wat die probleem was, indien die Here dit nie vir hulle gewys het nie! Dit is die groot liefde van God wat hulle oë oopmaak vir hulle sonde sodat hulle in die versoeningsoffer kan gaan rus en verhoudinge herstel word. Dis pynlik ja, maar dis goed.
Sien u die verpletterende slegte nuus (droogte as gevolg van verbondsbreuk) en die verbysterende goeie nuus (die Here wys vir hulle wat die probleem is en die versoeningsoffer maak alles reg)?
Nogtans vra ‘n mens: Waarom so iets weersinwekkend soos 7 onskuldige mans wat in die openbaar opgehang word. So vernederend!
Die verskrikking wat met ‘n versoeningsoffer gepaard gaan wys vir ons hoe diep die probleem is – dat verbondsbreuk die Here se Naam verneder en die mens as Sy beelddraer vernietig. Die erge graad van die versoeningsoffer pas by die erge graad van die probleem wat herstel word. Die publieke vernedering was baie baie erg en afstootlik. As die prentjie in 2 Sam 21 vir ons afstootlik is, verstaan ons hoe afstootlik die sondeprobleem in werklikheid is. Niks sentimenteels daaraan. As jy ooit ‘n sentimentele begrip van Golgota gehad het, dink weer. Kyk na 2 Samuel 21 en kry ‘n beter begrip van Golgota! ‘n Versoeningsoffer is geen grap nie.
Dit is waar dat ons nie alles in hierdie gedeelte verstaan nie. Byvoorbeeld: Waarom gaan Dawid na die Here toe om te hoor wat die probleem is, maar na die Gibeoniete toe om te hoor wat die oplossing is? Ons verstaan dit nie. Ons weet nie. Ons weet ook nie waarom die Gibeoniete vereis dat sewe van Saul se seuns in die openbaar opgehang moet word nie. Wat ons wel weet is dat die party wat verbondsbreuk gepleeg het, reggemaak/herstel word deur die 7 mans se onskuldige dood. Daar vind letterlik ‘n oordrag plaas van die skuld óp die offer wat dan weer die skuld “doodsterf”. Vgl Levitikus 16 = oordrag van skuld op die “sondebok” d.m.v handoplegging.
Die heiligheid van God haat sonde sódanig dat dit dit aanspreek en oplos en mense bevry! Dit gaan tot binne in die vuil sokkie se onderpunt en dop dit totaal om. Die intensie van heiligheid is nie om die sokkie te vernietig omdat dit so vuil is nie! Want God se heiligheid is ‘n aksie van Sy liefde. Daarom wil heiligheid nie vernietig nie, maar HERSTEL. Maar die ingaan & dieper ingaan in die sokkie, veroorsaak bloed en lyding en vernedering! Christus se vereenselwiging met ons toestand, veroorsaak dat HY “gesny” word.
Tussen alles deur, spaar Dawid egter vir Mefiboset. As gevolg van verbond. Terwyl die afgryse van die versoeningsoffer geskied, is daar die getrouheid van die koning wat Sy verbondseed hou! Christus: “Ek sal nie een verloor wat die Vader aan my gegee het nie!” Te midde van al die bloedvergieting, is daar die woord van genade – die verbondswoord. Van vrede en sekuriteit – in die Groter Dawid alleen. Hy het die vereistes van die verbond namens ons AS ons vervul.
Kan u verstaan hoe hierdie hele lelike verhaal in 2 Samuel 21 ‘n uitbeelding is van die Here Jesus Christus se grusame kruisdood? Dit is ‘n uitbeelding van hoe Jesus in ons weersinwekkende vuil sokkie (ons lewe) ingedring het so ver as wat dit moontlik was – en ons herstel en genees het deurdat Hy self daardie besmetting geword het (2 Kor 5:21). So weersinwekkend soos die hang van daardie 7 manne, so weersinwekkend was Christus se kruisiging – omdat die “smerige sokkie” wat Hy binnedring so weersinwekkend is – die mens se verbondsbreuk so erg is!
Maar nou is daar geen sprake meer van so iets soos vuilheid en verbondsbreuk nie! God se liefde en Sy heiligheid het geseëvier! Sy mense is perfek herstel! U is herstel. Sy kruisdood het die vuilste sokkie van u lewe binnegedring.
En die doel/mikpunt van alles is sodat ons die Here in al Sy trou en getrouheid kan leer ken en Hom blindelings leer vertrou. Ja, ook dit staan in 2 Samuel 21!
Kyk mooi na verse 15-31. Dit staan nie sommer toevallig daar nie!
‘n Tipe opsommende oorsigtelike militêre verslag van Dawid se welslae. Name, plekke, wapens, resultate. Niks kleurvol, niks pakkend, niks beskrywend. Niks geestelik. Niks stigtelik en opbouend. ‘n Mens voel regtig om maar hierdie paragraaf oor te slaan.
Maar wag!! Kyk net eers wat maak dit oor die HERE bekend!
Deur hierdie militêre verslaggie van Dawid se skermutselings met die Filistyne, maak die Gees iets bekend!
Wat Hy bekendmaak, is dit: As jou verhouding met God herstel is deur die versoeningsoffer, leer jy die Here ken vir Wie Hy is.
En Wie is Hy?
Luister nou mooi:
Verse 15-17 > Die Here bewaar Sy kinders ten tye van stryd. Nie net dit nie. Hy is ‘n verbete waarmaker van Sy belofte. Dis wie Hy is!
Volg nou die argument: Die Here het reg aan die begin reeds ‘n BELOFTE gemaak dat Hy ‘n Man gebore sal laat word wat die mensdom sal red (Gen 3:15) hoewel die satan Hom heeltyd aan die hakskeen sal byt.
En deur die eeue was daar sekere sleutelkarakters wat Hy gebruik het om daardie Belofte te vervul. Maar deurentyd probeer satan daardie sleutelkarakters uitwis sodat die Belofte nie vervul kan word nie – sonder sukses!
Dawid was onder andere een van hierdie sleutelkarakters! En wat ons in hierdie paragraaf lees, is hoe satan die Filistyne gebruik het om van Dawid ontslae te probeer raak – MAAR – die Here bly getrou. Só leer ons Hom ken!
Dawid het moeg geword in ‘n bepaalde stryd teen die Filistyne. ‘n Sekere Filistyn het gesien hoe moeg & weerloos Dawid was en gedink dit is sy kans om Dawid dood te maak en die volk van die Here ‘n goeie nekslag toe te dien. Hierdie Filistyn was ‘n reus. Sy spies en swaard het swaar geweeg.
Maar Abisai maak die Filistyn dood. Dit laat hulle besef dat Dawid so kosbaar is dat hulle nooit weer kon toelaat dat hy so blootgestel word nie – hulle kon hom nie weer in die oorlog saam met hulle laat gaan en die risiko loop om hom te verloor nie. Onvervangbaar. En tog in gevaar.
Dawid was een van die skarniere waaraan God se verlossingsplan skarnier het. Hierdie Filistyn wat vir Dawid wil uitwis is ‘n agent van satan. Maar die Here tree tussenbeide. Hy gryp in. Hy bly getrou aan Sy Woord en belofte.
Verse 16,18,20,23 > God bly getrou aan Sy belofte. Daar is nog drie ander wat die Here in Sy diens gebruik om nog ‘n reus uit te wis. Die Here verlos Sy mense. Daar is ‘n Belofte op die spel!
Verse 20-21 > Verdere reus. Sy gesindheid en houding is van meer belang as sy anatomie! Hy tart die Here se volk. Hy maak hulle belaglik. Selfde as Goliat. Maar hy is nie groter as God nie!
Hy kan vertrou word. Hy is ons vertroue werd. Hy is groter as jou omstandighede, ekonomie, politiek. Sy beloftes is waar. Selfs waar jy getart word of nie lig in die tonnel sien nie.
Ons taak is om op Sy Woord te staan en verder oor niks te bekommer nie. Doen Sy Woord en handel daarvolgens. Indien daar konsekwensies is – vat dit. Christene deur alle eeue het so gedoen. Hulle het selfs gely as dit moes.
Ek hoop u kan die prentjie in 2 Samuel 21 sien. Die hele Bybel staan in 2 Samuel 21. Op die oog af weersinwekkend – maar die uitkoms is so verrassend! Jy en ek stap op die ou end weg as geneesde, heel mense. En ons lewens is absoluut veilig in Hom wat regtig getrou is aan Sy Beloftewoord!