TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 30: Oorwinning oor sonde

2 SAMUEL 20

 

Herhaling – die doen van dieselfde ding oor en oor en oor …. kan nogal uitputtend en sieldodend raak!

 

Lees ‘n mens 2 Sam 20, dink jy onwillekeurig: Ag, nee… hier gaan ons al weer…. dieselfde storie nog ‘n keer! Selfde lied, tweede vers! Lees jy hfst 20 sien jy dit is byna dieselfde inhoud wat ons alreeds hoofstuk na hoofstuk die afgelope maande bestudeer het! Daar is niks nuuts, niks verrassend nie. Weer eens: bedrog, wandade en dood.

 

Maar miskien is dit juis wat die Gees – deur die skrywer van 2 Samuel – wil beklemtoon en uitwys: die vernietigende konsekwensies van sonde.

 

Hoofstuk na hoofstuk hamer die skrywer dieselfde ding oor en oor in ons koppe in: hoe vernietigend sonde vir die mens is.

 

Dawid se koninkryk is herstel ná Absalom se dood, maar is ver van stabiel af. En nou is daar weer ‘n nuwe rebellie en opstand teen Dawid onder leiding van Seba.

 

U weet daar is een REUSE fout wat ons so maklik kan maak wanneer ons die glorieryke krag van die evangelieboodskap regtig gesnap en ontdek het in ons lewens. Wanneer ons ontdek het dat ons TOTAAL vergewe IS van verlede, hede en toekomstige sonde toe Jesus plaasvervangend (AS jy) op die kruis gesterf het. Wanneer ons ontdek dat NIKS ooit weer God se opinie jeens ons kan verander nie. En ons hierdie genade dan gebruik as ‘n verskoning om lig met sonde om te gaan!

 

Dit was deur die eeue die groot flater.

 

As teenreaksie hierteen – en om te probeer verhoed dat dit gebeur – kom die kerk dan dikwels met ‘n afgewaterde genadeboodskap van iets soos: “Ja, Jesus het nou wel alles op die kruis gedoen, maar jy kan eers werklik vergewe word AS jy alles bely en baie berou het en jou 100% oorgee en belowe dat jy sal verbeter… En as jy weer sondig dan sal Hy weer omgekrap wees en Hom onttrek van jou totdat jy weer deur die proses gaan….”

 

Dit doen die kerk uit vrees dat mense die vrye genade sal misbruik om lig met sonde te gaan. Maar dit kan nooit, want dan word die genade totaal vernietig. Ons kan/mag nooit die genade met die Wet vermeng net om die genade te probeer “beveilig” nie. Die NT doen dit nêrens.

 

Nooit maar nooit gaan die NT lig oor sonde en die konsekwensies van sonde nie. Maar die NT weet van iets wat GROTER en STERKER is as dit. En dit is: oë wat SIEN hoe deeglik die mens saam met Jesus gesterf het vir die sonde. Sy dood, was jou dood.

 

Aan die eenkant hou ons rekening met die erns van sonde. Aan die ander kant is ons oog nie dáárop gefokus nie, maar op ons nuwe identiteit in Christus wat van BAIE groter krag is as sonde. Jou fokus is op hoe dood jy vir sonde is! Op die kruis van Christus het jy volledig en totaal vir sonde gesterf! Romeine 6. Vandaaruit handel jy met die aard van sonde en die vrug van sonde. Dit is hierop wat 2 Sam 20 fokus.

 

Hoofstuk 19 eindig met Dawid terug in Jerusalem ná Absalom se dood. Net toe Dawid by homself dink: “Dit kan nie erger gaan nie” toe kom ‘n boodskapper met die nuus dat daar nog ‘n opstand aan die gang is. Seba – ‘n nikswerd deugniet – van dieselfde stam as waar Saul vandaan was – het net begin basuin blaas en geroep “wat het ons met Dawid te make? Ons het geen deel aan hom nie”. Waarskynlik het hy maar nog al die tyd ‘n wrok gekoester teenoor Dawid se koningskap omdat hy self aan Saul se kant was. Nou het sy bitterheid uitgebars. Eintlik was hy in opstand teen die Here self omdat Dawid die Here se gesalfde koning was en Dawid die voorloper van die Here Jesus was!

 

En nou roep hy die volk op om die verbond te verbreek! Vergl hoofstuk 3: Israel (die noordelike 10 stamme) se verbondsonderneming om met Juda (die suidelike stam) saam te trek in eenheid…. Seba plaas homself absoluut in die plek van God self. Hy is ten diepste besig om ‘n leuen oor homself te glo. Identiteitsverwarring. Kies die self teenoor God as gevolg van identiteitsverwarring as gevolg van die glo van ‘n leuen.

 

En onmiddelik het almal van Israel (die noordelike stamme) Dawid verlaat en agter Seba aangeloop! Slegs Juda het by hulle koning gestaan.

 

Almal loop meteens weg van Dawid af agter Seba aan! Moeilik om te glo, maar daar staan dit tog swart op wit.

 

Deur die eeue was dit altyd die misterie van alle misteries: Dat mense so maklik gaande raak oor die leuen ten koste van die Waarheid van die evangelie.

 

Dis wat Paulus na sy pen laat gryp om vir die Galasiers te skryf! Galasiërs 1:6: “Ek verbaas my dat julle so maklik afvallig word en ‘n ánder evangelie aanneem, terwyl daar geen ander is nie.”

 

En dan vers 3 > Wat ‘n hartseer, vreemde vers! Dawid sluit sy 10 byvroue toe, waar hulle tot by hulle dood soos weduwees gebly het. In isolasie. Nooit het hy weer aan hulle enige aandag gegee nie.

 

‘n Vreemde mededeling – wat glad nie inpas by die vloei van die storielyn nie. Waarom so? Dit kon net sowel ‘n bygedagte gewees het aan die einde van die hoofstuk. Nee, die skrywer wil die mededeling in ‘n prominente plek plaas om ‘n punt te maak, naamlik dat sonde nie in isolasie plaasvind nie, maar dat dit skade aan ander doen.

 

Vervolgens verse 4 en verder…. Dawid beveel vir Amasa om vir Seba te gaan regsien.

 

Onthou nou net weer wie Amasa was. Hy was Absalom se weermagbevelvoerder. Hy was dus nie aan Dawid se kant nie. Joab was Dawid se weermagbevelvoerder. Maar omdat Joab vir Absalom doodgemaak het en om ‘n goeie polities-diplomatieke skuif te maak, het Dawid vir Amasa in Joab se plek as weermagbevelvoerder aangestel.

 

Amasa draal egter te lank om die manne gereed te kry en onmiddelik taak Dawid vir Abisai om vir Seba te gaan stuit. Dawid is oortuig dat Seba groter skade sal aanrig as wat Absalom gedoen het.

 

En so trek Abisai uit om vir Seba te gaan regsien. Omtrent 10km uit die stad, sluit Amasa egter by hulle aan.

 

Maar toe gebeur dit. Joab – die uitgeskopte bevelvoerder – is ook deel van die leermag en hy sien sy kans om van Amasa ontslae te raak. Hy maak of hy vir Amasa vriendelik groet en na sy welstand verneem, maar Amasa sien nie die verbloemde swaard in Joab se hand nie en Joab steek hom in sy maag sodat sy ingewande uitkom en op die grond val. Hy sterf op die plek.

 

Interessant. Wat ‘n vreemde karakter is Joab nie! Hy spesialiseer in sluheid en bloedvergieting. Vir hom is dit maar net roetine-takies. Hy het nie werklik rede gehad om vir Amasa te vermoor nie. En hy het ook nooit daarná vir sy daad geboet nie.

 

Dalk kon hy dit nie hanteer dat Amasa – wat aan Absalom se kant was – nou sy (Joab se) rol as bevelvoerder van Dawid se leermag gehad het nie. Nie soseer uit jaloesie nie, maar uit lojaliteit aan Dawid. Hy was intens lojaal aan Dawid – die groot rede waarom hy vir Absalom gedood het. Hy wou nooit self koning word nie. Hy was lief vir Dawid. Maar hy was nie onderdanig aan Dawid nie! Hy was lojaal, maar nie onderdanig nie. Hy het Dawid se naam besing, maar nie onder Sy gesag gebuig nie!

 

Matteus 7: Nie elkeen wat HERE sê sal….. Lojaal teenoor Christus, maar nie gehoorsaam. Sê al die regte woorde, woon al die regte byeenkomste by, maak die regte geluide – maar buig nie onder Hom in nie.

 

Abisai/Joab-hulle agtervolg dan vir Seba – noordwaarts tot by Abel Bet-Maäka. Seba het in hierdie dorp/stad skuiling gaan soek. Maar Joab-hulle het die stad beleër en was op die punt om die muur rondom die stad te laat val, toe ‘n wyse vrou vir Joab vra: “Waarom wil jy ‘n hele stad kom uitwis? Ons is mense wat die Here dien.”

 

Waarop Joab antwoord dat dit eintlik net oor Seba gaan wat in hulle stad skuil en dat Seba teen koning Dawid in opstand gekom het.

 

Die vrou antwoord: “Okay, ek sal reël dat sy kop vir jou oor die muur gegooi word – maar spaar net die stad.”

 

Minute later vlieg Seba se kop oor die muur! Die dood! ‘n Hoë prys om te betaal vir sonde-rebellie! Een man sterf sodat ‘n hele stad behoue kon bly!

 

Hoor u die hele klimaat van die hoofstuk? Dit gaan oor die vernietigende konsekwensies van sonde. Sonde – bedoelende: Die glo van ‘n leuen oor God en oor jouself en die gevolge daarvan.

 

Nou is die groot vraag: In watter verhouding staan ‘n Nuwe Testamentiese Christus-gelowige tot sonde?

 

Anders as wat ons soms dink, plaas die NT glad nie daarop oorwig dat die gelowige sonde doen/sondaar is nie. Nêrens word gelowiges as “sondaars” aangespreek nie, maar wel as “heiliges”. In die oë van die NT is ‘n gelowige iemand wat: By Christus ingesluit is, alles is wat Christus is (1 Joh 4:17). Die gelowige se sondige natuur is afgesny op die kruis (Kolos 2:11). Die gelowige is dood vir sonde (Rom 6:6), want Hy het Christus se dood saam met Hom gesterf. Die gelowige het God se natuur in hom (2 Pet 1:4). Die gelowige sit saam met Christus in hemelse plekke (Efes 2:6).

 

En tog erken die NT dat gelowiges – wat hierdie identiteit onweerlegbaar besit – steeds kan sondig en dit inderdaad ook doen! Vergl 1 Joh 2:1.

 

Die misterie wat geen teoloog ooit kan verklaar nie – en hoe verwarrend dit ookal mag klink – is hoe ‘n mens wat, deur dit wat Christus volmaak gedoen het, ontsondig is en vlekkeloos is – steeds kan sondig! Ons het gewoon nie ‘n antwoord daarop nie.

 

Wat ons wel weet is dat wie/wat ons in Christus is, BAIE sterker is as enige sonde. Ons weet met sekerheid dat ons die wenstreep sal bereik omdat ons alreeds in Christus oorgedra is. Omdat ons dit alreeds gemaak het, sal ons dit maak! Wanneer my oog reg ingestel is om die onsienlike te sien, wanneer ek die diepste realiteit van my lewe sien – naamlik God se liefde vir my en my insluiting by die lewe van Christus – kom ek prakties los uit die greep van sonde. Hoe meer ek begin sien wat ‘n liefde my vashou binne-in my sonde, hoe meer laat ek die goed wat my aftrek los! Jy kan dan begin om jouself te wees, om eg te wees in die teenwoordigheid van Hom wat ALTYD vir jou JA sê en so erg NEE sê vir sonde dat Hy jou in Homself opgeneem het en jou in Homself gekruisig het (Gal 2:20).

 

Daar is ‘n realiteit van jou en my waar wat ons moet begin raaksien: Jy is deur Christus se kruisdood volkome gemaak. En God gaan nie hierdie opinie oor jou verander nie. In Sy oë is jy nie meer ‘n sondaar nie en sal jy dit nooit weer wees nie. Die lens waardeur Hy kyk, is die kruis!

 

Hoe meer jy jou oë hou op die sigbare – naamlik dat jy steeds sondig – en jy daaruit aflei dat jy steeds ‘n sondaar is, hoe minder sal jy ooit van sonde verlos word – jy sal ‘n slaaf bly.

 

Hoe meer jy na die onsigbare kyk en God blindelings begin glo vir wat Hy sê wie/wat jy regtig is – hoe meer sal jy oorwinning smaak. Die onsigbare sal die sigbare gaandeweg binnedring en verander!

 

Dit is ‘n beginsel wat eksplisiet in die Woord gestel word: 2 Kor 4:17 > “Ons vestig nie ons oë op die sigbare/tydelike nie maar op die onsigbare/blywende”.

 

Die krag van sonde wat in 2 Samuel uitgespel word, is verbreek toe God Sy mense in Christus se fisiese liggaam opgeneem het en hulle IN HOM gekruisig het. En die Heilige Gees salf ons oë om dit meer en meer te begin raaksien!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00