TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 3: Verbond van vriendskap

1 SAMUEL 18 & 19

 

Dawid is nog baie jonk. Waarskynlik 17/18 jaar oud. Hy is skaapwagterseun in Betlehem. Hy is ook doenig by die paleis om koning Saul te kalmeer wanneer hy in ‘n bui van depressie & aggressie verval.

 

Dawid is egter tegelyk ook die ware gesalfde koning van Israel – hoewel hy nog nie op die troon was nie, want Saul was nog daar.

 

Skielik het Dawid egter baie bekend en beroemd geword – nadat hy die reus Goliat gedood het. Eintlik sou sy lewe nooit weer dieselfde wees nie.

 

Ná die dood van Goliat en die bevryding van die Here se volk uit die mag van die Filistyne, het die Here vir Dawid geseën met Jonatan se liefde en vriendskap (18:1-4). Omdat die Here geweet het wat vir Dawid voorlê, het Hy sekere mense daargestel wat vir Dawid deur dik en dun sou onderskraag. Die mees prominente was Jonatan wie se naam beteken “Jahwe (God vd Verbond) het gegee.” Jonatan sou uiteindelik die grootste & naaste vriend wees wat Dawid ooit sou hê.

 

In ons heelal is daar sekere sterre wat naby mekaar is en wat rondom mekáár draai. As mens met ‘n baie kragtige teleskoop na hulle sou kyk, sou jy sien dat – wat soos één ligglans gelyk het – eintlik twéé sterre is wat om mekaar draai.

 

Dawid en Jonatan se verhouding was baie soos hierdie tipe sterre. Hulle was twee onderskeie mense, maar as jy na hulle sou kyk, het hulle soos een mens gelyk. Daar was tussen hulle twee die sterkste vriendskap denkbaar. Hulle was boesemvriende en dit was ‘n skoon verhouding – tog sterker as menige huwelik. Dit was ‘n verhouding wat beide gehelp het om verdieping en groei in die Here se verhouding met hulle te beleef.

 

Daar is Dawid & Saul besig om te praat – ná die oorwinning oor die Filistyne. En daar is Jonatan – die koning se seun. Ná hierdie gesprek besef Jonatan hoe lief hy vir hierdie Godsman, Dawid is. Dawid is geklee in skaapwagtersklere en Jonatan soos ‘n prins – vol juwele en wapenrusting. Dan vat Jonatan dit alles en gee dit vir Dawid. En sluit hulle ‘n verbond met mekaar. ‘n Verbond om vir altyd vriende te wees. Dit was ‘n verbond van só ‘n aard dat ons vandag nog – 3000jr later – praat van ‘n “Dawid-en-Jonatan” vriendskap.

 

Ek dink nie die bedoeling van hierdie Skrif is in die eerste plek om ons aan te spoor om ook (soos Jonatan) ‘n goeie vriend vir iemand anders te gaan wees nie. Wat ons eerder in Jonatan & Dawid moet sien is ‘n prentjie van Christus se diepe liefde vir ons wat ware vriendskap insluit. Die éíntlike “een deur Jahwe gegee” is Christus Jesus! Die God van die Verbond het Sy verbond met ons gesluit in/deur die Here Jesus self. Mens sou kon sê God het Sy verbond met Christus gesluit en ons goedgunstiglik daarby ingesluit.

 

Kyk na die prentjie: Dawid is geklee in skaapwagtersklere en Jonatan in die klere van ‘n prins. Dan plaas Jonatan sy koninklike kleed oor Dawid. Hy is gewillig om al die simbole van sy posisie as kroonprins van Israel eenkant te lê en dit aan Dawid te gee. As iemand daardie dag vir Dawid sou sien, sou hulle dink dis Jonatan.

 

Ek sien daarin ‘n prentjie van buitengewone liefde. In 1 Sam 23:17 sê Jonatan hy weet dat Dawid koning sal wees ná sy pa Saul – ‘n posisie wat hy self moes beklee – maar hy is nie jaloers op Dawid nie. Hy onderneem om end-uit by Dawid te staan. Sien u die selflose opofferende liefde. Hy stel Dawid bó homself. Soos ‘n ware vriend doen.

 

Hoe sal ons ooit die ware diepte van Christus se liefde kan peil? Dink aan Filip 2:5-8 wat beskryf hoe Hy Sy koninklike kleed eenkant gelê het sodat óns béklee kon word (2 Kor 5:21): “Christus – wat in die gestalte van God was, het dit nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, aan mense gelyk te word en gehoorsaam te word tot in die dood van die kruis. Hy was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek sonde gemaak, sodat ons nou – ingesluit by Hom – deur God vrygespreek kan wees.”

 

Romeine 5:8 : “God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Johannes 15:13: “Niemand het groter liefde as dít nie: dat Hy sy lewe vir Sy vriende aflê.”

 

Óns kleredrag was dié van Jesaja 64:6 (vuil besoedelde kleed) maar Christus klee ons in die kleed van Sý geregtigheid (reggestel-wees-met-God) Jesaja 61:10: “Hy het my geklee in die kleed van geregtigheid” omdat Hy self my reg-wees is! (1 Kor 1:30). Nou is ons in Hom en ingesluit by die lewe wat Hy voor Sy Vader leef (Kolos 3:3) en sit ons saam met Hom (Efes 2:6). Die Vader sien ons soos Hy Jesus sien (1 Joh 4:17).

 

1 Sam 18:1 is ‘n baie sterk vers: Jonatan het vir Dawid so liefgehad soos wat hy homself gehad het. Sy innerlike was vasgestik aan Dawid s’n. Dawid was ‘n skaapwagter van nêrens af nie, maar Jonatan het sy keuse gemaak.

 

Dit is vir my ‘n duidelike heenwysing na die liefde van God vir mense wat geen meriete het nie. Sy liefde is ook nie gebaseer op enige meriete wat ons moontlik sou kon hê nie. Ten spyte van Efes 2:1-3 (dood in sonde) het Hy ons nogtans lief – want liefde is Sy wese, Sy DNA (1 Joh 4:7). Niks wat ons kon doen kon veroorsaak dat hy ons liefhet nie en niks wat ons kan doen kan veroorsaak dat Hy ons nié sal liefhê nie. Hy het jou lief vir wat jy ís en nie vir wat jy veronderstel is om te wees nie. Niks maar NIKS kan veroorsaak dat Hy sal ophou om Sy kind lief te hê nie (Rom 8:38-39). Jy word liefgehê bó jou wildste verbeelding. Dit maak nie saak wát jy alles verkeerd gedoen het in jou lewe nie. Die bloed van Christus is ‘n perfekte fontein van reiniging.

 

Dink u dat u deelwees van Christus se vriendskapsverbond met u die woede en aggressie van die vyand sal oproep? Dawid en Jonatan het baie gou agtergekom dat daar magte is wat hulle verbond wil vernietig. En daardie magte het deur koning Saul gewerk.

 

Dieselfde magte fluister leuens ook in ons koppe. Die duiwel is ‘n dief wat steel, verwoes en doodmaak (Joh 10:10). Die manier hoe hy steel, verwoes en doodmaak, is d.m.v. leuens (Joh 8:44). Hy lieg vir God se kinders oor enige denkbare ding. Maar sekerlik die ergste leuen is daardie sluimerende gevoel van: “Ja, God het almal lief…. behalwe vir mý. Ja, die kruis is vir almal genoeg…. behalwe vir mý..”

 

En dit terwyl 1 Joh 4:10 sê Sy liefde is éérste. Sy liefde is soos ‘n waterval waaronder jy heeltyd leef. Jou dae van met skuld rondloop is vir ewig verby. ‘n Mens eer nie vir God deur met ‘n skuldlas rond te loop nie. Jy beledig Hom. Want daardie skuldlas het vir Jesus vergruis (Jes 53). Laat val dit, want Hy hou niks meer teen jou nie (2 Kor 5:19). Geen mens kan léwe en vórentoe gaan indien jy ‘n las dra nie. SIEN dat jý die voorwerp van God se ewige liefde is en dat NIKS Hom sal keer om jou oë oop te maak nie. HOOR Hom sê in 2 Kor 5:19: “Ek het iets om vir jou te sê: Ek hou nie meer jou sondes teen jou nie. Jy is gewas, vernuwe, geheilig, vergewe, herstel en splinternuut. Jou skuld-reis is verby. Jou skuld het Christus vergruis. Laat val los dit nou maar.”

 

Ons het weer mense nodig wat vir die duiwel kan sê: “BLY STIL!” Of in meer keurige Afrikaans: “SHUT UP! Ek het ‘n ánder stem gehoor. Ek is vry. Ek is in ‘n vriendskapsverbond met Christus ingesluit! Hý’t my daarby ingesluit, nie ek nie. Ek sê net dankie en raak opgewonde. As ek na Jonatan & Dawid kyk, sien ek vir my & Christus.”

 

Dit is opvallend hoe Saul se aanslae op Dawid se lewe nie Jonatan se vriendskapsverbond met Dawid enigsins geskud het nie. Telkens neem hy Dawid se kant téén sy pa. Dit is asof die bose mag in Saul se lewe ten alle koste baklei téén Jonatan en Dawid se verbond. Eintlik wou Saul nie net vir Dawid nie, maar ook vir Jonatan doodmaak.

 

Alles het begin die moment toe Dawid terugkeer nadat hy vir Goliat gedood het. Oral kom alles tot stilstand soos mense na Jerusalem kom om fees te vier: Die Filistyne is oorwin. Daar is sing en dans in die strate met musiek en koorsang. En wát sing hulle? “Saul het duisende verslaan maar Dawid tienduisende!” Saul se reaksie was geweldig. Wanneer die mense hóm prys, voel hy gevlei maar wanneer hy hoor dat die mense vir Dáwid prys, begin sy hart brand van jaloesie. En jaloesie is wreed, sê die Bybel.

 

Wat Saul nou doen is om elke moontlike poging aan te wend om te verhoed dat die Here se bedoeling vervul word. Daar is alreeds aan hom gesê dat hy as koning verwerp is. Daar is alreeds aan hom gesê dat die Here iemand anders gekies het. Hy is reeds meegedeel dat sy opvolger al reeds op die toneel is. Intussen het hy gesien hoe Dawid met Goliat klaarspeel en nou hoor hy wat die skare sing. Dus weet hy: Dawid is die man! Dawid gaan hom as koning vervang. Daarom moet Dawid doodgemaak word. Ons het gelees van ‘n hele klompie sulke pogings-tot-moord waarvan die eerste die spies was, wat Saul na Dawid gooi terwyl Dawid vir hom musiek maak. Hy het gedink hy kon hom doodmaak onder die dekmantel van sy depressie-toestand – dan sou dit nie soos moord lyk nie. Maar hy gooi vir Dawid mis!

 

Jaloesie is ‘n vreeslike ding. Wat Saul die meeste gevrees het, is dit wat Dawid gehad het, wat hyself verloor het. Saul het nie net sy kroon verloor nie. Hy het die teenwoordigheid van die Here in sy lewe verloor. En Dawid het dit gehad.

 

Die tweede poging was om Dawid op die voorpunt in sy leër te plaas met die hoop dat hy in ‘n veldslag gedood word.

 

Die derde poging was om Dawid uit te lok. Want as jy dit kan regkry om iemand uit te lok teen die koning, het jy ‘n rede om die man dood te maak vir hoogverraad. Daarom gee Saul sy dogter aan Dawid as vrou, maar op die moment wat die huweliksbelofte afgelê moet word, gee hy haar aan iemand anders. Maar Dawid reageer hoegenaamd nie en Saul se bose plan misluk.

 

Maar toe Saul ontdek dat ‘n ánder dogter van hom op Dawid verlief is, gryp hy die kans aan en beveel vir Dawid om – as bruidsprys – 100 Filistyne dood te maak. Maar Dawid maak 200 dood – en word self nie gedood – soos Saul gehoop het sou gebeur nie!

 

Daarom lees ons aan die einde van hfst 18:28: “Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is. Toe het Saul nog banger geword vir Dawid en was hy vir goed vyandig teenoor hom. Elke keer was Dawid meer suksesvol as Saul in die oorlog”. Interessant dat die bose bang is vir die gelowige wat vasgegom is aan die Here se liefde vir hom/haar en lééf binne daardie vriendskapsverbond wat die Here gevestig het. Dis verkeerd as ‘n Christusgelowige vir die duiwel of vir bose mense bang is. Eintlik is die vyand vir die gelowige bang!

 

In stede daarvan om Dawid tot niet te maak met Saul se vurige haat, het Dawid ongeskonde gebly en het sy aansien by die mense net meer geword.

 

Hfst 19 vertel vir ons van drie verdere aanslae op Dawid se lewe.

 

Eers gee Saul direkte opdrag aan Jonatan en sy manne om vir Dawid dood te maak. Jonatan tree egter vir Dawid in die bresse by sy pa en die belofte word gegee dat Dawid sal bly lewe.

 

Maar daar eindig dit nie: Saul probeer weer om vir Dawid met die spies te gooi, maar misluk weer eens.

 

Toe stuur Saul mense na Dawid se huis om hom in die oggend dood te maak, maar Dawid se vrou maak ‘n plan en help hom om te ontsnap en sit in die bed ‘n afgodsbeeld sodat dit lyk of Dawid in die bed lê.

 

In die laaste paragraaf van hfst 19 sien ons hoe die Here direk ingryp om Sy kind te red. Dawid vlug na Samuel by Rama waar Samuel ‘n profeteskool het. Maar Saul kom daarvan te hore en stuur mense om vir Dawid gevange te neem. Die Gees van die Here oorweldig hulle egter en hulle begin self ook as profete optree – bedoelende hulle praat oor die Here se Woord (waarskynlik onder musiekbegeleiding).

 

Wéér stuur Saul mense en weer gebeur dieselfde ding. ‘n Derde keer gebeur dieselfde ding.

 

Toe gaan Saul self na Rama om vir Dawid te gaan leed aandoen, maar toe hy by die profeteskool instap, kom die Gees van God ook oor hom en begin hy ook as profeet optree. Hy trek selfs sy klere uit en lê ‘n dag en nag op die grond. En só kom Dawid weer eens vry.

 

Vir ons klink dit maar na ‘n vreemde affêre. Wat beteken dit dat Saul sy klere uitgetrek het en só – sonder klere – as profeet voor Samuel opgetree het. En hoe kan die Gees oor Saul kom terwyl Saul geestelik so afvallig is? En hoe kan die Gees jou lei om kaal rond te loop en só te profeteer?

 

“Klere uittrek” verwys waarskynlik na Saul se wapenrusting en koninklike gewaad. Die verwydering daarvan is ‘n aanduiding van sy verwerping as koning. Die naaktheid verwys na ‘n simboliese naaktheid van verwerp te wees. Eintlik ‘n baie tragiese prentjie.

 

Wat ons moet raaksien is hoe die Here vir Dawid op allerlei maniere bewaar het en hoe die vriendskapsverbond tussen hom en Jonatan seëvier. Die bose het die stryd verloor. En hy het dit in jóú lewe ook verloor – kláár verloor!

 

As ons na Psalm 59 kyk sien ons Dawid se situasie toe Saul sy bloed gesoek het. Wat het hy binne daardie situasie gedoen? Hy het die Here daarvan vertel. Helfte van Psalm 59 = Dawid wat die situasie vir die Here vertel.

 

Binne Dawid se vriendskapsverbond met Jonatan was dit sy voorreg om sy hart voor die Here uit te stort. Dis al wat gebed is. Dit is om vir die Here alles te vertel wat op jou hart is.

 

Maar ons sien ook in Ps 59 dat Dawid die Here vra om iets aan die situasie te doen. Toe Dawid agterkom dat Saul hom wil doodmaak, vra hy dat die Here hom sal bevry. Dít mag élke Christen van die Here vra in ‘n situasie van aanvegting van die vyand. En jy mag ook die Here vra om met jou teëparty te handel – hoe ookal Hy wil.

 

Derdens sien ons in Ps 59 dat Dawid deur sy gebed die sekerheid gekry het dat die Here tot sy situasie SAL toetree. Lees vers 9, 17. Hoor die versekering.

 

Die wonder en glorie van gebed is dat die Heilige Gees met ‘n mens werk en vir ‘n mens versekering gee. Nog lank voordat jy die konkrete uitkoms sien, ontvang jy ‘n onverklaarbare vrede en sekerheid. En dit drá jou selfs deur die doodsvallei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00