TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 29: Heers deur te dien
2 SAMUEL 19
Jy ken daardie ongemaklike tipe gevoel dat “dinge net nie reg is nie”? “Dinge is net nie 100% nie” – al kan jy nie jou vinger daarop lê nie! En dikwels is jy heeltemal reg met jou gevoel!
Absalom het ‘n baie onwaardige dood gesterf en koning Dawid is weer herstel in sy koningskap. Sy koninkryk is weer veilig. En hy paradeer terug na Jerusalem. Hy word hartlik terugverwelkom… of word hy nie? Alles lyk reg. Maar… eintlik is alles nie reg nie! Die stryd teen Absalom is gewen en ‘n staatsgreep afgeweer…. maar om die vrede te herstel sal blykbaar nie so glad verloop nie.
Pleks daarvan dat daar vreugdevure brand oor die oorwinning oor Absalom en dat Dawid herstel is as koning, is daar ‘n donker wolk wat oor alles hang. Dawid kan nie ophou huil en kerm oor Absalom se dood nie.
Toe tree Joab tot die situasie toe. Die bevelvoerder van Dawid se weermag. ‘n Baie op en wakker politikus en militaris. Prakties ingestel.
Joab kyk na die situasie en besef dat Dawid se optrede nie goed is vir die koninkryk nie. Daarom gaan hy na die koning toe en spreek hom aan!
Om dit te verstaan, onthou weer die konteks: Absalom het ‘n rebellie teen sy pa gelei. Hy wou ‘n staatsgreep uitoefen. Hy wou sy pa se ryk omvergooi en sy pa se koningskap oorneem. Hy wou sy pa doodmaak. Daarin het hy teen God self gerebelleer. Hy plaas eintlik homself in God se plek omdat Hy alleen bepaal wie koning sal wees. Absalom plaas homself in ‘n posisie waar HY besluit wat die beste is.
Absalom se rebellie was dus nie net ‘n bietjie aggressie van seun teenoor pa nie. Dit was ‘n “kyk-weer” van die oorspronklike sondeval.
En Dawid treur onophoudelik. Soos ons verlede keer gesien het, is Dawid se trane ‘n weerkaatsing van die Here se hartklop teenoor mense wat volhardend in verset is teen Sy reddende genade!
Maar kyk nou mooi na die volgende: Dat Dawid getreur het, was in orde. Dis immers sy kind wat dood is.
Maar kyk na vers 2: Dawid het ‘n totale verlamming oor sy mense gebring. “Die oorwinningsdag het ‘n dag van trane geword vir AL die manskappe. Hulle het die stad beskaamd binnegesluip asof hulle ‘n geveg verloor het. En die koning het sy gesig toegehou en uitgeroep: “My seun Absalom, my seun, my seun…”
Dis toe wat Joab met die koning indringend gaan praat. “U het nou die manne gedemoraliseer. Dis byna asof u u haters liefhet (Absalom) en haat diegene wat vir u lief is (die volk). Dis asof u nie vir hierdie duisende omgee nie, net vir Absalom. Niemand van ons sal oorbly as u nie onmiddelik buitentoe gaan en ‘n positiewe klank gaan maak nie. Daar is moedelooshede en probleme in die koninkryk – daar is troebel waters van verdeelde lojaliteite, slegte verhoudings en selfsugtige ambisies wat uitgesorteer moet word. Onthou Absalom het die grootste deel van die Ryk aan sy kant gehad. Al daardie mense se lojaliteit is nou verdeel. Hulle het agter Absalom aangegaan omdat hulle nie tevrede was met hoe u regeer het nie, o koning. Daar is nou robuuste leierskap nodig om sake reg te stel. Daar is net nie nou tyd om so te rou nie.”
Sjoe, hoe op aarde kon Joab so met die koning praat? Tog blyk dit dat hy die Here se wil uitvoer. En… die koning slaan ag op wat Joab sê. Hy staan op en gaan uit na die mense toe.
Dawid toon skielik weer tekens van lewe – die Dawid wat hulle geken het. Probleem is net: Baie mense is nie seker of hulle weer die ou man wil terughê nie! Absalom was vol belofte, was charismaties en lekker jonk met nuwe idees!
Voeg daarby die aantal mense wat nog nooit Dawid se leierskap aanvaar het nie omdat hulle van Saul se kamp was. Hulle sien nou hoe broos Dawid is en wonder of hulle nie dalk weer beheer kan oorneem nie!
U sien: Dawid se koninkryk was weer veilig, maar baie onstabiel. Goddelike leierskap is nou nodig! En Dawid is die man! Hoe sal hy dit nou doen? Hoe sal hy nou binne hierdie situasie vorentoe beweeg?
Hier is twee beginsels in verse 9-43 wat so belangrik is. In hierdie paragraaf sien ons twee skitterende prag-kenmerke van die Here Jesus Christus se leierskapstyl wat in Dawid se optrede weerkaats word. Dit is twee kenmerke waaraan alle gelowiges alreeds 100% deel het omdat hulle by Christus ingesluit is en Hy dit alles vir hulle is! Volgens 1 Kor 1:30 is Jesus VIR ONS die heiligheid en geregtigheid. Wat Hy is, is jy – binne-in hierdie lewe reeds (1 Joh 4:17). Dit is dus nie nodig om te bid en te pleit om meer en meer van hierdie twee kenmerke te kry nie. Dis meer ‘n kwessie van: om te sien wat jy reeds het en daaruit te leef. En hierdie twee kenmerke help ons om binne alle verhoudings suksesvol te wees – te midde van baie wrywing en probleme. Dit gaan oor verhoudings – waar ons elke dag tussen mense beweeg.
1 BEGINSEL NR EEN: Verse 9-14 > Heers deur te dien
Kyk hoe verward is die mense. “Hierdie Dawid het wonderlike dinge gedoen in die verlede, maar die oomblik toe Absalom ‘n bietjie geraas maak, toe vlug Dawid! Dalk is hy glad nie meer van dieselfde stofasie as voorheen nie! En Absalom – wat ons gekies het – is nou dood.”
Hoe op aarde sal Dawid nou reageer op so ‘n situasie?
Wel, Dawid reik uit na Juda. En hy stuur ‘n boodskap aan die priesters Sadok en Abjatar. “Ons is bloedfamilie. Julle is been van my been. Waarom is julle die laaste om my terug te verwelkom? Amasa, jy wat Absalom se weermagbevelvoerder was, jy gaan beslis Joab se plek as my weermaghoof oorneem. Ons is tog één”.
Dawid maak daar en dan vir Amasa – wat aan die vyand se kant was – sy weermagbevelvoerder! Waarom? Dawid is diplomaties. Hy weet hy moet nou ‘n massiewe verdeeldheid heel. En deur vir Amasa in Joab se plek aan te stel, sê Dawid vir Juda: “Julle hoef glad nie bang te wees dat ek wraak sal neem omdat julle na Absalom toe oorgeloop het nie. Ek wil regtig hê ons moet ‘n verenigde koninkryk wees”.
En so het Dawid die hele Juda soos een man oorgehaal. En hulle het hom met ope arms terugontvang!
‘n Suksesvolle diplomatiese skuif van Dawid se kant af. Maar kyk na sy gesindheid: Hy buig onder die negatiewe mense in! Die KONING – wat buig! Ondenkbaar? Nee, dis hemels en dit is Jesus en dit werk!!
Dit is die Christus-gesindheid wat in Dawid se hart heers. Hy buig in onder sy teenstaanders. Hy heers nie oor hulle nie. Maar deur onder hulle in te buig, heers hy oor hulle!! Heers deur te BUIG!
Onthou u dit is hoe die Here Jesus ook Sy vyande aan Sy kant gekry het? Dink weer aan Johannes 8 waar Jesus daardie owerspelige vrou se hart met vrye, vrye guns wen. Dink net daaraan: ‘n Vrou wat – volgens die Wet van Moses – verdien om met klippe doodgegooi te word. ‘n Vrou wat niks met Jesus te doen wil hê nie. ‘n Vrou wat nie glo nie. ‘n Vrou wat nie berou het nie. ‘n Vrou wat nie bekeer nie. Maar wat doen Hy? Hy vee haar sonde en skuld met een veeg van die tafel af. En Hy wen haar hart.
Dink ook hoe Jesus Sy dissipels hanteer het ná Sy opstanding nadat hulle almal Hom in die steek gelaat het. Nooit is Hy leedvermakerig nie. Nooit hoor ons dat Hy iets sê soos: “Ek het julle mos gesê” nie…. of “Waarom het julle My nie geglo nie”. Nooit skryf Hy hulle af nie. Hy ruil hulle nie in vir beter modelle nie! Hy neem hulle net soos hulle is, rus hulle toe met krag van omhoog en gebruik hulle om Sy internasionale kerk mee te bou!
Dis die eerste beginsel: Heers deur te dien.
Dit is Christus. Dit is jy. Want Hy het dit vir jou geword. 1 Kor 6 > Jy is een gees met die Here
2 BEGINSEL NR 2 Verse 16-39 > Minsame innemende gees
Op pad terug na die Jordaan rivier toe, kom koning Dawid ‘n paar individue teë. Onder andere vir Simeï. Onthou hom? Hoofstuk 16. Die man wat vir Dawid vervloek het en klippe op hom gegooi het. Nou kom hierdie einste Simeï en val op sy knieë voor Dawid neer en pleit om Dawid se vergifnis. As ek Dawid was, sou ek dalk vir Simeï sê: “Ag man, kruip eers vir 5 km agter my aan”. Abisai vra ook vir Dawid: “Hierdie man het die gesalfde van die Here gevloek – moet hy nie doodgemaak word nie?”
Maar kyk na Dawid: Hy handel met genade en wysheid. Ja, Simeï verdien beslis om te sterf. Maar Dawid se hart is vol genade. Hy weet wat sy posisie is: koning. Juis daarom kan hy vergewe! Let nou mooi op: Hy vergewe omdat hy koning is!!! Menslike logika > Omdat jy weet hoe hoog jy is, verbrysel jy jou vyand! Jou verhewenheid laat jou afkyk na jou vyand. Dawid se verhewenheid laat hom opkyk na sy vyand. Die absolute wenresep. Die Christus-gesindheid. Dit is 100% u s’n: “Ons het Christus se denke”. (1 Kor 2:16)
Kyk nou na Johannes 13 waar Jesus begin om Sy dissipels se voete te was. Moenie daar begin lees nie! Lees eers vers 3: “Jesus het geweer dat die Vader alles in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God toe teruggaan….. TOE staan Hy op, trek Sy bo-kleed uit en vat ‘n waterskottel…”
Dit is die besef/wete van hoe GROOT Hy is, wat vir Jesus die skottel laat vat om Sy minderes se voete te was! Dit is die manier hoe Hy heers.
“As iemand onder julle groot wil wees, moet hy almal se dienaar wees.” (Matteus 20:26). “Die een wat eerste wil wees, moet almal se slaaf wees NET SOOS die Seun vd Mens nie gekom het om gedien te WORD nie, maar TE DIEN en Sy lewe te gee…” (v 28)
Het u al ooit gehoor van ‘n KONING wat ‘n voorskoot aantrek en sy diensknegte by ‘n tafel laat sit en hulle begin bedien? ‘n KONING!!! Wel, dis presies wat Jesus vir God laat doen in Sy gelykenis in Lukas 12:37! Dis God se manier van heers. Die suksesresep.
Die volgende persoon wat Dawid ontmoet is Mefiboset – Saul se seun. Die man wat verlam was, en wie Dawid soos sy eie seun aangeneem het ter wille van sy verbond met Jonatan.
Dawid wil by Mefiboset weet waarom hy nie saam met hom gegaan het nie.
Wat volg is so ‘n mooi paragraaf.
Mefiboset antwoord: “My helper het my in die steek gelaat en my by die koning gaan beskinder pleks van om my donkie gereed te maak sodat ek saam met die koning kon ry. Maar, u is soos ‘n engel van God. U kan met my doen soos u wil. U sal wel met my doen wat vir u die beste lyk. Ek verdien by u absoluut niks anders as die dood nie. En tog het u vir my ‘n plek gegee by u etenstafel. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.”
Dawid antwoord: “Ag, ons het nie nodig om nog hieroor te praat nie. Jy en Siba kan die grond tussen julle twee deel.”
Mefiboset antwoord: “Nee wat, daardie grond is nie vir my so belangrik as wat u vir my is nie. Noudat u behoue terug is, kan Siba maar al die grond vat.”
Is dit nie absoluut mooi nie? Die presiese innerlike gees van elke gelowige deur die eeue: “U, o Groter Dawid – Jesus Christus, is vir my absoluut alles. Ek verdien niks by U nie. U het vir my uit totale genade ‘n plek as seun/dogter by U tafel gegee.”
En dan is daar nog Barsillai wat vir Dawid ontmoet. Hy was die man wat vir Dawid en sy manne voorsien het toe hulle vir Absalom gevlug het. Nou wil Dawid hom beloon. Dawid wil hom in Jerusalem oorlaai met alles en nogwat.
Maar Barsillai antwoord: “Ag ek is al ‘n ou man. Ek sal net vir u ‘n oorlas wees. Laat my asb teruggaan na my eie dorp toe en daar sterf. Maar hier is Kimham. U kan hom saamneem en vir hom alles doen wat u vir my sou doen.”
Dawid antwoord: “Dis reg, Kimham kan maar saamkom.”
Die minsame, innemende gees van Christus (gereflekteer in Dawid) – wat JOU gees is!
Ten spyte van Dawid se minsaamheid, gaan die konflik egter voort. Verse 41-43. Die noordelike 10 stamme is kwaad vir die suidelike stam Juda omdat hulle dink Juda het vir Dawid geannekseer. Maar Juda kap terug dat Dawid uit Juda gebore is – hulle is bloedfamilie. Maar die noordelike stamme staan daarop dat hulle die meerderheid is ensovoorts.
Moenie dink die denke/gees/gesindheid van Christus toor net alles reg nie. Dit heers TE MIDDE VAN die probleme! En dit oorwin. Dit is suksesvol – ten spyte van probleme.
En hierdie sukses behoort reeds aan jou! Want Christus is dit. Maar volgens 1 Kor 1:30 is Hy dit VIR JOU! Wat Hy is, is jy! 1 Joh 2:8 > Die Waarheid wat in Hom is, is in jou! Filemon vers 6 > Ons het volle begrip van elke goeie ding wat ons in Jesus HET. Elke goeie ding wat in Hom is, het jy!!
Ons luister dus nie na vanoggend se boodskap op so ‘n manier dat dit soos die 10 Gebooie klink nie – iets wat ons moet wees/word, maar wat ons voel ons nie is/het nie. Iets wat altyd net ‘n onbereikbare ideaal bly. Soos “window-shopping”: “O, kyk daardie wonderlike manier van heers-deur-te dien, kyk na daardie lieflike minsame innemende gees. Hoe sal ek dit ooit kan kry? Ek sal ‘n prys moet betaal om dit te kry. Ek sal baie moet bid en myself regruk… Dalk by die wederkoms?..”
NEE!!!! Ons kyk na vanoggend se boodskap soos in ‘n spieël (nie winkelvenster) (in ‘n spieel sien jy wie jy werklik is!): Ons sien hoe Dawid die Here Jesus se gees reflekteer. En in Hom, sien ons onsself! Ons sien die sukses-gesindheid wat ons alreeds perfek besit. En soos wat ons ontdek dat ons dit in Hom besit, kan ons dit uitleef. Ons bid/smeek/soebat/wag nie vir een oomblik nie. Ons ontdek, sien en dank!