TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 28: God is vir ons
2 SAMUEL 18
Ons maak ‘n groot fout om aan ons geloofslewe te dink as iets privaat/persoonlik. Natuurlik is dit persoonlik, maar dis nie persoonlik in die sin van privaat nie! Jy kan nie sê dit het niks met niemand uit te waai nie! Want ons leef nie in isolasie nie! Ons impakteer ander. Altyd!
Dit is waarom die Skrif so veel maak van die saamleef-met-mekaar-in-die-geloof-in-Christus. Wanneer jy die Blye Boodskap van jou ewige verlossing in Christus ontdek, ontdek jy deur die Heilige Gees dat jy deel is van ‘n liggaam – die liggaam van Christus wat die gelowiges is! Iets wat baie groter is as ons eie klein wêreldjie waarbinne ons leef. Die waarheid is dat al die lede van die liggaam met mekaar gekonnekteer is. Kyk bv na ‘n gedeelte soos 1 Kor 14. As een lid van die liggaam ly, ly almal. Ons is almal met mekaar verbind.
Maar ons dink nie altyd oor onsself in daardie terme nie! Ons dink dat byvoorbeeld – wanneer ons betrokke is by ‘n private geheime sonde – dit net ons eie saak is en net onsself raak. Maar die Skrif sien dit nie so nie. Wat jy doen – selfs in geheimhouding – sal ander mense beïnvloed. En dit beïnvloed jouself ook meer as wat jy ooit kan dink.
Dis presies wat met koning Dawid gebeur het. Mens sou kon sê dat dit slegs ‘n swak oomblik in sy lewe was – die dag toe hy wellus in sy hart vertroetel het. Maar die ding het net gesneeubal. Te veel om te noem. Moord, openbare skandaal, dooie baba, verkragter-seun, verwoeste dogter, vermoorde seun en uiteindelik ‘n seun wat sy eie pa se ondergang bewerk. En alles het begin by die geheime kyk na ‘n vrou wat bad! Dit het ‘n “domino-reffek” veroorsaak. Maar volgens Romeine 5:20 domino die genade vinniger as die sonde!
Hoofstuk 18 > Koning Dawid vlug vir sy eie seun. In dieselfde heuwels waar hy destyds vir Saul gevlug het. Die volk is verdeel. Sy familie is verdeel.
2 Samuel 18 herinner ons aan hoe diep sonde ons lewens en verhoudings impakteer.
Ons kan so opgewonde raak oor die Blye Boodskap van onvoorwaardelike vergifnis en verlossing deur Jesus se verdienste en verlos wees van ‘n voortdurende sonde-bewustheid – en dit is reg – dit moet so wees. Tog voed hierdie genade ons op om goddeloosheid te laat vaar (Titus 2:11-12). Die vryheid waartoe die genade ons vrygemaak het, mag nie daartoe aanleiding gee dat ons weer onder ‘n slawejuk inbuig nie (Galas 5:1). Ons gebruik nie die vrye genade as ‘n dekmantel om in sonde te leef of sonde allerlei mooi naampies te noem nie. “Dit was net ‘n glips”. Dit was net ‘n “morele oordeelsfout”. Versagtende naampies. “Net ‘n foutjie”. Pleks van om te besef dat hierdie “oordeelsfoutjie” my van God verwyder (nie Hom van my verwyder nie, maar my van Hom verwyder). Hierdie “oordeelsfoutjie” verwoes lewens en verhoudings. Kyk maar net na Golgota se kruis, dan sien jy wat sonde is en wat dit doen. Waar ons ‘n Man – wat niks anders as suiwere liefde is nie – geslag en vermoor het.
Wat Titus sê is: Wanneer ‘n mens ontdek dat – op grond van Christus se dood – jy nooit weer gestraf sal word nie, dit jou LOS MAAK van sonde en nie meer laat sondig nie. Dit is soos ‘n vrou voor die kansel hoor hoe haar bruidegom ewige trou aan haar sweer en JUIS DIT motiveer haar om aan hom getrou te bly! Die gelofte wat hy sweer is nie haar geleentheid om ontrou te wees nie, maar juis getrou! Presies so werk genade!
Hou die konteks van hoofstuk 18 in gedagte! Absalom het in die openbaar homself tot koning verklaar. Toe hy daardie tent op die paleis se dak opgerig het en al sy pa se byvrouens daar onteer het – voor die oë van die hele volk! Daarmee het hy verklaar dat hy sy pa se rol oorvat!
Daarna het Absalom sy raadgewers gevra wat die volgende stap moet wees. Agitofel se plan was: Kry ‘n klein gorilla-bende en gaan maak jou pa dood terwyl hy moeg is en dan is die koninkryk joune!
Maar Absalom vra om die een of ander rede ook Gusai se raad. Gusai was aan Dawid se kant, maar was as ‘n spioen by Absalom. En Gusai se raad is heeltemal anders as Agitofel s’n. Hy beveel aan dat ‘n hele leermag teen Dawid optrek met Absalom self as aanvoerder sodat sy aansien groei by die mense. Hierdie woorde streel Absalom se ego soveel dat hy Gusai se raad volg. Intussen wou Gusai net vir Dawid tyd gee om uit te rus en homself te organiseer. Absalom kies dit egter – omdat sy ego so groot was. Hy wou so graag die groot ster wees.
Ons weet egter uit 17:14 dat die Here agter Absalom se keuse was omdat die Here bepaal het dat Absalom moet ondergaan.
Nou is Dawid besig om gereed te maak vir die veldslag teen sy eie seun se leermag.
Dit is waar hoofstuk 18 aansluit.
Skielik is Dawid weer sy ou self. Hy is weer die militêre strateeg. Hy is weer die soldaat by uitnemendheid! Hy is weer gemotiveerd en vasberade om self sy manne aan te voer. Hy wil weer die glorie van vroeër-dae herstel sien. Dalk het hy geleer uit die tyd van Batseba – toe hy by die huis gesit het terwyl sy manne veg. Dalk het hy gedink: Nooit weer nie! Ek is saam met die manne in die geveg!
Maar Dawid se manne weier dat hy meedoen. “U is vir ons te kosbaar. Ons mag u nie verloor nie. Net u alleen is soos tienduisend van ons”. En so dwing hulle hom om te bly terwyl hulle teen Absalom optrek.
Maar voordat hulle gaan, beveel die koning die 3 bevelvoerders: “Sorg dat julle saggies werk met my kind Absalom”. Almal het gehoor dat Dawid dit beveel.
Vreemd is dit nie? Absalom! Hy wat sy broer Amnon vermoor het. Moet daar saggies gewerk word met Absalom wat besig is om ‘n staatsgreep teen sy eie pa te orkestreer? Wat besig was om die gesalfde van die Here se ondergang te bewerk. En dan sê sy pa: “Werk saggies met hom”
Waarom? Hierdie rebel! Nie net ‘n rebel teen Dawid nie, maar teen die Here self! Onthou Absalom het die Here se gesalfde verwerp deur homself koning te maak. Hy stel eintlik homself in God se plek. Hy moes allermins sag behandel word. Volgens 17:14 het die Here alreeds op sy ondergang besluit. Dit het niks met streel te make nie. En tog pleit Dawid: “hanteer hom saggies”.
Dit is asof Dawid se oordeelsvermoë versteur is. Absalom is totaal verkeerd en hy is ‘n rebel teen die Here self, maar Dawid pleit dat hy met ‘n veertjie gestreel moet word. Waarom? Dalk word Dawid deur skuldgevoel aangedryf. Ja, hy voel jammer vir Absalom, maar dalk voel hy meer skuldig oor hoe hyself gefaal het as pa en as koning. Hy voel dalk dat Absalom is wat hy is as gevolg van sy pa se foute.
Dit mag vir u vreemd op die oor val, maar ek dink Dawid is hier ‘n heenwysing na die Groter Dawid – die Here self. Ek sien in Dawid se woorde “werk tog saggies met Absalom” ‘n weerkaatsing van die Here God se hart. Dawid se hartklop is ‘n refleksie van hoe God se hart klop. So geweldig ewiglik jammerhartig!
Die Here sal na ‘n mens kyk wat deur en deur die sondedood verdien en dan sal Hy planne beraam hoe om so ‘n mens so saggies moontlik te behandel. Ons het nie ‘n idee hoe VIR ONS die Here werklik is nie (Rom 8:31). “Die Here bedink maniere om toe te sien dat mense wat ver van Hom is nie van Hom vervreemd bly nie” (2 Sam 14:14).
So lees ek ook in Jeremia 32 hoe die Here vertel hoe erg die volk Israel Sy toorn opwek en hoe Hy hulle voor Sy oë moet verwyder (v 31) want hulle het alle vorme van kwaad gepleeg. Hulle wou nie luister nie, hulle het afskuwelike afgode gedien, hulle het vir die Baäl altare gebou.
En hoor nou hoe gaan Hy hulle voor Sy oë verwyder:
Vers 36: “Van waarheen ek hulle in my toorn verdryf het, gaan ek hulle bymekaarmaak. Ek gaan hulle terugbring. Hulle sal my volk wees. Ek gaan aan hulle nooit ophou goed doen nie. Ek gaan hulle innerlik inspireer om my te vrees.”
Hoor u dit? Na ALLES wat Absalom aangevang het, wat Israel aangevang het, wat JY aangevang het – sê die Here steeds (in die ego van Dawid se woorde): “Werk tog net saggies met….”
DIT is die diepste motief agter Golgota se kruis: God se hartklop VIR die mensdom! Hy staan onherroeplik – teen Sy eie beterwete in – aan die mens se kant. Ja selfs die mens wat – deur eie keuse – in die verderf sit, sal weet dat God aan sy/haar kant is! God het nie teen die mens in die verderf gedraai nie! Wat die verderf die verderf maak is juis dat die mens KIES om daar te wees terwyl hy/sy weet God is ewiglik VIR hom!!!
Ek lees in Hebr 10:29 van mense wat die Bloed van Christus – die bloed wat hulle geheilig het – vertrap! Hulle minag die kruisoffer van Christus terwyl hulle weet dat daardie einste kruisoffer hulle werklik geheilig/gered/bevry/ontsondig HET! God is VIR hulle. God is aan hulle kant! Dis soos 2 Petrus 2:1 praat van vals profete wat die Here WAT HULLE GEKOOP HET, verloën! Hulle is gekoop, daarom behoort hulle aan Hom, maar hulle verloën Hom.
U sien hoe ‘n vreeslike ding is die ongeloof! Dis soos ‘n Absalom wat sy pa – wat pleit “werk tog net saggies met Absalom” – wil doodmaak! Hy is téén sy pa wat VIR hom pleit! Hy is TEEN sy pa wat aan SY KANT staan! Onlogies? Irrasioneel? Wel, dit is hoe irrasioneel die ongeloof is! Maar dis ook hoe irrasioneel genade is. Jy kan maar teen Hom rebelleer so veel jy wil: Hy sal nie ophou om jou lief te hê en jou in te sluit nie! As God sê dat Hy die KOSMOS met Homself versoen het op die kruis (2 Kor 5:19; Joh 1:29; 1 Joh 2:2; Joh 3:16 – in al vier gevalle word die Griekse woord “kosmos” gebruik) dan bedoel Hy die kosmos! Die mens se uitsluiting van God kan nooit God se insluiting van die mens kanselleer nie!
Uiteindelik vind die veldslag toe plaas in die Efraimbos. En hierdie paragraaf beskryf hoe vinnig en vernederend Absalom se hele leermag oorwin is deur Dawid se manne. En dit is nie ‘n mooi toneel nie. Daarby sterf hierdie arrogante man Absalom ‘n vernederende dood.
Absalom se hare het in ‘n boom vasgehaak en die dier waarop hy gery het, het net aanhou hardloop sodat Absalom aan sy hare hulpeloos tussen hemel en aarde gehang het. En dit was sy einde. Sommer so maklik.
Geen krag of mag of koning of diktator is enigsins ‘n bedreiging vir die Here God nie!
Alles lyk gunstig vir Absalom. Dit lyk of hy die meerderheid aan sy kant het. Maar toe die veldslag plaasvind, was daar omtrent nie eens ‘n geveg nie! Al die verliese was aan Absalom se kant. ‘n Absolute vernedering. Dit sou nie eens die voorblad van die koerant haal nie. Maar waarop die fokus val, is op Absalom se dood.
Die man na wie almal opgesien het! Maar hy hang aan sy hare aan ‘n boomtak.
Toe word berig aan Joab gegee dat Absalom daar in die lug rondswaai. Joab kon dit nie glo nie. Wat?? Hy kan nie glo dat die man wat dit vir hom kom vertel het nie net daar vir Absalom deurboor het nie. Hy sou hom selfs betaal daarvoor! Maar die boodskapper antwoord: “Die koning se duidelik bevel was….”
Onmiddelik is Joab daar weg en hy gaan deurboor vir Absalom met 3 spiese.
Joab is die tipiese praktiese effektiewe militêre politieke leier. Hy weet wat op die spel is, hy weet hoe belangrik die veldslag is, hy weet wat uit politieke en militêre oogpunt gedoen moet word. Daarom doen hy dit. Niks van tydmors en diskussies nie. Absalom kan nie bly lewe nie, al sê sy pa wat! Klaar uit en verby. Absalom word uitgewis en sy liggaam in ‘n put gegooi. En dit is die einde van Absalom.
Dit is waarom die Here lag wanneer die konings van die aarde teen Hom opstaan (Psalm 2:4). Hulle is vir Hom geen bedreiging nie.
Ons sien hier ‘n profetiese beeld van die finale eindgerig: wanneer alles sommer so maklik sal gebeur. Byvoorbeeld 2 Thes 2:8: Slegs die glans van Christus se verskyning speel klaar met die “magtige” Antichris en Openb 19 waar slegs die Here se Jesus se verskyning die Slag van Armageddon beëindig. Daar vind nie eens ‘n veldslag plaas nie.
Skielik is Dawid se koninkryk weer sekuur. Dawid is veilig. Die volk is herstel. Maar al waarin Dawid belangstel is Absalom se welstand. Vir hom is dit belangriker as of hy die oorlog gewen of verloor het. Absalom se welstand is vir hom belangriker as die vraag of hy sal aanhou koning wees of nie.
Toe verneem hy die tyding: Absalom is dood.
Die koning was verpletter. Hy het gaan huil. “O my seun Absalom, my seun, my seun – ag as ek maar in jou plek kon gesterf het, Absalom my seun, my seun”.
Verstaan u nou waarom Dawid se hart ‘n weerkaatsing is van die Here God se hart? Van ‘n absolute skurk, sê Dawid: “As ek maar in jou plek kon sterf”. Hoe duidelik val die skadu van Golgota se kruis nie oor hierdie woorde nie? Behalwe dat God nie net gehuil en gewens het nie, maar dit gedoen het!
Dikwels word ons gekonfronteer met die idee dat mense wat in die ewigheid volhard met hulle verset teen die Here se genade, geweldige smart & verskrikking sal beleef. Dit is dikwels die prentjie wat ons in ons kop het = mense wat huil en kerm.
Maar hoe meer ek die Bybel lees, hoe meer lyk dit vir my of dit die Here is wat die smart beleef. Nadat Absalom so tragies aan sy einde gekom het, was dit Dawid wat gebreek was.
Ek lees in Jeremia 8:21 hoe Jeremia God se hart verwoord > “Omdat my mense verbrysel is, is Ek verbrysel. Verskrikking het oor my gekom. Ag, was my kop maar ‘n fontein water, sou ek dag en nag huil oor my mense se val.”
In my persoonlike lewe het ek geen groter begeerte en doelwit as om daagliks God se ware hartklop te leer ken en verstaan nie. Dit is die manier hoe ons die Bybel leer verstaan. Ons verstaan nie eers die Bybel 100% korrek en kom dan by God se hart uit nie. Ons verstaan iets van God se hart en verstaan dan meteens ook die Bybel!