TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 27: Geloofslewe in die spervuur
2 SAMUEL 17
Jy het dit dalk ook al agtergekom, maar die lewe verloop nie altyd soos wat jy beplan nie. Ten spyte van al jou drome en ideale en planne, verloop alles nie altyd so glad nie. Vraag is: Wat doen jy wanneer dinge teen jou draai? Wat doen jy wanneer dit blyk dat jy teen die stroom swem?
Christusgelowiges is per definisie stroom-op! ‘n Gelowige is iemand wat tot ‘n definitiewe bekering gekom het. Dis iemand wat tot die geloofsontdekking & vertroue gekom het dat hy/sy volkome geregverdig/reggestel/onskuldig verklaar is op die kruis in Christus – en hierdie ontdekking en vertroue het veroorsaak dat jy omgedraai het! Probleem is net: jy leef in die verre minderheid in ‘n wêreld wat in geestelike blindheid volhard en van geloof en bekering niks weet nie. Gevolg: uitdagings en moeites.
Die Here God is soewerein en hoewel Hy nie die outeur is van die slegte goed in die wêreld nie, heers Hy daaroor en gebruik dit in Sy mense se lewens. Hoe, weet ons self nie. Alhoewel ons soms sukkel, stry ons nooit alleen nie. Hy werk met ons en in ons. Die Heilige Gees is met ons, die Woord is met ons, die gemeenskap vd gelowiges is rondom ons.
Nogtans maak dit nie die stryd makliker nie. Die feit dat jy ‘n bietjie verstaan van hoe Hy betrokke is, maak dit nie enigsins makliker nie. Jy begin nie ewe skielik jou moeites geniet nie. Jy wil nog steeds glad nie die moeites hê nie. Jy wil steeds die maklikste roete volg.
Tog help dit ‘n bietjie om te weet dat daar betekenis is in wat ek stry. Dat dit nie sinneloos is nie. Die WAAROM is nie so belangrik soos die WIE nie. Die mees belangrikste is: WIE kan ek vertrou. Nie waarom dit-en-dat nie, maar wie. ‘n Werklike Vader wat my werklik liefhet en werklik omgee en absoluut soewerein is. Hy is soewerein en Hy is goed. Ek weet ook dit gaan nie net oor oorlewing nie. Meer as oorwinnaars. Ons skraap nie net deur nie. Hierdie beproewing sal vir my ten goede en tot Sy eer eindig.
Dit is hierdie beginsels wat in 2 Samuel 17 aan die werk is.
Onthou net weer tot waar ons in hfst 16 gekom het: Koning Dawid se seun Absalom beplan om sy pa se koninkryk omver te werp, van sy pa ontslae te raak en self die nuwe koning te word.
3 belangrike beginsels:
1 ONS LEWENSLOT WORD NIE BEPAAL DEUR TOEVAL NIE MAAR DEUR DIE SOEWEREINE BEDOELINGE VAN GOD
Agitofel se raad (sy advies was altyd soos die raad van engele).
Absalom het nou al reeds – ook op aanbeveling van Agitofel – die openlike aanspraak gemaak dat hy die nuwe koning is deur by sy pa se byvroue te slaap ten aanskoue van die publiek!
Nou wat is volgende? Agitofel moet weer raad gee.
Agitofel sê vir Absalom: Almal het nou reeds kennis geneem dat jy in die openbaar jouself tot koning verklaar het. Jou pa se rug is gebreek, hy is moeg en moedeloos, hy is aan die vlug. Dus: Laat ons nou vinnig en genadeloos toeslaan. Laat ons ‘n klein gorilla-bende stuur om jou pa se geselskap te gaan voorlê en dan maak ons slegs jou pa dood. Dis tog al wat nodig is. En sodra jou pa uit die pad is, is die res vanselfsprekend.
Klink soos baie goeie plan. Kon regtig maklik werk.
Maar: Vers 5. Om die een of ander rede sê Absalom uit die bloute: “Laat ons net vir Gussai ook vra en hoor wat sy mening is”.
Gussai was Dawid se goeie vriend! Hy was die man wat Dawid as spioen tot in Absalom se binnekring gestuur het om Agitofel se planne te verydel. Nou vra Absalom sy advies! Waarom sou hy dit doen? Hy was alreeds agterdogtig oor Gussai. Hy weet dat Gussai sy pa se goeie vriend is. Waarom Absalom sy raad vra, sal ons nooit weet nie.
Maar Gussai se advies klink totaal anders as Agitofel s’n!
“Ek stem nie saam nie”. Vers 7. “Moenie dadelik optree nie. Moenie net ‘n klein bende stuur nie. Neem nog tyd. Kry ‘n groot leër gereed. Ons almal weet watter goeie militêre strateeg u pa is. Dit sal nie so maklik gaan soos Agitofel dink nie. En u, o Absalom, moet self die leier wees. U self moet hierdie leër aanvoer. En ons maak dan sommer almal dood, nie net vir Dawid nie”.
Absalom en al die manne antwoord: Gussai se plan is beter as Agitofel s’n!
Mens kan dit byna nie glo nie! Ongelooflik! Gussai se plan is net mooi 180 grade andersom as Agitofel s’n!
Wat Absalom nie besef nie, is dat Gussai besig is om vir Dawid tyd te koop. Hy wil dat Dawid genoeg tyd het om uit te rus en homself georganiseer te kry. En wat Absalom ook nie besef nie, is dat Gussai vir hom – Absalom – in die middel van die hele militêre strategie plaas – juis sodat hy kan ondergaan!
Dink nou net weer aan die twee opsies:
PLAN A > ‘n Klein bende gaan vermoor vir Dawid terwyl hy moeg is. En siedaar die stryd is gewen. En Absalom self verkeer onder geen risiko nie.
PLAN B plaas vir Absalom in die midde van die stryd, maar gee hom ook die plek van baie eer en aansien. Dis waarom dit sy ego streel en hy vir PLAN B kies. Klink wonderlik vir sy eer en aansien dat HY die groot leër kan aanvoer. Almal sal hom bewonder!
Maar wat was die ware rede waarom Absalom PLAN B gekies het?
Lees die res van vers 14… “ dit was die HERE wat Agitofel se raad verydel het omdat die HERE onheil oor Absalom wou bring..”
Absalom het PLAN B verkies omdat die Here agter die skerms aan die werk was. Die Here God het in Sy soewereine bedoelinge besluit dat Absalom verslaan sal word en dat Dawid as koning sal regeer en Salomo in sy plek – nie Absalom nie. Want die beloofde Messias – Jesus Christus – sou uit Dawid & Salomo gebore word. God se hele bedoeling met alles en Sy bestuur van die geskiedenis draai slegs rondom die koms van die Here Jesus. God se oogmerk, Sy hartklop is by die redding van die wêreld.
Daarom is Sy hartklop ook by wêreldsending soos wat FEBA RADIO (waarvan ons 14 dae gelede gehoor het) doen. Wêreldsending in die sin van om aan alle mense bekend te maak dat Christus hulle Verlosser is, dat God hulle liefhet, dat God hulle sondes afgeskryf het op die kruis – met die oproep/appél tot geloof en bekering!
Kan u dit sien? Die Vader van ons Here Jesus Christus is werklik soewerein en Hy werk voorsienend in/deur alles. En dit is hoe die Here die meeste van die tyd werk: ongesiens. Hy is nie afwesig nie, maar agter die skerms. Hy is binne-in duisende klein detail waarvan ons meesal nie eens kennis dra nie. Moenie verbaas wees as ons eendag uitvind dat Hy teenwoordig was in elke gesprek, elke gedagte nie. Hy is bo, agter en in alle dinge. Ons moenie verbaas wees om eendag te ontdek hoe FEBA RADIO se programme uitgegaan het en barre heidene (soos die Jao’s in Midde-Afrika) se ore bereik het en hoe daardie mense die Blye Boodskap onmiddelik omhels het OMDAT Christus alreeds in hulle lewens werksaam was – hulle het alreeds onwetende in Hom geleef en beweeg en bestaan – soos Paulus vir heidene sê in Hand 17:28. Maar hulle oë was versluier om dit nie te kon sien nie (2 Kor 4:4). Maar toe hoor hulle Paulus se woorde of hulle hoor FEBA se boodskap en God doen ‘n skeppingswonder: Hy skyn met lig in hulle harte net soos Hy by die oorspronklike skepping gedoen het sodat hulle die lig van die kennis kry – die kennis van Christus se aangesig (2 Kor 4:6).
Volgende keer wat jou geloof in die spervuur is, onthou dat jy in die soewereine bedoelinge van jou Vader kan rus. Jou geloofslewe is in Sy hand. Jy behoort aan Hom. Jy is duur gekoop.
2 TERWYL ONS RUS IN GOD SE SOEWEREINE VOORSIENENDE SORG, MOET ONS VERANTWOORDELIK OPTREE
Ons sit nie terug met die houding van: God regeer, Hy is in beheer dus maak dit nie saak wat ek doen nie. Wat maak dit tog saak? Hy sal wel alles regmaak wat ek opmors. Hy slaan reguit houe met krom stokke. Dit maak tog nie saak wat ek doen nie.
Nee, dit maak saak wat jy doen en wat jy besluit. Die besluite wat ons neem, maak saak. Ons is geroepe om heilig te leef. Ons is verantwoordelik vir alles. Om te bid, die Woord te bestudeer, soliede besluite te maak – beteken nie dat ons nie rus in Sy soewereine heerskappy nie! Om keuses te maak en op te tree volgens jou beste insig is nie in teenstelling tot geloofsrus nie!
Ons moenie die ding te ingewikkeld wil maak nie. Of eers ‘n hand wil sien wat teen die muur skryf nie. Dit is baie meer eenvoudig as dit. Kyk hoe eenvoudig werk dit: A. Ons kry die Skrif in ons bloedstroom, B. ons bid, C. ons luister na die Gees en D. ons glo dat God in/deur dit alles werksaam is. Dis so eenvoudig soos dit! En ons tree verantwoordelik op. Ons rus nie op ons louere nie!
Kyk na Gussai. Hy stuur ‘n boodskap vir Dawid om onmiddelik die Jordaanrivier oor te steek. Gussai se vertroue is op die Here maar hy sit nie en oproes nie! Hy DOEN!! Hy maak ‘n plan!
Maar dan word Gussai se boodskappers raakgesien en Absalom ontvang die berig. Gussai se boodskappers – wat op pad was na Dawid – word agtervolg, maar die Here beskik ‘n vrou wat hulle in ‘n put wegsteek!
Die mense is aktief. Hulle probeer die beste besluite neem. En tog weet hulle: dit is in die Here se hand. Verseker!!
Wat doen ons wanneer die lewe nie in ons rigting wil loop nie? Ons jubel in die Here se soewereine en voorsienende heerskappy en ons tree verantwoordelik op – sover as wat ons weet wat die beste is.
3 Vers 23-29 > ONS KAN RUSTIG WEET DAT DIE HERE MET ONS VYANDE HANDEL TERWYL HY GENADIGLIK IN AL ONS BEHOEFTES VOORSIEN
Toe Agitofel sien dat sy plan nie aanvaar is nie, gaan pleeg hy selfmoord! Hy hang homself.
Hoogs vreemd! Dis maak nie sin nie! Hierdie man was ‘n top-amptenaar. ‘n Top kabinetslid. Voordat hy na Absalom oorgeloop het was hy een van Dawid se beste raadgewers. Maar kyk hoe onstabiel is hy in werklikheid. Toe sy plan nie aanvaar word nie, pleeg hy selfmoord. Wat gaan hier aan?
Ek dink wat gebeur het is: Hy het vooruit die skrif teen die muur gesien. Hy het geweet PLAN B sal teen Absalom boemerang. Hy het geweet Dawid gaan terugkeer en dan is dit klaarpraat met hom wat Agitofel is. Want hy is ‘n verraaier. En Dawid sal met hom klaarspeel!
U sien: ook hierin was die soewereine hand van die Here werksaam. Keur God dan iets soos selfmoord goed? Uiteraard nie. Maar om teen Dawid te gaan, was om teen die Here self te gaan!
Die HERE het Dawid se koningskap bepaal en vasgestel. Dawid was die voorloper van die Groter Dawid, Jesus Christus. Die mens wat hierteen ingegaan het, was in opposisie met God se plan en bedoeling vir die redding van die wêreld. Agitofel het nie ‘n kans gehad nie.
Vers 24-29 > Hoe God vir Dawid voorsien het. Romeine 8 > Hoe vryelik het Hy ons alles dinge gegee.
Die vyand is tot niet en die Here se kind ontvang voorsiening in oorvloed.
Die volgende keer wanneer jou geloofslewe in die spervuur kom: klou hardnekkiglik vas aan die soewereine goedheid van God.