TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 26: Soewereine misterie
2 SAMUEL 16
Dalk het u ook al oorweldig gevoel deur dinge: hartseer of dalk verantwoordelikhede – dat jy regtig voel dat jy genoeg gehad het. Jy KAN NIE nog vat nie. “As enigiemand nou nog enigiets sê dan sal ek ontplof”.
Geen Christusgelowige is immuun teen die gebroke wêreld waarin jy leef nie. Nêrens beloof die Here in Sy Woord dat alles vir Sy kinders altyd 100% sal gaan nie. Tewens, ons Here Jesus het eksplisiet gesê: “In hierdie wêreld sal julle verdrukking beleef”…
Die uitdaging waarmee ons almal gekonfronteer word, is om binne-in die gebroke wêreld die roekelose genade, liefde en karakter van die Here te reflekteer.
Koning Dawid se dogter se lewe is deur een van haar broers verwoes. Daardie broer is vermoor deur ‘n ander broer. Daardie moordenaar-broer het nou net sy oë op sy pa se koninkryk. Dis Absalom.
En wat doen die koning? In rou is hy die Olyfberg op. Dalk voel hy: “Kan dit enigsins slegter gaan?”
Meteens ontdek hy: Ja dit kan nog veel slegter gaan!
‘n Man kom vir Dawid tegemoet en sover hy loop, vervloek hy vir Dawid en gooi hom met klippe en sand.
Dawid ontdek: sommige dae is boos (soos Efes 6:13 sê).
Die groot ding wat ons moet raaksien is die groot vrede en moed en sterkte wat Dawid dwarsdeur alles behou. Heel moontlik het Psalm 23 baie te doen met hierdie tydperk uit Dawid se lewe. Veral waar hy skryf: “Hy berei vir my ‘n tafel in die teenwoordigheid van my vyande.”
Dawid is inderdaad omring deur vyande. ‘n Staatsgreep is teen hom aan die ontwikkel. Sy eie erfgenaam – wat ‘n moordenaar is – gaan sy koninkryk van hom wegroof. Simeï vervloek hom. En tog word hy besit deur ‘n innerlike vrede. En oortuig van God se teenwoordigheid en goedheid.
Hoofstuk 15: 24-26 is eintlik die ruggraat van hoofstuk 16. Daar het Dawid homself totaal verlaat op die soewereiniteit van die Here. Hier in hoofstuk 16 gee daardie gesindheid die deurslag. Hy deurstaan alles wat gebeur met ‘n stuk sekerheid dat die Here absoluut soewerein in beheer is.
Ons behoort almal kennis te neem van 2 Samuel 16. Nie net inaggenome die feit dat ons persoonlike leefwêreld dikwels in die noute kom nie, maar die breër kultuur waarbinne alle Christusgelowiges vandag in SA leef is ‘n kultuur wat ‘n volgeling van Christus soos ‘n melaatse behandel. Jy dweep, jy is eng en gevaarlik. Binne ons kultuur is dit jy – wat vashou aan ‘n Bybelse morele waardesisteem – wat die moeilikheidmaker is!
Hoe reageer ons binne ‘n leefwêreld wat nie aldag vir ons op ‘n blommebed ronddra nie?
Dit is baie duidelik dat Dawid nie ‘n goeie dag beleef het nie. Maar dit is belangrik om te sien hoe hy met ‘n oog kyk wat dinge sien wat die sigbare te bowe gaan: Dawid sien die hand van die Here en hy hoor die stem van die Here. Hy word onregverdiglik aangeval en beskuldig en lelike goed word hom toegesnou – maar Dawid sien en hoor iets totaal anders.
Die probleem is dat ons van nature so geneig is om dit wat sigbaar en voor hande is, te glo! Dan oorheers die negatiewe so maklik. En ons dink die Here is buite die prentjie. Hy is afsydig en negatief. Asof Romeine 8:37 nie waar is nie: Oorwinning IN die probleme. Hy wend alle dinge aan vir ons ten goede en vir Sy eer.
DRIE BEGINSELS OM ALTYD VOOR OË TE HOU:
1 Vers 1-4 > DAAR IS ALTYD DIEGENE WAT JOU PYN WIL GEBRUIK VIR HULLE EIE VOORDEEL
Verse 1-4 > Dawid ontvang ‘n geskenk van Siba, Mefiboset se amptenaar.
Dawid vra toe vir Siba ‘n heel natuurlike vraag: “Waar is jou meester (Mefiboset)?”
Kyk na Siba se antwoord (v 3): “Nee wat, hy sit in Jerusalem, want hy dink mos hy gaan nou koning word…”
Onthou egter: Dawid het uit Jerusalem gevlug omdat Absalom homself tot koning verklaar het. Dit sou geen sin maak dat Mefiboset koning sou word nie!
Hoofstuk 19:24ev > Wanneer Dawid uiteindelik weer terugkeer na Jerusalem > Kyk na Mefiboset se gesindheid. Totaal ander storie. Mefiboset verklaar dat hy ten volle aan Dawid se kant is en glad nie belangstel in die koningskap nie. Hy is maar net te bly dat Dawid terug is!
Hierdie Siba wou net Dawid se swaarkry uitbuit vir eie gewin – dis al. Maar hy kom onder die voorwendsel van vriendskap na Dawid toe. Maar eintlik het hy net sy eie agenda. Sou Dawid terugkeer as koning, sou Siba goed af wees want hy het mos nou vir Dawid gepamperlang geskenke gebring. As Absalom koning word dan is hy net so goed af. Wen-wen situasie.
Kyk uit vir mense wat jou swaarkry wil uitbuit vir hulle eie agenda.
Ook vir mense wat meer subtiele pogings aanwend om jou swaarkry te misbruik.
Hoe gebeur dit? Jy kry swaar – fisies, emosioneel, familie. En dan kom verseker mense jou dat hulle vir jou bid. Maak ‘n hele storie daarvan.
Maar, is dit dan nie ‘n goeie ding om vir iemand wat swaarkry te bid nie? Natuurlik. Vraag is wat die motief agter alles is? Daar is diegene wat die mooiste goed sê en so geestelik is dat jy met hulle kan toor, maar eintlik wil hulle net geestelike status hê in die oë van ander. Dis waarom hulle jou so graag vertel dat hulle vir jou bid. Hulle wil hê jy moet weet hoe geestelik hulle is en hoe baie hulle omgee en hoeveel medelye hulle het. Wil gesien word deur mense. Facebook: gebruik FB om hulle geestelike status in die oë van die wêreld te bevorder. ‘n Vertoning van geregtigheid.
Daar kom mense na jou toe wat soos vriende lyk maar eintlik jou situasie wil misbruik vir eie gewin.
2 Verse 5-14 : WANNEER JOU VYANDE OP JOU AFKOM, LUISTER NA DIE HERE SE STEM SELFS BINNE-IN DIE GERAAS VAN JOU VYAND
Simeï verskyn uit die niet en begin op die koning skreeu en vervloek hom en gooi hom met klippe. Sjoe!! Hy verag absoluut vir Dawid en sy mense. Verse 7-8: “Trap hier uit jou moordenaar en skurk! Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou vat Absalom dit van jou weg. Nou sit jy in ellende omdat jy ‘n moordenaar is!”
Onthou: Simeï praat met die Here se gesalfde!
“Jy is niks werd nie en God vervloek jou!”
Abisai vra toe vir die koning: “Mag ek net hierdie ou vrekmaak asb?” (My parafrase). “Wie is hierdie dooie hond om so met die koning te praat? Kan ek net sy kop gaan afkap asb?”
Dawid se asemrowende reaksie (v 10-11): “Los hom net! Dalk het die Here hom beveel om my te vloek.”
Merkwaardige respons! “My eie seun wil my doodmaak – maak dit regtig saak wat hierdie ou sê? Los hom uit! Wat meer kan hy doen? Is dit erger as my eie seun se aanslag op my lewe? Los hom. Dalk het die Here hom beveel om my dood te maak. Dan sal niemand dit kan keer nie”.
Waarom het Dawid so reageer? Hoe kan hy iets sê soos: “Hierdie selfaangestelde armsalige doemprofeet doen dalk God se werk”.
Dawid weet dat hy (wat Dawid is) eintlik ten diepste God se vloek verdien! Nie agv Saul nie. Maar sy owerspel en moord. En dat hy niks gedoen het toe sy seun sy dogter verkrag het nie. En niks gedoen het toe Absalom vir Amnon vermoor het nie. Hy weet hy verdien die vloek. En hy gee hom oor aan die Here se soewereine beheer. Dalk is Simeï reg!
Hoor nou mooi: onafhanklik van Simeï se verkeerde bose bedoeling, hoor Dawid die Here se stem in wat Simeï kwytraak.
Ons doen baie goed om die Here se stem te hoor in wat ons vyande alles gorrel en nie die vyande se stem te hoor nie!
Vers 12 > “Dalk let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking”
‘n Beter vertaling van vers 12 > Meer korrek > Dawid sê eintlik iets baie meer radikaal. “Mag die Here let op die verkeerde wat ek gedoen het en aan my goedheid bewys vir my ongeregtighede.”
Vreemde ding om te sê, nie waar nie? Klink onmoontlik. “Dalk wil die Here my ongeregtighede sien en my genadig wees”.
As mens die onvervalste vrye genade van God ken, is dit nie so ‘n vreemde ding om te sê nie. Dis eerder ‘n stuk verwondering. Dawid ken sy eie hart maar te goed MAAR TOG ken hy die genade van God nog beter!!! Hier is die onverklaarbare wonder: TERWYL Dawid sy sonde sien, weet hy dat hy bevry en vrygespreek is.
Simei funksioneer byna soos die satan/aanklaer (Open 12) hier. As hy verklaar dat Dawid vervloek is, praat hy die waarheid – a.g.v. Dawid se sondes. Wat maak ons as die duiwel ons aankla en alles die waarheid is?
‘n Mens kan dit slegs in Christus verstaan:
Galas 3:13 > “Christus het ons losgekoop van die vloek deur in ons plek (AS ons) ‘n vervloekte te word”
Christus het op só ‘n manier AS ONS ons vloek gedra en dit vernietig dat ons na ons sonde kan kyk en bevryding en vryspraak raaksien!! Op so ‘n manier het die Here Jesus homself met ons vereenselwig dat Hy self ons voortdurende vryspraak is!
Die hele vloei van die intensie van hierdie paragraaf is nie dat Dawid wil sê “arme ek” nie. Sy oog is op die Here. Hy sien die Here in dit alles. Hy sê nie: “Dalk sal die Here sien hoe verkeerd ek hanteer word en my dan jammer kry nie”. Hy sien die HERE as een wat agter Simeï se optrede sit. Maar dan sien hy die Here se genade ten spyte van die vloek. En hy onderwerp hom volledig daaraan. Hy is nie in vrees en bewing vir die vloeke wat Simeï oor hom laat reën en verwag dat een of ander bose mag nou op hom sal neerdaal nie. Ons moet dit mooi raaksien: Die vloeke is ZERO want die Here se seën en vryspraak is ALLES! Dawid se oog is gefokus op wat nie gesien kan word nie (2 Kor 4:18).
Hoe maak ons met die aanklaer – wie se argumente baie geldig is? Hanteer hom volgens Openbaring 12:10-12!
3 Verse 15-23 : TE MIDDE VAN ONS SWAARKRY VIND ONS ONS RUS IN DIE SEKERHEID VAN DIE HERE SE VOORSIENENDE TEENWOORDIGHEID
Terwyl Dawid se vyand in sy ore raas, is Dawid bewus van die Here se teenwoordigheid in dit alles en dat Hy soewerein is binne-in dit.
Verse 15ev. Nou kom Absalom in Jerusalem aan. En hy vra Agitofel se advies oor wat die volgende stap moet wees.
Agitofel se advies is: Absalom, maak ‘n sterk publieke verklaring dat jy die koningskap oorneem.
In die ou tyd was dit die gebruik dat, wanneer ‘n koning ‘n ander koning se ryk oorneem, hy ook die verslane koning se harem oorneem. Gewoonlik by wyse van ‘n kontrak.
Dis wat hier gebeur – vulgêr soos dit is. Dit was so oop en bloot en sigbaar gedoen dat elke mens geweet het wat aangaan. Absalom slaan ‘n tent op waar hy by sy pa se byvrouens kon slaap ten aanskoue van die hele volk!
Maar hoe op aarde pas dit in by : “RUS IN DIE SEKERHEID VAN DIE HERE SE VOORSIENENDE TEENWOORDIGHEID”??
Onthou u wat het die Here in hoofstuk 12 vir Dawid gesê? “Jou sonde is ten volle vergewe. Maar jou sonde sal konsekwensies hê. Jou vroue sal ‘n ander man s’n word – ten aanskoue van die hele volk”.
Dit is ons troos. Die verkeerde man, die bedrieër, Absalom – is in die Here se hande. Hy dink hy doen wat hy wil en wat Agitofel voorsê, maar wat hy nie besef het nie, is dat hy eintlik al die pad besig is om uitdrukking te gee aan die gevolge van sy pa se sonde met Batseba – soos die Here lank tevore reeds voorsê het.
Op ‘n misterieuse manier was die Here daar werksaam en was Hy teenwoordig en het Hy die bose Absalom in Sy hand gehad.
Wat ‘n geweldige troos. In ons slegste dae kan ons bely dat die Here daar is en dat Hy soewerein is – al verstaan ons nie hoe dit werk nie. Dit lyk dan asof Absalom se bose hart alles oorheers! Moenie glo nie! Op ‘n misterieuse wyse is die Here God in Sy soewereiniteit werksaam!
Byvoorbeeld: Wie het vir Christus oorgelewer? Was dit Judas of God die Vader? Antwoord: beide! Wie het vir Josef oorgelewer? Sy broers of God? Antwoord: beide. In Genesis 50:20 sê Josef vir sy broers: “JULLE wou aan my kwaad doen deur my aan Egipte te verkoop, maar GOD wou daarmee goed doen”.
Agter dit skuil daar ‘n misterie. Bose mense tree op volgens hulle sondige harte en volgens hulle vrye wil en tog dien hulle die wil en bedoeling van God! Totaal onmoontlik om dit te verstaan of te verduidelik. Kan slegs jubel en bly wees en vrede geniet en rustig wees.
Hoe werk dit?
Hy is God en nie ons nie.
Die voorsienende teenwoordigheid van ons Vader is teenwoordig in alles. Selfs op die donkerste dae.