TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 25: Krisis wys wat binne is

2 SAMUEL 15

 

Die wêreld waarin ons leef is anders as die een wat die Here oorspronklik geskep het. Die oorspronklike een was absoluut goed. Dit het Hyself gesê (Gen 1:31). Toe Hy dit klaargemaak het, het Hy gerus (Gen 2:2) – nie omdat Hy moeg was nie, maar soos ‘n skilder rus nadat hy/sy sy handtekening onderaan sy meesterstuk geplaas het en terugtree en dit geniet en dit vier. Die rus van ‘n skilder, is die viering van perfeksie!

 

Toe Christus op die kruis sê: “Dit is klaargemaak” toe gaan God in Sy rus in (Hebr 4:10). Daardie rus/sabbat = Die ewige viering van die perfeksie waarmee Hy vir jou herskep het deur Sy klaargemaakte kruiswerk (Hebr 10:10,14). Die rus/sabbat waarmee Hy gerus het na die skepping was ‘n vooruitwysing van die ewige rus/sabbat waarmee Hy rus na die HERskepping deur Christus se dood en opstanding. En moenie vergeet dat hierdie herskepping reeds voor die skepping en die sondeval plaasgevind het! Die Lam is geslag voor die skepping reeds (Open 13:8), wat nog te sê voor die sondeval! “Nog voordat tyd begin het” (2 Tim 1:9). God se hardnekkige liefde was nie vir een oomblik koudgesit deur die sondeval nie!

 

Ons kom tot rus in Sy rus (Hebr 4:10). Dis wat geloof is. Geloof vermag niks. Geloof verander nie God se opinie oor my van sleg na goed nie! Geloof maak die verrassende ontdekking dat God in Sy ewige Sabbat ingegaan het omdat Hy die perfeksie vier waarmee Hy my herskep het in die Lam op die kruis en voor die skepping reeds!

 

Die probleem is dat die gelowiges wat in Sy rus tot rus gekom het binne ‘n wêreld leef wat hierdie rus nog nie ontdek het nie! Alles het mos verander by die sondeval. Rebellie en sonde het ingekom. Die mens het ‘n leuen begin glo – die leuen dat hy as mens met eie meriete moes probeer word wat hy al klaar was – beeld & gelykenis van God. Nou is die wêreld deurmekaar en geskend. Daar is absoluut niks wat sonde nie besmet het nie. Elke graf in die begraafplaas is daarvan getuie. Die getuienisse van hierdie korrupsie is elke dag rondom ons.

 

Gelowiges leef binne ‘n gevalle wêreld wat nie is wat dit oorspronklik was nie. Maar die gelowige is ook nie meer wat hy/sy altyd was nie. Die gelowige is ‘n nuwe skepping (2 Kor 5:17), oorgebring van die dood na die lewe (Efes 2:5). Die ou dinge het verbygegaan. Alles het nuut geword. Die gelowige is iemand wat verander is. En hierdie verandering het plaasgevind toe Jesus Christus in die plek van en as die mens uit die dood opgestaan het. Efes 2:5 sê dit so perfek helder duidelik.

 

Die situasie is nou dat ‘n nuwe skepsel binne ‘n gevalle wêreld leef. Daarom behoort hierdie nuwe skepsel anders te reageer op die gevalle wêreld as wat die ongelowige – die mens wat nog nie die Blye Boodskap ontdek het en omhels nie – doen. Die nuwe skepsel is nuut gemaak deur ‘n Godsdaad en die inwonende Heilige Gees. Dag na dag word die nuwe skepsel meer en meer verander om die beeld van Christus gelykvormig te word (2 Kor 3:18).

 

Dit is dus logies dat die manier hoe die Christusgelowige respondeer op die gevalle wêreld, radikaal anders sal wees as wat die nie-gelowige reageer.

 

Ons moet hierdie teologiese beginsels in gedagte hou wanneer ons na 2 Samuel 15 kyk.

 

Wat het hier gebeur? Wat het in die voorafgaande hoofstukke gebeur? Koning Dawid se seun Amnon was met groot wellus vervul teenoor sy suster Tamar totdat dit op ‘n verkragting uitgeloop het. Daarna het hy haar verag en verwerp. Wellus en haat loop hand aan hand. Op die ou end het hulle broer Absalom vir Amnon vermoor vir wat hy aan Tamar gedoen het. Daarna het Absalom gevlug. Hulle pa Dawid het van alles geweet maar nie veel daaraan gedoen nie. Later is Absalom en Dawid oënskynlik versoen, maar dit was nie werklik versoening nie. Net ‘n vertoning. Dat dit slegs ‘n vertoning was, weet ons uit hoofstuk 15.

 

Verse 1-19 > Absalom se rebellie en sy sameswering teen sy pa.

 

IN TYE VAN WERKLIKE KRISIS WORD ONS WARE KARAKTER DUIDELIK.  ‘n Krisis maak dit duidelik wie ‘n mens nog altyd in jou binneste was. Wanneer ‘n glas water gestamp word, spring dit wat werklik binne is, uit! Water! Die stamp laat dit wat regtig binne is, uitkom!

 

Hebreers 10:27 > Die Here laat soms dinge bewe (krisisse) sodat dit wat regtig saakmaak kan bly en dit wat nie regtig saakmaak nie, vernietig kan word.

 

Dawid se aanvanklike mislukking het sy hele familie skade aangedoen. Ons leef immers nie in isolasie nie. Nooit kan ‘n mens dink: “dis my lewe, dis my sonde, dit het niks met niemand te doen nie.” Dis gewoon nie waar nie.

 

‘n Mens kan sekerlik nie hou van dit wat in 2 Samuel 15 staan nie. Dis lelik. Dis nie mooi en goed nie. Maar die Skrif maak nie feeverhaaltjies bekend nie. Die Skrif maak realiteite bekend. Dit is hoe die lewe regtig is.

 

Die unieke van die Skrif is egter: Te midde van al die vuilgoed en duisternis, skyn die bevrydende genade van God deur!

 

Kyk maar mooi hoe skyn die bevrydende genade van God deur in Dawid se lewe.

 

Ons sien dit in die massiewe kontras tussen Dawid en Absalom.

 

Bo-langs gesien was daar positiewe dinge in Absalom se lewe. Byvoorbeeld: Dat hy ongelukkig en ontsteld was oor wat sy broer Amnon aan Tamar gedoen het en die onreg wat daarmee saamgaan, is iets positief. Ek hou daarvan.

 

Die probleem is die res van die verhaal – wat ‘n diepe korrupsie binne-in Absalom se hart uitwys. Na 2 jaar vermoor hy vir Amnon. Dawid se gelatenheid en die manier hoe Dawid as pa gefaal het, het eintlik Absalom se ontnugtering en opstand gevoed.

 

Nou sien ons in hoofstuk 15 dat die moord op Amnon eintlik slegs die kleedrepetisie was vir wat nog sou volg. Nadat hy vir 2 jaar Amnon se moord beplan het, het hy daarna 4 jaar beplan aan sy pa se ondergang! Vier jaar lank beplan hy hoe hy sy pa se koninkryk sal inpalm en sy pa uitwis.

 

Verse 1-12 > Die arrogante berekende opkoms van ‘n man wat op ‘n wederregtelike manier koning wil word.

 

In hierdie verse sien ons hoe Absalom stap vir stap beplan om van sy pa ontslae te raak.

 

Absalom was vas oortuig dat hy die regte ding doen. Hy was oortuig dat sy pa vervang moes word, dat sy pa nie meer ‘n besef van reg en geregtigheid gehad het nie. Sy pa het nie sy verantwoordelikheid nagekom in die Tamar-saak nie. Daar moes ‘n verandering in leierskap kom. So voel Absalom.

 

Sonde werk altyd op hierdie manier: dit vind ‘n manier om homself te regverdig. Spreuke 21:2 > ‘n Mens is altyd reg in sy eie oë. Die waarheid is: ‘n mens kan jouself van enigiets oortuig. Ons is altyd geneig om onsself te glo!

 

Absalom werk op ‘n berekende manier. Hy begin doelgerig homself bemark as ‘n bevoegde leier. Hy ry op ‘n nuwe wa met 50 man wat voor hom ry en sy aankoms aankondig. Hy skep die beeld van om “iemand” te wees. Ons almal weet hoe belangrik iemand se “beeld” in politiek is – vandag nog. Absalom sorg dat hy vroeg elke dag daar in die sentrum is waar mense sake doen en almal hom sien en hy almal kan groet. Hy sorg dat hy ‘n charisma uitstraal na die mense toe en sy arme pa maar in die skadu staan. Hy weet hoe om met mense te werk. Hy kweek ‘n beeld en reputasie as ‘n man wat verstaan, wat luister en wat medelye het. Die mense voel later: sjoe, hier is nou ‘n man wat aan ons kant staan! Hy is nie sommer ‘n gewone soort prins nie!

 

Intussen is Absalom net oor homself begaan – sy eie mag. Hy wil sy pa se koninkryk inpalm! Hy het die mense mislei. Dis pure bedrog. Vir 4 jaar lank.

 

Toe wil hy by sy pa weet of hy Hebron toe kan gaan om die Here daar te gaan aanbid. Dit is sy laaste stap: Om sy bedrog in ‘n geestelike versiering te verpak. Die verpakking moet reg wees: Dit moet die Here se naam daarby aanhaak. ‘n Godsdienstige kersie op die koek. Hy wou hoegenaamd nie by Hebron gaan aanbid nie, want op pad daarheen stuur hy boodskappers oor die hele land uit om die mense te mobiliseer om sy pa se regering omver te werp. Hebron was die plek waar Dawid tot koning gesalf was.

 

U sien, die krisisse wat Absalom deurgemaak het in sy familie, het nie van hom so ‘n koue, selfgesentreerde skurk gemaak nie – dit het maar net duidelik gemaak dat hy dit nog al die tyd was! Toe die krisisse vir Absalom skud, kom dit uit wat in elk geval binne-in hom was! Die krisisse het nie van Absalom iets gemaak nie, maar net duidelik gemaak wat hy in elk geval was.

 

Kontrasteer dit nou met Dawid (vanaf vers 13)

 

Nederig, onderwerpende, hartseer koning.

 

Hoe reageer Dawid op die berigte van wat Absalom besig is om aan te vang?

 

Hy reageer op ‘n baie koninklike manier. Nie kwaad. Nie woedend. Geen uitbarsting. Hy bly kalm. En hy beveel sy dienaars: Ons moet hier wegkom voordat hulle hier kom. Hy is besorg oor almal wat in sy diens is. Hyself verlaat nie die stad alvorens hy nie seker is dat almal veilig is nie. Hy stel die ander se belange & veiligheid bo sy eie.

 

Vers 19 > Terwyl almal so voor Dawid verby beweeg, vra Dawid vir Ittai – ‘n man uit Gat – “Waarom gaan jy ook saam met ons? Jy is ‘n uitlander. Waarom bly jy nie hier en ondersteun die nuwe koning Absalom nie?”

 

Kyk na die vreemdeling se respons op Dawid se woorde.

 

Lig in die duisternis van bedrog. Liefde en medelye uit ‘n onverwagte oord. ‘n Vreemdeling aan wie Dawid niks verskuldig is nie. Tog wil Ittai hom met sy lewe aan Dawid verbind. Om hom aan Dawid te verbind was soos om sy eie doodsertifikaat te onderteken – dit het hy geweet. Dawid se eie seun en erfgenaam wil hom doodmaak maar hierdie vreemdeling verbind hom aan Dawid. Verbondsterminologie wat die man gebruik: “Voor die Here verklaar ek: Ek bly by u, my koning, in lewe en in dood”.

 

Verse 24-26 > Die hartklop van Dawid. Die Leviete het die verbondsark uit die stad gedra, maar eers gewag totdat al die mense uit die stad was. Toe beveel Dawid vir Sadok om die Ark terug te vat in Jerusalem in. “As die Here wil, sal Hy my terugbring hierheen sodat ek weer die Ark kan sien. Indien nie, sal ek dit aanvaar. Hy kan met my maak soos Hy dit goedvind.”

 

Die krisis wys ook wat werklik binne-in Dawid was! Hy weier om toe te gee aan die gedagte wat baie Israeliete gehad het: As jy die Ark het, het jy outomaties vir God. “Neem die Ark terug na sy regmatige plek. As die HERE wil hê dat ek moet terugkom, sal HY my terugbring.”

 

Hierdie krisis bring dit na vore wat werklik in Dawid se hart is. ‘n man na God se hart. Hy besef: herstel tot koning hang af van die Here se guns en nie die Here se Ark nie. “Ek het nie die Ark nodig nie. Ek het die guns van die Here nodig. Ek het nie die simbool van Sy teenwoordigheid nodig nie. Ek het Sy teenwoordigheid nodig. Indien Sy guns op my is, sal ek terugkeer as koning. Indien nie – Sy wil is die beste. Wie is ek? Hy is God.”

 

Krisisse openbaar die ware karakter van ‘n mens.

 

Dis maklik om op te staan en te sê: Ek glo aan die soewereiniteit van God. Dis nie so maklik om dit te bely wanneer jy in krisis is nie. Byvoorbeeld as die dokter vir jou sê: “Dit is kwaadaardig”. Om dan te bely: Ek glo in ‘n soewereine God.

 

Krisis openbaar vir Dawid as ‘n sagte, gebroke, kind van die Here wat sy lewe oorlaat aan ‘n soewereine God.

 

Vers 30 > Nou word daar aan Dawid berig gebring: “U regterhand, Agitofel, het oorgeloop na Absalom toe.” En Dawid se reaksie? Dadelik roep Dawid uit: “O Here, wys vir hom dat hy dwaas is. Laat daar tog niks kom van sy dwaasheid nie.”

 

Hy het nie besef hoe gou die antwoord op sy gebed sou kom nie!

 

Gusai kom onverwags by Dawid aan en Dawid kry geleentheid om hom tot in Absalom se binnekring te stuur sodat hy Agitofel se planne kan gaan verydel.

 

U sien – om aan die soewereinteit van God te onderwerp beteken nie dat ons agteroor sit en sien wat gebeur nie. Dawid was slim en hy het planne gemaak. Hy sorg dat hy manne in die binnekring van Absalom het wat informasie kan oordra. Nie vir een oomblik dink hy sy herstel as koning is afhanklik van sy spioene in Absalom se binnekring nie. Nee, sy lot is veilig binne die soewereiniteit van die Here. En tog is Dawid aktief!

 

Ons kan dit vergelyk met ‘n kankerpasient wat absoluut oorgegee is aan die soewereiniteit van die Here – en tog vir mediese behandeling gaan! Om werklik die Here se vertrou vir iets beteken nie dat jy passief sit en wag vir die foon om te lui nie!

 

Die hoofstuk sluit af met Dawid, die regmatige koning, kaalvoet, al wenende op die Olyfberg! Hy stap deur die oostelike deel van Jerusalem, oor die Kidronspruit en uit teen die Olyfberg. Al huilende. Die regmatige koning – verworpe!

 

Hoe bekend klink dit nie?!

 

‘n Paar eeue later sou die Groter Dawid, die regmatige Koning – Jesus die Christus – ook dieselfde Olyfberg opgegaan (Joh 18:1). Deur die Kidronspruit en in Getsemane aan die voet van die Olyfberg. Die Groter Dawid loop in die letterlike voetspore van koning Dawid. Verworpe deur Sy mense en deur die hele menslike geslag. Terwyl Sy sweet soos bloed is. Nie oor Sy omstandighede nie. Maar oor Sy mense wat hulle eie enigste regmatige koning verwerp het. Oor die mens se duisternis.

 

U sien dis maklik om te sê: “Ons as die Here se mense, moet anders optree binne hierdie gevalle wêreld as wat mense wat nie die Evangelie glo nie sou optree. Ons reaksies op omstandighede moet anders wees. Ons reaksies en optrede binne krisisse openbaar dit wat werklik binne-in ons is. Jy is ‘n nuwe skepsel daarom moet jy anders reageer op omstandighede as wat ‘n ongelowige sal doen”. Dis maklik om te sê: “Wanneer krisisse ‘n gelowige rondstamp moet dit wat uitkom in lyn wees met ‘n mens wat ‘n nuwe skepping is”.

 

Dis maklik om dit vir mekaar te sê, die Bybel toe te maak en huistoe te gaan.

 

Maar dit kan nooit so werk nie! Ons kan nooit sê MOET nie. Ons kan slegs sê SAL. So lank as wat ons sê ons MOET soos nuwe skepsels reageer binne krisisse, is ons nog steeds by die Wet en het ons nog nie deurbeweeg na die bevrydende Evangelie nie! Die Evangelie is radikaal en rewolusionêr, want die Evangelie maak ons vry om te SAL!

 

Hoe kan dit wees?

 

Omdat – toe Jesus oor die Kidronspruit aan die voet van die Olyfberg in Getsemane ingeloop het en bloed gesweet het, het God Homself met ons binne-in ons gevalle menswees kom verenig! Hy ly binne-in en onder ons duisternis om ons te verenig met God self. Hy stel Homself onder ons verwerping en so ontmoet Hy ons in die diepte van ons duisternis en verenig Hy ons met Sy Vader en Heilige Gees. Olyfberg/Getsemane = Jesus het Homself vrywillig aan ons verwerping/vervreemding onderwerp.

 

U sien: Vader/Seun/Heilige Gees het ‘n weg gevind om Hulself met ons te verenig IN ons gebrokenheid en duisternis en ons sodoende in te sluit by die oorvloedslewe van God self! Hy gebruik ons boosheid as ‘n weg om ons binne-in ons boosheid te vind en ons aan Homself vas te knoop.

 

Wanneer ons tot die persoonlike ontdekking kom van die afgehandelde werklikheid hiervan, SAL ons begin vrugte dra! Nie MOET nie – maar SAL!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00