TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 24: Versoening wat versoening is
2 SAMUEL 14
Om “versoen” te wees beteken: Verhouding tussen vyandige partye is ten volle herstel. Daar is weer volle harmonie. Vriendskap is herstel.
In die wêreld waarin ons leef, waar die oorgrote meerderheid mense in die strik van sonde vasgevang is en nie die kruisversoening met God glo en daaruit leef nie – is daar ‘n konstante behoefte aan onderlinge versoening. Sonde, leuens & selfgerigtheid veroorsaak dat mense voortdurend haaks is. Verhoudings ly al die pad. Selfs binne die kerk. Verhoudings versuur so maklik. Voortdurende behoefte om harmonie te herstel. Elke tussen-menslike versoening benodig genade en vergifnis.
Hoe groter en dieper die skade is, hoe moeiliker is versoening. Wanneer jou seun jou dogter verkrag het, raak dinge taai. En veral wanneer jou ander seun sy verkragter-broer vermoor, raak dit nog moeiliker. So iets word nie opgelos deur ‘n halfhartige jammer-sê en ‘n drukkie nie.
Koning Dawid se familie was in ‘n groot gemors. En tot ‘n groot mate was dit te wyte aan sy eie doen en late.
Hy het owerspel gepleeg met Batseba. En dit het daartoe gelei dat sy swanger geword het. Hierop het Dawid haar man laat doodmaak. Owerspel wat weggesteek word agter moord is nie juis ‘n Goddelike oplossing nie.
‘n Jaar later het die Here vir Natan na Dawid gestuur en hy het God se vryspraak en vergifnis ontdek. Maar die konsekwensies en gevolge van sy dwaasheid het voortgeduur. Die kind wat Batseba in die wêreld gebring het, het gesterf. Daarna is Salomo egter gebore en die Here het vir Dawid oorwinning oor sy vyande gegee. Dinge het mooi geloop. Maar toe oorweldig wellus sy seun Amnon en hy verkrag sy suster Tamar en verwoes haar lewe. Twee jaar later vermoor Absalom sy broer Amnon vir wat hy aan hulle suster gedoen het. En Absalom vlug. Hy word eintlik ‘n banneling.
Dit is op hierdie punt waar 2 Samuel 14 aansluit.
Vanaf hfst 11 word hoofstuk na hoofstuk aangetoon watter verwoestende uitwerking sonde het – dat die mens homself van God vervreem terwyl God nie van die mens vervreem is nie. En daardie vervreemding veroorsaak eindelose moeilikheid tussen mens en mens. Dit lyk oënskynlik asof dit pret is, maar dit vernietig die mens. Dit is ook die groot rede waarom God die sonde haat – omdat sonde Sy kosbare geliefde beelddraers verwoes en vernietig. Dit is vir Hom ‘n baie swaar saak dat enigeen van Sy geliefde beelddraers die geringste letsel opdoen.
Hierdie hoofstukke wys watter behoefte die mensdom aan ‘n verlosser het. Dat die mens nooit homself uitgelig kan kry uit die moeras nie. Hy moet uitgehaal word. Dit is nadat jy uitgehaal is, wat jy kan vlug – soos Josef vir Potifar se vrou. As jy nie uitgehaal is nie, wil jy redeneer met wellus en val jy elke keer weer. Dan besef jy nie hoe vernietigend dit in werklikheid is nie. “Hoe naby kan ek kom sonder om te val”. Maar, as jy uitgehaal is vra jy: “Hoe ver kan ek wegbly?”
Hfst 14 klink goed: Hier is immers iemand se inisiatief om ‘n familie te versoen ná ‘n groot krisis. Tog is dit in werklikheid ‘n baie lelike hoofstuk. Vyandskap loop dwarsdeur die hoofstuk. Op die oppervlakte lyk dit na iets wonderlik, maar onder die oppervlak = reuk van die dood. Ja, daar was ‘n poging om Absalom terug te bring en versoening te bewerk tussen hom en sy pa – maar sonder sukses.
1 Manipulasie en berekende woordkeuse bewerk net ‘n oppervlakkige versoening
Hier is nie ‘n eerlike omgaan met die probleem nie. Geen eerlike inkyk in wat regtig die verdeeldheid veroorsaak het nie. Die werklike kern-wortel van die sonde word nie oopgemaak en hanteer nie.
Wat ons hier kry is iemand wat manipulasie gebruik en met woorde speel om ‘n oënskynlike versoening te bewerk. Maar dis net versoening op humanistiese menslike vlak.
Hoofstuk 13:39 en 14:1 is die sleutel om die hoofstuk te verstaan. Baie moeilike verse. Lees dit weer.
Probleem: Suggereer hierdie verse dat daar in Dawid se hart ‘n begeerte was om liefde en ‘n verhouding met Absalom te kon hê? Dawid verlang hierna en mis dit en sal alles doen om dit herstel te kry – so klink hierdie verse.
Ek dink egter nie dit is wat daar staan nie.
Lees ons die res van hfst 14, dan sien ons – Dawid wou nie regtig met Absalom versoen word nie. Wanneer hy hom huis toe bring, sê Dawid: “Hy mag nie in my teenwoordigheid kom nie”. Klink nie of hy so sterk verlang het om met sy seun reg te wees nie!
Ek dink wat hfst 14 sê is dat Dawid keelvol was vir Absalom en dat hy opgegee het met hom. Vers 1: “Die koning se hart het uitgegaan.” Hebreeus: “Die koning se gedagte was op Absalom”. In die Hebreeuse teks is daar niks wat suggereer dat dit ‘n positiewe gedagte was nie! Baie vaag. Ek dink dit was juis negatief. Die res van die hoofstuk bevestig dit.
Tussen hoofstukke 13 & 14 : ‘n Verwarde koning, verskeur in sy emosies omdat daar vreeslike goed in die familie gebeur het, seergemaak oor ‘n klomp goed wat hyself aangevang het en wat sy kinders gedoen het – met een dogter verwoes en ‘n ander seun dood. En dit terwyl sy erfgenaam ‘n moordenaar is wat in ballingskap sit. Hierdie man – Dawid – is verward. Hy weet nie herwaarts of derwaarts nie. Sy gesindheid teenoor Absalom is nie goed nie.
Joab kom nou met ‘n plan hoe om herstel & versoening te bring.
Onmiddelik moet daar ‘n rooi vlag opgaan. Want menslike plannetjies kan nie sonde en die gevolge van sonde herstel nie. Dit is egter wat Joab wil doen. Wanneer daar sonde, boosheid en perversie in die mense rondom ons of in ons eie harte teenwoordig is, kan óns dit nie herstel nie. Dis ‘n illusie om so te dink.
Joab se plan: Hy kry ‘n vrou om met ‘n stuk toneelspel na koning Dawid te gaan en voor te gee of sy rou oor haar man wat dood is. En dat sy rou oor haar seun wat deur sy broer vermoor is. Verder is haar familie teen haar gekant en hulle wil haar moordenaar-seun doodmaak. Nou versoek sy die koning om haar te help om haar seun te red.
Die koning beloof dat hy haar sal help.
Toe vra sy vir die koning: “Dis wonderlik dat u my wil help u majesteit. Maar waarom laat u dan nie u eie verjaagde seun Absalom terugkom nie? God self is altyd besig met planne om voortvlugtiges nie te verstoot nie. Waarom doen u dit dan? Waarom doen u niks aan u eie familie nie? U het ‘n seun in ballingskap en daar gaan stemme op dat hy doodgemaak moet word en u doen niks daaraan nie. U moet u kind huistoe bring.”
Dawid kry toe snuf in die neus: “Het Joab jou opgesteek om vir my hierdie storie te kom vertel?”
U sien: Joab wou die situasie/sisteem manipuleer.
Die koning gee toe. Hy sal Absalom laat huistoe kom. Daar sal versoening wees.
Maar kyk na vers 24 en dan weer vers 28: ”Laat Absalom na sy eie huis gaan – vir my mag hy nie sien nie”. Vers 28: “Vir twee jaar het Absalom nie die koning gesien nie.”
Is dit versoening? Nooit in mekaar se teenwoordigheid nie? Hebreeus: “Ek wil nie sy gesig sien nie. En hy mag nie my gesig sien nie.”
Jerusalem was nie ‘n groot plek nie. En as jy die koning se seun is, sal jy sekerlik in die omgewing van die paleis woon. Om vir twee jaar só te leef dat jy mekaar nooit sien nie – dit verg inspanning!
Hierdie versoening = absoluut kunsmatig. Na buite lyk alles reg. Maar daar is geen verhouding, vergifnis en liefde nie. Vyandskap en dood sit steeds daar. Waarom? Omdat daar nie met die wortel gehandel is nie. En die wortel is sonde.
2 Wat versoening moes wees blyk ‘n verdieping in die tweespalt te wees
Na 2 jaar, laat roep Absalom vir Joab sodat Joab ‘n ontmoeting tussen Absalom en sy pa kan reël. Maar daar is geen reaksie van Joab se kant af nie. Joab was 2 jr te vore so angstig om die versoening bewerkstellig te kry, maar nadat Absalom teruggekeer het, verdwyn Joab op die agtergrond.
Toe laat Absalom Joab se landerye aan die brand steek – om sy aandag te kry. Baie gou reageer Joab. Absalom sê: “Ek het jou twee keer gevra om te kom. Ek is bly jy kon dit hierdie keer maak! Sal jy asb vir my ‘n ontmoeting met my pa reël? Vir watter rede moes ek huistoe kom? Ek kon net sowel in ballingskap gebly het! En as ek iets so vreeslik verkeerd gedoen het, waarom my nie net doodmaak en klaarkry nie?”
Geen warmte, liefde, verhouding, vriendskap nie want dit is ‘n kunsmatige versoening wat deur Joab gemanipuleer is.
Vers 33 is hartverskeurend. Toe Joab vir Dawid Absalom se boodskap gaan oordra, laat Dawid vir Absalom na hom toe kom en soen hom.
Uiteindelik is daar versoening! Nee. Dit is ‘n voorbeeld van “te min, te laat.” Dawid bedoel dit nie en Absalom wil dit nie hê nie. Dit is alles net vertoon. Daar is niks erger as ‘n vertoon van liefde wat bitterheid en haat versteek nie!
Die klassieke voorbeeld hiervan: Judas. Soen van verraad. Die Judas-kus. Dawid was die voorloper. Hy’t die Judas-kus vir sy eie seun gegee.
Vers 1 van hfst 15 bevestig hoe vals hierdie versoening was. Absalom het begin planne beraam hoe om sy pa se koninkryk te vernietig.
Tot sover 2 Samuel 14.
Dit laat ons met die vraag: Wanneer ons versoening nodig het, hoe kom ons daar?
Antwoord: Ons moet eers ‘n ánder versoening ontdek en dan mekaar vanuit dáárdie patroon behandel.
Behalwe vir Dawid en Absalom, lees ons ook in die Bybel van ‘n ánder vader en seun – in Lukas 15. En daar sien ons wat versoening regtig is.
Een van die groot verrassings in Lukas 15: Daar was nooit verwydering & afstand vanuit die vader se perspektief & in sy hart nie! Die verwydering was aan die seun se kant!
Die pa het die heeltyd op die stoep gestaan en kyk of hy die seun gewaar. In die pa se hart was daar geen voorwaarde waaraan die seun eers moes voldoen om in die fees te kon deel & sy kindskap te geniet nie.
Die pa knip sommer die seun se bekeringsgebedjie kort. Om die waarheid te sê: die seun se bekeringsgebed was totaal oorbodig & onvanpas, want nog voordat hy kon praat, het die pa hom alreeds omhels en gesoen. Nog voordat die seun kon praat was die pa se hart vol medelye. Geen bekeringsgebed was nodig om sy pa se hart sag te maak nie. Sy pa se hart was nog nooit hard nie!
Hy soen die seun met ‘n soen wat glad nie dieselfde was as Dawid se soen nie. Die seun word die middelpunt van die fees en alles wat sy pa s’n is, is syne. Dis nie ‘n versoening wat op daardie moment plaasvind toe die seun terugkeer nie. Dis ‘n versoening wat nog die heeltyd in die pa se hart was. Die seun was nooit nie versoen nie! Die verwydering was in sy eie gemoed. Nie in sy pa se gemoed nie.
Soms dink ons die sonde veroorsaak dat God Homself van ons verwyder het, Sy rug op ons gedraai het, toornig en kwaad is. Intussen is die verwydering by ons kant!
Selfs by die oorspronklike sondeval was dit nie God wat verwydering tussen Hom en Adam geskep het na afloop van die val nie. Adam het self die afstand geskep! Adam het gaan wegkruip omdat hy onmiddelik verkeerd oor God begin dink het.
Toe God vir Adam gewaarsku het: “As jy van daardie boom eet, sal jy sterf” het Hy nie bedoel dat Hy (wat God is) vir Adam sal doodmaak nie. Hy het nie bedoel dat Hy die dood oor Adam sal bring nie. Hy het bedoel die sonde sal vir Adam doodmaak.
Dis waarom die Here Jesus op die kruis die wêreld met God versoen het en nie God met die wêreld nie (2 Kor 5:19). Tewens God self was juis die Een wat die versoening bewerkstellig het!
God het u werklik lief. WERKLIK lief!
Dis waarom die woorde van daardie vrou aan Dawid so waar is: “God ontwerp maniere om te verseker dat ‘n uitgestote mens nie van Hom vervreemd bly nie!!!!” (v 15). Sy hartklop is nie by uitsluiting nie, maar insluiting. Nie verwerping nie, maar aanvaarding. Nie vyandskap nie, maar versoening.
Die woorde van daardie vrou is 100% in Christus Jesus se kruisversoeningsbloed vervul. Ons hardnekkige sonde veroorsaak nie dat God Homself op ‘n afstand van ons stel nie. Hy agtervolg die sonde, vernietig dit, oorwin dit en maak ons aan Homself vas!
U IS met God versoen deur die kruisbloed van Christus – Sy eie hand het dit bewerkstellig. Dis volmaak gedoen – dit kan ons met sekerheid weet! Nie deur manipulasie of mooi woorde nie. Nie kunsmatig nie. Maar diep, blywend. ‘n Vaste fondasie. Ons mag dit glo. Deur God te glo beteken om Hom die eer te gee.
Nou is daar harmonie. En vyandskap is weg. Daar is vergifnis en die mag van selfgerigtheid is gebreek. Selfs die diepste skade & vernietiging is herstel. Ons is uitgelig uit die moeras waaruit ons nie onsself kon red nie. Die kern-wortel van ons probleem is aangespreek. Ons is in Sy teenwoordigheid gestel. Niks is kunsmatig nie.
Ons moet HIERDIE versoening ontdek… en dan moet ons gaan en mekaar vanuit daardie patroon hanteer.