TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 23: Familielewe in krisis
2 SAMUEL 13
Die Oscar Pistorius-sage het ‘n groot persentasie van mense aan die praat – op watter wyse ookal. Maar ons kon ook duidelik agterkom dat, indien ‘n mens nie self in daardie situasie betrokke is nie, dit beter is om liewers stil te bly. Tog geniet ons skynbaar ander mense se mislukkings – mits dit nie ons eie vel raak nie!
Dis verbasend hoe Christusgelowiges hulle vermaak (entertainment) soek in goed waarvan hulle self reeds 100% verlos is deur Christus se kruisbloed. Wat is byvoorbeeld die inhoud van die meeste TV stories? Feitlik 95% daarvan is presies die goed waarvan ons volkome bevry is deur die Seun van God se lewe. Maar ons vind dit nog steeds vermaaklik – solank dit net nie in ons eie lewens gebeur nie! Jy vind byvoorbeeld goed soos onderduimsheid, slinksheid, ontrouheid, buite-egtelikheid, wellus ensovoorts vermaaklik op TV – maar dit mag net nooit met jouself gebeur nie! Christene vind hulle vermaak in goed waarvan hulleself op die kruis verlos is! Is dit nie vreemd nie? Dis asof ons nie besef dat ons versadig is met die volheid van Christus nie en daarom weiding op ander plekke soek. Spreuke 27:3 > Vir die mens wat versadig is, is selfs heuning nie lekker nie!
2 Samuel 13 bring ons by ‘n dieptepunt van menslike mislukking. Dit is gewoon ‘n lelike hoofstuk – waarin die Here nie eens genoem word nie. Dit bevat al die bestanddele van ‘n treffer TV sepie.
‘n Man verkrag sy suster. En dan kom hulle ander broer by haar en sê: “Ag, moenie so ontsteld wees hieroor nie. Hy is immers jou broer. Dit sal sleg wees vir ons familie as jy so te kere gaan. Moenie hier rondloop en so ‘n “big deal” daarvan maak nie”.
Intussen haat hy sy broer en laat dit vir 2 jaar in sy binneste sluimer terwyl hy ‘n geleentheid soek om hom te vermoor. Tussen dit alles deur hoor hulle pa wat aangaan en hy is nie net effens ontsteld nie. Tog doen hy niks daaraan nie. “Pa” is natuurlik Dawid – koning van die Israel – die man na God se hart. En die hele gesin is ingesluit binne die Here se verbond van genade. Hulle is toe al die tyd nie Sepie-karakters nie.
Dit is 2 Samuel 13.
Daar was ‘n tydsverloop tussen hoofstuk 12 en 13. Dawid en Batseba het byvoorbeeld intussen nog ‘n seun gehad – Salomo. En nou kom hoofstuk 13 met ‘n verslag van die perversie binne die koninklike familie. Die perversie waaraan Dawid homself skuldig gemaak het, het konsekwensies tot in sy nageslag – al het die Here vir Dawid volkome vrygespreek. Maar dis asof sy nageslag steeds steier onder Dawid se vergryp.
Ons het almal vanoggend beleef hoe ongemaklik dit is om 2 Samuel 13 te lees. Maar dit is presies hoe die skrywer dit bedoel het om te wees. Hy wil hê ons moet iets aanvoel van die vernietigende konsekwensies wanneer mense ‘n leuen oor hulleself glo. Wanneer mense van hulleself glo dat hulle steeds aan Adam verbind is, kan dit lelike konsekwensies hê. Skrywers van boeke, flieks en sepies wend hierdie tipe goed aan om mense te vermaak en geld te maak, maar die Heilige Gees het ‘n ander opinie.
Dis ‘n verhaal wat bedoel is om te skok – om reaksie uit te lok.
Absalom, Amnon en Tamar was Dawid se kinders. En Tamar was baie mooi en ‘n maagd. Op ‘n stadium was Amnon met soveel wellus teenoor sy suster vervul. En hy was hoogs gefrustreerd omdat die situasie sodanig was dat hy haar niks kon aandoen nie. Hy was letterlik siek van ‘n verterende wellus.
Amnon het egter ‘n baie slim vriend gehad. Amnon vertel hom toe hoe erg hy sy suster begeer. Toe gee sy vriend hom die raad om te maak of hy siek is en vir Tamar laat roep om hom te versorg. Dan kan hy haar onverhoeds gryp en oorweldig.
Amnon dink dis ‘n goeie plan en hy maak toe presies so. Dit loop uit op ‘n verkragting. En bloedskande.
Weer eens: ‘n Verbondsgesin. Maar die verhaal is só geskryf dat dit van ons ‘n bepaalde respons wil hê. Skok en weersin. Simpatie met Tamar. Woede en weersin teenoor Amnon. Uitroep dat reg moet geskied.
Kyk na Tamar: Eers word sy mislei, dan geïgnoreer, dan verkrag, dan verag, dan verstoot en op die ou end verlate en verwoes.
Kru selfgesentreerdheid. Luister na Tamar se pleitroep. Sy word hanteer soos ‘n ding, nie ‘n mens nie. Amnon is – soos reeds gesê – dubbeld skuldig aan beide verkragting en bloedskande (incest).
Wellus is ‘n geweldige mag. In die kring van die Here se verbondsvolk was so-iets ondenkbaar. Tamar pleit en smeek haar broer: “Moet asb nie hierdie skande in die Here se gemeente pleeg nie. Asseblief, moenie! As jy vir pa gaan vra, sal ek met jou trou. Moet net nie dit doen en ‘n moreel-bankrot dwaas word nie!”
Maar wellus luister nie na rede nie. Amnon verkrag sy eie suster. En onmiddelik daarna verag hy haar met ‘n veragting wat groter is as wat sy sogenaamde liefde was. Hy jaag haar onmiddelik weg. Vir hom is sy slegs ‘n gebruiksartikel vir sy eie genot. In die Hebreeus sê Amnon vir sy dienskneg: “Kry DIT (nie “haar” nie) hier uit.” Jy sien, wellus is nie liefde nie. Ja, in die media word liefde en wellus gelykgestel, maar dis ‘n blatante leuen waarmee miljoene mense mislei word. Liefde is nie self-gefokus nie: 1 Kor 13:5
Daarna het Tamar in ‘n rouproses gegaan. Dadelik wil Absalom by haar weet: “Was Amnon by jou?” Amnon se wellus was glad nie so ‘n geheim nie.
Hierna het Tamar soos ‘n verstote waardelose mens gaan leef. Gebroke en geminag.
Wanneer ‘n mens dit lees kook ‘n woede in jou binneste – wat uitroep dat reg sal geskied. Probleem is dat ons op so ‘n manier blootgestel is aan hierdie tipe goed – in ons samelewing en deur die media, dat ons nie eens bloos wanneer ons dit lees nie. Wat op TV en in koerante aan ons opgedis word, is in elk geval veel erger. Hoe meer ons onsself blootstel, hoe meer afgestomp word ons.
Ons dink dat Amnon buite weste korrup is. Maar die waarheid is dat – behalwe Tamar – al die karakters in 2 Sam 13 ewe korrup is. Dit sluit die koning van Israel in. Absalom beveel vir Tamar om rustig te wees en nie ‘n bohaai te maak nie. Intussen broei daar moord in sy eie binneste. Dawid weet van alles, maar bly passief en verloën sy rol as ‘n pa en as koning.
Passie sonder liefde is glad nie liefde nie. En daar is ‘n baie dun lyntjie tussen wellus en haat. Beide wellus en haat soek net eiebelang. Dit wil net eie wil en eie plesier bevredig. Dit hanteer mense as objekte en middel-tot-‘n-doel. Jy het ‘n sekere wil en ‘n begeerte en doelwit en jy span ander mense in om daarby uit te kom. “Ek wil hê wat ek wil hê en ek sal enigiets doen om daarby uit te kom”.
Behalwe vir Amnon, is daar nog Jonandab: Amnon se vriend, sy neef. Slim. Insig. Kan met mense werk. Maar: wysheid sonder beginsels. Of hy nou wyse advies aan die koning gee en of hy sy neef raad gee hoe om sy suster te verkrag – daar is geen verskil nie. In ‘n sekere sin is hy nog meer boos as Amnon. Want hy het wysheid maar geen integriteit en beginsels nie.
Wysheid moet getemper word met Godsvrug anders word dit perverse wysheid.
En dan is daar koning Dawid: Toorn sonder reg. Dit is sy eie kinders wat so te kere gaan en hy is kwaad daaroor. Maar hy doen niks. Geen sin van reg nie. Die Septuagint (Griekse vertaling van die OT) het by vers 21 ‘n sinnetjie bygevoeg: “Dawid het niks gedoen nie – uit liefde vir Amnon.” Dit is bygevoeg, maar dalk is dit waar. Die waarheid is egter: Liefde sou iets doen. Hebreers 12:6 > Liefde dissiplineer.
En dan is daar ook nog Absalom: haat sonder perke. Hy hou dit net onder die oppervlak. Niemand weet wat binne-in hom broei nie. Vir twee jaar lank! Niemand weet van die moord wat hy beplan nie. En uiteindelik voer hy dit uit!
En moenie vir een oomblik dink dat – omdat die Here God glad nie in die hele storie genoem word nie, dat Hy nie aktief daar is nie!
Hy was daar, reg in die midde van alles wat gebeur – besig om Sy Woord te vervul. Onthou wat Hy in 2 Sam 12:9-11 gesê het: Dat Dawid se sonde konsekwensies sou hê.
Waar was die Here in hoofstuk 13? Besig om Sy Woord te vervul. Moenie vir een oomblik dink Hy deins terug vir sonde nie! Hy heers te midde daarvan! Hy is soewerein! Ons dink Hy sit op ‘n groot verhewe troon, te rein om in ons rigting te kyk met ‘n reuse afstand tussen Hom en sondaars. Nee. Hy het ingekom tot in die diepste diepte van ons duisternis.
Dit bring ons by drie groot verrassings:
VERRASSING NO 1: Die verhaal van Amnon, Tamar, Absolom, Jonadab en Dawid is ONS ALMAL se verhaal!! Jip! U kan voel: “Nooit, nou’t ek alles gehoor! EK? EK in een van hulle se skoene?! Nooit!”
Wel, dit is nie wat die Heilige Gees sê nie!
Luister na Titus 3:3 > “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot, kwaadwillig, jaloers, haatlik”.
Volgens Efesiers 2:3 is ALMAL hierby ingesluit. ALMAL het gedoen net waartoe hulle luste hulle gelei het. ALMAL was morsdood in sonde – volgens vers 1!
Dit is die skokkende verrassing van 2 Samuel 13 > Jy lees dit en dan lees jy eintlik jou eie hart. Jy kan nie dit lees en eenkant staan nie! Selfs al voel jy dat jy 80% engel-op-aarde is.
VERRASSING NO 2: Toe die Here Jesus 2000jr gelede op aarde mens geword het, is hierdie bose verlede van ons almal vernietig en finaal stopgesit. Ja, jou verlede het gelyk soos 2 Samuel 13. Maar jou sondige verlede het 2000jr gelede geëindig!
In die NT dateer ons verlede net tot by die kruis.
Titus 3:4 vervolg: “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en Sy liefde vir die mens verskyn”.
Hierdie “verskyn” verwys nie na iets wat iewers in ‘n individuele mens se aardse lewensduur plaasvind nie. Dit is die eenmalige verskyning toe Christus na die aarde gekom het! Die Griekse werkwoord is in die Aoristus wat aandui dat dit eenmalig in die verlede plaasgevind het. Daardie eenmalige verskyning het klaargespeel met elke mens se verlede. Die mens se verlede het by daardie verskyning gestop! By daardie verskyning – sê Titus 3:5 – is die mens verlos, vrygespreek, die sonde afgewas en die Heilige Gees oorvloedig uitgestort. Iets wat oor ‘n mens uitgestort word, kan jy nie eens ontvang nie! Jy kan slegs die realiteit daarvan ontdek en in die realiteit daarvan begin leef!
“Dit is ‘n betroubare Woord” (vers 8).
Die GROOT verrassing: Jou verlede dateer terug tot die jaar 33 nC en het daar gestop! Jou 2 Samuel 13-verlede, jou Amnon-Jonadab-Dawid-Absalom-verlede is finaal beëindig en uitgewis toe Jesus die woorde “dit is volbring” (beteken: dis is klaargemaak) gesê het en Sy laaste asem uitgeblaas het. Want, so seker as wat dit vandag Sondag is, so seker was JY by Sy dood ingereken!
Sien u hoe die Skrif u vasbind – sonder dat daar ‘n uitkomkans is.
U is vasgebind aan 2 Samuel 13 se korrupsie. U verlede het by die kruis gestop. Daar is nie ‘n uitkomkans nie. U moet in ‘n nuwe lewe leef.
Geen bewussyn meer van leuens en vals identiteit nie. Ja, u het ‘n Amnon-Jonadab-Dawid-Absalom verlede gehad, maar dit bepaal nie meer u identiteit nie, want dit is 2000jr gelede vernietig. Om as gevolg dáárvan ‘n gevoel van afstand en verwydering van God te beleef, is om aan iets vals vas te hou.
Die DERDE VERRASSING is dus: Ons MOET ‘n nuwe lewe leef. Dit kan eenvoudig nie anders nie. Daar is geen ander opsie nie. Daar is geen omdraaikans moontlik nie. +
Wat ek was, bestaan nie meer nie. Dis nie moontlik om te leef in iets wat nie meer bestaan nie. Wat wél bestaan, is ‘n nuwe lewe, ‘n oorvloedige lewe – wat jy oombliklik en inspanningloos verkry het toe die groot “verskyning” van God se goedheid plaasgevind het.
Ons kan nooit die Here genoeg dank dat die totale pakket van donker duisternis wat in 2 Samuel 13 beskryf word, Hom nie afgeskrik het nie. Dat Hy nie daarvoor teruggedeins het nie. Maar dat Hy tot binne-in die kern van die duisternis ingekom het en dit vernietig het en ons uitgelei het in ‘n nuwe lewe en blink toekoms.