TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 20: Verbondsliefde

2 SAMUEL 9

 

Dit maak net nie sin nie! Waarom sal enigiemand met opset moeilikheid gaan soek? Dis dwaas en gevaarlik.

 

As koning het jy so pas jou koninkryk gekonsolideer en vrede met jou omliggende vyande gevestig. Waarom op aarde sal jy dan onnodige moeilikheid gaan soek?

 

Dit is wat Dawid se raadgewers hom moes geantwoord het toe Dawid vra: “Wie van Saul se nageslag is nog oor?”

 

Kyk, destyds het dit so gewerk dat – wanneer jy ‘n ander koning oorwin en sy ryk oorneem – jy alle moontlike verdere kompetisie van sy nageslag se kant af uitwis. Jy vernietig enigiemand wat op enige manier aanspraak kan maak op jou troon. Dit is dus net logies dat Dawid van Saul se nageslag ontslae sou raak – de laaste een van hulle.

 

Daarom is dit nie vreemd dat Dawid vir sy raadgewers vra of daar nog iemand van Saul se nageslag oor is nie! Dis eintlik net logies dat hy álmal van Saul se nageslag wil uitwis.

 

Die verwarring het nie gekom deur die feit dat Dawid die vraag vra nie, maar die REDE waarom hy die vraag vra, was totaal vreemd. Want wat Dawid vra is die volgende: “Het daar enigiemand uit Saul se nageslag oorgebly – aan wie ek goedheid kan bewys?” Met ander woorde: “Is daar enigiemand uit die nageslag van my vyand oor – aan wie ek liefde kan bewys?”

 

Vreemd en uiters verwarrend! WAAROM sou Dawid dit wou doen? So iets pas nie by ‘n koning nie. Waarom jou pas gevestigde koninkryk gaan bedreig deur so iets onsinnig?

 

Ons bevind ons in 2 Samuel 9. By hoofstuk 9 begin ‘n nuwe afdeling in die Samuel-boeke – wat strek tot by hoofstuk 20. Dit is moeilik om hfste 9-20 te verstaan sonder ‘n goeie begrip van wat VERBOND beteken.

 

God se verbond is ‘n ooreenkoms met die mens wat eensydig is – dit beteken dis ‘n ooreenkoms wat net van Sy kant af kom. Hy raadpleeg niemand vooraf nie. Hy vra niemand se toestemming nie. Hy neem die inisiatief. Net soos in die geval van ‘n testament. ‘n Testament is ‘n goeie voorbeeld van ‘n eensydige ooreenkoms. Iemand wat ‘n testament opstel raadpleeg nie vooraf sy erfgename nie. Dis eensydig – net van een kant af. Die ander party word net bevoordeel – mosterd na die maal.

 

Belangrik: Verbond = gaan alles oor beloftes – gevul met emosie! Dit is nie ‘n koue kliniese ooreenkoms nie. Die warm kloppende hart van God sit in die Verbond.

 

Wanneer Dawid sê: “Is daar enigiemand uit Saul se nageslag oor aan wie ek goedheid kan bewys?” dan hoor ons: VERBOND. Daardie woorde “goedheid bewys” is verbondsterminologie. Dit is die Hebreeuse woord GÊSÊD wat gebruik word. Dis ‘n Hebreeuse woord wat gevul is met emosie. Dit is ‘n woord wat ‘n hele spektrum van emosies bevat: goedheid, liefde, verbondsvriendskap, getrouheid. Dis ‘n gewigtige woord. Dit wys op die hart van die Here se verhouding met ons en ons verhouding met mekaar. Dit gaan alles oor verbond.

 

Wat vir Dawid – in hierdie geval – aandryf, is sy verbond met Jonatan – Saul se seun. Dawid het homself 20 jr te vore met ‘n eed aan Jonatan en sy nageslag verbind. En hierdie verbondseed tel nou vir Dawid meer gewig as politieke korrektheid en politieke logika. Politieke logika sou sê: “Dis veel beter om jouself te beskerm. Dis nie ‘n goeie idee om nou met Saul se geslag te heuel nie. Daardie verbond met Jonatan is al vergete. Dis iets van die verre verlede. Jonatan is lank gelede reeds dood. Baie water het reeds onderdeur die brug geloop. Vergeet daarvan en begin nuut.”

 

Maar Dawid sê NEE vir menslike logika en politieke korrektheid. Vir Dawid was sy verbond met Jonatan bindend vir altyd. En daardie verbond het gemaak dat hy liefde aan sy vyand wil bewys. Hy wil sy vyand insluit by sy eie oorvloed. Dit is suiwer verbondstaal. Verbond is daarop gemik om van vyande vriende te maak. Verbond = om iemand wat nie het nie, in te trek in die rykdom wat jy het – en dit terwyl daardie “iemand” dit nie werd is nie en dit nie verdien nie. Tewens die “iemand” is jou vyand!!

 

Op hierdie punt is Dawid se optrede dus ‘n heldere voorbeeld van wat verbondsliefde is. Hy reflekteer Sy Vader se verbondsliefde. Soos wat Dawid aan Mefiboset liefde bewys ter wille van Jonatan, trek die Vader ons in by Sy liefde ter wille van Christus Jesus! God die Vader se verbond met Sy Seun Jesus Christus is die rede/oorsaak van die oorvloed waarin Hy ons – Sy vyande – insluit.

 

1 VERSE 1-4 – VERBONDSLIEFDE VERMAG DIE ONDENKBARE

 

In verse 1,3 en 7 word die Hebreeuse woord GESED gebruik. En dit gryp terug op 1 Samuel 20. Gaan lees maar wat daar gebeur het: Saul was koning. Dawid het reeds vir Goliat gedood. Hy was reeds in Saul se diens, maar het baie populêr geword by die mense sodat Saul jaloers geword het en vir Dawid wou doodmaak. Kyk na 1 Samuel 20:16-17. Standvastige liefde = verbondstaal = Gesed. “Ek sal nooit my troue liefde aan jou of jou nageslag onttrek nie” beloof Dawid en Jonatan aan mekaar.

 

Dit alles moet in ‘n mens se gedagte wees wanneer jy 2 Samuel 9 lees. Geen koue kliniese dooie lewelose ooreenkoms nie. ‘n Verbond gebore in rooiwarm liefde. Opregte omgee. Ook nie maar sommer net ‘n ooreenkoms nie. ‘n Plegtige belofte. ‘n Verbintenis waarby die Here se Naam aangeroep is.

 

In ons vlak kultuur klink so iets vreemd. Ons kultuur het van liefde iets sentimenteel gemaak. Daarom verstaan ons nie Dawid en Jonatan se verbond nie. Ons kultuur = “ek sal liefhê solank as wat ek liefde voel, maar as die gevoel nie daar is nie…” Deesdae kom mense by egskeiding uit omdat hulle hulle liefde verloor het – so word gesê. Binne ons kultuur het ons lief so lank as wat ons liefde voel. Binne ons kultuur hou ons ons beloftes en staan ons by ons verbintenisse … solank as wat ons daaruit voordeel kan trek.

 

Hierdie reuse verskil tussen ons kultuur en die konteks van die Ou Testament veroorsaak dat ons sukkel om verbondsliefde te verstaan.

 

Verbondsliefde is gebaseer op belofte/toesegging/verklaring. Onderneming om liefde te hê. Verbond reguleer nie liefde se intensiteit nie. Verbond reguleer liefde se sekuriteit.

 

Voorbeeld: Mense sê vandag: “Is dit regtig nodig om te trou? Het ons ‘n stukkie papier nodig om aan mekaar ons liefde te bewys? Sal daardie stukkie papier maak dat ek jou meer sal liefhê?”

 

Hulle mis juis die hele punt. Verbond gaan nie oor “maak dat ek jou meer liefhet nie”. Verbond gaan oor sekuriteit. Dit gaan oor liefde wat bereid is om te verbind tot. Sodat die ander persoon sekuriteit kan hê.

 

Pas dit toe op iets soos die huwelik en die huwelikseremonie. Dit gaan nie oor ‘n stukkie papier nie. Die stukkie papier kan niemand aan mekaar verbind nie. Dit het ook niks te make met hoe jy voel nie. Dit gaan oor ‘n onherroeplike verbintenis met die Here as getuie. Verbondsliefde gaan oor die integriteit van jou verbintenis, al voel jy hoe en al gebeur wat en al verloop daar hoeveel dekades.

 

Dieselfde beginsel kan toegepas word op iets soos lidmaatskap van ‘n gemeente of jou verbintenis tot die amp van leraar, ouderling en diaken. Binne ons kultuur vat en los ons dit soos ons gevoelens en invloede dikteer. Asof dit nie verbintenisse voor die Here was wat niks met ons kultuur te make het nie.

 

Kyk na Dawid. Twintig jaar ná sy verbondsluiting met Jonatan en nadat Jonatan reeds dood is, begeer Dawid steeds om goed te doen aan Jonatan se nageslag. Want hy het hom tot GESED verbind aan Jonatan en sy nageslag. Tyd het nie sy verbintenis weggeslyt nie. “Is daar enigiemand van die nageslag van my vyand oor aan wie ek liefde/ HESED kan bewys??”

 

En daar was een persoon oor. Mefiboset. ‘n Verlamde.

 

Sien u hoe verbondsliefde die ondenkbare vermag?

 

2 VERSE 5-10 VERBONDSLIEFDE GAAN VERDER AS NET DIE BASIESE VERPLIGTINGE

 

Dink daaraan: Die jongman, Mefiboset, woon in ‘n plek waar hy wegkruip vir Dawid se regering wetende dat hy Saul se nageslag is. En skielik kom klop regeringsmense aan die deur!! Dink aan die emosies in daardie huis. Sekerlik het hulle hard gesluk en gedink: “Nou is dit verby. Verby vir Mefiboset en verby vir ons wat hom al die jare lank versteek het.”

 

En daar gaan Mefiboset! Hy word weggeneem. Na die koning toe. En hy weet baie goed wat gedoen word met die nageslag van die oorwonne koning Saul! Net een ding: dood!

 

Die reis moes soos ‘n ewigheid gevoel het. Toe hulle by Dawid kom, het Mefiboset op sy aangesig voor Dawid neergeval en aan hom eer betoon.

 

Stel jou die situasie voor: Die koning in al sy koninklike eer is daar voor Mefiboset. Die koninklike kleed, die troon, die kroon, die gesag en mag. En hier kom die seun – verlam aan sy voete – en hy werp homself voor die koning neer.

 

En dan die wonder: Die koning se respons. Dawid sê slegs Mefiboset se naam! “Mefiboset”. Met gevoel.

 

Mefiboset weet voor sy siel dat hy gaan sterf. Hy weet hy is aan die vyand se kant. Hy is Saul se nasaat. En hy hoor sy naam!! Die manier hoe Dawid sy naam gesê het, moes met medelye gevul gewees het – indien ons kyk wat hy daarná doen!

 

Almal is so seker dat hierdie ontmoeting tussen Dawid en Mefiboset ‘n baie lelike situasie gaan wees en dat die seun die doodsvonnis gaan hoor. Skielik ontvou die teendeel voor almal se oë: Dawid het trane in sy oë en al wat hy kan uitkry is “Mefiboset”.

 

En dan sê die koning: “Moenie vrees nie. Moenie so bewe nie. Jy is nie hier om te sterf nie. Jy is hier sodat ek aan jou liefde kan bewys”.

 

‘n Mens kan jou dit byna nie voorstel nie. Mefiboset MOES sterf. Maar die koning sê: Jy sal liefgehê word. En nie net dit nie. Ek gaan vir jou al die grond gee wat aan jou oupa behoort het. En Seba sal van nou af jou dienaar wees en namens jou op daardie grond boer en sorg dat jy ‘n opbrengs daaruit kry. Ek sal sorg dat jou pa en oupa se fortunes aan jou gegee word.”

 

Kan u voel hoe skreiend dit is??

 

Maar dis nog nie al nie. Koning Dawid verseker vir Mefiboset: “Van nou af sal jy aan MY tafel eet. Jy sal ‘n seun in my huis wees.”

 

Mefiboset kom na Dawid om die doodsvonnis te ontvang. Maar hy hoor hierdie glorieryke versekering: “Van nou af sal jy aan my tafel eet. Vir altyd. Jy sal liefgehê word. Jy sal behandel word soos my eie seun”.

 

En dit is alles die vrug/resultaat van VERBOND. Dit is die vrug van wat in 1 Samuel 20 gebeur het: Dawid en Jonatan se verbond en verbondsliefde.

 

Maar wag so ‘n bietjie – daar is nog iets meer!

 

As ons in 1 Samuel 20 kyk na die inhoud van Dawid en Jonatan se verbond, sien ons dat Dawid nou BAIE MEER aan Mefiboset gee as wat hy aan Jonatan beloof het. Hy en Jonatan het slegs aan mekaar beloof dat hulle mekaar sal laat lewe. Al wat Dawid dus met Mefiboset moes doen was om hom te laat lewe en hom nie dood te maak nie! Dan was sy verbondsverbintenis afgehandel.

 

Maar Dawid sê: Dis nie goed genoeg nie. Ek sal kwistiglik alles op Mefiboset uitgiet wat ek kan. Want verbondsliefde gaan VERDER as net die basiese verpligtinge. Mefiboset moet aan my tafel sit. Hy moet soos my seun behandel word. Hy moet rykdom geniet – MY rykdom. Hy moet guns geniet. Onverdiende guns.

 

Mefiboset ontvang alles – SLEGS op grond van ‘n verbond wat gesluit is lank voor sy eie geboorte! En dit het absoluut NIKS NIKS NIKS met Mefiboset te make nie! En dit het alles met DAWID en JONATAN te doen.

 

Ja, verbondsliefde loop die ekstra myl.

 

3 VERSE 11-13 VERBONDSLIEFDE IS BUITENGEWOON

 

Mefiboset het slegs twee bydraes tot Koning Dawid se verhouding met hom gemaak: No 1 Hy was kreupel en was dus totaal afhanklik van ander No 2 Hy was die koning se vyand.

 

Dit was Mefiboset se meriete. Hy kon niks vir homself doen nie. En hy was Dawid se vyand.

 

Romeine 5:6-10 > “Toe ons nog magteloos was, het Christus vir goddeloses gesterf. Die bewys van God se liefde is dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Ons is dus vrygespreek deur Sy versoeningsdood. Ons is met God versoen deur Jesus se dood – en dit het gebeur toe ons Sy vyande was”.

 

Jy en ek kon/kan NIKS bydra tot die verhouding nie. Behalwe ons sonde en verlamdheid. Behalwe dat ons God en naaste haat. Behalwe dat ons die Seun van God gedood het. Dit is ons enigste bydrae tot die verhouding.

 

Maar Hy het gekies om ons lief te hê en ons vir ewig by Sy tafel te laat eet en te laat deel in Sy skatte – op grond van VERBOND. Hy het ons lief om Christus se ontwil. En – soos in Mefiboset se geval – was hierdie verbond reeds voor ons geboorte gesluit.

 

Jesaja 49:8-9 > Christus is self die verbond. Soos Dawid se verbond met Jonatan was en Mefiboset daardeur oorvloed ontvang het, ontvang ons die oorvloed uit God die Vader se verbond met Christus Jesus.

 

Jy herken jou eie verhaal hierin, nie waar nie? Jy herken jou eie verhaal in Mefiboset wat aan die wegvlug was vir die Koning, wat doodgemaak moes word, wat geen meriete gehad het nie, maar dan beleef hoe die Koning hóm ongevraagd (uit pure guns alleen) kom soek en vind en roep en bring en hy die volheid van lewe ontvang – slegs op grond van die VERBOND – ‘n verbond waaraan hy geen aandeel gehad het nie, maar waarby hy tog ingesluit is!! Te wonderlik vir woorde!

 

Dit maak dat jou hart wil opspring van blydskap nie waar nie? Doodwaardig, maar ontvanger van Lewe! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00