TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 2: Gods trou seëvier

1 SAMUEL 17

 

In ons preekreeks oor die lewe van koning Dawid, het ons vanoggend van iets gelees wat ongeveer 3000jr gelede plaasgevind het. ‘n Gebeurtenis wat gelowiges deur die eeue geïnspireer het.

 

Ons almal ken “Dawid-en-Goliat” vandat ons klein kinders was en voor die flenniebord in die Sondagskool gesit het en ons kan daardie prentjies nou nog sien: Dawid die skaapwagterseun oorwin die reus Goliat met sy slingervel en klippies. Die wonderbaarlike oorwinning van ‘n tienerseun oor ‘n skynbaar onoorwinlike reus van 3 meter hoog, het deur die eeue talle se verbeelding aangegryp.

 

Die vraag waarop ons egter vanoggend ‘n antwoord moet kry is wat presies die Dawid-en-Goliat verhaal vir óns wil leer. Watse onderrig is in hierdie verhaal ingebou wat vanoggend as Woord van God na ons toe kom?

 

Die verkeerdste ding om te doen is om die verhaal uit ‘n moralistiese hoek te lees. Dit is hoe religie dit sal doen. Religie sal vir jou sê dat hier ‘n voorbeeld is wat jy hard moet probeer navolg om ‘n goeie Christen te kan wees. Dawid is vir jou die voorbeeld van vertroue, geloofsmoed en durf – en so moet jy nou ook maak. Vra die Here se hulp en probeer jou bes. Wie weet, dalk maak jy dit en kom jy nader aan die Here en kan jy Hom meer behaag. As jy nié soos Dawid is nie, verloor jy bietjie punte. As jy wel soos Dawid is, is jy ‘n beter Christen. As jy soos Dawid is, dan het jy ‘n goeie resep hoe jy allerhande soorte reuse in jou lewe kan oorwin.

 

Religie hou Dawid voor as ‘n held, wie se kwaliteite ons moet najaag.

 

Veral die OT loop gewoonlik deur onder hierdie religieuse manier van lees: “WEES soos Dawid, MOENIE soos Jona wees nie” ens. Religie kom altyd met allerhande soorte “lessies” wat ‘n mens uit die OT verhale kan leer – wat impliseer dat jy net sowel ‘n goeie Moslem of Boeddis kan wees, want ‘n Boeddis ken ook morele lessies van hoe om só braaf te wees dat jy die reuse van die lewe kan oorwin.

 

U kan onmiddelik hoor dat daar absoluut géén Blye Boodskap in religie is nie. Terwyl die Dawid-en-Goliat verhaal ‘n Blye Boodskap is. Die vraag is: Wat is die Blye Boodskap?

 

Dus is ons nou weer terug by die vraag: Wat is God se Woord vir óns in 2013 uit die Dawid-en-Goliat verhaal?

 

Eerstens moet ons sekerlik besef dat hierdie gebeurtenis binne ‘n konteks staan. Die onmiddelike konteks is Dawid se salwing tot koning waarna ons verlede week gekyk het asook die breëre konteks van die OT sowel as die NT.

 

Wat in 1 Samuel 17 staan, is kortweg die volgende: Dit is die Hére (nie Dawid nie) wat werk – om Sy mense te behou! Om hulle van uitwissing te red. Dit is wat die Dawid-en-Goliat verhaal so merkwaardig maak. Dit bevat ’n vreugdeboodskap wat ons logika te bowe gaan. Naamlik dat die HERE bo-oor hierdie mense se koudheid en ongeloof tóg steeds triomfeer. En Sy gemeente red d.m.v. ‘n verlosser wat Hý daar gestel het.

 

Kan u dit sien? Die Here verlos nié Sy mense in antwoord op húlle berou, bekering en geloof nie. Want daar was nie so iets nie. Koning Saul was afvallig en die mense was bang vir Goliat. As dit van húlle moes afhang sou hulle pens en pootjies in die mag van die Filistyne geval het!

 

Waarom verlos die Here hulle dan? Hy doen dit omdat Hý ’n BELOFTE gemaak het aan Adam (die mensdom) in Genesis 3:15 en dit weer aan Noag en Abraham bevestig het. En omdat Hy aan Sy belofte getrou is. En omdat Hy van plan is om die belofte te vervul.

 

Wátse belofte? Dat Hy ’n Man na die wêreld sou stuur wat die mens uit die sondeval sal red. En Hy sal nie toelaat dat Sy volk deur die Filistyne & Goliat vernietig word en die koms van hierdie Verlosser skipbreuk laat ly nie. Want Hy het aan Adam belowe dat uit die vrou ’n Saad (’n hy/hom) gaan kom. Abraham se saad (Gen 12). Juda se saad (Gen 49), Dawid se saad (2 Sam 7). Dáárom verlos Hy Sy volk van Goliat en Filistynse oorheersing. Daarom oorheers Hy Sy mense se afvalligheid. Sodat Dawid se groter Seun kan kom in Betlehem.

 

U sien: Satan wou (deur Goliat & filistynse aggressie) die Jode uitwis, om Christus se koms te verhinder. Om God se belofte tot niet te maak. Onthou wat Goliat se uitdaging was: Sou daar iemand uit Saul se kamp wees wat vir Goliat kon doodmaak, is die Filistyne in Saul se hand. Maar as Goliat wen, is Saul & sy volk die Filistyne se dienaars. Dis die uitdaging. Vers 8.

 

Waarom is Saul so bang? Hy is angsbevange omdat hy weet: binnekort gaan die enigste volk op aarde wat die Naam van die ware lewende God dra, onder die voete van heidene vertrap word! Die implikasies hiervan is dat die Here se moederbelofte (Gen 3:15) en gevolglike belofte aan Abraham nie vervul sou kon word nie. Die Messias sal nie gebore kon word nie. Die totale belofteprogram van God hang dus aan ‘n draadjie. Die enigste ware evangelieboodskap wat die enigste hoop vir die mensdom is, sal van die aardbol verdwyn!

 

In 1 Sam 17:5 staan daar dat Goliat ‘n “pantser van skubbe” aangehad het. Hy was geklee in die mondering van ‘n slang. Dawid kom in botsing met die slang! En hy vermorsel sy kop! Presies wat die Moederbelofte sê wat die Groter Dawid (Jesus) met die satan sal doen.

 

Die totale Bybel skarnier aan hierdie “Moederbelofte”. Genesis 3:15. God gaan ’n manlike persoon (saad vd vrou) stuur wat die slang se kop sal vermorsel alhoewel die slang hom (die saad) in die hakskeen sal byt (Gen 3:15).

 

Vervolgens is die hele Bybel ’n ontvouing van hierdie stryd tussen die slang en die saad-van-die-vrou. Die hele Bybel is ‘n openbaring van hoe die slang eeuelank probeer het om die koms van dié beloofde Man te verhinder… én Hom in die hakskeen te byt. Die Bybel is ’n magtige getuienis van hoe God Woord gehou het en getrou gebly het. Reg aan die einde van die Bybel, in die boek Openbaring, sien ons die uiteinde van die stryd: Die beloofde saad-vd-vrou was Jesus Christus en die slang is oorwin. Wat in Gen 3:15 beloof is, is in Openbaring vervul!

 

Dwarsdeur die OT sien ‘n mens hierdie eeuelange konflik: Kain vermoor vir Abel om die vrou se saad summier te vernietig. Wie sit daaragter? Die slang. Set word egter gebore. Toe probeer die slang om Set se seuns met Kain se dogters te vermeng. En, dit lyk of hy sal slaag om die geslagte te vernietig, want in Genesis 6 wil God almal uitwis vanweë die sonde. Tóg is daar één man uit Set se geslag wat gered word: Noag. God sit Sy belofte – deur Noag – voort. En verder deur Abraham. Gelukkig vir die slang was Abraham en Sara te oud om kinders te hê. “Nou sal die beloofde saad nie gebore kan word nie” grynslag die slang. Die wonderwerk gebeur egter: Isak word – deur ‘n wonderwerk – gebore. Maar, toe moet Isak geoffer word op Moriaberg. Toe Abraham die mes optel, glimlag die slang van oor tot oor. Maar die Here triomfeer. Isak leef en ‘n ram sterf in sy plek. Isak en Rebekka trou, maar sy is onvrugbaar. ‘n Wonderwerk gebeur en Jakob word gebore. Nou sal die belofte deur hóm loop. Esau wil hom egter doodmaak. Hy slaag egter nie. Jakob se 12 seuns word die Kerk van die OT: die volk Israel. Keer op keer wil die slang Israel uitwis. Farao probeer al die seuntjies van die Israeliete doodmaak (Eks 1). Geweldige haat. Hakskeen byt. Moses word egter in die biesiemandjie bewaar en hy oorleef. Uit Juda kies God een familie: DAWID. Nou mik die duiwel weer alle pyle op hóm. Goliat wil hom doodmaak. Saul wil hom doodmaak. En so kan ons aangaan. Uiteindelik, toe Jesus gebore is, wou Herodes weer die babaseuntjies doodmaak. Maar Josef en Maria vlug na Egipte. Op Golgota het die slang gedink hy het oorwin, maar toe volg die opstanding!

 

Dit is die Bybelse konteks van die Dawid-en-Goliat verhaal! Dawid is nie die held nie. Dit is die onbeskryflik heerlike God wat aan die werk is. Dis al die tyd Hý wat vir Dawid opgerig het – nie om ‘n reus se kop af te kap nie – maar om Sy volk te behou sodat Sy oerbelofte vervul kan word en die Groter Dawid – Jesus die Christus – na die wêreld kon kom!

 

Eers as ‘n mens dít verstaan, sien jy hoe Dawid se oorwinning oor Goliat en die gevolglike bevryding van die Israeliete, ‘n prentjie is van die verlossingswerk wat Christus sou kom verrig.

 

Ómdat God getrou was aan Sy verbond en belofte, het Hy Sy mense verlos deur middel van ‘n tipe verlosser wat maar na ‘n baie onwaarskynlike kandidaat gelyk het. ‘n Tienerseun met skaapwagterklere en ‘n slingervel. Die kontras tussen Goliat en die skaapwagterseun is yslik! Niemand sou kon dink dat hý die verlosser kon wees nie en dat hý die reus sou kon oorwin nie. As híér ‘n oorwinning sou kom, sou almal weet dis die Here se werk!

 

En dan, wánneer die skaapwagter die reus oorwin – doen hy dit so maklik! Die tienerseun gaan staan voor die reuse 3 meter hoë man wat soos ‘n slang lyk in sy skubbe – die volgende oomblik rol die slang se kop! En skielik is die volk bevry! God se verbond en Sy belofte seëvier!

 

Hierdie prentjiesbeeld gee vir ons insig in hoe God ons almal verlos het deur Jesus van Nasaret. Wie na Jesus gekyk het, sou nooit kon droom dat Hý die Verlosser is nie. Die timmermanseun. Teenoor die nederige selfverloënende Jesus lyk die satan en die bose en die sondige wêreld en die magte van die wêreld so oorheersend. Kán Hy werklik hierdie geweldige vyand oorwin deur so ‘n weerlose daad soos deur Homself te offer en oor te gee aan die dood van die kruis? Dit lýk glad nie soos verlossingswerk nie!

 

Wat die duiwel nie geweet het nie is dat Christus sy (die duiwel se) kop sou afkap met sy eie (die duiwel se) swaard. Dawid het nie vir Goliat gedood met die klip nie, maar deur Goliat se kop met sy eie (Goliat se) swaard af te kap. Dit is waarvan Hebreërs 2:14 praat wanneer hy sê dat Jesus die duiwel vernietig het met sy eie (die duiwel se) wapen – die dood. Deurdat Jesus onder die dood inbuk en die kap van die swaard op Hom neem, kap hy die duiwel se kop af met sy eie swaard. En só – sê Hebreërs 2 – BEVRY Hy óns – wat ons slawe van die dood was! Die eenmalige daad van die afkap van die kop – IS ons bevryding. Ons is dáár bevry – kant en klaar.

 

Ek dink ons moet baie mooi inkyk op hierdie waarheid: Kyk baie goed na 1 Samuel 17. Voordat Dawid sy klip slinger, is die héle volk in Goliat en die Filistyne se greep. ALMAL die laaste een. Ook die koning. Ook Dawid se manhaftige broers. Hulle is skaakmat!

 

Maar die oomblik toe Goliat se kop rol, is dieselfde “almal” wat die een oomblik nog vasgeketting was, losgemaak en vry! Toe sy kop rol, toe vlug die Filistyne en Saul se mense is vry sonder dat hulle enigiets gedoen het of bygedra het. Tewens, hulle enigste bydrae tot hulle verlossing was hulle dwaasheid en vrees en onvermoë! Dís wat hulle bygedra het. Verder het hulle passief gestaan en kyk wat Dawid doen.

 

Wat ons moet raaksien is dat ALMAL onverdiend ingesluit is by die verlossing die oomblik toe Goliat se kop rol. Al wat hulle moes doen was om uit die verlossing te gaan lééf en dit het hulle onmiddelik begin doen deur die Filistyne van kant te maak. Hulle deel in die vrug van die gesalfde verlosser se oorwinning. Hulle het VANUIT die klaargemaakte oorwinning begin leef en nie NA die oorwinning toe probeer leef nie!

 

As ons dan so graag onsself in die Dawid-en-Goliat verhaal wil inlees, pas ons nie by Dawid in nie, maar by die Israeliete in verdrukking en onderdrukking wat geen kans staan om Goliat op eie stoom te oorwin nie. Ons staan net en aanskou die bevryding wat die Groter Dawid bewerk het en dan besef ons dat ons daarby ingesluit is! Jesus kap nie duiwel/sonde/hel se kop af en dan word ons bevry míts ons dit glo nie! Dit is hoe religie dit sien. Nee. Jesus kap duiwel/sonde/hel se kop af en daarom IS ons bevry en mág ons uit die bevryding gaan lewe. Die enigste manier om dit te doen, is om dit te glo!

 

Die derde en laaste waarheid wat my getref het toe ek die hoofstuk bestudeer het is die manier hoe Dawid vanuit God se perspektief na die situasie gekyk het en daarvolgens gehandel het, al was dit hoe dwaas in die oë van die mense wat nie God se perspektief verstaan het nie. Dawid se oë was gesalf om in Goliat net ‘n doodgewone méns te sien. Dawid sê vir Goliat: “Dis die leermagte van die lewende God wat jy uitdaag – jou onbesnede Filistyn”.

 

Dawid het net ‘n gewone mán voor hom gesien. ‘n Reus – ja – maar steeds ‘n blote méns. Geweldige wapenrusting – ja – maar steeds ‘n blote méns. Dis ál wat Dawid sien.

 

Maar Dawid sien homself as die Here se verteenwoordiger. Daarom dra hy gesag! Soos ‘n ambassadeur – wat ‘n land verteenwoordig in ‘n ander land – se woord gesag dra. Terwyl hy met daardie gesag na Goliat toe loop, is hy ook daarvan bewus dat hy omring is deur die Here se leerskare. Daarom kon Dawid oorwinning sien nog voordat menslike oë dit kon sien (vv 45-47).

 

Dis die kosbaarste skat wat ‘n mens kan besit: oë wat kan SIEN. Oë wat na dinge kan kyk vanuit God se perspektief. Gaan kyk maar in Paulus se briewe – telkens wanneer hy vir ‘n gemeente bid, dan bid hy dat hulle geopende geestelike oë mag hê (bv Efes 1:18). Hy bid nie soseer dat hulle dit/dat moet gaan doen nie. Hy bid dat hulle sal SIEN. Soos Elisa in 2 Konings 6:17 bid dat sy slaaf die perde en strydwaens van vuur oral op die berge sal sien. Want die slaaf was beangs omdat hy slegs die vyandelike ménslike magte gesien het.

 

Ek het eenmaal die getuienis gehoor van ‘n blinde Christen dame wat sê dat die groot voordeel van haar blindheid is dat sy dinge kan sien wat fisiese oë nie kan sien nie en dat niks haar sig daarop kan belemmer nie. Sy beleef gevolglik ‘n lewe met die Here op ‘n geweldige vlak van diepte. Dít is ware lewe en rykdom!

 

Daarmee sê ek nie dat ons fisies blind moet wees alvorens ons geestelik siende kan word nie. Maar dalk moet ons daaglikse gebed wees dat die Here die oë van ons hart sal siende maak en ons moeite sal doen om daagliks diep in die Skrif in te kyk. En te sien wie ons werklik is vanuit God se perspektief: herstel, reggestel, blaamloos en heilig. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00