TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 19: Oorwinning op oorwinning
2 SAMUEL 8
Soms is dit goed om net tot stilstand te kom en na te dink. Waar jy is, hoe jy daar gekom het en waarheen jy op pad is.
Dit is wat die skrywer in 2 Sam 8 doen. Hy kom net tot stilstand en gee ‘n opsomming – waarin hy ‘n derde groot afdeling van die Samuel-materiaal tot ‘n konklusie bring. Hierdie afdeling het by 1 Sam 15 begin en gaan hoofsaaklik oor hoe Dawid opgang gemaak het en koning oor ‘n verenigde koninkryk geword het. Nou – by 2 Sam 8 – stop die skrywer net om asem te skep en te kyk waar die oorhoofse verhaal trek. Hy gee net ‘n vinnige oorsig oor die begin-tyd van Dawid se koningskap. Dis niks anders nie as ‘n opsomming van Dawid se militêre oorwinnings. 2 Samuel 8 is beslis nie ‘n baie opwindende hoofstuk nie.
Soos u weet het ek jare gelede gekies om Bybelboeke sistematies deur te preek. Maar soms is ek spyt dat ek dit gekies het – veral wanneer ek by ‘n gedeelte soos hierdie kom. Dan wonder ek of die Apostel Paulus ooit DIT gelees het toe hy vir Timoteus geskryf het dat die HELE Skrif (OT) groot waarde het om in die Waarheid te onderrig is (2 Tim 3:16). By die deurlees van 2 Sam 8 wonder ‘n mens wat die “groot waarde” van so ‘n hoofstuk kan wees.
En tog, by nadere ondersoek sien ‘n mens wat die waarde is. Oppervlakkig gesien gaan 2 Sam 8 oor Dawid. Dit gaan oor wat Dawid gedoen het. Dit gaan oor konkrete gevegte wat Dawid geveg het. Dit gaan oor konkrete vyande wat Dawid oorwin het. Dit gaan oor die vergroting van Israel se grense. Dit is waaroor die hoofstuk gaan.
Maar – soos wat ons sien hoe die land se grense vergroot en koning Dawid oorwinnings behaal, sien ons sekere beginsels wat vandag nog op Christusgelowiges van toepassing is.
Wat absoluut duidelik is in 2 Sam 8 is dat dit wat Dawid bereik het eintlik niks anders was as die Here se werkinge en Sy seëninge nie.
Die logiese manier hoe ons as mense na Dawid se oorwinnings sal kyk is om te sê: die man was intelligent, hy was ‘n goeie militêre strateeg. Dus: die oorwinnings wat hy behaal het, was bloot net ‘n logiese gevolg/uitvloeisel van sy natuurlike vermoëns. En – natuurlik – die Here het dit geseën.
Maar dit is nie hoe die skrywer van hoofstuk 8 (eintlik die Heilige Gees) wil hê dat ons dit moet verstaan nie. Hoofstuk 8 wil ons laat verstaan dat Dawid se oorwinnings slegs die Here se gawes en seën was – onafhanklik hoe oulik Dawid was.
Kan u die verskil hoor? Dit gaan nie oor wat Dawid bereik het met die Here se seën nie. Dit gaan oor die Here se seën wat deur Dawid gemanifesteer het. Dit gaan oor die oorwinningslewe wat GOD se oorwinningslewe is – wat Hy deur ons leef.
Drie beginsels:
1 Verse 1-6, 13-14 : OMDAT GOD AAN SY EIE WOORD GETROU BLY, BEREIK HY ALTYD SY DOELSTELLINGS
Verse 1-6, 13-14 berig van oorwinnings op oorwinnings. En moenie vergeet dat vers 1 direk op hoofstuk 7 volg nie! In hoofstuk 7 het die Here pas Sy verbondsverklaring aan Dawid gegee en Dawid het in verwondering daarop gereageer en God geglo vir wat Hy beloof het. En wat is die direkte uitvloeisel hiervan? Oorwinnings op oorwinnings! Oorwinning oor die Filistyne, oorwinning oor die Moabiete, oorwinning oor Damaskus, oorwinning oor Edom!
Die mens wat die Here glo vir Sy verbondsbeloftes IS meer as ‘n oorwinnaar. Wie is dit wat die wêreld oorwin anders as hy/sy wat GLO dat Jesus die Seun v God is! (1 Joh 5:5)
Die sleutelverse is in verse 6, 14: Eksplisiet staan dit daar: Die HERE het die werk gedoen. Die Here is besig om Sy Woord gestand te doen. Onthou net die vorige hoofstuk: Die Here se verbondsbelofte: Dawid sal rus hê van sy vyande (2 Sam 7:10-11). In hfst 8 begin die Here daardie belofte vervul. Die Here begin om Sy Koninkryk deur Dawid te bou.
Die koninkryk van die Here is nie net iets geestelik en iets toekomstig nie! Dit is konkreet en dit is hier en nou. Die koninkryk is IN julle (Lukas 17:21).
In Dawid se tyd was die Here se koninkryk op aarde en dit is vandag steeds op aarde. Die Here vestig Sy teenwoordigheid by Sy mense – op aarde! Natuurlik ook toekoms!
Kernwoord = Hebreeuse woord NAKA wat beteken: Neervel. Verse 1,2,3,5,13. Hierdie vyande is neergevel. En dit was die Here se werk.
Mense is altyd verward oor die feit dat die Here mense neervel en die geweld wat dit impliseer. Dat Hy Israel se grense uitbrei deur middel van geweld. Dit is tog niks anders as militêre geweld nie – waar baie mense sterf. Die ergste is: Die HERE sit agter dit!
Dit lei daartoe dat mense reken dat die God van die OT ‘n ander God is as die Vader van Jesus Christus wat ons in die NT ontmoet. Of mense dink dat die Vader baie anders as Jesus is. Hulle voel dat die Vader AGTER Jesus staan en dat Hy baie kwaaier is. Jy moet lig loop vir Hom. Christus is “mak” maar die Vader is “streng”.
Hierdie idees is egter van alle waarheid ontbloot. Eerstens is die God van die OT en NT presies dieselfde God. Tweedens is die Vader presies net soos Jesus Hom aan ons kom bekend maak het. Wie vir Jesus sien, sien die Vader (Joh 12:45; 14:9). Niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en Hy maak dit aan ons bekend wie die Vader is (Mat 11:27).
As ons na Jesus kyk sien ons nie Iemand wat voor die voet mense doodmaak nie – inteendeel Hy oordeel nie eens nie maar red (Joh 12:47). En die Vader is presies net soos Jesus is. En die God van Israel (die OT) is presies net so, want dit identies presies dieselfde God.
Hoe moet ons dan 2 Sam 8 verstaan? Hoe moet ons dit verstaan dat die Here self hierdie volke deur Dawid se hand verslaan het?
Ons moet verstaan dat die Here besig was om Sy Wil en Sy heerskappy te vestig binne ‘n destydse wêreld wat Sy Wil radikaal teengestaan het. Die mens as sulks is direk in opposisie teen die Here se wil en koninkryk. Daardie volkere het in totale duisternis van afgodery en okkultisme geleef. Die Here moes letterlik ‘n pad oopbreek om Sy Ryk te vestig.
Ons moet ook in gedagte hou dat – vlgs Genesis 15:13-16 die Amoriete nie minder nie as 400jr grasietyd van die Here ontvang het om tot inkeer te kom. Daarby was die Amoriete, Edomiete en Amalakiete almal verlangs familie van Israel, maar nie deel van die “belofte-lyn” waaruit die Messias sou kom nie. Hulle het met ander woorde die vervulling van die Belofte van Christus se koms teengestaan en wou dit vernietig.
Nogtans bly die feit dat die Here ‘n pad oopgebreek het om Sy Ryk te vestig – en dat dit met dood en geweld gepaard gegaan het.
Dit sou uiteindelik kulmineer op Golgota se kruis waar die grootste geweld denkbaar gepleeg word. Maar hierdie keer keer die Here die geweld op Homself! Die werklike vestiging van Sy koninkryk binne in ‘n vyandige wêreld gaan met geweld teen Homself gepaard! Die geweld/dood wat God in die OT-bedeling aan mense aangedoen het om Sy Ryk te vestig en die duisternis uit te moker, is eintlik ‘n heenwysing na die geweld wat Hy Homself aangedoen het om Sy Ryk vir ewig te vestig! Toe God die sonde, dood en duisternis ‘n doodhou slaan, ontvang Hy self die doodhou!
En wat betref die duisende mense van heidense volke wat in Dawid se tyd gesterf het, moet ons altyd die hoop in gedagte hou wat 1 Petrus 3:19 aan ons voorhou. Die Apostel Petrus deel ons mee dat ons Here Jesus met Sy opstanding uit die dood gegaan het en die Blye Boodskap aan die mense wat duisende jare tevore in Noag se tyd (die vloed) gesterf het, gaan verkondig het! Die Griekse woord vir “preek/verkondig” is die woord wat regdeur die NT gebruik word vir die verkondiging van die Blye Boodskap.
Dis nie so ‘n maklike vers om te verstaan nie, maar die indruk wat ‘n mens kry is dat Christus – met Sy opstanding – na die afgestorwe geeste van die mense wat in die OT deur God se toedoen gesterf het, gegaan het en aan hulle die hoop en triomf van Sy opstanding gaan verkondig het. Dieselfde sou goedskiks ook kon geld van die mense wat in Dawid se tyd gesterf het en almal dwarsdeur die hele OT periode. Ook Sodom en Gomorra.
Weer eens: dit is ‘n moeilike vers om te verstaan. U sal met reg kan vra: “Wat? Beteken dit dat mense ná hulle dood nog steeds na die Here kan draai?” My antwoord is: “Dit staan nie eksplisiet so in 1 Petr 3:19 nie. Natuurlik kan God enigiets doen en natuurlik is Sy barmhartigheid enorm groot. Maar ons kan nie uit hierdie een teksvers so iets met sekerheid sê nie.”
Wat ek wel met sekerheid kan sê dat 1 Petr 3:19 baie duidelik sê dat Jesus ná Sy opstanding die oorwinning en triomf van Sy Opstanding gaan aankondig het aan die derduisende mense wat in Noag se tyd – deur God se toedoen – omgekom het. Heidense mense, wat in die OT-Tyd gedood is, is nie sonder hoop nie! Wat die uitkoms daarvan was – of almal tot geloof gekom het op grond van Christus se prediking – weet ons nie omdat Petrus dit nie sê nie. Die punt is net dat God nie in die OT-tyd ‘n bloeddorstige monster was wat goedsmoeds mense en volke laat doodmaak het nie. Nee, ná hulle dood het Hy steeds met hulle bemoeienis gemaak en is die triomf van Christus aan hulle verkondig. Na hulle dood het Sy liefdesbemoeienis met hulle nie opgehou nie.
Wat ons moet sien is nie óf ongelowige mense – wat deur God se toedoen gesterf het – ná hulle dood nog die Evangelie kan omhels nie. Moenie na ‘n Skrif soos 1 Petr 3:19 kyk en dogmatiese presieshede daaruit probeer aflei nie. Kyk na 1 Petr 3:19 en sien hoe lieflik pragtig wonderskoon God is! Al verstaan jy nie wat 1 Petr 3:19 presies beteken nie, kan jy met ‘n stok aanvoel hoe lieflik God is! Wat ons moet raaksien is hoe God se hart klop! Dat Hy mense met vloedwater oordeel en dat Hy mense deur Dawid se militêre mag laat omkom – maar dat die Opstanding van Jesus Christus uit die dood ook dáároor triomfeer!! Moenie vra HOE nie, maar sien DAT en raak in jou hart positief opgewonde oor hierdie God.
Belangrikste van alles in 1 Samuel 8: Die Here is besig om Sy Woord en beloftes te vervul. Kom wat wil! En Hy oordeel die duisternis om Sy wil en plan tot uitvoering te bring.
Die Here doen wat Hy beloof het om te doen!
2 Verse 7-12 > DIE HERE SE SEËNINGE IS DAAR (in teenstelling met die populêre teologie van ons dag) NIE TER WILLE VAN PERSOONLIKE GEWIN EN GEMAK NIE MAAR TER WILLE VAN SY EIE GLORIE
Verse 7-12 > Soos wat Dawid oorwinnings behaal het, het Hy buit gemaak. Goue skilde, groot hoeveelhede brons, silwer en goud.
Hierdie buit was die Here se seëninge aan Dawid.
Maar wat ons moet raaksien is dat die Here se seëninge nie gemik is op Dawid se persoonlike gemak nie. Dit is daarop gemik dat Dawid ‘n seën sou gaan wees.
Hierdie verse gaan oor méér as dat Dawid buit bymekaar gemaak het. Volgens vers 11 het Dawid die buit aan die Here gewy. Dawid het dit aan die Here se diens gewy. Dit beteken dat Dawid goed besef het dat die Here van A-Z alles bewerkstellig het en dat hy/Dawid daarom niks vir sy eie gerief wil hê nie, maar dit vir die Here se glorie wil aanwend. Dit gaan nie oor Dawid wat die wonderlike koning moet wees wat so ryk is nie. Heel waarskynlik was dit juis hierdie buit wat Salomo sou gebruik om die tempel te bou.
Dit alles beteken nie dat Dawid arm was nie. Maar die basiese beginsel is dat die Here hom nie seën ter wille van sy (Dawid se) genot/gemak/eer/posisie nie. 2 Kor 8-9 > Beginsel > Die Here seën ons finansieël sodat ons ‘n seën vir ander kan wees. Psalm 67: Die Here seën Sy volk SODAT hulle Sy Naam kan verkondig.
As jy geseën word deur iemand, dan soek jy weer iemand wat jy kan seën. Dis hoe die Here se ekonomie werk. Geseën om te seën. Want dit gaan nie oor my en my gemak nie. Dit gaan nie oor wat ek alles nodig het nie. Dit gaan nie daaroor dat ek moet kan sê: “Ek is ‘n kind van die Here en kyk net hoe kwistig seën Hy Sy kinders” nie. Dit gaan daaroor dat ons in Sy diens is en tot Sy eer ander mense seën.
Dawid het die buit aan die Here gewy.
Hierdie beginsel raak nie net stoflike dinge nie, maar ook geestelike gawes. 1 Kor 12 > Elke gelowige is geseën met gawes van die Heilige Gees. Maar dit is nie vir eie voordeel nie, maar vir die voordeel van die Here se liggaam – die gemeente. Diens aan die gemeente van Christus – dis waaroor alle geestelike gawes gaan.
3 Vers 15 > IN ALLES WAT ONS DOEN REFLEKTEER ONS DIE HERE SE EER EN WIE DIE HERE IS
Lees die vers: “Dawid het die hele volk met reg en billikheid regeer”
Dawid bedien reg en geregtigheid aan al sy mense. Dawid reflekteer reg, geregtigheid, billikheid, reg-wees, lieflikheid, liefde aan AL sy mense.
Dit gaan oor refleksie/weerkaatsing. Die Here word geprys en ontvang eer in/deur hoe ons optree/gesind is teenoor ander. Hoe slegter die ander mense is en minder hulle iets daarvan verdien, hoe beter en hoe groter is die geleentheid! Ander moet altyd meer ontvang as wat hulle verdien. Dit is ‘n weerkaatsing van hoe die Here met ons werk.
Volgens 2 Kor 3:18 weerspieël ons almal die heerlikheid van die Here. Hy stel dit as ‘n gegewe feit. Soos wat en namate ek kyk en sien hoe die Here Jesus as Mens self my nuwe identiteit is, en dat wat van Hom waar is, van my waar is…. dat ek blaamloos, heilig en onskuldig is – met ander woorde namate ek na Sy heerlikheid kyk – gebeur daar iets groots: sonder dat ek dit besef weerkaats ek Sy heerlikheid en sonder dat ek dit besef word ek self getransformeer en verander. Jy hou net aan om behoorlik in die regte rigting te kyk – en dinge gebeur in jou lewe sonder dat jy dit besef of energie insit.
Die manier hoe die Heilige Gees die heerlikheid van Christus deur ons weerkaats is deurdat Hy ons laat kyk/fokus op die regte plek – op Christus wat ons nuwe identiteit is.
3 beginsels dus:
1 Die Here maak Sy beloftes in ons lewens waar
2 Die Here se gawes is nie eerstens vir ons eie gewin nie
3 Ons weerkaats Sy heerlikheid na ander
Mag die Here die waarhede wat ons vanoggend uit 2 Samuel 8 geleer het in ons lewens ingraveer.