TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 18: Genade van A-Z

2 SAMUEL 7

 

Hoe kan ‘n mens in 2 sinnetjies sê wat die boodskap van die hele Bybel is?

 

Sinnetjie no 1: Die Bybel maak God aan ons bekend as die Een wat mense – wat nie aan Hom gebind wil wees nie – aan Homself vasbind sonder om hulle toestemming te vra of te kry.

 

Sinnetjie no 2: Die vasbinding waarmee die Here mense aan Homself bind, werk dan binne-in die mense ‘n verandering sodat hulle later ook aan Hom vasgebind wil wees en met Hom wil leef.

 

Hierdie manier wat God het om mense – wat nie aan Hom gebind wil wees nie – aan Homself vas te bind word genoem die Verbond.

 

Dis waarom die Bybel ‘n “testament” is. Want in ‘n testament sluit iemand ander mense by ‘n erfenis in sonder om daardie mense te raadpleeg of hulle toestemming of samewerking te kry! Hulle erf eenvoudig net. Hulle ontvang net. En raak positief en opgewonde.

 

Dis waarom verbond en testament in die Skrif wisselterme is. Dit werk op dieselfde manier.

 

Dus: Die hoofboodskap van die Bybel is: God bind sondaars aan Homself vas sonder om hulle toestemming te vra (vgl Jesaja 65:1-2). Dit is die Verbond. En deur middel van hierdie band wat Hy met hulle binne-in hulle sonde en negatiwiteit skep, verander Hy hulle lewens en hulle houding teenoor Hom.

 

As God jou liefhet terwyl jy Hom haat, begin daardie liefde jou innerlik só wring en buig dat jy Hom ook begin liefkry. En daardie liefde verander letterlik alles.

 

Nou is die logiese vraag: OP WATTER MANIER bind God mense – wat nie aan Hom gebind wil wees nie – aan Homself vas?

 

Antwoord is tweeledig: Hy stuur Sy eie Seun as die mense-wat-nie-aan-Hom-vasgebind-wil-wees-nie se perfekte verteenwoordiger en in hierdie Seun vernietig Hy volkome alles wat die mense van Hom verwyder het. Hy sluit doodgewoon die mense by Sy Seun in.

 

En dan (tweedens) gaan Hy na die mense toe en gaan verklaar/beloof aan hulle dát hulle ingebind is. Hy bind dus mense wat nie aan Hom gebind wil wees nie, aan Homself vas deur middel van ‘n verklaring/belofte/toesegging – net soos ‘n testateur in ‘n testament met erfgename doen. En Hy sertifiseer swart op wit met sigbare tekens dat hierdie verklaring waar/eg/betroubaar is.

 

Kan u sien hoe skokkend radikaal roekeloos wonderlik dit is?

 

God kom nie na sondaars-wat-nie-aan-Hom-vasgebind-wil-wees-nie en beveel hulle dat hulle ‘n persoonlike verhouding met Hom moet aanknoop of dat hulle vir Hom moet kies nie. Daar is geen “moets” en “asse” nie. Hy kom nie na sondaars-wat-nie-aan-Hom-vasgebind-wil-wees-nie en rig aan hulle versoeke en uitnodigings of hulle aan Hom verbind wil wees nie.

 

Hy kom bind hulle eenvoudig aan Homself vas. En Hy sluit hulle in met ‘n verklaring wat met sigbare tekens gesertifiseer is.

 

Die enigste denkbare manier hoe mense hierop kan reageer is om vir God daarvoor te glo. Dis die manier hoe die persoonlike belewenis daarvan ‘n mens se ervaring word.

 

Dit is hoe die Verbond werk. En dit is die hele Bybel.

 

Natuurlik het hierdie verbond deur die eeue deur verskillende fases en ontwikkeling gegaan. Dwarsdeur die OT sien ons dit. Aan Abraham byvoorbeeld verklaar die Here (opgesom in Esegiel 36) dat HY a) die mense deel sal maak van ‘n groep mense wat Hom eer, b) hulle met ‘n teken sal merk wat sal wys dat hulle Syne is, c) hulle sondeskuld sal vernietig, d) hulle nuwe harte sal gee, e) hulle Sy Gees sal gee, f) sal onderneem dat hulle aan Hom behoort ens ens.

 

Die wonderlike is dat hierdie verklarings/beloftes in werklikheid glad nie aan Abraham, Isak of enige Israeliet gemaak is nie, maar aan Jesus Christus self! Christus het al daardie verklarings NAMENS die mense ontvang, vervul en waargemaak!

 

Gaan lees maar Galas 3:16-20 > AL die beloftes is aan CHRISTUS gegee. En 2 Korint 1:18-27 > CHRISTUS die die ja en die amen op AL die beloftes van God. En Romeine 15:8 > CHRISTUS maak AL die beloftes van God waar.

 

Met ander woorde: Jy kan ENIGE verbondsbelofte/verklaring in die OT sien en weet: Dit is eintlik AAN Christus gegee en CHRISTUS het dit namens jou en in jou plek en IN jou waargemaak.

 

Dit geld nie net vir die Abrahamsbeloftes nie. Ook vir die Dawidsbeloftes. Want God se verbond in die OT het oor hierdie twee groot bakens geloop: Abraham en Dawid.

 

Dit is nou hier waar 2 Samuel 7 inpas. Want in 2 Sam 7 spel die Here Sy verbond met Dawid uit. Dit is dus die één verbond van alle eeue – wat alreeds in Abraham gestalte gekry het en 600jr later in Dawid herbevestig word en van Dawid af 1000jr later in Christus sal grondvat en nog 2000jr later in jou grondvat. Ú is ingesluit daarby. Halleluja! Wat ‘n wonder!

 

Daarom is 2 Sam 7 een van die belangrikste hoofstukke in die hele OT!

 

Dawid en sy profeet – Natan – kuier een middag saam. In alle rus. Terwyl hulle so sit en gesels sê Dawid vir Natan: “Jy weet dis net nie reg dat ek so heerlik hier in hierdie paleis woon en al hierdie vrede en vryheid geniet en die Here se Verbondsark staan daar iewers in ‘n tent nie. Ek dink ek moet vir die Here ‘n huis bou, ‘n plek waar die Ark ‘n permanente waardige plek het”.

 

Natan antwoord: “Ek dink dit is ‘n super goeie idee. Uitstekend! Ek dink absoluut daardie gedagte wat u het kom van die Heilige Gees.”

 

Almal was so opgewonde oor Dawid se idee…. behalwe die Here self!

 

Dawid se idee was goed bedoel maar eintlik nie so onskuldig nie, want by al die naburige volke van daardie tyd het die mense huise vir hulle gode gebou om die gode se guns (in die gode se goeie boekies) te bekom. Die heidene het die pragtigste plekke vir hulle gode gebou SODAT die gode tog net gunstig oor hulle sal oordeel. Hulle moes die gode se guns koop. Hulle moes die gode se guns waardig/werd wees.

 

Maar die ware God kom sê vir Dawid: My koninkryk werk nie so nie. Bou jy vir my ‘n huis sal al die heidene dink Ek is maar op gelyke vlak met hulle gode wat huise soek”

 

Voordat Dawid ‘n vinger kan verroer om vir die Here ‘n huis te bou, besit Dawid alreeds God se volle guns. Sy guns word nie verdien nie.

 

Genade is nie: Die Here kyk na iemand en sê: “Hier is darem goeie materiaal waarmee Ek kan werk – ek sal by hom/haar bly” nie.

 

Genade is: Die Here kyk na iemand en sê: “Kyk hoe verrot is hierdie mens – maar ek kies om hom/haar lief te hê en ek kies om my liefde op hom/haar te vestig, kom wat wil”.

 

Hy weet hoe jy is en tog kies Hy jou.

 

Dieselfde geld vir Dawid. Dawid was nie ‘n wonderlike mens nie. Hy het verrotte goed aangevang. En tog kies die Here hom om Sy verbond mee te vestig.

 

Dawid neem die inisiatief om vir die Here ‘n huis te bou – maar die Here knip dit kort en TEENOOR dat Dawid vir die Here iets wil doen vertel die Here vir Dawid wat SY inisiatief ten opsigte van Dawid is!!

 

Teenoor Dawid se “EK” stel die Here Sy “EK”! Dawid sê: “EK sal vir die Here dit, EK sal vir die Here dat”. Dan maak die Here vir Dawid stil en sê: “EK sal vir jou dit en EK sal vir jou dat”…

 

Kyk na die boodskap wat die Here vir Natan gee om aan Dawid oor te dra. Daar is 23 werkwoorde en die Here is self die doener in elke werkwoord. Hier gaan dit oor wat die Here doen. Sy aksie. Sy inisiatief. Sy werking – om ook Dawid se kant van die verbond te vervul. Dawid en sy ganse nageslag is totaal passief in hierdie saak!!

 

Dit is onmoontlik om 2 Samuel 7 te lees en tot die gevolgtrekking te kom dat dit oor Dawid gaan. Dit is nie. Dit gaan oor die verbond wat uit die Here se inisiatief gebore is en wat vir Dawid en sy nageslag en vir ons – maar eintlik vir Christus – in die visier het.

 

Wanneer ‘n mens dit raaksien, leer jy iets van die karakter van die Here self. Die manier hoe Hy met mense werk. Daarin sien ons waar ONS inpas. Die manier hoe die Here met Dawid werk, raak ONS en sluit ons in.

 

Hou net ‘n bietjie in gedagte wat ons aan die begin gesê het wat die Verbond is: Daardie twee sinnetjies:

 

Sinnetjie no 1: Die Bybel maak God aan ons bekend as die Een wat mense – wat nie aan Hom gebind wil wees nie – aan Homself vasbind sonder om hulle toestemming te vra of te kry.

 

Sinnetjie no 2: Die binding waarmee die Here mense aan Homself bind, werk dan binne-in die mense ‘n verandering sodat hulle later ook aan Hom vasgebind wil wees en met Hom wil leef.

 

Met dit in die agterkop, lees dan weer 2 Samuel 7. Dan klink God se verbondsluiting met Dawid (slegs die herbevestiging van die Abrahamsverbond van 600jr te vore) só:

 

“Dawid, wil JY vir MY ‘n huis bou? Siestog weet jy ek waardeer dit maar kom ek plaas jou net in die volle prentjie:

 

Reg van die begin af was dit EK wat met jou volk die pad begin loop het

 

EK het julle uit Egipte gered

 

EK het jou uit die weiveld agter die skape weggevat

 

EK was altyd by jou

 

EK het jou vyande verdelg

 

EK het jou beroemd gemaak

 

EK het ‘n woonplek aan Israel gegee

 

EK het leiers oor my volk aangestel

 

EK sal jou rus gee van jou vyande

 

EK maak my aan jou bekend

 

EK sal jou koningshuis vestig

 

EK sal sorg dat jy by jou voorvaders rus na jou dood

 

EK sal jou seun koning maak en sy koningskap bestendig

 

EK sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan

 

EK sal vir hom ‘n vader wees en hy vir my ‘n seun

 

EK sal hom kasty as hy ontrou is

 

EK sal nie my trou aan hom onttrek nie

 

EK sal sorg dat jou troon vir altyd voortbestaan

 

Watter impak het hierdie verklaring dan op Dawid? Hy ontvang net. Sy mond hang letterlik oop. “Wie is EK, Here, dat…?”

 

En hoe sien Dawid die Here se woorde? Hy sien dit as ‘n TOESEGGING (v19). ‘n Verklaring. ‘n Belofte. Daar is nie EEN voorwaarde wat aan Dawid of sy ganse nageslag gestel word nie. Geen “asse” of “mitse” nie. Zero. Al wat daar staan is “EK SAL”…

 

Dawid reageer net in volslae verwondering. Dis al hoe ‘n mens kan reageer wanneer jy die wonder van die Here se verbond ontdek en wanneer jy ontdek dat Hy jou aan Hom vasgebind het toe jy nie aan Hom vasgebind wou wees nie.

 

Hoor hoe reageer Dawid: “Wat kan ek sê? U het hierdie groot dinge gedoen omdat U dit besluit het. Groot is U, Here my God. Daar is niemand soos U nie. U het U kinders as ‘n volk vir Uself vrygemaak. U het nadruklik verklaar dat U vir my ‘n koningshuis sal vestig. Daarom het ek die vrymoedigheid om nou tot U te bid. Die feit dat ek nou bid en WAT ek nou bid, is 100% gegrond op wat U aan my verklaar het. Want ek is seker elke woord van U sal bewaarheid word. U het gepraat. En daarom IS my koningshuis vir ewig geseën.”

 

In hierdie woorde van Dawid hoor ons presies hoe iets soos ‘n geloofsontwaking en bekering werk.

 

Dis niks anders nie as ‘n ontdekking. ‘n Ontdekking dat God my aan Hom vasgebind het toe ek nie aan Hom vasgebind wou wees nie. En dat Hy die vasbindwerk op die kruis gedoen het. En hierdie ontdekking lei tot totale ommekeer. Toekeer – tot Hom! Bekering = omkeer. En die omkering is die gevolg van die ontdekking.

 

Wat ons sterk in gedagte moet hou is dat hierdie verbondsbeloftes aan Dawid EINTLIK aan Christus self gemaak is. Die ontvanger en waarmaker van hierdie verklarings is Christus Jesus self. Hy het dit namens Dawid en AS Dawid ontvang en vervul!! Daarom lees ons dat uit Dawid se nageslag ‘n seun sal kom en dat hy die koningskap sal stabiliseer tot in ewigheid. Die seun is natuurlik Salomo. Maar Salomo kon dit nie stabiliseer tot in ewigheid nie. Wie is die EINTLIKE seun dus? Jesus van Nasaret.

 

Dit is die rede waarom Skrifgedeeltes wat ek net nou genoem het – Romeine 15:8; Galasiers 3:16-20; 2 Korintiers 1:18 – kan sê dat die Here Jesus Christus die ontvanger en vervuller en waarmaker van AL God se verbondsbeloftes is! Hy is die JA op al God se verbondsverklarings.

 

En met Christus se opstanding uit die dood verbreed die skopus skielik na die hele wêreld en al die nasies. Dis die rede waarom die mense op Pinksterdag toe die Gees uitgestort is, skielik al die tale van die nasies begin praat het. Dit gaan nie meer oor Abraham, Dawid en Israel nie. Dawid se ewige nageslag en sy bestendige ewige koningskap is vervul in Christus en alle mense uit alle nasies wat hulle ware identiteit in Hom ontdek het.

 

Luister net weer na Romeine 15:8 > Christus het AL die beloftes aan die voorvaders bewaarheid SODAT die NASIES (en daar kom jy in die prentjie) God sal verheerlik.

 

Christus het met Sy menswording, Sy sterwe, Sy opstanding namens u die verbondverklarings van die Vader ontvang en vervul en bewaarheid. En Hy het dit AS u (in u plek) ontvang en vervul en bewaarheid! Hy het dit op so ‘n manier AS u gedoen dat dit presies net so goed is asof u dit gedoen het!

 

Wanneer die skille van ‘n mens se oë afval en jy ontdek jou nuwe identiteit wat jy deur die Here se verbond ontvang het, kan jy op geen ander manier reageer as wat Dawid reageer het nie:

 

“Wie is ék Here en wie is my nageslag dat U my ingesluit het. Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God! U het hierdie groot ding gedoen omdat dit U keuse was. Daar is niemand soos U nie. Omdat U gepraat het, is ek vir altyd geseën”

 

Dit is wat bekering is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00