TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 15: Die loon wat ons nie ontvang nie
2 SAMUEL 4
Almal van ons besit die vermoë om iets só te vertel dat dit óns bevoordeel en in ‘n goeie lig plaas. Ons is almal briljant daarmee om ‘n “storie te spin”.
“Adam, wie het vir jou gesê dat jy naak is? Het jy van daardie boom geëet?”
Adam antwoord: “Wel, hierdie vrou wat Ú my gegee het… sý het vir my gesê..”
“Eva….” Sy antwoord: “Daar was hierdie slang…”
Dit kom so natuurlik: Om iemand te blameer. Om onsself altyd in ‘n goeie lig te wil stel. Ons is nie baie goed daarmee om verantwoordelikheid te neem nie. Ons eerste instink is altyd om te sê: “Dis nie my skuld nie.” Dis ‘n baie diepgewortelde korrupsie.
Die dieptepunt van hierdie korrupsie is wanneer ons God se Woord of die koninkryk van God of die Here se Naam misbruik om ons selfgesentreerdheid te kamoefleer.
Presies so gebeur dit in die 12 verse van 2 Samuel 4.
Toe Saul uiteindelik sterf en Dawid koning word, word hy koning slegs oor een enkele stam van die volk Israel naamlik Juda. Die ander 11 stamme hou aan om die huis van Saul te volg. Die gevolg was burgeroorlog en ‘n stryd wat meer as 7 jaar sou duur waarin Dawid sterker en sterker word en die huis van Saul swakker en swakker.
In 2 Samuel 4 word berig oor hoe hierdie burgeroorlog beëindig is toe die koning van die noordelike 11 stamme – Isboset – vermoor word. En dit leer vir ons ‘n groot beginsel.
En die beginsel is dít: ‘n Selfgerigte en selfgefokusde lewenstyl – wat gekamoefleer word onder die dekmantel van ‘n oënskynlike soeke na die Here se wil – eindig altyd in ‘n ramp.
Elke keer wat jy jouself probeer dien – en omstandighede en mense probeer manipuleer ter wille van eie gewin – onder die dekmantel van geloofsvertroue op Christus om te sê dit is God se wil dat ons dit en dat moes doen of sê – eindig dit vroeër of later in ‘n ramp. Dit werk nie uit nie. Dis eintlik baie gevaarlik.
‘n Geestelike en goddelike uiterlike vertoon/dop kan nooit ‘n ongeestelike en ongoddelike daad bedek nie. Jy kan nie jou ongeestelikheid wegsteek deur die Here se Naam daaraan te koppel of ‘n klompie Skriftekste te kwoteer nie.
Kyk noukeurig na 2 Samuel 4.
Logika sê: As Isboset net uit die pad kan kom, sal dit vir Dawid maklik wees om ál 12 stamme oor te neem. As die dinge net gemanipuleer kan word om van Isboset ontslae te raak.
Logika sê ook: Daar moet tog ‘n beloning wees vir enigiemand wat hierdie aksie kan onderneem en van Isboset ontslae kan raak. Isboset is in elk geval tog nie Here se keuse nie.
Dit is wat in die agtergrond lê wanneer ons hoofstuk 4 lees.
Abner is nou dood. Wat is die 11 noordelike stamme se reaksie hierop? Onthou Abner was die man wat die 11 stamme weggeskeur het van Dawid af en wat dit bewerk het dat Saul se seun Isboset oor hulle koning word. Éintlik het Abner die hele storie gemobiliseer en aan die gang gehou. Hy was téén Dawid hoewel hy geweet het dat die Here vir Dawid se troon beloof en gegee het. Nou is Abner dood.
Toe Isboset en die noordelike stamme hoor dat Abner dood is, was hulle op moedverloor se vlakte. Isboset was nie koninklike materiaal nie. Abner het hom in sy posisie gehou en al die besluite geneem.
Dit is binne hierdie verwarring & onsekerheid wat twee bendeleiers van die stam Benjamin met die name van Baana en Rekab in Isboset se huis indring en hom doodsteek, sy kop afkap (terwyl hy ‘n middagslapie vang) en met sy kop na Dawid toe gaan om vir Dawid te gaan wys hoe die Hére – deur hulle hande – wraak op Saul se huis uitgeoefen het.
Hoor die sarkasme. Hierdie bendeleiers is sulke brawe manne, maar hulle tree so lafhartig op. Hulle maak ‘n man in sy slaap dood! Maar toe hulle met Isboset se kop by Dawid aankom, sê hulle dit was die Hére wat deur hulle gewerk het! Terwyl daar absoluut geen sprake daarvan is dat die Here met hulle gepraat het en hulle aangespoor het om vir Isboset dood te maak nie. Hulle het nie Sy wil gesoek nie en dit was ook nie Sy wil nie. Hulle het doodeenvoudig ‘n omstandigheid gebruik vir hulle eie selfsugtige doeleindes. Maar hulle kamoefleer dit met hierdie woorde: Die HERE het deur ons gewerk.
Maar Baana en Rekab het ‘n fatale drieledige oordeelsfout begaan.
1 Hulle het gedink dat Dawid net so mags-honger was soos wat hulle self was. Hulle het gedink dat Dawid verteer was met ‘n passie om ál 12 stamme onder sy beheer te kry – in plaas van slegs Juda. Só magsbehep dat hy enige iets sou doen om beheer te kry.
Terwyl Dawid se hart op geen manier na mag gedors het nie. Hoeveel keer het hy nie gesê nie: “Die Hére sal gee.”
2 Tweede fatale fout: Baana en Rekab het gedink hulle hélp maar net die Here om Sy doelwit te bereik. Gee Hom bietjie hand. Medewerkers in Sy diens. Wat is daarmee verkeerd? Dis so geestelik. Wat hulle nie geweet het nie is dat hierdie mentaliteit altyd misluk. God werk deur genade. Dit beteken die mens sit nooit enige handjie by nie. Hy werk alleen. Omdat Hy wil.
3 Hulle het gedink hulle sal ‘n groot beloning van die koning kry omdat hulle sy aartsvyand Saul se seun reggesien het. Hulle het nie besef dat hulle met ‘n lafhartige mag-speletjie vir eie gewin besig was nie (en net die Here God se Naam daaraan koppel om dit te heilig) en dat Dawid dwarsdeur die bedrog gesien het.
Baana en Rekab staan daar met Isboset se kop – absoluut selfingenome. So geestelik dat jy met hulle kan toor.
Dawid se eerste woorde moes hulle opgewonde gemaak het. Dit klink of hy ‘n eed in die Here se Naam sweer dat hy aan hulle goed sal doen: “Ek verklaar voor die Here, wat my uit elke lewensgevaar bevry….” Sjoe, klink regtig of Dawid ook dink dat die Here húlle tweetjies gebruik het om sy aartsvyand Saul se booshede te wreek! Dalk gaan Dawid nou vir hulle helfte van sy koninkryk gee! Wow!
Maar toe sê Dawid: “Julle dínk julle bring vir my goeie nuus… Die man wat vir my kom vertel het hoe hy vir Saul doodgemaak het, het ook só gedink. Maar ek het hom daar en dan laat teregstel. Dis hoe ek sy goeie nuus beloon het. En só sal ek nou ook júlle goeie nuus beloon. Julle het ‘n onskuldige man in sy slaap vermoor. Daarom sal ek julle van die aarde wegvee.”
Binne ‘n ommesientjie hang Baana en Rekab se lyke – sónder hande en voete – by die dam van Hebron.
Maar wag ‘n bietjie!! Stop vir ‘n oomblik!!
Hét Baana en Rekab nie dalk wérklik God se plan gedien nie?
Het God dan nie self beloof dat Dawid oor die hele Israel sal regeer nie. Was dit die wil van die Here dat Dawid oor ál 12 stamme regeer? Beslis! Het dit dan nie juis so gebeur dat – as gevolg van Isboset se dood – Dawid toe inderdaad koning oor almal geword het nie? Dit het. Dus – het Isboset se moordenaars nie God se wil gedien nie? Ja hulle het.
Maar – dit was nie hulle motivering nie. Dit was nie hulle verlange nie. Hulle motivering was hulle eie welstand en eie belange. So eenvoudig soos dit.
En tog het hulle – in hulle boosheid – God se soewereine plan gedien. Want goddelose mense se sondes díén God se planne – heel dikwels. Hy gebruik dit. Hy is God. Hy is soewerein. Dit is die punt van Romeine 8:28 – “alles sal ten goede meewerk vir die mensies vir wie Hy liefhet”.
God is in staat om sondige en bose motiveringe en gedagtes en dade om te buig om Sý wil te dien. Hy weef dit in Sy ewige Raadsplan in. Op hierdie manier het iemand soos byvoorbeeld Judas God se koninkryk bevorder – terwyl hy Jesus verraai! En op hierdie manier het Josef se broers God se koninkryk bevorder toe hulle vir Josef verkoop het – nie omdat dit hulle motivering was om God se koninkryk te bevorder nie – maar omdat God in Sy soewereiniteit hulle boosheid by Sý plan ingespan het. Wat ‘n Here het Hom nie aan ons kom verbind nie!
Maar indien Baana en Rekab eintlik onwetende God se plan gedien het, is die tipe straf wat Dawid toepas dan enigsins billik? Is dit nie ‘n bietjie onnodiglik wreed & oordadig & on-eties om hulle hande en voete af te kap en hulle verminkte liggame as ‘n bespotting buite Hebron in die openbaar op te hang vir almal om te sien nie?
Wel, wat moet ons sê van die vlekkelose Seun van God wie se liggaam buite die stad Jerusalem opgehang is? Nakend. Met ribbes en ingewande wat sigbaar is. Op ‘n hoogte – Kopbeenhoogte – sodat almal wat verbyloop Hom kon bespot. Met penne deur Sy gewrigte en bene gekap, was Sy hande en voete ook in ‘n sekere sin afgekap. Volgens Hebreërs 13:12 het Hy buite die stad Jerusalem gehang. En dáár het Hy vir ú heilig gemaak sê daardie vers. Daaron ís jy geheilig.
Wat male sonder tal in die OT uitgebeeld word, is die erns van sonde. Dat dit nie maar net menslike tekortkominge of foute is nie, maar ‘n korrupsie wat God se ewige droom vir die mens vernietig. God se se ewige droom was dat die mens deel moet hê in die verhouding van liefde wat op ánder gefokus is, wat binne-in die Drie-eenheid tussen Vader/Seun/Gees heers. Sonde vernietig dit. Daardeur het gebrokenheid, duisternis, vervreemding diep wortel geskiet in die mens se bestaan. Eensaamheid, vrees, isolasie, verlies, skuld, hartseer, frustrasie, jaloesie, moord, woede, bitterheid, depressie, verwerping en veroordeling het deel geword van die daaglikse lewe van elke mens en verhoudings binnegedring en verwoes.
God se reaksie hierop kan met een woord saamgevat word: NEE. Juis ómdat Hy JA sê vir die mens.
God is vír ons – daarom is Hy absoluut radikaal ewiglik passievol gekant téén enigiets wat ons kan vernietig of skade berokken. Sy vurige gedetermineerde teenkanting/verset/opposisie teen die sondeval is Sy ewige NEE juis omdat Hy vir ons JA sê! Dis juis omdat die Drie-enige ‘n ewige JA oor die menslike ras uitgespreek het, ‘n ewige JA vir oorvloedige lewe, vreugde, liefde in/vir ons – dat Hy die sonde tegemoetgaan met ‘n onverbiddelike NEE!! “NEE, ek het julle nie geskape om in duisternis te sterf nie!!”
Hierdie NEE van God word uitgebeeld in die baie bloed wat dwarsdeur die OT-periode vloei. Sondaarsbloed maar ook plaasvervangende diere-offerbloed. 2 Samuel 4 is maar net één van die gevalle waar dit vir die soveelste keer uitgebeeld word.
Die verskil is: Baana en Rekab se liggame hang buite Hebron vir koelbloedige moord en vir skynheilige selfgesentreerdheid.
Christus Jesus se liggaam hang buite Jerusalem vir JOU EN MY moorde en selfgesentreerde skynheiligheid. In Jesus se verminkte liggaam wat buite die stad opgehang word, vang God se liefde Baana en Rekab se skande op. En Hy vang ook jou en my skande op.
En daarom ontvang ons nou nét Sy guns.
Ek lees weer Hebr 13:12: “Jesus het buitekant die stadspoort gely om die mense deur Sy eie bloed van hulle sonde te reinig (Grieks: te heilig).” Jesus se hang buite die stad hét jou geheilig. Of soos Hebreërs 10:10 sê: Jy is eens en vir altyd heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus.
Dawid het vir Baana en Rekab van die aarde weggevee oor hulle sonde. God het vir Christus van die aarde weggevee sodat jý nou vir ewig vir Hom behoue ís. Jou sondes is in totaliteit gereinig. Jy is teruggeplaas binne die droom wat God vir jou voor die skepping reeds gehad het: Dat jy kan deel in die oorvloed van lewe wat binne die sirkel van die Vader, Seun en Gees bestaan. In die kruisdood van ons Here Jesus het die dinamiese innerlike lewe van die Vader/Seun/Gees sy pad oopgebreek dwarsdeur menslike sonde, vervreemding & ontaarding. Toe Jesus aan die kruis hang het die Vader/Seun/Gees letterlik kom tent opslaan binne-in ons diepste hel.
Omdat óns dikwels so walg aan ons eie verlede en mislukkings en sondes, dink ons dat die Here God net so daaroor walg. Intussen kom ontmoet Hy ons juis binne-in ons walglike duisternis. As jy kyk na Jesus se liggaam wat buite die stad opgehang is, sien jy hoe Hy Hom met jou kom identifiseer het. Dis is waarom Hy absoluut vertrou kan word. Want Hy het jou nie afgestoot oor jou verlede en sondes nie, maar jou daarbinne kom ontmoet en jou deur Sy kruisoffer volkome van sonde vrygemaak (Hebr 10:14). Dit is waarom Hy absoluut vertrou kan word! Want Hy het jou nie afgestoot oor jou verlede en sondes nie, maar jou daarbinne ontmoet en jou deur Sy kruisoffer volkome van sonde vrygemaak. Hebreërs 10:14: Deur één offer is ons vir altyd volkome gemaak.
Dis waarom Hy vertrou kan word!