TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 13: God se hartklop
2 SAMUEL 1
Hou in gedagte: Hoewel Dáwid die hele 2 Samuel-boek domineer, handel 2 Samuel ten diepste nie oor Dáwid nie. 2 Samuel gaan oor Dawid se God.
Dit is soms die fout wat ons maak wanneer ons OT-verhale lees: om ons blind te staar teen die ménse van wie gepraat word en te dink dat hulle voorbeelde is wat ons moet probeer navolg. En dan vergeet ons dat die wérklike fokus op die Hére is.
Die doel van die Skrif is om Hóm aan ons bekend te maak.
Daarom – wanneer ‘n mens die Woord lees – behoort jy altyd jouself af te vra: “wat sê hierdie gedeelte vir my oor God”? Die Here Jesus Christus is die sentrum van elke paragraaf in die Skrif.
Dieselfde geld vir 2 Samuel.
Dit gaan nie oor Dawid, die verbondskoning nie. Dit gaan oor die God van die verbond wat verbondsbeloftes aan die verbondskoning (Dawid) maak wat weer gemik is op die verlossing van Sy verbondsmense.
Ja, 2 Samuel praat inderdaad van Dawid en leer vir ons ‘n klomp goed uit sy lewe – maar eintlik gaan dit oor die Here God wat besig is om nader en nader te beweeg aan die koms van die Messias wat redding sou bring vir die mensheid. Die éíntlike storie van 2 Samuel lê m.a.w AGTER Dawid se storie. En Dawid – as persoon – is ‘n heenwysing na die Groter Dawid wat sou kom – Jesus van Nasaret.
1 en 2 Samuel is eintlik één boek. Daarom – wanneer ons 2 Sam 1 oopmaak, besef ons ons is in die middel van ‘n storie. Kyk na 1 Sam 30-31: Dawid was in Siklag, maar intussen sterf koning Saul by berg Gilboa in ‘n geveg met die Filistyne. Dawid was egter onbewus hiervan.
Maar toe kom daar ‘n boodskapper in Siklag aan om dit vir Dawid te kom vertel. Maar in werklikheid verdraai hy die hele storie. Hy vertel dat hy ook in die geveg op Gilboaberg was toe Saul swaar gewond was deur die Filistyne en Saul homself om die lewe probeer bring het, maar nie daarin kon slaag nie. Saul smeek toe vir hóm om hom dood te maak en hy doen dit toe, gryp Saul se kroon en bring dit vir Dawid om daarmee gekroon te word.
Lees ‘n mens egter 1 Sam 31 sien jy wat werklik gebeur het. Saul was nie gewond nie. Hy het gesien hoe die Filistyne sy seuns doodmaak en besef dat hulle hóm volgende in die teiken het en dat hy nie ‘n kans teen hulle het nie. Pleks van die skande om deur heidene doodgemaak te word, vra hy toe sy wapendraer om hom te dood. Toe die wapendraer weier, val Saul in sy eie swaard. Toe die wapendraer sien Saul is dood, val hy ook sy swaard en sterf.
Hierdie boodskapper jok dus vir Dawid. Want hy het geweet watter bitter lyding Saul vir Dawid aangedoen het. Daarom dink hy hy sal aansien in Dawid se oë kry as Dawid weet hý het vir Saul van kant gemaak en dat hy nou vir Dawid so ‘n groot eer aandoen om vir hom Saul se kroon te bring! Dalk kan hy selfs ‘n minister in Dawid se nuwe kabinet word!
Maar tot sy stomme verbasing is Dawid glad nie bly oor Saul se dood nie. Inteendeel, hy rou, treur en vas tot die aand toe.
Toe sê Dawid vir die man: “En jy het niks daarvan gedink om jou hand teen die Here se gesalfde te lig nie?” Toe beveel Dawid iemand om die man daar en dan tereg te stel. En Dawid sê: “Jou bloed is op jou eie kop en jou eie woorde het teen jou getuig toe jy gesê het: ‘Ék het die Here se gesalfde doodgemaak.’” Daarná het Dawid ‘n klaaglied aangehef om Saul en Jonathan se dood te betreur.
‘n Leuen, ‘n stuk smart, ‘n teregstelling en ‘n klaaglied. Wat ‘n begeesterde opbouende bemoedigende Skrifgedeelte vir ‘n oggenddiens!
Hoe gemaak met hierdie hoofstuk? Hoe hoor ons die stem van die Gees uit hierdie gedeelte?
Wel, ‘n mens kan sekerlik baie verskillende waarhede hierin sien. Soos byvoorbeeld dat sonde/leuens altyd een of ander tyd aan die lig kom, dat sonde geoordeel word, dat gesonde Godsvrees ‘n belangrike element van ons wandel moet wees, dat gelowiges mág rou oor die dood van geliefdes en nie noodwendig makliker en gouer daar deurkom as ongelowiges nie ensovoorts. Al hierdie waarhede is belangrik en dit staan in 2 Samuel 1.
Ek wil egter die hoofstuk op ‘n ander manier benader.
Ek wil u wys op die Here God se hartklop – wat ‘n mens gereflekteer sien in Dawid se hartklop.
En daardie hartklop, is LIEFDE. God se wese is liefde (1 Joh 4:8) en dit mond uit in Sy kinders se lewe (Rom 5:5).
Wanneer ek in 2 Samuel 1 na Dawid se hart kyk, sien ek ‘n heenwysing na Christus (die Groter Dawid) se hart.
As ons die hoofstuk vanuit hierdie hoek benader, dan sien ons twee dinge:
1 GOD SE LIEFDE OORDEEL DIE SONDE > Hierdie man veroordeel homself met sy eie woorde deur vir Dawid te mislei. Dawid oordeel sy moord op Saul – hy stel hom tereg. Sonde se loon is die dood.
Dawid het geen rede gehad om die man se verhaal te betwyfel nie. Óns weet wat regtig gebeur het, want ons lees die verhaal. Maar Dawid kon dit nie weet nie. Dawid weet net een ding: Die man het die gesalfde van die Here vermoor. En só word die man se leuen toe sy eie ondergang. Want hy word tereggestel vir ‘n misdaad wat hy nooit gepleeg het nie. Hy word tereggestel op grond van sy eie getuienis.
Die punt is: sy sonde word geoordeel.
Die liefde van God veroordeel die sonde. Klink soos ‘n weerspreking. Sal die liefde dan nie ság op sonde wees nie? Antwoord: Nee. Onthou dit is die God van liefde wat die sonde in Christus op die kruis veroordeel het. Die mens se sonde is in Christus op die kruis veroordeel (Rom 8:3). Kyk na die kruis en besluit of God sag is op sonde. God is nie sag op sonde nie. Maar Hy is ook nie sag op Sy Seun op die kruis nie.
Die dood waarmee Dawid hierdie man tref, is ‘n dood wat opgevang is in Christus se dood op die kruis. Christus se dood was plaasvervangend. Dit was ook in die plek van hierdie man. Daarom is die liggaamlike dood waarmee hierdie man getref word nie die einde van die wêreld nie, want volgens Psalm 66:12 lei Hy mense na oorvloed nádat Hy hulle deur vuur laat gaan het. Die éíntlike dood is nie die dood wat die man onder Dawid se hand sterf nie. Hy sal weer uit die dood opstaan. Die éíntlike dood is Christus s’n.
Dit is nie ‘n monsteragtige, wrede, hartelose God wat vir Dawid aansê om die man tereg te stel nie. Dit is die God wat sonde oordeel deur SELF deur die oordeel te gaan! Kyk mooi na daardie oomblik toe hierdie man onder Dawid se hand sterf… en dan draai jy jou oë weg en kyk na Golgota waar hierdie einste man se dood in Christus s’n opgevang word! Dieselfde God wat die sonde oordeel, buig self onder die oordeel in. ‘n Mens moet die skaduwee van die kruis oor 2 Samuel 1 sien val. Jy moet die brood & wyn (die liggaam en bloed van die Lam) hier kan sien.
Die brood & wyn wat ons netnou gaan eet en drink is dalk nie ‘n mondvol nie, maar dit SÊ ‘n mondvol. Dit getuig van die God van liefde wat sonde oordeel. Wat doodstraf toepas. Maar dit toe op ‘n Plaasvervanger toegepas het. Die brood & wyn sê vir my wat dit eet: “Jou sonde is alreeds veroordeel en met die dood gestraf – in Iemand wat jou plek daarvoor geneem het”.
Daarom is die boodskap nie: “Jy mag nie sondig nie, want God gaan jou oordeel” nie, maar wel “hoe kán ek sondig in die lig van die feit dat God se liefde my sondes kant en klaar geoordeel het in Christus se dood?”
Nie ‘n dreigement nie, maar ‘n stuk bevryding.
2 GOD HET SY VYANDE LIEF
In Dawid se vreemde optrede sien ons ‘n refleksie van die Groter Dawid – ons Here Jesus Christus – se hartklop. God se hartklop klink net so vreemd op ons ore.
Het u agtergekom hoe vreemd Dawid optree? Het u gehoor hoe vreemd Dawid se klaaglied klink?
Die boodskapper bring eintlik goeie nuus! “Dawid jou bittere vyand is dood! Hier is die kroon! Jy kan nou koning word!”
Maar Dawid skeur sy klere. En hy huil en ween en vas en rou tot die aand vir Saul en vir Jonatan en vir die volk Israel. Sy hart is gebreek.
Hou in gedagte dat Dawid geweet het dat God lank tevore alreeds vir Saul as koning verwerp het en dat God vir hom wat Dawid is tot koning verkies het. Hou ook in gedagte die bittere onreg wat Saul hom aangedoen het. Hoe Saul op Dawid jaggemaak het.
En nou dat hy hoor sy vyand is dood en die kroon is syne. Wat is sy reaksie?
Ek dink nie mý reaksie sou só wees indien ek in Dawid se posisie was nie. Ek dink ek sou juig. En die kroon gryp. Ek sou onmiddelik die koning-houding kry. Maar dís nie die tipe koning wat God wou hê nie. Die tipe koning wat God wou hê is ‘n koning wat sy klere skeur wanneer die kroon na hom uitgehou word. Soos die Here Jesus WEGGELOOP het en Homself gaan verberg het toe die mense Hom wou koning maak (Joh 6:15). Pleks van die kroon te gryp, gaan Hy liewer die berge in! Pleks van die kroon te gryp, skeur Dawid sy klere!
Waarom het Dawid tot die aand gehuil? Waarom was hy nie vrolik nie? Sy vyand is dan dood. Die kroon is dan nou syne.
Maar hy huil omdat die Here se volk skade gely het. Sy hart was by God se mense, Sy volk. Sy gedagtes was verteer deur die eer van God. Die Filistyne se afgode het die eer gekry vir Saul se dood. Die lewende God se Naam is oneer aangedoen. DIS waaroor Dawid besorg is!
En kyk hoe prys hy vir Saul. Vir SAUL!! ‘n Mens se mond hang oop as jy dit lees. Hy besing nie net vir Jonatan en sy liefde vir Jonatan nie. Ja, verseker ook dit. Dawid en Jonatan se harte was immers verkleef in vriendskap. Die besondere liefde van Dawid en Jonatan was ‘n prentjiesbeeld van die verkleefdheid van Christus aan Sy kinders, Sy kerk. ‘n Mens moenie dit so verstaan dat Dawid homoseksueel was nie. Ons weet uit die totale prentjie van Dawid se lewe dat hy dit níé was nie. Maar Dawid se liefde vir Jonatan was ‘n heenwysing na Christus, die Groter Dawid en Sy verbond met Sy mense. Dawid se verkleefdheid aan Jonatan is ‘n prentebeeld van Christus se verkleefdheid aan Sy gemeente.
Maar God se liefdeshart klop net so óók vir Sy vyande.
Dit word gesien in Dawid se klaaglied oor Saul – sy aartsvyand. Nie een enkele negatiewe of veroordelende woord kom uit Dawid se mond wanneer hy na Saul verwys nie. Tewens hy praat van Saul as “die trots van Israel”, die “held”, die “beminde mens”.
Dit is God se liefde vir Sy vyand.
Dit is God se liefde vir Sy vyande wat Hom totaal ánders maak as enige ander wese in die heelal (heilig dus). Dit is in Sy liefde vir Sy vyande waar Sy volmaaktheid/perfeksie gesien word.
In Matt 5:38-43 sê Jesus van Sy Vader dat Hy nie net dié liefhet wat Hom liefhet nie, maar dat Hy goed is vir Sy vyand en reën laat val en son laat skyn óók op Sy vyande. “Dit is waar Sy Vader se perfeksie gesien word” sê Jesus in vers 43.
Lukas 6:35-36 maak dit nog duideliker: Hy is goed vir die ondankbares en bose mense. Sy medelye is groot teenoor hulle.
Dit is uit hierdie liefde vir en medelye met Sy vyande waaruit ons sien hoe totaal ánders God is – en dus heilig. Heilig beteken ánders. En hierdie andersheid hou nie vir ons verskrikking in nie, maar juis is dit ons hoop en ons bevryding. Ons besit ‘n liefde van Iemand wat ons nooit kan verloor nie.
Wanneer ons nou die brood en wyn ontvang, moet ons daaragter híérdie Here sien. Sien dat u sondes klaar veroordeel en gestraf is. Sien hoe lief Hy u het – ten spyte van alles binne-in u wat Hom so vyandig is. Sien hoe ánders (heilig) Hy is: dat Hy Sy vyande insluit by die verlossing.
Die mens wat dit ontdek en die Here daarvoor begin glo, begin om as ‘n bekeerde, wedergebore en nuutgemaakte mens te leef.