TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 12: Uit die pan in die vuur
1 SAMUEL 30-31
“Die Here sal nie méér op my plaas as wat ek kan hanteer nie”. Dalk het u al dit gesê.
Maar wérk dit so?
Wat van Paulus se woorde in 2 Korintiërs 1:8 – “die swaar wat ons moes verduur het ver bó ons kragte gegaan sodat ons alle hoop laat vaar het..”
Soms laat die Here dinge in ons lewe toe wat ons kragte ver te bowe gaan. Dis hoe ‘n mens besef hoe ver jou eie vermoëns te kort skiet. En dit dryf jou uit na Hom. Dis presies wat Paulus sê in vers 9: “Dit het gebeur sodat ons sou leer om op God wat dooies opwek te vertrou.”
Nêrens beloof die Here dat ons dít wat Hy op ons lê sal kan dra nie. Sy belofte is veel eerder dat Hy nooit méér op ons sal laai as wat HY kan dra nie!
“In hierdie wêreld sal julle baie verdrukking hê” – Joh 16:33. Dis ‘n belofte. Dit is een van daardie beloftes wat ons op ‘n kaartjie kan skryf en op die yskas plak! En onthou die tweede deel van die belofte: “Maar skep moed: Ék het die wêreld oorwin”. Dit beteken ons hoef nie (en kán nie) op die krag van gelóóf staat te maak in swaar tye nie. Hy het gesê: “Ék sal voorsien in al julle behoeftes vanuit mý rykdom” (Filip 4:19)
Dawid was in ‘n desperate situasie. En om van Saul te ontvlug besluit hy om sy vertroue te plaas op sy eie vindingrykheid. Hy vlug naamlik na die vyand – die Filistynse koning Akis – en tree in diens van die Filistynse weermag. Hy draai met meesterlike toneelspel vir Akis ‘n rat voor die oë sodat die koning hom later volkome vertrou – sóveel so dat Akis wil hê Dawid moet saam met die Filistyne téén Israel gaan veg om Israel van die aardbol af te vee. Maar deur die Here se voorsienigheid word Dawid verhinder om teen sy eie mense te gaan veg. Dawid & sy manne word verplig om terug te gaan na Siklag – die dorp wat Akis aan hom toegewys het om in die woon. Akis gaan intussen voort met sy beplande aanval op koning Saul by Gilboa. Maar Dawid keer terug na Siklag.
Terwyl Dawid na Siklag teruggaan, sterf Saul op Gilboa. Hy word swaar gewond en val in sy eie swaard eerder as om deur die vyand gedood te word. Dit was dus eintlik selfmoord – tot groot triomf vir die Filistyne en lof aan hulle gode. Maar so is Samuel se woorde van die vorige dag vervul.
Dawid is egter hiervan onbewus en op pad na die dorp wat die Filistyne aan hom en sy manne gegee het om in te woon.
Toe Dawid egter so na Siklag toe aankom, sien hy hoe die rook uit die dorp optrek. Die hele stad is uitgebrand. Al hulle vroue, kinders, besittings en vee is weggevoer.
God het vir Dawid uit die braaipan verlos en hom direk in die vuur gaan gooi – om dit so te stel.
Die Here se mense word nêrens ‘n lewe beloof wat vry is van ontbering en probleme nie. Wat wél beloof word is dat alles tot ons beswil en Sy verheerliking sal meewerk. Dít is ons sekerheid en hoop. Bewapen met hierdie belofte, benader ons ons lewensleed. Ons is op pád huis toe, maar nog nie daar nie! Soms loop die pad huistoe deur dorings. Dis ‘n belangrike perspektief om deurentyd te behou.
Uit 1 Sam 30 moet ons ‘n paar beginsels sien.
1 Verse 1-5 > Die probleme van die lewe is dikwels oorweldigend. Toe Dawid-hulle in Siklag kom en die chaos sien en besef dat die Amalakiete hulle vrouens en kinders weggevoer het – was hulle absoluut gebreek. Hulle het onbeheers gehuil tot hulle nie meer krag het om te huil nie. Dawid se manne was verbitterd teenoor hom en wou hom met klippe gooi. Maar Dawid het “homself versterk in die Here sy God.”
Waar kom sommige predikers en kerke daaraan om te sê dat as jy ‘n Christusgelowige is, jy altyd voorspoedig sal wees? Dis ‘n baie populêre teologie wat deesdae verkondig word in baie kerke: gesondheid, rykdom en voorspoed is alle Christene se deel.
Maar is dit wat die Skrif leer?
Is dit nie eerder so dat ‘n Christusgelowige in ‘n oorlogsone leef nie? ‘n Gelowige lewe binne ‘n gevalle en Godvyandige wêreld. Slegte goed gebeur daagliks omdat ons nog op pad is huistoe. Dawid word uit sy dilemma verlos om nie teen sy eie mense te gaan veg nie, maar hy het skaars asemgeskep toe word sy wind uit hom uitgemoker. Op pad Siklag toe het Dawid en sy manne seker die Here geloof en geprys: “Halleluja, hoe goed is die Here – Hy voorsien en sorg” totdat hulle oor die bult kom en sien hoe hulle dorp lê en smeul. Uit die pan in die vuur! ‘n Kind van die Here word dit nie gespaar nie. Die man wat bestem is om koning van Israel te word en uit wie die Messias gebore sou word, is dit nie gespaar nie.
1 Petrus 4:12 > Wanneer die vuurproef van allerlei beproewinge oor julle kom, moenie maak of iets vreemds gebeur nie. Dis wat julle te wagte kan wees. “Julle is geseënd” (v 14).
Vir mense wat Hom graag wou volg het Jesus sonder om doekies om te draai gesê: As julle My volg sal julle nie ‘n kussing hê vir julle kop nie. En julle sal julle geliefdes se begrafnis moet misloop. Is julle gereed daarvoor? Julle moet daagliks sterf. (vgl Luk 9:59).
Dit is die eerste beginsel: Die probleme van die lewe is soms baie oorweldigend.
2 Verse 6-9 > God se krag is genoegsaam
Wanneer probleme toeslaan, is die Here se voorsiening genoegsaam en sterk genoeg. Dawid het homself versterk in die Here sy God – sê die Skrif. Hy het onmiddelik na die Here gedraai. Die priester het die skouerkleed gebring en Dawid het die Here geraadpleeg om te hoor of hy die Amalakitiese bende moet agterna sit om sy mense uit hulle kloue te red. Die Here verseker hom dat hy sal slaag. Toe trek hy die vyand agterna met 600 man.
Wat ‘n pragtige sinnetjie: “Dawid het homself versterk in die Here sy God”. Sy manne is verbitterd teenoor hom, maar sy fokus is nie op hulle nie. Ook nie op die haglike omstandighede waaroor hy homself leeggehuil het nie. Sy fokus is op die Here. Hy is nie ‘n superheld wat nie kan huil nie. Maar al wroeg hy, kyk hy steeds na die Here.
Hoe het Dawid homself in die Here versterk? Hy het gebid – deur middel van die priester Abjatar. Die sogenaamde “skouerkleed” was in die OT-tyd vir gebed gebruik.
Maar Dawid het ook homself herinner aan wat die Here reeds beloof het. Ons weet dit uit 1 Sam 23 waar hy ook homself in die Here versterk het deur middel van dit wat God beloof het. Sekerlik doen hy nou weer so. Hy herinner homself aan wat God gesê het en hy bid. Daardie twee dinge. Dit is hoe ‘n mens jouself in die Here versterk. Behalwe dat óns nie deur ‘n priester bid nie en ook nie ‘n skouerkleed nodig het nie, want ons Here Jesus is sélf ons Hoëpriester (Hebr 8).
Beginsel no 2: God se krag is genoegsaam en ons beleef dit deur onsself van Sy beloftes te vergewis en te bid – alleen of saam met ander.
3 Verse 9-15 > God se voorsienige sorg kan ten volle vertrou word
Dawid en sy 600 man trek op agter die vyand aan. Goed en wel. Die vraag is net: waarhéén moet hulle trek? Antwoord: hulle het self nie geweet nie. Hulle gaan vort in ‘n woestynstreek in – sonder ‘n idee waarhéén.
Maar kyk wat gebeur nou: Vers 11 > Hulle kry ‘n Egiptenaar en gee hom kos en water, want hy het 3 dae niks geeët of gedrink nie. Toe hy sy kragte herwin, vertel hy dat hy ‘n slaaf is van ‘n Amalakiet en dat hulle ‘n strooptog in Juda uitgevoer het, maar hulle het hom agtergelaat omdat hy te swak geword het. Ja – hy was deel van die bende na wie Dawid soek! En siedaar, binne ‘n japtrap lei hy vir Dawid-hulle na die Amalakitiese bende toe!
Wat was die kanse dat Dawid-hulle per toeval hierdie man in die woestynstreek sou aantref en dat hy juis die régte man op die regte tyd was? Antwoord: Die Here was aan die werk. Hierdie Egiptiese man was die sleutel tot hulle oorwinning.
God se voorsienigheid is aan die werk en ‘n mens kan vertrou dát dit so sal wees. Dat God soewerein is, is nie maar net ‘n mooi en goeie leerstelling waarmee ons mense probeer troos nie. Nee, dis ‘n realiteit. Per toeval en per geluk gebeur niks. Sonder dat Dawid-hulle dit besef het, het die Here hulle pad met hierdie Egiptenaar laat kruis. Wat Dawid nie besef het nie is dat – toe sy probleme tot oor sy kop gaan – kon hy vertrou dat die Here se soewereine voorsienige sorg daar is. Toe dit donker raak rondom Dawid, wou hy dalk ook hê dat die Here vir hom presies uitspel wat aangaan en al die waaroms en hoekoms beantwoord – hoewel hy dit in elk geval nie sou geglo het ás die Here dit sou uitspel nie! Soos die Here vir Habakuk sê: “As ek vir jou sou verduidelik waarom ek wat doen sal jy my in elk geval nie glo nie.” (Hab 1:5). Maar nee: wat Dawid moes doen was om te vertrou dat die Here se voorsienige sorg daar is.
Dis die derde beginsel: God se voorsienige sorg kan ten volle vertrou word.
4 Verse 16-20 God se geregtigheid sal seëvier
Dawid en sy 400 manne (die ander 200 was te moeg en het by die Besorspruit agtergebly) trek op teen die Amalakitiese bende, veg teen hulle en red élkeen vir wie hulle gevange geneem het en boonop bring hy letterlik álles terug wat die bende gebuit het. Volkome sukses. Geregtigheid geskied volkome. Letterlik alles is herstel. Wanneer God se geREGtigheid geskied, stel Hy dinge REG!
Hierdie reg en geregtigheid wat (in hierdie geval) so perfek geskied het, beteken nie dat dit altyd in ons lewens só perfek gebeur nie, máár dit is ‘n prentjie van hoe die Here uiteindelik volkome herstel sal gee. Gedurende die huidige bedeling sien ‘n mens dit nie altyd nie. In die huidige bedeling lyk dit asof die oorgrote meerderheid mense in sonde en ongeloof volhard en of die sonde groter as die genade is. In die huidige bedeling word nie alle siekes vir wie ons bid genees nie. In die huidige bedeling lyk en voel dit of dinge soms eerder agtertoe as vorentoe beweeg.
Maar daar kom ‘n dag in die nuwe bedeling waar die volkome oorwinning wat Christus se opstanding 2000jr gelede reeds behaal het, SIGBAAR en volkome sal triomfeer.
Dink maar aan daardie belofte uit Petrus se mond in Hand 3:21…”Christus moet in die hemel bly totdat God álles herstel het..” En 1 Korint 15:28 – “Uiteindelik sal God alles in almal wees”. Dit korrelleer 100% met Kolos 1:20 waar Paulus sê dat God alreeds op die kruis álles in die hemel en op die aarde met Homself versoen hét.” In Christus se eerste koms na die aarde is daar ‘n nuutmaakwerk gedoen wat uitéíndelik ‘n sigbare realiteit sal wees.
God se gerégtigheid sal seëvier. Alles sal REGgestel wees.
5 Verse 21-25 Genade is in alles deurslaggewend
Nie almal onder Dawid se manskappe was so onberispelik nie. Daar was ‘n klomp slegte en nikswerd ouens tussen die 400 wat saam met hom die Amalakiete gaan aanval het. Ná hulle oorwinning murmureer die nikswerd klomp daaroor dat Dawid vir die 200 wat by Besorspruit gebly het ook van die buit wil gee. Volgens hulle mag dáái klomp niks kry nie, want hulle het niks gedoen nie. Hulle maatstaf is verdienste. Húlle het die Amalakiete oorwin daarom verdien húlle die volle buit en die ander wat niks gedoen nie mag niks kry nie.
Maar dit is nie hoe Dawid na die lewe kyk nie. Hy antwoord hulle: “Besef julle nie dat dit glad nie ons was wat die stryd gewen het nie? Dit was van A-Z die Here. Hý het daardie bende in ons hand oorgegee. God se genade was deurslaggewend in hierdie stryd. Óns verdien net so min as wat die ander 200 verdien. Daarom deel ons die buit gelykop tussen ons almal. Niemand verdien niks en daarom kry almal alles!”
Dawid het na elke aspek van die lewe deur die lens van God se vrye genade gekyk.
‘n Mens kan nie help om aan die gelykenis van die arbeiders in die wingerd te dink nie (Mat 20:1-16). Die eienaar van die wingerd betaal aan die einde van die dag die arbeiders álmal ‘n volle dagloon – ook diégene vir wie hy net ‘n uur of twee tevore gehuur het. Diegene wat heeldag gewerk het kry net soveel geld as dié wat een uur gewerk het. Die wat heeldag gewerk het maak toe heftig beswaar, want hulle het gedink hulle gaan meer kry omdat hulle meer gewerk het. Maar die eienaar antwoord hulle: “Ek doen julle geen onreg aan nie. Is julle dalk jaloers omdat ek goed is..?”
Dis die gees van die Fariseër binne-in ons almal waarop die Here hier sinspeel.
Die Fariseër word woedend kwaad wanneer ‘n mannetjie al sy pa se goed met prostitute vermors het en sy pa sommer-net-so vir hom ‘n feesmaal gee. Die Fariseër word woedend kwaad wanneer Christus ‘n owerspelige vrou – wat nie eens berou het nie – se sonde sommer-net-so van die tafel afvee. Dis waarom Jona so kwaad was toe die Here die hele Nineve sommer-net-so vergewe. Dis waarom Johannes en Jakobus so graag vuur van die hemel wil afroep om die Samaritane – wat negatief was oor Jesus – te verteer (Luk 9:54).
Dis die Fariseër binne-in ons wat dalk nog Einstein se Relatiwiteitsteorie kan verstaan, maar Gods genade nooit kan verstaan nie! Dis daardie gees binne-in ons wat so woedend kwaad word wanneer ons so graag iemand in die hel wil sien en hom/haar dan in die hemel raakloop. Soos die oudste broer wat deur sy tande sis van woede wanneer hy sy boetie by die fees sien terwyl hy gedink het die boetie verdien die varkhok en dood.
Dawid sê: Óns 400 wat die geveg gewen het, verdien net so min van die buit as die 200 wat te treurig was om te gaan veg – daarom kry almal ewe veel van die buit. Wie laaste is is eerste en wie eerste is is laaste. Nie óns of húlle het ‘n aandeel aan die oorwinning gehad nie – dit is die Here alleen wat dit bewerk het.
Deurslaggewend in jou lewe en die lewe van elke ander mens is hierdie ondergrondelike verrassende vrye guns en genade van God. Dit maak dat ons versigter is om onsself óf ander te oordeel en veel eerder slegs te roem in die magtige verlossingswerk wat Christus op die kruis verrig het. Uiteindelik – sal dit al wees wat punte tel.