TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 11: Verrassende Teenwoordigheid
1 SAMUEL 29
‘n Mens kan dit byna nie glo nie, maar Dawid was nou in diens van die Filistyne! Ja, die FILISTYNE – wie se Goliat hy tevore doodgemaak het. Die volk Israel se áártsvyande. Dawid was nou ‘n huursoldaat in diens van die Filistynse koning. Hy het jou werklikwaar die vertroue van hierdie koning Akis gewen.
Toe ontstaan ‘n enorme probleem. Dawid het hierdie toneelspel só goed gespeel en koning Akis se guns & vertroue só goed gewen dat – toe die Filistyne gereed maak om teen Israel te veg – dit van Dawid verwag word om mee te doen! Só goed het hy vir Akis oortuig dat hy regtig deel was van die Filistyne en dat hy teen sy eie mense gedraai het.
Nou was die Filistyne vasbeslote om die Here se volk uit wie die Messias moes kom, met die grond gelyk te maak. Die slag by Gilboa sou plaasvind. Dawid moes teen sy eie mense gaan veg – aan die vyand se kant. Net die vorige dag het die Here by monde van Samuel gesê dat Saul in hierdie slag sou sterf. En dat Israel aan die Filistyne oorgelewer sou word.
Wat op aarde sou Dawid nou doen? Hy het tevore verklaar dat hy nie sy hand teen die Here se gesalfde koning sal lig nie. Sou hy sy woord verbreek? Sou hy ‘n hand hê in Saul se dood? Sou hy ‘n streep trek deur die magtige getuienis by die Engedi-grot toe hy net ‘n stukkie van Saul se mantel afgesny het – maar nie kans gesien het om die koning leed aan te doen nie?
Wat ‘n dilemma! As hy aanhou met sy bedrogspul en vir die Filistyne veg, sou Saul tien teen een onder sý hand sterf. Dan sou hy sy koning en sy mense verraai. Wat sou hy kies?
Dit bring ons by die 11 verse van 1 Samuel 29. ‘n Hoofstuk wat hom nie só gemaklik daartoe leen om oor gepreek te word nie!
Ons moet verstaan dat elke gedeelte van die Skrif se diepste intensie is om die Here God te openbaar. Dis die rede waarom daar ‘n Bybel is. Om die Vader, Seun en Heilige Gees aan ons te openbaar. Die Bybel is nie ‘n boek wat ons wil afrig hoe om beter mense te word nie. Die Bybel is ‘n bekendmaking van wie/wat God is. En as ons HOM beter sien, kom ons menswees in rat.
Dit is wat 1 Samuel 29 doen: dit maak iets bekend van wie/wat God is. Dit is nie ‘n vreeslik interessante hoofstuk – soos 28 was – nie. Op die oog af lyk dit ook nie juis of die Here self so prominent in die hoofstuk na vore kom nie.
Wat sal 29 dan vir ons wys? Kom ons kyk:
Die hele manier hoe die verhaal vertel word, skep by ons die verwagting dat Saul op Gilboa gaan sterf. Hoofstuk 28 eindig met Samuel wat vir Saul sê: “Môre hierdie tyd gaan jy by my wees.” Dus wat verwag ons om in 29 te gebeur?
Maar wat gebeur in 29? Die skrywer gaan nie vorentoe-in-tyd nie, maar TERUG in die tyd! Hy gaan terug tot ‘n paar weke voor daardie Gilboa-geveg en vertel wat gebeur het nog voordat die troepe opgetrek het vir die geveg.
Ons gaan dus terug in tyd.
En wanneer ons 29 lees, wil ons sê: Sjoe, kyk wat gebeur nou: toe Dawid & sy klompie vriende (wat saam met hom na die Filistyne oorgeloop het) aanmeld vir die geveg, sien die Filistynse leiers die klompie Israelitiese mans by Dawid. Onmiddelik maak hulle by die koning beswaar. “Hierdie man kan teen ons draai en ons koppe vir Saul op ‘n skindbord gaan gee om sodoende weer guns by Saul te kry! Hoe wonderlik hy u ookal oortuig het dat hy nou ‘n Filistyn is, ons kan hom hoegenaamd nie vertrou nie o koning. Hulle moet asseblief huistoe gaan.”
Hoe die koning ookal Dawid se lof besing – die leiers hou voet by stuk.
En só verplig die koning (onder druk van sy leiers-korps) vir Dawid om om te draai. En op hierdie manier gebeur dit dat Dawid nie teen Israel hoef te veg nie!
Dis die hele hoofstuk! Wat op aarde beteken dit? Dis net ‘n vertellinkie van iets wat gebeur het. Dawid is verbied om saam te veg. Hy word daarvan bewaar om teen sy eie mense te moet veg.
Wat kan ons as Woord van God hierin hoor?
Lees ‘n mens hfst 29 wil jy sê: Wat hier gebeur was eintlik te wagte – alledaags – dat die Filistyne nie vir Dawid sou laat veg teen sy eie mense nie. Veral omdat hulle die berigte gehoor het van hoe die mense vantevore gesing het: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende..” Dis net iets wat ‘n mens kon verwag het.
Dit is presies wat ons moet raaksien. Want in die gewone alledaagse gebeure leer iets van God self.
1 Samuel 29 herinner ons aan die blywende voorsienende teenwoordigheid van die Here. Dit is die punt in 1 Sam 29. Al word Sy Naam byna nie genoem nie, is Sy teenwoordigheid daar. En waar Hy teenwoordig is, is Hy werksaam. In die alledaagse.
Let op die Here se stille en tog konsekwente teenwoordigheid in 1 Samuel 29.
Die Here stel nie altyd Homself so prominent voorop in die storielyn van die Skrif nie. Dit beteken egter nie dat Hy nie teenwoordig is nie. Daar hoef nie te staan: “En die HERE het vir Dawid uit sy dilemma verlos” – vir ons om te weet dát dit die Here was wat vir Dawid uit sy dilemma verlos het nie!
Wanneer ookal ons enige gedeelte van die Skrif lees, moet ons die teenwoordigheid van die Here veronderstel. En dat Hy werksaam is. En dat Hy nie onverskillig staan nie. Die Bybel ken nie ‘n god wat ongeïnteresseerd & apaties is – en wat net as toeskouer na die vertoning kyk nie. Hy hou alles byeen deur die krag van Sy Woord en mag. Hebr 1:3. Dis die basiese van Sy natuur.
Kyk byvoorbeeld na die verhaal van Josef. Sy broers verkoop hom na slawerny en doen hom baie leed aan. Waar was die Here dan? Gee Hy dan nie om nie? Waars Hy wanneer Jakob se oogappel as ‘n slaaf verkoop word? Hy is presies dáár – besig om alles te bestier. Hy was daar toe Josef in die put lê. En Hy was werksaam. Dit het dalk nie so gelyk en gevoel nie, maar kyk na die uiteinde van die Josef verhaal….
Daar bestaan nie ‘n Christengelowige op aarde wat nie al een of ander tyd in ‘n omstandigheid was waar jy raadop voel en sê: “Ek kan op geen manier sien waar die Here híérin is nie. Dit maak nie sin nie.” Ja, dit is hoe dit voel. Maar die getuienis van die Skrif is dat Sy stille sorg teenwoordig is.
Christus self het ook Godverlate gevoel op die kruis. Maar volgens Psalm 22:24 was Sy Vader steeds daar.
‘n Mens se hele innerlike verander wanneer jy – terwyl jy niks daarvan kan sien of ervaar nie – die Here begin loof en dank vir Sy voorsienige teenwoordigheid.
Dat Dawid verhoed word om in hierdie geveg teen Saul te gaan, kan nie aan blote geluk of toeval toegeskryf word nie. Die Here se Gees het in daardie Filistynse leiers gewerk om koning Akis te oorreed om vir Dawid huis toe te stuur.
Toevallige/lukrake besluite en toevallige/lukrake verhoudings bring jou soms tot waar jy is sónder dat die Here met trompetgeskal in alles teenwoordig was. Maar as jy terugkyk sien jy: Hy was.
1 Konings 19:11-13 Elia. Wind wat alles verbreek. Die Here was nie daarin nie. Vuur: Die Here was nie daarin. Sagte fluistering. Dis waar die Here was.
Die Heilige Gees herinner ons in 1 Samuel 29 van die stille konsekwente teenwoordigheid van die Here ons God. Selfs wanneer jy oortuig is dat Hy nêrens te vinde is nie en dat die Evangelieboodskap ‘n feeverhaaltjie is.
Maar verder herinner 1 Samuel 29 ons aan die Here se verrassende maniere van doen. Sy manier is nie ons s’n nie. Kyk hoe komies is dit. Akis is nie die skerpste mes in die laai nie. Dawid is die gesalfde koning van Israel. Israel is die Filistyne se aartsvyand. Maar Akis sien geen probleem daarmee dat Dawid saam met hom teen Israel gaan veg nie! En hier marsjeer die troepe op die paradegrond. Meteens kom Dawid en sy klompie Hebreërs verby! WAT sê die leiers: Dis dan die mense téén wie ons gaan veg! Hulle sal nóóit teen hulle eie mense en hulle God draai nie! Hulle gaan op die ou end teen ons veg!” Weer eens word die Filistyne – wat Israel se vyand was – Israel se redder en word Dawid gespaar.
Die Here gebruik die vyand in SY diens. So red God vir Dawid ten spyte van Dawid! Onthou Dawid het na die Filistyne oorgeloop ná ‘n depressie-aanval. Die een oomblik het hy die Here se grootheid bely en die volgende oomblik op ‘n hopie gesit en gewens om dood te gaan. Toe gaan hy maar na die Filistyne oor. Want Saul sal hom nie daar soek nie. Hy het nie na die Filistyne oorgeloop omdat hy ‘n woord van die Hére ontvang het nie. Hy het sy eie plan uitgedink. Nou sit hy in 1 Samuel 29 in ‘n dilemma wat hyself geskep het. En die Here red hom daaruit – deur die Filistyne te gebruik (al is hulle nie gelowiges nie).
Wat ‘n groot Here is Hy! Ons dwaashede sit Hom nie ore aan nie en dit bind nie Sy hande nie. Hy voer Sy bedoelings en raad uit op Sy eie manier en in Sy eie tyd. Hy kan selfs jou vyand gebruik om jou as vriend te dien. Hy berei vir jou ‘n tafel terwyl jou teenstaanders moet toekyk (Psalm 23:5). Hy kan selfs jou teenstaanders gebruik om die tafel te berei!
Laastens herinner 1 Samuel 29 ons aan die Here se hardnekkige barmhartigheid (jammerhartigheid). Jy sien dit wanneer jy hfst 29 teen die agtergrond van hfst 27 plaas. Toe Dawid die depressie-aanval gehad het. Toe hy gevoel het hy gaan dit nie maak nie. Gevoel het hy moet na die Filistyne vlug.
Wat Dawid regtig verdien het, is dat die Here hom vir ‘n ses moes slaan.
Dan lees jy 1 Samuel 29 en besef net: Die Here laat ons nie los nie. Ons diepste troos is dat Hý ons vashou en nie óns vir Hom nie. En Hy is getrou.
Vantevore het die Here telkens vir Dawid van koning Saul verlos. Nou verlos die Here hom van homself. Sy grootste vyand: hyself. Sy eie dwaasheid.
Daar is ‘n groot verskil tussen die einde van hfst 28 en die einde van hfst 29.
Einde 28: Die donker nag: Saul weet: Die volgende dag sterf hy.
Einde 29: Dis lig, dis oggend. En Dawid vertrek as bevryde op ‘n nuwe pad.
Sien u hoe 1 Samuel 29 vir ons wys wie/wat die lewende God in ons lewens is – en dit terwyl Sy Naam omtrent nie eens in hierdie 11 verse genoem word nie.
Wie is die Vader van Jesus Christus vir Sy mense?
1 Hy is stilweg voorsienend teenwoordig
2 Waar Hy teenwoordig is, is Hy werksaam
3 Sy maniere van doen is dikwels verrassend
4 Hy is hardnekkiglik jammerhartig
Mag jy en ek hierdie God elke dag op hierdie manier ken.