TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 1: God aan't werk!

1 SAMUEL 16: 1-23

 

Ons wil graag vanoggend ‘n reeks van 8 boodskappe oor die lewe van Koning Dawid begin. Veral nou, nadat ons die afgelope weke ‘n klompie van sy psalms bestudeer het, mag dit dalk goed wees om na Dawid sélf te kyk.

 

Éíntlik is dit natuurlik ‘n reeks preke oor 1 Samuel en in besonder hoofstukke 16-25.

 

By hoofstuk 16 val ons in by ‘n baie hartseer tyd in die geskiedenis van die Here se OT-kerk. Samuel treur oor Saul omdat die Here hom as koning verwerp het. Die geestelike klimaat is baie flou. Jare en jare van die Rigters is verby. Die Rigtertydperk was oor die algemeen ‘n droewige tyd – elkeen het basies gedoen wat reg was in sy eie oë. Dit het tot volkome morele chaos gelei.

 

Toe het die Here God vir Samuel daargestel. As kind van die Here se verbond word hy groot en kom hy tot geloof. ‘n Man wat die Here dwarsdeur sy lewe liefgehad het. Samuel was ‘n man wat – iets soos – profeteskole begin het, waar hy jongmanne opgelei het en uitgestuur het om die saad van die Woord te gaan saai.

 

Ten spyte hiervan was dit moeilike tye. Die Here se mense het verlang om soos die heidennasies rondom hulle te wees. Hulle wou nie regtig Gód se mense wees nie. Hulle wou nie ánders wees as die ander nasies nie. Hulle wou nie die Here as Koning hê nie. Hulle wou ‘n mens as koning hê – soos die nasies het. En hulle het toe hulle koning gekry – aantreklik, slim, moedig. Dit was koning Saul.

 

Maar Saul het verval in ‘n lewe van geestelike afvalligheid & ongehoorsaamheid. Hy was eintlik ‘n groot dwaas. Daarom het die Here die koninkryk van hom afgeskeur en nou huil Samuel daaroor omdat dit lyk of die Here se werk op niks uitgeloop het. Vir Samuel lyk die toekoms vir die kerk bra donker. Soos dit vir ons ook somtyds lyk asof jare en jare se Woordverkondiging op niks uitgeloop het nie. Mens hoor ook soms mense praat van die kerk (‘n gemeente) wat “dood” is.

 

Maar, wat die blote oog nie kon sien nie, was dat die Here onsigbaar in die agtergrond aan die werk was. Selfs al het die Here Saul se verwerping aangekondig, sê Hy in 1 Sam 13:14 : “die Here sal vir Hom ‘n man na sy hart soek.” Die Here is onsigbaar besig om te werk en Sy man voor te berei vir die tyd van krisis. Dis natuurlik Dawid. Dis die Here wat vir Dawid voorberei, geroep, gelei en getrek het.

 

Dawid is die gesalfde van die Here vir die groot taak waartoe die Here hom geroep het, maar absoluut niemand weet dit nie. Die Here is besig om agter die skerms te werk. Dawid sélf weet dit nie eens nie. In een van die Psalms staan daar: “Die Here God het vir Dawid gekies en hom van agter die skape geroep om die herder van Sy erfdeel te wees.”

 

Ons sien vir Dawid as jongste seun van Isai – deel van ‘n gewone familie. Maar die Here is besig om – buite die sig van die mense – vir Hom ‘n man op wek.

 

Stel jou voor: ‘n Jong tienerseun met slegs ‘n paar skapies. Nie baie wel-af nie. Maar hy het baie krag en energie. Hy het deurdringende oë. Die hart van ‘n digter. Die moed van ‘n soldaat. Die klere van ‘n herder. Al wat hy by hom het is ‘n slingervel en knuppel. Min wetende dat hy koning sal wees ten spyte van ‘n lelike vlek in sy lewe – wat die Christelike Kerk vir 2000jr nog sou onthou. En tog was die Here aan die werk.

 

Waar sien ons in die Bybel nog iemand wie se lewe so gevarieërd is as Dawid. Wie anders is skaapwagter én koning? Wie anders is ‘n digter én soldaat? Wie anders kon ‘n Goliat verslaan én ‘n vlugteling wees? Wie anders was so geliefd deur sommige (Jonatan) en gehaat deur ander (Saul)? Wie anders het die Filistyne verslaan en later saam met hulle geveg? Wie anders het so ‘n vreemde krag met mense gehad – ‘n krag wat niks te doen gehad het met sy voorkoms nie (wat opvallend was) of met sy gawes (wat baie was) of met sy godsvrug (wat buitengewoon was) – máár te doen gehad met vers 13: “Samuel het vir Dawid met olie gesalf en die Gees van die Here het op hom gekom vanaf daardie dag.” Die krag in Dawid se lewe was die salwing van die Heilige Gees. Slegs dit.

 

Interessant dat Dawid binne sy familie eintlik niks meer as ‘n nágedagte was nie. Niemand het eintlik eens aan hom gedink nie. Toe Samuel kom om een van Isai se seuns tot koning te salf, word Dawid nie eens geroep nie! Isai se seuns was die 7 broers sónder Dawid. Húlle was – in die oë van die méns – almal goeie kandidate om koning te word. Maar nie Dawid nie! Hy was maar ‘n ou vaal seuntjie! Totdat Samuel pertinent vir Dawid laat roep! Hy was gedwíng om vir Dawid te laat roep, want nie een van die 7 seuns van Isai – wat uiterlik soos goeie konings gelyk het – was die Hére se keuse nie. Die Here kyk nie na uiterlike dinge nie. Die Here let nie op uiterlike religie/godsdienstigheid nie. Hy let op die mens wat Sy genade verstaan en dááruit wil lewe. Dit gaan nie by die Here oor wat mense uiterlik-religieus doen en presteer nie. By Hom gaan dit daaroor of ‘n mens snap dat Hý die mens verlos het met/deur Sy Messias – wat Christus gedoen het. Dawid was só ‘n man. Sy broers en ook koning Saul was religieuse mense, maar dit was hoofsaaklik uiterlike godsdienstigheid.

 

Al die ander 7 broers moes eers ‘n ingewikkelde ritueel deurgaan van simboliese reiniging om voor Samuel te kon verskyn. Maar nie Dawid nie. Toe hy van die veld af kom, gaan hy direk deur na Samuel toe! Hy het nie die ritueel nodig gehad nie, omdat hy – as jong seun – alreeds die Here se genade geken het! Die menslike oog let egter nie dáárop nie. Die menslike oog let net op die uiterlike. Maar die Here let op die innerlike mens – nie op wat vir die méns as die beste lyk nie. As jong man, was Dawid reeds deur die geloof in die komende Messias, rein verklaar en geheilig en reggestel met God.

 

Toe Dawid die vertrek inkom, sê die Here vir Samuel: “Staan op en salf hóm.” Nie Isai óf die ander broers het verstaan wat hier gebeur nie. Hulle het nie die oliesalwing verstaan nie en ook nie die Heilige Gees wat op Dawid kom nie. Maar Dawid self het verstaan en geweet dat die Gees hom gesalf het vir ‘n spesifieke taak. Wat presies sy ervaring was, weet ons nie. Maar die Heilige Gees produseer ongetwyfeld waarneembare vrug. Op die eerste Pinksterdag het die mense begin om die Blye Boodskap met ander te deel. Toe die Duif op Jesus gekom het, het Hy die duiwel in die woestyn verslaan en begin om die Woord in die openbaar te bedien.

 

En Dawid? Hy gaan terug na sy skape toe! In afwagting. Bewus van die feit dat hy gekies en toegerus is vir ‘n Godgegewe taak. Hy weet: wanneer God se tyd kom, sal hy daar wees. Onthou hy was toe alreeds die koning van Israel. Hy is gesalf. Samuel het hom gesalf. Maar hy sit weer by die skape. En wag. Hy is koning, maar nie sigbaar só nie. Saul is verwerp as koning, maar hy regeer steeds sigbaar. Dawid is gesalf tot koning, maar hy kruip weg en presenteer as skaapwagter! Saul is verwerp, maar hy presenteer as koning!

 

Wat op aarde beteken dit?

 

Ons moet onthou dat Dawid – nie net ‘n voorloper van die Here Jesus Christus was nie – maar ook ‘n profetiese tipe, ‘n vooruitwysing. Dawid as persoon, was ‘n profesie van wie/wat die komende Here Jesus sou wees. Hý wat die Koning van die heelal is, sou weggesteek wees iewers in ‘n gewone familie in Betlehem. Vir 30 jaar in ‘n timmermanswinkel – die Seun van God, maar weggesteek. Wie kon sien dat Hy die Christus is, die Koning wat tot in ewigheid regeer? Hy wás reeds die Koning, gesalf met die Duif van omhoog en Sy troonsbestyging sou kom, maar nie dadelik nie. Nie almal het oë gehad om dit te kon sien nie. Die grootste fout wat die mensdom vandag kan maak is om nie tot die besef te kom dat die Groter Dawid tot Koning gesalf is nie – net omdat Sy koningskap verborge is vir die menslike oog.

 

Nou draai die kamera na ‘n ánder man: Saul – die verwerpte koning wat steeds op die troon sit – die totaal teenoorgestelde man van wie Dawid is! Skerpe kontras want Saul het geestelik totaal verdwaal – vasgeval in religie. Die Gees van God het Sy salwing van hom onttrek, want God het hom verwerp as koning veral as gevolg van sy doelgerigte ongehoorsaamheid. Wanneer die son uit die sonnestelsel weggeneem word, word dit nag-donker. So het dit in Saul se lewe geword toe die Here Sy salwing op sy lewe opskort. Sy lewe het opgevries net soos die aarde sal opvries as die son sou verdwyn. Saul het die Here die trekpas gegee. En die Here het hom gegee wat hy graag wou hê. Saul wou so graag die duiwel hê in plaas van God, toe gee God hom ‘n bose gees. God se dissipline in ons lewens beteken dikwels dat Hy ons laat kry wat ons graag wil hê (sien Rom 1). As ‘n mens die Here se lig in jou lewe afskakel, dan laat Hy jou iets van die donkerte smaak wat jy so graag wil hê. Dis presies wat met Saul gebeur het.

 

Wat ‘n kontras, want omtrent 30km van waar Saul is, is Dawid by wie dit die teenoorgestelde is. Hy geniet die Here. Hy beleef vervulling en krag. Hy weet die Here het vir hom ‘n toekomstige taak. Hy beleef harmonie, sin en betekenis.

 

Dis die groot kontras tussen religie (Saul) en geloof-in-die-Blye-Boodskap (Dawid).

 

Toe Saul die Here uit sy lewe verdryf, kom ‘n bose gees die ruimte vul (v 14). Die bose begin nou nesskop in sy hart. Alles is uit lit uit. Die harmonie is weg. Die sin, doel, betekenis en gerigtheid is weg.

 

Die enigste advies wat Saul kry is dat hy na musiek moet luister. Niemand sê vir hom dat hy Sy God moet leer ken en verstaan en glo nie. Niemand sê vir hom dat hy moet begryp/insien/verstaan dat Sy God hom alreeds verlos het nie! Nee, musiek is die antwoord. Nes dit vandag nog is. Hoeveel mense omhul hulself heeldagdeur met musiek omdat dit ‘n soort terapeutiese waarde het en om stilte-van-hart te ontvlug. So moes Saul doen. Dalk kon dit hom kalmeer.

 

Maar wié sal die musiek kom maak? Hy kon nie net oorfone aan sy iPod of selfoon koppel nie. Iemand moes die musiek kom maak in Saul se teenwoordigheid.

 

Sommer gou word die aanbeveling gemaak. Dit moes die seun van Isai wees. Niemand anders nie as Dawid!

 

En Dawid kón, want hy het baie gehad om oor musiek te maak. Hy het musiek in sy hart gehad. In Ps 8 kon hy sing oor die wonder van God. In Ps 19 kon hy sing oor die wonder van die skepping en die wonder van die Bybel. In Ps 23 kon hy sing oor die Here as Herder en gasheer. In Ps 29 kon hy sing oor die heerlikheid van die Here.

 

Daarby was hy die “geliefde”. Dis wat sy naam beteken. Dit is omdat hy in die “Geliefde” was. Dis die rede waarom hy so dapper was – oor die vermoë beskik het om ongediertes wat sy skape bedreig van kant te maak. Dis waarom hy sy woord so goed kon doen. Was daar enigiemand soos Dawid wat ‘n woordkunstenaar was. Kyk maar weer na die Psalms. Die Here was by hom. Was hy dorstig van siel? Hy vind lewende water in die Here. Was hy sielshonger? Dan vind hy die Herder lei hom in groen weivelde. Was hy gespanne? Dan sien hy die Here as Rots en verlosser en vertrooster. Was hy verward? Dan is die Here sy gids wat hom lei. Hy sien die Here altyd voor hom. Hy sien homself as iemand wat in die Here se permanente teenwoordigheid leef.

 

Dit is Dawid. Iemand wat nie religieus was nie maar die ware genade van God verstaan en geglo het.

 

Hoe sal ons alles opsom?

 

Twee beginsels.

 

Ons mag nooit ‘n situasie beoordeel volgens wat die oog kan sien en net kyk na dít wat voorhande is nie. Die Here werk agter die skerms. Selfs in baie donker tye, is die Here besig om Sy mense voor te berei. In tye van ontrouheid, is Hy besig om getrouheid te berei. Wanneer dit lyk of dinge kláár is, is die Here besig om ‘n nuwe begin te berei. Al lyk dit of Saul die koning is en Dawid by die skape sit, moet ons net mooi kyk: Dawid is in werklikheid die gesalfde koning. Saul is verwerp. Dis net ‘n kwessie van tyd.

 

Ons mag ons nie blindstaar teen die feit dat dit nie lýk of Jesus Koning is nie – en dat dit lyk of almal behálwe Jesus koning speel nie! Dat dit lyk of duiwel en mens koning is nie. Christus ís klaar gesalf! Duiwel en mens is verwerpte konings! Toe Jesus uit die dood opgestaan het, is die geskiedenis klaar vooruit geskryf en die einde reeds bepaal! Dis net ‘n kwessie van tyd – dan sal die sigbare Sauls van hierdie wêreld tot hul einde kom, sal hulle die stryd gewonne gee en sal die Groot Dawid SIGBAAR die troon bestyg.

 

Daarom is die kerk ook nooit dood nie. Al is dit soms ons waarneming. Die NT praat nêrens van ‘n dooie kerk óf ‘n lewende kerk nie. Die NT gebruik ‘n totaal ander verrassende manier van praat as dit oor die kerk/gemeente gaan.

 

Kyk gerus na 1 Timoteus 3:15: “Die huisgesin van God is die gemeente van die lewende God”.

 

Óns plaas die woordjie “lewende” voor die woord gemeente terwyl die Skrif dit voor die woord “God” plaas. Ons draai die Skrif om dan praat van ons van dooie of lewende gemeentes. Maar volgens die Skrif is dit Gód wat leef. Daarom leef Sy kerk en sal Sy kerk altyd ‘n lewende gemeente wees. Hy waarborg dit. Dit is Sý lewe wat die gemeente konstitueer. Dit is Hý wat onsigbaar agter die skerms werk omdat die wáre Koning reeds gesalf is! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00