14 Junie 1999

Liewe oom Sakkie en tannie Lulu en Marietjie

 

Baie dankie vir pragtige blomme, wat ek vir my verjaarsdag gekry het.  Dit was so  ‘n  heerlike verrassing om julle hier te hê.  O ja, tannie Lulu, baie, baie dankie vir my en Elizabeth se jasse.  Die dae sal een van die dae kouer word en dan sal ons maar te dankbaar wees daarvoor.  Ons waardeer dit baie, Tannie.

 

In Efe. 5:14 sê Paulus:  “Ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn”

 

En Jes. 60:1 lees:  “Staan op, word verlig; want jou lig kom en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.”  Vir my word die opdrag gegee om wakker te word uit my slaap of my passiwiteit en nie langer te sit of te lê nie, maar op te staan en  God toe te laat om al die lig wat Hy vir my bedoel het, vir my te gee.  Saam met die opdrag volg Sy wonderlike belofte, dat Sy heerlikheid oor my sal opgaan.   Efe. 5:15 lees:  “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse….”  Ons word opgeroep om versigtig te wees in hoe ons lewe;  om doelgerig, waardig en oplettend te wandel.  Volgens Deut. 32:29 is die persoon wat wys is, die een wat op sy einde let.  Vers 16:  “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”  Ons moet die beste maak van elke geleentheid. V17:  “Daarom moet ons nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.”  Ons kan nie vaag wees in wat ons glo en in hoe ons optree in situasies nie, maar ons moet met oorgawe en oortuiging praat en leef van Hom, waarin ons glo en in dit wat ons weet die wil van die Here is.  Mag die Here, wat self ons Lig is, vir ons in wysheid oomblik-vir-oomblik lei.

 

Mag u in hierdie week van krag-tot-krag gaan!

 

Liefde,

 

Lintie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00