Tema: Christus leef om alles met ons te deel
Skriflesing: Lukas 24: 36-41, Romeine 6: 1-11

Die historiese FEIT van die letterlike, fisiese, liggaamlike opstanding van Jesus uit die dood, vorm skering en inslag van die Christelike Godsdiens. Dit is die hartaar van die Christelike Geloof. Want, ’n dooie Christus, sou niks met óns kon deel van dít wat Hy vir ons verwerf het nie. Daarom staan daar in 1 Kor. 15: 17: “Indien Xp nie opgewek is nie, is ons geloof waardeloos.”

Maar, hóé is Jesus opgewek uit die dood? ’n Gees? ’n Spook? ’n Geestelike liggaam? ’n Geestelike wese wat so nou en dan ’n materiële vorm aangeneem het? Dit is hoe enige mens sal dink wanneer iemand – wie se begrafnis jy 3 dae te vore bygewoon het – skielik aan jou verskyn. Eerstens skrik jy jou buite weste. Tweedens dink jy dit is ’n spook! Heel logies!

Dit is presies hoe die dissipels gereageer het toe Jesus – ’n paar dae ná Sy begrafnis – skielik in hulle midde staan en sê: “Vrede vir julle”. Hulle het alles behalwe vrede ervaar! Hulle was asvaal geskrik. Hulle het gedink hulle sien ’n gees. Hulle was dan self teenwoordig toe Jesus se lyk van die kruis afgehaal is en begrawe is. Dit is waarom Jesus moeite doen om hulle te oortuig dat dit regtig Hý is en Sy eie liggaam is – soos hulle Hom altyd geken het. Hy nooi hulle uit:

“Kom, vat aan My – kyk na My hande & voete – dit is tog Ek self!” “Voel aan My. ’n Gees/spook het tog nie vleis en bene nie”. Maar, Hy sien hulle glo dit nie. Hulle dink dit is ’n spook wat maar net in ’n materiële vorm verskyn. Daarom eet Hy gebakte vis voor hulle oë op. ’n Gees kan tog nie eet nie. Want om te eet, moet jy ’n slukderm, maag en spysvertering hê. Sien u? Jesus het fisies/ eg-liggaamlik uit die dood opgestaan. Hy het as ’n regtige méns aan hulle verskyn. Sy bloedsomloop, brein, spysvertering werk weer perfek. Sy siel en liggaam is weer verenig. ’n Wérklike opstanding uit die dood..

MET EEN ENORME VERSKIL: Jesus besit ’n liggaam wat nooit weer kan sterf nie! Onverganklik! Omtrent 20/30 jaar ná Jesus se verskyning aan Sy dissipels (Luk 24), skryf Paulus vir die Here se kerk in Rome en sê hy hierdie aangrypende ding: Rom 6:10: “Hy lewe NOU”. Dertig jaar ná die hemelvaart, lewe Jesus nog steeds. Waarom? Vers 9: “Die dood het nie meer mag oor Hom nie”. Indien Jesus 20/30 jaar ná Sy eie begrafnis nog liggaamlik geleef het, wat het Hy 100 jaar daarna gedoen? En 500 jaar? En 1000 jaar? En wat doen Hy vanoggend terwyl ons hier in die kerkgebou besig is? Óns kan vanoggend – 2000 jaar ná Jesus se begrafnis – presies dieselfde sê as wat Paulus gesê het: “Hy LEEF nou, liggaamlik as egte mens, voor Sy Vader”.

Maar Paulus sê nog ’n absoluut-wonderbaarlike ding. Hy sê: Ons as gewone mense, is VERENIG met die liggaamlik-uit-die-dood-opgestane Jesus. Rom 6:11. Daar is ’n intieme band tussen ons. God die Vader het ons met Hom verenig. Nie iets wat ons self gedoen het nie. Efes 1: hierdie vereniging is iets wat die Vader voor die skepping reeds besluit het om te doen.

Daar is ’n rede vir dit alles. Het u al ooit nagedink waarom Jesus uit die dood opgewek is? Waarom u as mens met Hom as onvernietigbare Mens verenig is? Daar is ’n goeie rede. Juis dít is die blye troos van Paassondag. Die Vader het vir Jesus onvernietigbaar opgewek en ons met Hom verenig sodat Jesus alles wat Hy vir ons verwerf het toe Hy op aarde was, met ons kan deel – ons kan deelgee daaraan!

Kom ek gebruik ’n beeld om dit in u gedagtes vas te lê: Sien in u verbeelding die verhouding van ouers met hul kinders. Hoe sal ’n kind dit ervaar indien sy ouers vir alles sorg wat hy nodig het: kos, klere, ’n huis, skoolgeld, sportgeld – maar – sy ouers is nooit by die huis nie. Sy ouers woon nooit iets by wat hy doen nie. Wanneer hy verjaar is hulle nooit daar nie. Hy kan nooit vir hulle iets wys of met hulle praat nie. Sy ouers sorg dat hy alles kry wat hy nodig het, maar hulle is nooit self daar vir hom nie.

Hoe sal so ’n kind voel? Sal hy nie voel hulle kan maar al hulle geld, kos, klere, huis vir hulleself hou nie?? Hulle moet maar liewer uit sy lewe wegbly. Sal dit nie vir hierdie kind voel of sy ouers dood is nie? Want, die belangrikste saak van ouers-wees is nie die goed wat hulle gee nie, maar HULLESELF.

God die Vader het vir Jesus uit die dood opgewek en ons aan Hom verbind, sodat Hy alles wat Hy vir ons verwerf het, met ons kan deel. ’n Jesus wat in ’n graf lê, kan niks met ons deel nie. Hy kan nie die redding waarmee Hy ons op die kruis gered het, met ons deel nie. Sy maagdelike geboorte, Sy lewe van volmaakte gehoorsaamheid, Sy onskuldige lyding, Sy veroordeling deur Pontius Pilatus, Sy kruisiging, Sy dood, Sy begrafnis – baat niks – indien Hy ons nie kan deelgee daaraan nie!

Indien u Romeine 6 aandagtig lees, sal u sien dat juis dit die punt is wat Paulus wil maak. Juis die lewende Jesus, laat ons deel in alles. Vers 3: Ons is gedoop in Sy dood. Ons het deel in Sy dood. Vers 4: Saam met Hom begrawe. Vers 8: Lewe saam met Hom.

Jesus het nie net vir ons gesorg vir ’n klomp goed – maar nou laat Hy ons nie daarin deel kry nie (soos sommige ouers doen). Nee, Hy deel met ons Sy verlossingswerk. En sodoende VERANDER Hy ons lewe en MOTIVEER Hy ons.

Ja!! Deurdat die Vader ons aan Sy uit-die-dood-opgestane-Seun verbind het (voor skepping reeds) en Jesus ons deelgee in alles wat Hy op aarde gedoen het — gebeur daar tasbaar iets met ons lewens. Die Heilige Gees laat dit gebeur!! Ons bly nie onaangeraak nie. Ons kan nie maar net kennisneem van alles en fluit-fluit huistoe gaan en voortgaan soos altyd nie. Ons lewens word VERANDER en ons word GEMOTIVEER om met die Here te gaan lewe!

Dink weer aan die beeld van die ouers & hul kind. Hoe verander dit ’n kind se lewe indien sy ouers tyd maak vir hom/haar? Belangstel. Die kind laat deel in hul eie ervaring. Dink hoe motiveer dit ’n kind.

U sien – ons het hier te make met die kern van die evangelie. Hoe red/verlos God ’n sondaar? Hoe verander Hy ’n sondaar se lewe? Hoe maak Hy ’n mens se lewe nuut? Hy VERENIG jou met die lewende Here Jesus en Jesus maak jou deel van Sy verlossingsdade. En die Heilige Gees maak dat jy dit GLO.

Al Jesus se verlossingsdade tel vir jou – jy wat die hel verdien. Sy geboorte, lewe, lyding, sterwe tel vir jou. Jy hoef nou nooit meer self te ly en sterf vir jou sonde nie. Jy hoef nie ter helle neer te daal as betaling van jou skuld nie. Dit is vir God genoeg dat Jesus Sý dade met jou deel. Nou is dit so goed soos jou eie. Jy is heilig omdat die opgestane Jesus Sy heiligheid met jou deel. Jy leef volmaak gehoorsaam aan God se wet omdat Jesus Sy gehoorsaamheid met jou deel. Jy het ten volle betaal vir jou sonde omdat Jesus Sy betaling met jou deel. Jy leef ’n onsterflike nuwe lewe omdat Jesus Sy onvernietigbare lewe met jou deel.

En wanneer dit vir ’n mens oopgaan en jy begin dit glo, verander dit jou lewe onherroeplik en dit motiveer jou met ’n innerlike lus om vir die Here te lewe – en meteens verstaan jy waaroor Paasfees gaan! Jy verstaan waarom Jesus móés opstaan. Jy verstaan dat Hy sodoende aan jóú deelgee aan alles wat Hy op aarde gedoen het. Jy verstaan dat nie net Hy alleen uit die dood opgewek is nie, maar dat jy saam met Hom opgewek is. Hy gee jou deel daaraan. Dit is Paasfees. Dit is die fontein van ’n veranderde, nuutgemaakte, gemotiveerde lewe!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00