Bank nou vir rente later

 ’n Pragtige klein dogtertjie het ’n spaarvarkie gehad wat haar pappa haar gegee het. Sy doelwit was om haar te leer om haar geld te spaar. Hierdie spaarvarkie het oor ’n tyd vol geword en toe verduidelik haar pappa vir haar dat hulle die spaarvarkie na die bank moet neem en vir haar ’n spaar rekening oopmaak. Baie versigtig en duidelik het hy haar verduidelik dat wanneer sy haar geld in die bank deponeer , sy dan rente op haar geld sal kry. Die groot dag het aangebreek en sy en pappa is na die bank. Die teller – ’n gawe vrou – het hulle saak aangehoor en die rekening is geopen. Die oomblik het aangebreek dat sy die spaarvarkie moes oorhandig , wat sy versigtig toe gedoen het. Die vrou het die spaarvarkie oopgemaak en die geld uitgehaal en begin tel. Dit is toe die transaksie klaar is dat die teller vir haar vra:-”Is daar nog iets wat ek vir jou kan doen – jong dame?”. “Nee dankie”, kom die antwoord, “Ek wag net vir my rente.” Hierdie dogtertjie het nie verstaan dat daar is ’n wagperiode in die saai van haar geld in die rekening en die maai van die rente na ’n tydperk. Is dit nie ook so in die lewe waarin ek en jy is nie? Daarom is daar ’n paar belangrike feite wat ons oor VANDAG moet verstaan!!! 1. Dit wat vandag in jou lewe gebeur is as gevolg van die dinge wat jy in die verlede gesaai het. Jy oes wat jy laas week of laas maand of laas jaar gesaai het. 2. Wat in die toekoms gaan gebeur sal bepaal word van dit wat jy vandag saai in jou lewe. Indien jy jou toekoms wil verander moet jy vandag verander wat jy saai. Hoeveel mense is daar nie wat die sonde elke dag van hul lewe, in hul lewe saai nie?- En as hulle moet sterf wil hulle nie hel toe gaan nie, maar hemel toe! Waar het jy ’n boer gekry wat mielies saai en dan teen oestyd hoop hy gaan koring kry? GAL. 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” GAL. 6:8 “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” GEBED Here lei my om elke dag te saai wat U van my verwag? AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00