TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Alles is reg, al is alles verkeerd
Skriflesing: 1 Korintiërs 1: 1-3

Dit is die groot verrassing van die evangelieboodskap: Dat God sê: “Alles is reg, al is alles verkeerd.” Kyk, gesonde verstand sê tog: “Maak jý eers reg wat verkeerd is, dan sal alles reg wees.” Maar u sien, vrye genade werk nie volgens gesonde verstand nie, maar volgens ‘n onverklaarbare verrassing. Só verrassend dat ‘n mens slegs daarop kan reageer deur met verbystering neer te val in verwondering.

Die Here God lê ‘n besoek af by die gemeente in Korinte – d.m.v. Paulus se brief – en wat is Sy eerste woorde aan hulle? Hy groet hulle met ‘n toesegging: “Julle is ingesluit by My genade & vrede. Julle is geroep en opsy gesit vir My.” Hoor u dit?? Sy eerste woorde is: “Julle is REG, want julle is ingereken/ingesluit by My genade en vrede.”

Maar, lees ‘n mens die res van die brief, sien jy met ‘n skok in watter chaotiese toestand díé mense se lewensgedrag was: Verdeeldheid, partyskappe, jaloesie, twis, hofsake met mekaar, opgeblase oor hulle gawes, érger onsedelikheid as wat by heidene aangetref word. Vir mense wat só lyk, sê die Here: “Julle is 100% rég voor My, want Ek het julle ingesluit by My genade en vrede.” Dit is Sy eerste woorde aan hulle. Dit is Sy toesegging, nog voordat Hy ‘n woord verder praat.

Hoe op aarde moet ‘n mens dít verstaan? Beteken dit dat sonde en verkeerdhede nou skielik góéd geword het en dat dit nie meer saakmaak nie? Beteken dit dat ‘n mens maar vir altyd verkeerd kan blý – jy ís mos reggemaak voor God deur Christus? ‘n Duisendmaal nee! Lees maar Korintebrief en sien hoedat die Gees – deur Paulus – Sy vinger druk op élke ongerymdheid (hy noem dit op die naam) en ‘n appèl op hulle maak om heilig te gaan lewe, MAAR: hy maak die appèl op grond van die FEIT dát hulle reg IS voor God (ingereken is by Sy verlossing). Hy maak nie ‘n appèl op hulle dat hulle hulle lewensgedrag moet gaan verbeter en dat hulle dán sal kan regkom voor God (ingesluit word by Sy verlossing) nie! Hy sê inteendeel: “Aangesien julle deur ‘n Godsdaad by Jesus se redding ingereken is en julle dáárom rég is voor God – al is julle verkeerd – DAAROM kan/moet julle praktiese lewenswandel handomkeer nuut word en DAAROM kan/moet julle jul bekeer!

Kyk byvoorbeeld hoe hanteer Paulus die feit dat daar sommige lidmate van die Korintegemeente is wat onsedelikheid bedryf – só erg dat ‘n man en sy stiefma soos man en vrou saamleef. Hoofstuk 5:7. Hoe spreek die Apostel hierdie probleem aan? Hy sê: “Ons Paaslam ís immers geslag – dit is Christus. Dáárom (omdat Hy geslag is) IS julle nuwe, ongesuurde deeg – is julle REG. Dáárom: verwyder die ou suurdeeg uit julle midde!!” Hoe in die wye wêreld kan dit dan moontlik wees dat die mense nuut is net omdat Christus geslag is? Baie van hulle was immers nog nie eens gebore toe Christus gesterf het nie. Antwoord: Omdat God hulle by Jesus se sterwe ingereken het. Daarom IS hulle nuwe, ongesuurde deeg. DIT is wat hulle in die geloof moet aanvaar. Daarom kan hulle maklik van die ou suurdeeg van onsedelikheid ontslae raak en begin feesvier (v 8).

In sy brief aan die Kolossense sê Paulus presies dieselfde. Hy begin ook díé brief met die toesegging van ingesluit-wees by die verlossing: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader.” Maar, lees ‘n mens die brief, sien jy hierdie mense was onrein, vol wellus, gierig, vuil taal, woede, haat en nyd, ongeduldig met mekaar (hfst 3). En hoe hanteer Paulus dan hulle verkeerde toestand? Praat hy dit goed? Beslis nie. Maar, op grond van die feit dat hulle REG is voor God omdat Hý hulle reggemaak het d.m.v. Jesus, maak Paulus ‘n sterk appèl op hulle lewens. Vers 9: “Julle hét met ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en julle leef nou die lewe van die nuwe mens – daarom – moet daar nie vuil taal uit julle mond kom nie en moet julle nie vir mekaar lieg nie.” Sien u dit?? Is dit nie verbysterend nie? Die Apostel sê vir lidmate wat worstel met ‘n hele klomp verkeerde praktyke: “Julle is nuwe mense. Julle hét met die ou mens en sy gewoontes gebreek. DAAROM: Staak die verkeerde gedrag en begin LEEF uit die nuwe mens wat julle reeds is.”

Alles is reg, al is alles verkeerd. Maar, moenie vir een oomblik dink dit is ‘n soetsappige sagmaakboodskappie – wat die gehoor wil streel – nie. Dit is lewensveranderende dinamietkrag – groter as die krag wat kernreaktors aandryf. Die krag wat ‘n gelowige se lewensgedrag verander is wanneer die geloofsontdekking gemaak word: Al is ek onherroeplik verkeerd en al kla my gewete my aan dat ek ‘n sak wurms is (soos Luther van homself gesê het), wéét ek dat God my nie veroordeel vir wat ek is nie en dat Hy my nie verwerp en vervloek vir wat ek doen nie – danksy Christus se lyding, dood en opstanding waarop ek vertrou. Alles is reg in die kern van my lewe juis wanneer dit voel of alles verkeerd is. Dit is die veronderstelling waarmee God altyd met ons werk: Dat ons 100% reg is wanneer ons weet daar is baie met ons verkeerd. Dit is hierdie kragtige ontdekking wat ‘n mens bevry van die las van mislukking en ons verander om die mens te word wat God wil hê ons moet wees. Dit is wat bekering in die ware sin van woord beteken. Jy word innerlik verander en nuut.

Kom ons kyk ten slotte na die manier waarop God ons met Homself reggemaak het TERWYL ons absoluut verkeerd was. Antwoord: Hy het dit gedoen deur ons (mét ons verkeerdheid en al) in te reken by alles wat Jesus gedoen het. Terloops- dít is die hele evangelie in ‘n neutedop. Weet u: elke Sondag bely ons dit in die Twaalf Artikels, maar ons besef nie altyd wat ons bely nie, want ons dink die Twaalf Artikels is maar net ‘n opsomminkie van sekere goed wat 2000 jaar gelede gebeur het – so ‘n klompie historiese feite wat ons gou staan en opsê. Ons besef nie dat die Twaalf Artikels ‘n kernkrag belydenis is van hoe God ons met Homself reggemaak het nie! En die inhoud daarvan val nie sommer uit die lug nie! Op talle plekke in die NT, waar die Blye Boodskap beskryf word van hóé God die mense met Homself reggemaak het, word die basiese inhoud van die Twaalf Artikels elke keer gegee. Byvoorbeeld: ROMEINE 1: 1-6 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Die Seun v God, Sy geboorte uit Dawid, Sy opstanding, Sy bekleding met mag. 1 KORINTIERS 15: 1-11 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Jesus se sterwe, Jesus se begrafnis, Jesus se opwekking, Jesus wat aan baie verskyn het. HANDELINGE 2 : 22-36 >> Die essensie van die Blye Boodskap handel oor: Jesus is uitgelewer aan Pilatus, gekruisig, gesterf, in smarte van dood, opgestaan uit dood, verhoog aan Regterhand v God, het Heilige Gees gegee, opgevaar.

Deurdat God mense inreken híérby, maak Hy hulle reg met Homself. Dit is wat ons elke Sondag bely (sien meegaande pamflet)

INGEREKEN BY:

JESUS SE GEBOORTE >> Ek is heilig. My sondes is bedek deur Sy onskuld en heiligheid. Juis dáárom kan/moet ek my bekeer van my sondes.

JESUS SE LEWE VAN VOLMAAKTE GEHOORSAAMHEID ONDER DIE WET Ek word deur God geag as iemand wat 100% gehoorsaam aan die Wet leef. Juis dáárom mag ek prakties lééf volgens die Wet.

JESUS SE LYDING >> Ek is tot in ewigheid vrygemaak van die toorn van God. My liggaam & siel is van die verdoemenis verlos. Nooit sal Sy toorn oor my losbars a.g.v. die sondes wat ek doen nie. Dáárom wil ek verkleef leef aan Hom alleen.

JESUS SE KRUISIGING >> Ek sal nooit weer deur God vervloek en verwerp word nie.

JESUS SE STERWE >> Ál my sondes is betaal. Die straf is weg. My ou mens is gekruisig en begrawe. Daarom kan my sondige begeertes nie meer oor my heers nie. Dáárom moet/kan ek loskom van sondige begeertes.

JESUS SE BEGRAFNIS >> God is nie meer vyandig teenoor my nie. Daar is nou VREDE tussen my en Hom.

TER HELLE NEERGEDAAL >> Nooit sal daar enige skeiding tussen my en Hom wees nie. Ek is van die hel se benoudheid bevry. Geen angs/ smart/ verskrikking verlos.

OPSTANDING >> Ek het ’n totaal nuwe lewe ontvang.

HEMELVAART >> My saak met God is reg. Ek het vrye toegang tot Hom. Jesus is altyd by my, deur Sy Godheid.

REGEER AAN GODS REGTERHAND >> Ek lewe onder God se genadeheerskappy. Ek word teen alle vyande beskerm. Gawes is aan my gegee.

PINKSTER >> Ek het die Heilige Gees in my lewe ontvang.

Wórd dit waar wanneer ek dit glo? Of: Ís dit waar, daarom mag/moet ek dit glo? En indien ek dit in die geloof aanvaar, sal dit nie lei tot onherroeplike bekering en lewensverandering nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00