DIE TREë VAN DIE DOOD: 1 Sam.20:1-9.

1 Sam.20:3b “…maar so waar as die Here leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood!”

TEMA:

DIE TREë NA DIE DOOD:

1)      Vermaaklikheids kunstenaar -Tolla van der Merwe.

2)      Minsame sanger – Bles Bridges.

3)      Ens… Hennie Griffeljoen Stadsbeplanner.

INLEIDING:

Die realiteit van die dood bring vir u en my tot groot verantwoording

Liewe broers en susters, as ‘n mens op ‘n ernstige motorongeluk af kom en die verminkte liggaame sien van mense wat jy weet oomblik ke gelede nog die pols van lewe in hulle gehad het, besef ‘n mens dat daar maar net een tree tussen jou en die dood is.

As ‘n mens ‘n bom hoor afgaan in ‘n besige stad in ‘n besige tyd van die dag en jy op die toneel kom en nader storm om hulp te verleen en binne oomblikke ook getref word en die ewigheid ingaan, besef ‘n mens dat daar maar net een tree tussen jou en die dood is.

As ‘n mens by die hospitaal bed van ‘n pragtige matriekdogter staan met aktiewe likumia en die tydelike met die ewige verwissel, besef ‘n mens dat daar maar net een tree tussen jou en die dood is.

As ‘n jong sendeling pastorie moeder nog vrolik, saam met haar fa-milie kersdag deurbring en twee weke na die nuwejaarsdag, hulle haar stoflike oorskot in die boesem van die aarde neerlaat, dring die werklikheid tot jou deur. Daar is maar net een tree tussen jou en die dood.

So kan u nou voortgaan en insidente uit u eie lewe terugroep waar die tydelike met die ewige verwissel is.

DIE DOEL VAN DIE BOODSKAP:

Is om net weer ons oë oop te maak vir die grootste werklikheid wat ons agtervolg van die dag van ons geboorte, naamlik die tree van die dood.

Terwyl ons vandag te doen het met iemand wat daardie tree gegee het en nie een van ons dit sal vryspring nie, wil ek hê dat ons vir ‘n oomblik sal stilstaan by ‘n paar eienskappe en kenmerke van die tree van die dood.

Laat ons op die volgende let, sodat ons ons lewens kan skik met God

1) DIE TREë VAN DIE DOOD IS ‘N UNIVERSIEëLE TREE:

Dit beteken eenvoudig dat elke mens hierdie tree sal gee. Hoe ek dit sal gee is onseker, maar dat ek dit sal gee is beslis en gewis. Liewe jong mens, liewe oom en tannie ons weet nie wanneer ons laaste tree sal wees nie. Pred. Sê: “Daar is ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe.” Daar sal ‘n tyd kom wanneer God sy hand vir ‘n oomblik van my lewe lig en die doodsengel die bevel gee dat dit my laaste tree op aarde is. Sal u gereed wees vir daardie oomblik?

Ps.89:49: “…watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel kan red van die mag van die doderyk.”  Omdat die dood oor elke mens se pad kom, weet ons nie of ons die volgende sal wees nie.

Job hef sy geestesoog op en vra in 38:17 “Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee ge-sien?” Hy weet dat daar ‘n sterwensuur is, maar jy kan dit nie sien nie. Die Hebreër skrywer weet dat dit is waarvoor ons bestem is. Hebr.9:27 “…en net soos dit vir die mens bestem is om te sterwe en daarna die oordeel.

Die wyse Salomo skrywe in Pred.9:5 “…want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.” Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe. As ons alles rondom ons beskou besef ‘n mens dan dat jou tyd ook kom om te sterwe.

2) DIE TREE NA DIE DOOD IS ‘N NABY TREE:

Daarmee word bedoel dat ons lewens so min waarde het – ons vol-gende tree kan die dood wees. Ek wil net benadruk dat dit nie ‘n naby tree is die wat oud en afgeleë is nie, of vir iemand wat siek is nie, 1000 jaar is vir die Here soos een dag. Die dood is net so naby aan ‘n jong gesonde mans as aan ‘n ou siek mens.

Terwyl Dawid nog jonk was, het hy besef hoe naby sy dag kan wees toe hy gesê het: Ps.39:5-6 “Here, maak my einde aan my bekend en wat die maat van die dae is dat ek nog weet hoe verganklik ek is.” Dan asof hy besef hoe naby die tree van die dood is sê hy: Vs.6 “Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie: ja as pure nietigheid staan elke mens daar.”

Hy sê hierdeur dat die mens maar nietigheid is Ps.144:4 “Die mens is soos nietigheid; sy dae is soos ‘n vlugtige skaduwee.” Die tree is so naby dat Jakobus nie eens weet wat die volgende dag sal inhou nie. Jak.4:14 “Julle weet nie eers wat more sal gebeur nie, want hoe-danig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat ‘n kort tydjie ver-skyn en daarna verdwyn.” Dink aan ‘n ketel wat kook.

Hoe naby ons aan die dood is weet niemand nie, net die Here. Al wat ons weet is dat ons gereed moet wees.

3)      DIE TREE VAN DIE DOOD BRING SKEIDING:

Hy wat sterf word geskei van sy tydelike bestaan op aarde na sy ewige bestaan in die hiernamaals – ons beleef tydelike skeidings op aarde – as ‘n vriend met vakansie gaan of iemand oorsee gaan. Die tree van die dood bring ‘n permanente skeiding dit is Finaal.

1) Die tree van die dood skei ‘n moeder van haar seun: Luk.7:12  “En toe Hy (Jesus) naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder en sy was ‘n weduwee: en ‘n groot menigde van die stad was by haar.”

2) Joh.11:21 “En Martha sê vir Jesus: Here as u hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Vs.32 en toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan Sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het sou sy broer nie gesterf het nie.” Hoe lief was hulle nie vir Laserus nie, maar nou is dit vir ewig verby. Die tree van die dood sal u broers en susters skei. As God dit op u hart lê om hulle te waarsku, doen dit nou, voordat dit te laat is.

3) Die tree van die dood skei ‘n vader en sy seun. Dawid se seun, wat hy by Batseba verwek het, het gesterf. 11 Sam.12;22-23 “En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink wie weet – die Here kan my genadig wees sodat die kind in die lewe bly vs.23. maar nou is hy dood – waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog terugbring? Ek gaan na hom maar hy sal nie terug keer nie”.

Die enigste manier wat hierdie skeiding oorbrug kan word is as die vader sy rol as priester in die huis vervul en sy kinders onderrig in die Woord. Die enigste manier waarop ek hierdie skeiding tussen my en ‘n dierbare, wat die Here geken het kan oorbrug is om my lewe te skik volgens die Woord en wil van God – dan sal ek wees waar my geliefdes is.

4)      HIERDIE TREE IS ‘N ONSEKER TREE:

So seker as wat elke mens hierdie tree sal gee, net so onseker is dit wanneer hy hierdie tree gaan gee. Daarom is dit so noodsaaklik om gereed te wees. U kan nie eers met sekerheid weet of u die aand gaan sien nie.

Gen.27:2 “Toe sê hy (Isak): Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.” Die werklikheid van die saak dring tot ‘n mens deur as jy in ‘n begrafplaas die graftstene se inhoud lees en die ouerdomme vergelyk van die wat heengegaan het.

Dit is so waar wat Jakobus in 1:10-11 sê: “…want soos ‘n blom van die gras sal hy verbygaan want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan, so sal die ryke ook in sy weë verwelk.”

Hoe sierlik die mens ookal mag wees, op ‘n bepaalde, vir ons onseker tyd, kom die Here daardie persoon ‘pluk’. So onseker dat vele persone wat met vakansie gegaan het en baie beplanning gedoen het, nooit weer teruggekom het nie en ook nie kon uitvoer wat hulle beplan het nie.

Die ryk dwaas van Luk.12. Hy het beplan om nog groter landerye te plant, min wetende dat hy daardie nag die onseker tree van die dood sou gee en dat hy sonder die Here gesterf het.

As u geweet het wanneer u daardie onseker tree sou gee, kon u nog in onverskilligheid voortgeleef het tot ‘n maand of ‘n week of selfs ‘n dag voor die tyd, maar vir ons is dit nie beskore wanneer ons daar-die onseker en finale tree gaan gee nie.

5)      DIE DOOD KAN ‘N GESëNDE TREE WEES.

Hebr.11:16 “Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemel-se. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.”

Fil.1:21 “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Ps.116:15 “Kosbaar is in die oë van die Here die dood van Sy gunsgenote.”

Vir ons is hierdie ‘n aandoenlike geleentheid. Afskeid is onvermy-delik.

6)      HIERDIE TREE IS ‘N VOORBEREIDENDE TREE.

Soos vele persone in die verlede die tree van die dood met vreugde te –gemoet gegaan het, kan u ook dit met vrymoedigheid tegemoet gaan as u voorbereid is. Het u daardie sekerheid dat die Here Jesus u sal kom haal as u sterwe? Die Here is al sekuriteit wat u teen die dood het. Dit waarom Hy uit die dood opgesteen het, om aan ons die ewige lewe te gee Hebr.7:25 “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan.” Die dood is net ‘n oorgaan van die na na die ewige lewe.

Joh.11:25-26 “Jesus sê: Ek is die opstanding en die lewe, wie in my glo, sal lewe al het hy ook gesterwe en elkeen wat lewe en in my glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” Hy het die dood oorwin en daar deur vir ons die lewe bewerk. In Sy lewe is ons hoop en ware lewe. Hoe ek hierin kan deel: Ek oet my sonde besef en na Jesus toe vlug en dit voor Hom bely en laat staan dat Hy my kan red.

1 Joh.5:11-13 “En dit is die getuienis dat God ons die ewige lewe ge-gee het, en die lewe is in Sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God ie het nie, het ie die lewe nie. Dit het ek ge- skrywe aan julle wat glo in die naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die naam van die Seun van God.”

Daar bestaan so iets dat ek die dood voorbereid kan gaan. Waarom sal ‘n mens dan in onsekerheid voortgaan? As u nie u lewe voorberei om te sterf nie, sal u die ewigeheid weg van die aangesig van god, in die hel moet deurbring.

1 Tim.2:5-6 “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mens, die mens Christus Jesus wat Homself gegee het as losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.”

SLOT:

Met die wêreldomstandighede en die onseker omstandighede in ons land, het die dood een van die mees aktuele onderwerpe van bespre-king geword, omdat dit elkeen van ons raak.

Ons het gesien dat hierdie tree:

1)      Universieël is – elke mens sal dit gee.

2)      Dat dit ‘n naby tree is – want ons is verganklik.

3)      Dat die tree geliefdes skei.

4) Dit die tree onseker is weens die onsekerheid van ons toekoms.

5) Dat die tree ‘n geseënde tree kan wees.

6) Dat dit ‘n voorbereide tree kan wees.

Waarom wil u verder in onsekerheid leef? U sal ook daardie tree gee.

“Sowaar as die Here leef en my siel leef, is daar maar net een tree tuss en my en die dood.”

Hoe kan ek klaarmaak? Deur u hartsdeur vir Hom oop te maak. Openb.3:20 “Kyk ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met Hom maaltyd hou, en Hy met my.”

Dit is ek wat die keuse moet maak om die Here toegang tot my lewe te gee. Baie van ons is hier vandag miskien met gemengde gevoelens Dankbaar dat ons nog in die lewe is en dat God ons tot hiertoe ge-bring het, maar onseker oor die toekoms en ons stand voor Hom. Laat ons ons saak met die Here skik, sodat Sy vrede ons kan vul en ons verlos kan wees van die onsekekerheid oor die ewigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00