TAFELBERG GEMEENTE

7 PROFETE IN 7 WEKE – NO 6

Skrif: Sefanja 1-3

Tema: Die boodskap van Sefanja

Watter soort gevoelens & emosies kom in u op wanneer u aan die lewende God dink? Watse soort woorde sou u gebruik om u gevoel te beskryf? Warmte, liefde, geluk, sekuriteit, bangheid, gespanne, senuagtig. Of dalk: “Ek voel skuldig, want ek is nie goed genoeg nie?” Die manier hoe ons oor God voel, word dikwels bepaal deur wat ons dink hoe Hy oor ons voel. Die profetiese boek Sefanja beskik oor die plofkrag om ons insig in hoe God se hart teenoor ons klop, radikaal te verander en ons positief te stem. Ek wil u nooi om dit saam met my te ontdek, want hier ontmoet ons ‘n God wat feesvier en jolyt hou oor díé mense wie Hyself verander het.

Dit is nie so ‘n eenvoudige taak om in één studie Sefanja se kernboodskap te verduidelik nie. Miskien moet ek dit só aanpak deur vir u eerstens te verduidelik binne watter konteks Sefanja as profeet opgetree het. Kyk, die Here se volk Juda het op ‘n stadium ‘n uiters goddelose koning (Manasse) gehad. Onthou: hierdie Israelitiese konings was veronderstel om die Here se volk te lei op die pad van geestelike groei. Hulle was vooruitwysings na die Groot Koning wat sou kom. Maar Manasse was byna iets soos – wat ons vandag sal ken as – ‘n satanis. Hy het die volk ingetrek in okkultistiese duiwelse praktyke (2 Kron 33): altare vir afgod Baäl, die sterre & planete as gode gedien, altare vir die sterre binne in die Here se tempel gebou, sy eie seuns as offers verbrand, goëlery, waarsêery, toordery, oproep & raadpleging van geeste. Twee jaar ná Manasse se dood het Josia koning geword. Ongeveer 637 – 608vC. Hy was ‘n godsalige koning en hy het dadelik begin met pogings om die ware godsdiens te herstel (2 Kron 34). Hy het die Here se Wetboek (wat totaal weggeraak het) herontdek en die volk teruggelei na die Woord. Sy hart was getref deur die Woord. Hy het die Here heelhartig gedien en die Here se volk diepgaande beïnvloed. En tog, slegs 20 jaar ná Josia se dood, het die Here Sy mense in ballingskap weggevoer d.m.v. die Babiloniërs en is die tempel en Jerusalem verwoes. Dit was asof Josia se hervorming nie diep genoeg kon deurwerk nie omdat die verderf wat Manasse gesaai het ontsaglike diep effek op die Godsvolk gehad het. Uiteindelik het Manasse se gifwortels weer opgeskiet en het die Here Sy volk in ballingskap laat wegvoer.

Sefanja was die profeet wat met koning Josia saamgewerk het om die volk na die Here terug te lei (1:1). As ‘n mens dink wat ‘n wonderlike hervorming/herlewing onder Josia se aansporing plaasgevind het, is dit vreemd dat Sefanja begin met ‘n aankondiging van die Here se komende oordeel oor Juda. Moes hy nie eerder meer positief wees en dankbaar wees vir die wonderlike dinge wat reeds gebeur het? Waarom dan die ernstige waarskuwings? Wel, uit die latere geskiedenis weet ons dat Sefanja se woorde nie leë woorde was nie, want die volk hét in ballingskap gegaan. Dit was inderdaad relevante woorde.

Wat egter baie belangrik is, is om Sefanja se waarskuwings te sien teen die agtergrond van die diepe vergiftiging van die volk van God wat Manasse se okkultistiese bedrywighede veroorsaak het, selfs dekades ná Manasse se dood. Sefanja se woorde wys vir ons hoe ernstig sonde is en hoe moeilik dit is om uit die greep daarvan los te kom. Onthou die mens se hart is bedriegliker as enigiets (Jer 17:8). Die Heilige Gees gebruik Sefanja se pen om die 5 sondes wat die Here se toorn wek, op die naam te noem. Dit is alles gifwortels uit Manasse se tyd:

1) 1:4 > Die oorblyfsel van Baälaanbidders. Josia het nie die Baälafgodery 100% uitgeroei nie, slegs 99,5%. ‘n Klompie altare het bly staan. Dit wek die toorn van die Here op, want dit is ‘n oortreding van die eerste gebod. Die groot sonde: die hart is steeds verdeeld. Agterdeure word oopgehou.

2) 1:5 > Daar is steeds mense wat neerbuig voor die sterre. Hulle verruil die heerlikheid van die Skepper vir die dowwe heerlikheid van die skepping (sien Rom 1:25). Die geskape dinge neem die plek in van die Skepper. Die sterre verkry ‘n invloed/beheer oor jou lewe. Die sterre bepaal jou lot. Maak enige tydskrif oop en jy sien dit. Of jy ontvang dit sommer op jou selfoon vir ‘n paar rand per week. Wat ‘n afgryslike sonde wat vandag nog miljarde mense se lewens toewurg: Om te wil dink dat die geskape dinge goddelike kragte besit.

3) 1:5 > Daar was mense wat op twee stoele gelyktydig wou sit. Lou warm. Hulle buig voor die Here en sweer trou aan Hom en terselftertyd ook aan die afgod Milkom. Dalk 98% aan die Here en 2% aan Milkom. Dien egter twee meesters. Sefanja sê: Julle sal weggevee word in die oordeel. Daar is seker niks wat ‘n mens se geestelike energie só tap soos hierdie sonde nie. Die sonde van kompromie, wat die liefde van jou hart verdeel tussen meer as een meester.

4) 1:18 > Die liefde vir geld en die vertroue op goud & silwer. “Wanneer die dag van die toorn van die Here aanbreek, sal hul geld hulle nie kan red nie.” Vers 12: “Ek sal in daardie dag Jerusalem met lampe deursoek om die mense te vind wat in selftevredenheid dink: ‘die Here doen nie goed óf kwaad nie. Hulle besittings sal geplunder word.’” Die wortel van liefde vir geld is arrogansie. Dit lei na die 5de sonde:

5) 3:2 > Die essensie van alles: Ongehoorsaam, wil hulle nie laat teregwys nie. Die sonde van selfgenoegsaamheid. Aan die een kant: in selfgenoegsaamheid wy hulle hul nie aan die Here nie. Aan die ander kant: wy hulle aan die valse gode. Klink na ‘n weerspreking. Logies gesien moes hulle mos dan totaal ophou met godsdiens! Tog is dit presies hoe die menslike hart is. Ons almal s’n. Die gevalle menslike natuur werk so: aan die een kant is daar in alle mense se harte die verlange om voor iets wat groter is as jyself te buig en dit te adoreer & admireer – om die een of ander held te hê of iets wat mooi & sterk is om na op te sien. Daardie instink sit in almal. Aan die ander kant wil die menslike hart self regeer en onafhanklik/outonoom wees. Daarom: alhoewel die mens die ware lewende God eenkant toe skuif en in sonde opgaan, hou die mens nie op om steeds uiters godsdienstig te wees nie! O nee! Hy soek steeds na ‘n god wat na sy eie beeld gemaak is en wat hom nie moreel aan bande lê nie. Niemand op aarde is meer arrogant as die mens wat so nederig buig voor die god wat na sy eie beeld gemaak is nie! Daardie nederigheid is die toppunt van arrogansie! Dit sal nooit in die oordeel staande bly nie.

Daar is die 5 dinge wat vir die gevalle menslike hart so onmoontlik is om te oorkom: die onvermoë om skoon te breek met alle sonde, die gewilligheid om geskape dinge in die plek van die Skepper te eer, die geneigdheid om kompromië te maak en twee meesters te dien, die liefde vir geld & besittings en vyfdens selfgenoegsaamheid.

Teen hierdie agtergrond kan ‘n mens Sefanja se oproep in hfst 2 verstaan wanneer hy sy mense oproep om hulself te verneder voor die Here. Juis omdat arrogansie/rebelsheid die kern is van alle sonde, kom die genesing/bevryding deur die hart te buig/gebrokenheid. 2:3 – “Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land. Streef na geregtigheid en na nederigheid.” 3:12 – “díé wat sal oorbly is dié wat in nederigheid & ootmoed vertrou het op die Naam van die Here.” Sien ook 2 Kronieke 7:14!

Hierdie oproep word egter gegrond op ‘n Groot belofte: Daar sál uiteindelik ‘n oorblyfsel van die volk wees wat gered is en met God wandel (3:12). Die Here sê dit vooruit: daar sál so ‘n oorblyfsel wees! Hoe kon Hy dit vooruit sê? Omdat Hy dit self sal doen! 3:9 – “EK sal die volke verander sodat hulle My sal aanroep.” Indien Hy dit nie self doen nie, sal ALMAL in die oordeel omkom. Géén mens het die mag om homself voor die Here te verneder, of om te draai, of berou te hê nie. Niemand. Niemand is eens in staat om die 5 genoemde boesemsondes te oorkom nie. Maar die wonder van Sefanja is die groot hoofstuk 3 wat in so ‘n geweldige kontras staan tot hfste 1-2. Hoofstuk 3 bulder dit uit in alle toonhoogtes: Die HERE sal alléén die wonderwerk doen. Die mense word nie oorgelaat aan hulle eie probeerslae/ wilsinspanning om struikelblokke te oorkom nie. Dit is die Here self wat belowe om nuwe harte te skep. Sien Eseg 36: 26-27. Ook Filip 2: 12-13.

Maar, die beste van alles is die glorieryke toekoms wat wag op elke mens wat deur die Here verander is. Dis die hoogtepunt van Sefanja se profesie – die laaste deel van hfst 3. Dis die hoogtepunt van menslike lewe. Die mens wat in selfvernedering sy/haar toevlug soek in die kruisdood van Jesus Christus, ontdek die toegang tot goddelike vreugde/vervulling omdat die Here self dan in die midde van jou bestaan kom staan. Waar Hý MET JOU is, kom Sy vreugde/lewensvervulling saam. Vers 14: “Sing Sion! Juig Israel! Wees met alles wat jy is vrolik en bly Jerusalem. Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf. Die Koning, die Here IS BY JOU! Jy hoef nie meer te vrees nie. Moenie meer bang wees nie. Moenie moedeloos wees nie. Die Here is BY jou.” Sien u die vreugde. Dit is wat vir alle ewigheid op die ware gelowiges wag. En die rede? Die Here is by jou. En Hy is nie net by jou nie. Hý is vol blydskap oor jou. Dis Hý wat vreugdevol is en jolyt hou. Vers 17: Die Here is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Het ons Here Jesus dan nie gesê dat daar vreugde in die hemele is oor één sondaar wat hom bekeer nie? Wanneer die Here na Sy ootmoedige kinders kyk, kyk Hy nie met afkeur nie. Hy is nie bitter omdat Sy mensies so vaal lyk nie. Nee, Hy is vol vreugde oor Sy mense. Ons moet ontslae raak van die idee dat ons maar so net-net die hemel inskuur omdat Jesus darem vir ons skuld betaal het, maar dat God die Vader eintlik dink ons is nie goed genoeg nie. Nee, dis juis die Vader wat ons met Homself versoen het deur Christus se offer. Hy WIL ons vir ewig geniet. Hy WIL hê dat ons Hom sal geniet. Daarom was die Here kwaad vir Migal wat haar pa Dawid verag het omdat hy so uitbundig voor die Here dans. Die Here is ‘n God vol blydskap en Hy wil ons geniet en Hy wil dat ons Hom sal geniet. Natuurlik uit eerbied, maar steeds geniet. Ons moenie dink dit verkleineer Sy godheid indien Hy ons geniet en Hy vol vreugde oor ons is nie! Nooit. Ons is tog Sy handewerk. ‘n Skilder verkleineer tog nie homself indien hy met trane van emosie na sy eie skildery kyk nie! Sefanja wys vir ons die lewende God se emosies wanneer Hy na Sy geliefde geredde kinders kyk, want Hy het hulle self gered. Hy het self BY hulle gekom en in hul midde gekom. Juda se probleem was dat hulle die Here weggestoot het d.m.v. hul 5 boesemsondes en dat vrees hul lewens beheers. Die krag van die Here se verlossing is dat Hy weer “God met ons” (Immanuel) word in Jesus se koms na die wêreld. Nou kom die vreugde terug en dit vervang die vrees. Die Kers (Immanuel)boodskap sluit naatloos aan by Sefanja se groot boodskap wat wyd en syd verkondig moet word.

Hoe voel u & ek oor die lewende God? Indien negatief, moet ons dalk weer opnuut na Hom luister en hoor Wie Hy werklik is en begin om ons in hom te verbly. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00